Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 10/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 10/15 bl. 30-31

Vrae van lesers

In die lig van Bybelgebooie oor die gepaste gebruik van bloed, hoe beskou Jehovah se Getuies mediese prosedures waar jou eie bloed gebruik word?

Pleks van alleenlik op grond van persoonlike voorkeur of die een of ander mediese aanbeveling te besluit, moet elke Christen ernstig nadink oor wat die Bybel sê. Dit is ’n saak tussen hom en Jehovah.

Jehovah, aan wie ons ons lewe verskuldig is, het bepaal dat bloed nie ingeneem mag word nie (Genesis 9:3, 4). In die Wet vir eertydse Israel het God die gebruik van bloed beperk omdat dit lewe verteenwoordig. Hy het bepaal: “Die siel [of lewe] van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen.” Sê nou ’n man het ’n dier doodgemaak om dit te eet? God het gesê: “Hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak” (Levitikus 17:11, 13).a Jehovah het hierdie gebod oor en oor herhaal (Deuteronomium 12:16, 24; 15:23). Die Joodse Soncino Chumash sê: “Die bloed moet nie opgeberg word nie, maar ongeskik vir inname gemaak word deur dit op die grond uit te gooi.” Geen Israeliet moes die bloed van ’n ander skepsel, wie se lewe aan God behoort het, opvang, opberg en gebruik nie.

Die verpligting om die Mosaïese Wet te onderhou, het geëindig toe die Messias gesterf het. Maar God se beskouing van die heiligheid van bloed bly onveranderd. Die apostels is deur God se heilige gees beweeg om Christene die opdrag te gee dat hulle hulle ‘van bloed moet onthou’. Hierdie gebod moes nie ligtelik opgeneem word nie. Dit was sedelik net so belangrik as om hulle van geslagsonsedelikheid of van afgodediens te onthou (Handelinge 15:28, 29; 21:25). Toe die skenking en oortapping van bloed in die 20ste eeu algemeen geword het, het Jehovah se Getuies verstaan dat hierdie gebruik in stryd is met God se Woord.b

Soms sal ’n dokter ’n pasiënt aanspoor om weke voor die operasie sy eie bloed te gee (preoperatiewe outoloë bloedskenking, oftewel POB) sodat hy die pasiënt ’n oortapping van sy eie opgebergde bloed kan gee, indien dit nodig sou wees. Maar om bloed so af te tap, op te berg en oor te tap, is direk in stryd met wat in Levitikus en Deuteronomium gesê word. Bloed mag nie opgeberg word nie; dit moet uitgegooi word—as ’t ware aan God teruggegee word. Die Mosaïese Wet is weliswaar nie nou van krag nie. Maar Jehovah se Getuies respekteer die beginsels wat God daarin ingesluit het, en hulle is vasbeslote om hulle ‘van bloed te onthou’. Derhalwe skenk ons nie bloed nie en sal ons ook nie ons bloed, wat ‘uitgegooi’ moet word, vir oortapping opberg nie. Hierdie gebruik is in stryd met God se wet.

Ander prosedures of toetse waarby ’n individu se eie bloed betrokke is, is nie so duidelik in stryd met God se verklaarde beginsels nie. Baie Christene het byvoorbeeld toegelaat dat van hulle bloed getrek word vir toetse of ontleding, waarna die monster weggegooi word. Ander ingewikkelder prosedures waarby ’n mens se bloed betrokke is, kan ook deur dokters aanbeveel word.

Byvoorbeeld, gedurende sekere operasies kan van die bloed in die liggaam omgelei word in ’n prosedure wat bloedverdunning genoem word. Die bloed wat in die pasiënt oorbly, word verdun. Later word sy bloed wat omgelei is, toegelaat om weer in hom in te vloei, wat sy bloedtelling nader bring aan wat normaal is. Bloed wat in ’n wond invloei, kan eweneens opgevang en gefiltreer word sodat die rooi selle aan die pasiënt teruggegee kan word; dit word selherwinning genoem. In ’n ander proses kan bloed na ’n masjien omgelei word wat tydelik ’n funksie verrig wat gewoonlik deur liggaamsorgane (byvoorbeeld die hart, longe of niere) verrig word. Die bloed keer dan van die masjien af na die pasiënt toe terug. In ander prosedures word bloed na ’n afskeier (sentrifuge) omgelei sodat skadelike of gebrekkige dele daarvan verwyder kan word. Of die doel kan wees om ’n bietjie van ’n bloedkomponent te isoleer en dit êrens anders aan die liggaam te gebruik. Daar is ook toetse waarin ’n hoeveelheid bloed getrek word om dit te merk of dit met medisyne te meng, waarna dit in die pasiënt teruggesit word.

Die besonderhede is dalk verskillend, en nuwe prosedures, behandelingsmetodes en toetse sal beslis ontwikkel word. Dit berus nie by ons om elke variasie te ontleed en ’n besluit te neem nie. ’n Christen moet self besluit hoe sy eie bloed gedurende ’n operasie, mediese toets of huidige terapie hanteer sal word. Hy moet voor die tyd by die dokter of tegnikus presies uitvind wat dalk met sy bloed gedoen gaan word gedurende die prosedure. Dan moet hy ’n besluit neem volgens wat sy gewete toelaat. (Sien venster.)

Christene moet hulle toewyding aan God in gedagte hou, asook hulle verpligting om ‘hom met hulle hele hart, hele siel, hele krag en hele verstand lief te hê’ (Lukas 10:27). Anders as die meeste mense in die wêreld is ’n goeie verhouding met God vir Jehovah se Getuies baie kosbaar. Die Lewegewer spoor almal aan om vertroue in Jesus se vergote bloed te stel. Ons lees: “Deur middel van hom [Jesus Christus] het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings.”—Efesiërs 1:7.

[Voetnote]

a Professor Frank H. Gorman skryf: “Die uitgieting van die bloed word duidelik verstaan as ’n daad van eerbied wat respek vir die lewe van die dier toon, en dus respek vir God toon, wat daardie lewe geskep het en voortgaan om dit te onderhou.”

b Die Wagtoring van 1 November 1951 het kernvrae oor hierdie onderwerp beantwoord en getoon waarom oortappings van geskenkte bloed nie gepas is nie.

[Venster/Prente op bladsy 31]

VRAE WAT JY JOU KAN AFVRA

As van my bloed uit my liggaam omgelei word en die vloei ’n ruk lank dalk selfs onderbreek word, sal my gewete my toelaat om hierdie bloed nog as deel van my te beskou en dus nie te vereis dat dit ‘op die grond uitgegooi’ word nie?

Sou dit my Bybelopgeleide gewete kwel as van my eie bloed gedurende ’n diagnostiese of terapeutiese prosedure getrek, gewysig en dan weer in (of aan) my liggaam teruggesit word?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel