Telefoongetuieniswerk kan doeltreffend wees
1. Waarom kan telefoongetuieniswerk as ’n belangrike deel van ons bediening beskou word?
1 Waarom kan ons gerus daaraan dink om telefoongetuieniswerk in ons gebied te doen? Omdat dit nog ’n manier is waarop ons ander kan help om juiste kennis in te neem wat tot redding lei (2 Pet. 3:9). Hoewel die huis-tot-huis-predikingswerk ons vernaamste metode is om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, benut ons graag ander metodes om dié te bereik wat dalk nie by hulle huis gevind kan word nie.—Matt. 24:14; Luk. 10:1-7; Op. 14:6.
2. Hoe word telefoongetuieniswerk georganiseer?
2 Hoe dit georganiseer word: Soos in die geval van velddiensreëlings vir die huis-tot-huis-bediening word gebied vir telefoongetuieniswerk ook aan die verkondigers voorsien. Dit kan alleen of in ’n klein groepie van moontlik twee of drie gedoen word. ’n Geskikte plek moet gebruik word. Baie vind dat dit goed is om by ’n tafel te sit en al die items wat hulle normaalweg gebruik wanneer hulle van huis tot huis preek, voor hulle te hê.
3. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons oor die telefoon getuig?
3 Hoe om oor die telefoon te getuig: Wanneer ons oor die telefoon getuig, moet ons op ’n geselstrant praat. Party wat vir die eerste keer telefoongetuieniswerk doen, kan ’n aanbieding aan die huisbewoner voorlees, mits dit op ’n geselstrant gedoen word. Inleidings in die Redenering-boek, Ons Koninkryksbediening en die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? kan nuttig wees in hierdie verband. Wanneer jy jou eie aanbieding uitwerk, kan jy besluit op ’n tema, dink aan ’n vraag en gereed wees om ’n paar tekste te lees wat die antwoord verskaf. Oor die algemeen kan jy dieselfde publikasies aanbied wat van huis tot huis aangebied word. Neem die volgende herinneringe in ag: Ontspan en praat stadig. Wees beleefd, geduldig en vriendelik, aangesien mense dit oor die telefoon kan opmerk. Luister wanneer die huisbewoner sy gedagtes uitspreek en bedank hom dan vir sy kommentare. Moenie die bydraereëling noem nie, aangesien mense verkeerdelik tot die slotsom kan kom dat die doel van die telefoonoproep was om geld te vra.
4. Wat kan telefoongetuieniswerk ons in staat stel om in ons toegewese gebied te bereik?
4 Die persoon met wie jy oor die telefoon praat, is dalk aan die huis gekluister of iemand wat weens sy werkrooster nie maklik bereik kan word in die huis-tot-huis-bediening nie. Ander woon in afgesperde woongebiede of woonstelgeboue. Om ons bediening in voller mate en deegliker uit te voer, moet ons dus daaraan dink om gebruik te maak van telefoongetuieniswerk.