Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 219-bl. 229
  • Jehovah se Getuies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se Getuies
  • Redenering uit die Skrif
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As iemand sê—
  • Wat glo Jehovah se Getuies?
    Wat glo Jehovah se Getuies?
  • ’n Terugkeer tot die ware God
    Die mensdom se soeke na God
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
  • Is Jehovah se Getuies regte Christene?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 219-bl. 229

Jehovah se Getuies

Definisie: Die wêreldwye Christengemeenskap wat daadwerklik getuig oor Jehovah God en sy voornemens met die mensdom. Hulle baseer hulle leringe uitsluitlik op die Bybel.

Watter leringe van Jehovah se Getuies onderskei hulle van ander gelowe?

(1) Die Bybel: Jehovah se Getuies glo dat die hele Bybel die geïnspireerde Woord van God is, en in plaas van ’n belydenis aan te hang wat op mense-oorlewering gebaseer is, bly hulle by die Bybel as die maatstaf vir al hulle leringe.

(2) God: Hulle aanbid Jehovah as die enigste ware God en spreek vrylik met ander oor hom en sy liefdevolle voornemens met die mensdom. Enigeen wat in die openbaar oor Jehovah getuig, word gewoonlik met die een groep—“Jehovah se Getuies”—geassosieer.

(3) Jesus Christus: Hulle glo nie dat Jesus Christus ’n deel van ’n Drie-eenheid is nie, maar dat hy, net soos die Bybel sê, die Seun van God is, die eerste van God se skeppingswerke; dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het en dat sy lewe uit die hemel na die baarmoeder van ’n maagd, Maria, oorgeplaas is; dat sy volmaakte menselewe wat as offer afgelê is, dit vir diegene met geloof moontlik maak om gered te word en die ewige lewe te verkry; dat Christus sedert 1914 daadwerklik as Koning heers met Godgegewe gesag oor die hele aarde.

(4) God se Koninkryk: Hulle glo dat God se Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is; dat dit ’n werklike regering is; dat dit binnekort die teenswoordige goddelose stelsel, alle menseregerings inkluis, gaan vernietig en dat dit ’n nuwe stelsel waarin geregtigheid sal heers, tot stand sal bring.

(5) Hemelse lewe: Hulle glo dat 144 000 geesgesalfde Christene saam met Christus ’n aandeel in sy hemelse Koninkryk sal hê en as konings saam met hom sal regeer. Hulle glo nie dat alle “goeie” mense hemel toe gaan nie.

(6) Die aarde: Hulle glo dat God se oorspronklike voorneme met die aarde vervul gaan word; dat die hele aarde bewoon gaan word deur aanbidders van Jehovah en dat hulle die ewige lewe in menslike volmaaktheid sal kan geniet; dat selfs die dode opgewek gaan word om die geleentheid te kry om hierdie seëninge te geniet.

(7) Die dood: Hulle glo dat die dode hoegenaamd niks weet nie; dat hulle nòg pyn nòg genot in ’n geesteryk ervaar; dat hulle net in God se geheue voortbestaan, sodat hulle hoop op toekomstige lewe van ’n opstanding uit die dode afhang.

(8) Die laaste dae: Hulle glo dat ons nou, sedert 1914, in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel lewe; dat sommige wat die gebeure van 1914 gesien het, ook die algehele vernietiging van die teenswoordige goddelose wêreld sal sien; dat liefhebbers van geregtigheid tot in ’n gereinigde aarde behoue sal bly.

(9) Afgeskeie van die wêreld: Hulle streef opreg daarna om geen deel van die wêreld te wees soos Jesus gesê het die geval met sy volgelinge sou wees nie. Hulle betoon opregte Christelike liefde aan hulle naaste, maar hulle neem nie deel aan die politiek of die oorloë van enige nasie nie. Hulle voorsien in die materiële behoeftes van hulle gesinne, maar vermy die wêreld se gretige najaging van materiële dinge en persoonlike roem en sy onmatige genotsug.

(10) Die toepassing van Bybelraad: Hulle glo dat dit belangrik is om nou die raad van God se Woord in die daaglikse lewe toe te pas—tuis, by die skool, by die werk, in hulle gemeente. ’n Persoon kan, ongeag sy vorige lewenswyse, een van Jehovah se Getuies word mits hy gebruike staak wat deur God se Woord veroordeel word en die godvrugtige raad daarin toepas. Maar as enigiemand daarna owerspel, hoerery, homoseksualiteit, dwelmmisbruik, dronkenskap, leuens of diefstal bedryf, sal hy uit die organisasie gesit word.

(Die voorgaande lys meld kortliks enkele belangrike leerstellings van Jehovah se Getuies, maar bevat glad nie al die punte waar hulle opvattings van dié van ander groepe verskil nie. Die Skriftuurlike grondslag vir die voorgaande leringe kan gevind word deur die inhoudsopgawe van hierdie boek te raadpleeg.)

Is Jehovah se Getuies ’n Amerikaanse geloof?

Hulle is voorstanders van God se Koninkryk, nie van die politieke, ekonomiese of maatskaplike stelsel van enige nasie van hierdie ou wêreld nie.

Jehovah se Getuies het weliswaar in ons dag in die Verenigde State herleef. Die feit dat hulle wêreldhoofkwartier daar geleë is, het dit moontlik gemaak om Bybellektuur te druk en na die meeste dele van die wêreld te verskeep. Maar die Getuies trek geen nasie voor nie; hulle word in feitlik alle nasies aangetref, en hulle het kantore in talle dele van die aarde om toesig te hou oor hulle werk in daardie gebiede.

Dink ’n bietjie: Jesus is as ’n Jood in Palestina gebore. Maar die Christelike godsdiens is nie ’n Palestynse geloof nie, nie waar nie? Die plek waar Jesus as mens gebore is, is nie die belangrikste faktor nie. Jesus se leer het by sy Vader, Jehovah God, ontstaan, en Hy handel onbevooroordeeld met mense van alle nasies.—Joh. 14:10; Hand. 10:34, 35.

Hoe word die werk van Jehovah se Getuies gefinansier?

Deur vrywillige bydraes, net soos in die geval van die vroeë Christene (2 Kor. 8:12; 9:7). Geen kollektes word ooit by hulle vergaderinge opgeneem nie; hulle vra die publiek nooit om geld nie. Die bydraes vir Bybellektuur word gebruik om die druk- en verskepingskoste te dek.

Getuies word nie betaal om van huis tot huis te gaan of Bybellektuur op straat aan te bied nie. Liefde vir God en naaste beweeg hulle om oor God se liefdevolle voorsienings vir die mensdom te praat.

Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, ’n wetlike godsdienskorporasie wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, is in 1884 gestig kragtens die Gemenebes van Pennsilvanië, V.S.A, se Wet op Maatskappye sonder Winsbejag. Kragtens die wet kan dit dus nie ’n onderneming met winsoogmerk wees nie, en dit is ook nie, en geen individue maak deur hierdie Genootskap ’n wins nie. Die Genootskap se handves sê: “Dit [die Genootskap] beoog nie geldelike gewin of voordeel, hetsy toevallig of andersins, vir sy lede, direkteure of ampsdraers nie.”

Is Jehovah se Getuies ’n sekte of ’n kultus?

Sommige definieer sekte as ’n groep wat van ’n gevestigde geloof afgestig het. Ander pas die term toe op ’n groep wat ’n bepaalde menseleier of leraar volg. Die term word gewoonlik op ’n kleinerende wyse gebruik. Jehovah se Getuies het nie van ’n ander kerk afgestig nie, maar sluit mense van alle stande en talle godsdiensagtergronde in. Hulle beskou geen mens nie, maar eerder Jesus Christus, as hulle leier.

’n Kultus is ’n godsdiens wat glo onortodoks is of wat aanbidding volgens ’n voorgeskrewe ritus beklemtoon. Talle kultusse volg ’n lewende menseleier, en hulle aanhangers woon dikwels in groepe wat van die res van die gemeenskap afgeskei is. Maar God se Woord behoort die maatstaf te wees van wat ortodoks is, en Jehovah se Getuies hou hulle streng aan die Bybel. Hulle aanbidding is ’n lewenswyse, nie rituele godsdiensoefening nie. Hulle volg ook nie ’n mens nie en skei hulself nie van die res van die gemeenskap af nie. Hulle lewe en werk te midde van ander mense.

Hoe oud is die godsdiens van Jehovah se Getuies?

Volgens die Bybel strek die reeks getuies van Jehovah terug tot by getroue Abel. Hebreërs 11:4–12:1 sê: “Deur die geloof het Abel ’n beter offer gebring as Kain . . . Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak . . . Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang . . . Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê . . . Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”

Met verwysing na Jesus Christus sê die Bybel: “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God.” Van wie was hy ’n getuie? Hyself het gesê dat hy sy Vader se naam bekend gemaak het. Hy was die vernaamste getuie van Jehovah.—Openb. 3:14; Joh. 17:6.

Dit is interessant dat sommige van die Jode gevra het of die werk van Jesus Christus ’n “nuwe leer” was (Mark. 1:27). Later het sommige Grieke gedink dat die apostel Paulus ’n “nuwe leer” bring (Hand. 17:19, 20). Dit was nuut vir die ore van diegene wat dit gehoor het, maar die belangrike saak was dat dit die waarheid was en ten volle met God se Woord ooreengestem het.

Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies het begin met die totstandkoming van ’n Bybelstudiegroep in Allegheny, Pennsilvanië, V.S.A., in die vroeë sewentigerjare van die negentiende eeu. Hulle was aanvanklik slegs bekend as Bybelstudente, maar in 1931 het hulle die Skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem (Jes. 43:10-12, NW). Hulle leer en gebruike is nie nuut nie, maar ’n herstelling van die eerste-eeuse Christelike godsdiens.

Glo Jehovah se Getuies dat hulle geloof die enigste regte geloof is?

Die Bybel stem nie saam met die hedendaagse beskouing dat daar talle aanneemlike maniere is om God te aanbid nie. Efesiërs 4:5 sê dat daar “een Here, een geloof” is. Jesus het gesê: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. . . . Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Matt. 7:13, 14, 21; kyk ook 1 Korinthiërs 1:10.

Die Skrif praat herhaaldelik van die versameling ware, Christelike leerstellings as “die waarheid”, en daar word van die Christelike godsdiens gepraat as “die weg van die waarheid” (1 Tim. 3:15; 2 Joh. 1; 2 Pet. 2:2). Daar Jehovah se Getuies al hulle leerstellings, hulle maatstawe vir gedrag en organisatoriese prosedures op die Bybel baseer, oortuig hulle geloof in die Bybel as God se Woord hulle op sigself dat hulle inderdaad die waarheid het. Hulle standpunt is dus nie egotisties nie, maar toon hulle vertroue dat die Bybel die regte maatstaf is waaraan ’n mens jou geloof moet meet. Hulle is nie egosentries nie, maar vertel graag vir ander wat hulle glo.

Volg ander gelowe nie ook die Bybel nie?

Baie gebruik dit in ’n mate. Maar leer en doen hulle werklik wat dit sê? Beskou die volgende: (1) Hulle het die naam van die ware God duisende kere uit die meeste van hulle Bybelvertalings gehaal. (2) Die Drie-eenheidsleer, hulle begrip van God, is aan heidense bronne ontleen en is eers eeue nadat die hele Bybel op skrif gestel is in sy huidige vorm geformuleer. (3) Hulle geloof in die onsterflikheid van die mensesiel as ’n grondslag vir voortgesette lewe kom nie uit die Bybel nie; dit het sy oorsprong by eertydse Babilon. (4) Die tema van Jesus se prediking was die Koninkryk van God, en hy het sy dissipels uitgestuur om persoonlik met ander daaroor te praat; maar die kerke meld daardie Koninkryk vandag selde en hulle lidmate verkondig nie “hierdie evangelie van die koninkryk” nie (Matt. 24:14). (5) Jesus het gesê dat sy ware volgelinge geredelik uitgeken sou word aan hulle selfopofferende liefde vir mekaar. Is dit waar van die kerke van die Christendom wanneer die nasies oorlog voer? (6) Die Bybel sê dat Christus se dissipels geen deel van die wêreld sou wees nie, en dit waarsku dat enigiemand wat ’n vriend van die wêreld wil wees, homself ’n vyand van God maak; maar die kerke van die Christendom en hulle lidmate is diep betrokke by die politieke aangeleenthede van die nasies (Jak. 4:4). Kan daar, in die lig van so ’n reputasie, eerlik waar gesê word dat hulle werklik by die Bybel bly?

Waar kom Jehovah se Getuies aan hulle vertolking van die Bybel?

’n Sleutelfaktor is dat die Getuies waarlik glo dat die Bybel God se Woord is en dat die inhoud daarvan tot ons lering is (2 Tim. 3:16, 17; Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11). Hulle maak dus nie gebruik van filosofiese argumente om die duidelike verklarings daarin te omseil of om die lewenswyse van mense wat die morele standaarde daarvan versaak het, te regverdig nie.

Wanneer hulle op die betekenis van simboliese taal in die Bybel wys, laat hulle die Bybel sy eie verklaring bied in plaas daarvan om hulle teorieë oor die betekenis daarvan te opper (1 Kor. 2:13). Aanduidings van die betekenis van simboliese terme word gewoonlik in ander dele van die Bybel aangetref. (Kyk byvoorbeeld Openbaring 21:1; lees dan Jesaja 57:20 in verband met die betekenis van “see”. Kyk Johannes 1:29 en 1 Petrus 1:19 om “die Lam” waarvan Openbaring 14:1 praat, te identifiseer.)

Wat die vervulling van profesieë betref, pas hulle toe wat Jesus gesê het, naamlik dat ’n mens op die uitkyk moet wees na gebeure wat ooreenkom met wat voorspel is. (Luk. 21:29-31; vergelyk 2 Petrus 1:16-19.) Hulle wys pligsgetrou op daardie gebeure en vestig die aandag op die Bybel se verklaring daarvan.

Jesus het gesê dat hy ’n “getroue en verstandige dienskneg” (sy gesalfde volgelinge as geheel beskou) op die aarde sou hê, en dat hy hierdie groep sou gebruik om geestelike voedsel te gee aan diegene wat die huisgenote van die geloof uitmaak (Matt. 24:45-47). Jehovah se Getuies erken daardie reëling. Net soos die eerste-eeuse Christene wend hulle hulle tot die bestuursliggaam van daardie “dienskneg”-klas om moeilike geskille op te los—nie op grond van menslike wysheid nie, maar deur te put uit hulle kennis van God se Woord en sy handelinge met sy diensknegte, en met behulp van God se gees, waarvoor hulle opreg bid.—Hand. 15:1-29; 16:4, 5.

Waarom was daar deur die jare heen veranderinge in die leerstellings van Jehovah se Getuies?

Die Bybel toon dat Jehovah sy diensknegte in staat stel om sy voorneme progressief te verstaan (Spr. 4:18; Joh. 16:12). Die profete wat deur God geïnspireer is om dele van die Bybel te skryf, het gevolglik nie alles verstaan wat hulle neergeskryf het nie (Dan. 12:8, 9; 1 Pet. 1:10-12). Die apostels van Jesus Christus het besef dat daar baie dinge was wat hulle nie in hulle dag verstaan het nie (Hand. 1:6, 7; 1 Kor. 13:9-12). Die Bybel toon dat daar in “die tyd van die einde” ’n groot vermeerdering in kennis van die waarheid sou wees (Dan. 12:4). Meer kennis verg dikwels aanpassings in ’n mens se denke. Jehovah se Getuies is nederig gewillig om sulke aanpassings te maak.

Waarom preek Jehovah se Getuies van huis tot huis?

Jesus het hierdie werk vir ons dag voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hy het sy volgelinge ook beveel: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies.”—Matt. 24:14; 28:19.

Toe Jesus sy vroeë dissipels uitgestuur het, het hy hulle beveel om na die mense se huise toe te gaan (Matt. 10:7, 11-13). Ons lees aangaande die bediening van die apostels: “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Hand. 5:42; kyk ook Handelinge 20:20, 21.

Mense se lewens hang af van die boodskap wat die Getuies verkondig; hulle wil niemand oorslaan nie (Sef. 2:2, 3). Hulle besoeke word uit liefde gedoen—allereers liefde vir God, en ook naasteliefde.

’n Konferensie van godsdiensleiers in Spanje het die volgende gesê: “Dit is dalk juis dít waarmee die Getuies hulleself die meeste besig hou—die huisbesoek, wat binne die apostoliese metodologie van die primitiewe kerk val—wat gruwelik deur [die kerke] verwaarloos word. Terwyl die kerke hulself in baie gevalle beperk tot die bou van hulle tempels, klokkespel om mense te lok en preke binnekant hulle vergaderplekke, pas [die Getuies] die apostoliese metode toe om van huis tot huis te gaan en elke geleentheid te benut om te getuig.”—El Catolicismo, Bogotá, Colombia, 14 September 1975, bl. 14.

Maar waarom gaan die Getuies herhaaldelik na die huise van mense wat nie aan hulle geloof behoort nie?

Hulle dwing nie hulle boodskap op ander af nie. Maar hulle weet dat mense verhuis en dat mense se omstandighede verander. Vandag is ’n persoon dalk te besig om te luister; op ’n ander keer staan hy moontlik die tyd met graagte af. Een lid van ’n huisgesin stel dalk nie belang nie, maar ander stel moontlik belang. Mense self verander; ernstige lewensprobleme kan ’n bewustheid van ’n geestelike behoefte aanwakker.—Kyk ook Jesaja 6:8, 11, 12.

Waarom word Jehovah se Getuies vervolg en word daar teen hulle kwaadgespreek?

Jesus het gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.” (Joh. 15:18, 19; kyk ook 1 Petrus 4:3, 4.) Die Bybel toon dat die hele wêreld in Satan se mag lê; hy is die vernaamste aanstigter van die vervolging.—1 Joh. 5:19; Openb. 12:17.

Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam” (Mark. 13:13). Die woord “Naam” beteken hier Jesus se amptelike posisie as die Messiaanse Koning. Jehovah se Getuies word vervolg omdat hulle sy gebooie belangriker ag as dié van enige aardse heerser.

As iemand sê—

‘Waarom doen julle nie mee aan dinge wat sal help om die wêreld (die gemeenskap) ’n beter plek te maak nie?’

Jy kan antwoord: ‘Toestande in die gemeenskap is klaarblyklik vir u belangrik, en vir my ook. Mag ek vra: Watter probleem meen u moet een van die eerstes wees wat aangepak word?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Waarom meen u dat dit so ’n groot behoefte is? . . . As daar dadelik iets omtrent die saak gedoen word, kan dit natuurlik nuttig wees, maar ek is seker dat u sal saamstem dat ons graag verbetering op die lang termyn wil sien. Dit is die benadering wat ons as Jehovah se Getuies van die saak het. (Verduidelik wat ons doen om mense te help om Bybelbeginsels in hulle lewens toe te pas om op ’n persoonlike grondslag tot die kern van die saak deur te dring; ook wat God se Koninkryk gaan doen, en waarom dit die probleem permanent vir die mensdom sal oplos.)’

Of jy kan sê: ‘(Nadat enkele van die gedagtes in die voorgaande antwoord gedek is . . . ) Sommige mense dra tot gemeenskapsverbetering by deur geld te voorsien; ander doen dit deur hulle dienste aan te bied. Jehovah se Getuies doen albei. Laat ek verduidelik.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Om een van Jehovah se Getuies te wees, moet ’n persoon sy belasting pligsgetrou betaal; dit voorsien geld aan die regering om nodige dienste te lewer.’ (2) ‘Ons gaan verder. Ons besoek mense tuis en bied aan om die Bybel gratis saam met hulle te bestudeer. Wanneer hulle vertroud raak met wat die Bybel sê, leer hulle om Bybelbeginsels toe te pas en so hulle probleme die hoof te bied.’

’n Ander moontlikheid: ‘Ek is bly u het die saak geopper. Baie mense het nog nooit navraag gedoen om uit te vind wat die Getuies in werklikheid omtrent gemeenskapsaangeleenthede doen nie. Daar is seer sekerlik meer as een manier om hulp aan te bied.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Sommige doen dit deur inrigtings op te rig—hospitale, ouetehuise, rehabilitasiesentrums vir dwelmslawe, ensovoorts. Ander bied aan om regstreeks na die huise van mense te gaan en gepaste hulp aan te bied waar hulle kan. Dit is wat Jehovah se Getuies doen.’ (2) ‘Ons het gevind dat daar iets is wat ’n persoon se hele lewensbeskouing kan verander, en dit is kennis van wat die Bybel toon die ware doel van die lewe is en wat die toekoms inhou.’

Nog ’n wenk: ‘Ek is bly u het daardie vraag gestel. Ons sou graag wou sien dat toestande verbeter, nie waar nie? Mag ek vra: Hoe voel u oor wat Jesus Christus gedoen het? Sou u sê dat sy metode om mense te help prakties was? . . . Ons probeer om sy voorbeeld te volg.’

‘Christene is veronderstel om getuies van Jesus te wees, nie van Jehovah nie’

Jy kan antwoord: ‘Dit is ’n interessante gedagte wat u gemeld het. En u het reg wanneer u sê dat ons ’n verantwoordelikheid het om Jesus se getuies te wees. Dit is waarom Jesus se rol in God se voorneme in ons publikasies beklemtoon word. (Jy kan een van ons jongste boeke of ’n tydskrif gebruik om dit toe te lig.) Maar hier is iets wat miskien vir u ’n nuwe gedagte is (Openb. 1:5). . . . Van wie was Jesus “die getroue getuie”? (Joh. 5:43; 17:6). . . . Jesus het die voorbeeld gestel wat ons moet volg, nie waar nie? . . . Waarom is dit so belangrik om Jesus sowel as sy Vader te leer ken? (Joh. 17:3).’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel