Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 8 bl. 60-67
  • Die gemeente het “’n tydperk van vrede ingegaan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gemeente het “’n tydperk van vrede ingegaan”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hoekom vervolg jy my?” (Handelinge 9:1-5)
  • “Saul, broer, die Here . . . het my gestuur” (Handelinge 9:6-17)
  • “Hy het . . . begin preek oor Jesus” (Handelinge 9:18-30)
  • “Baie het . . . begin glo” (Handelinge 9:31-43)
  • Jesus kies Saulus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Die vervolger sien ’n groot lig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Op die pad na Damaskus
    My boek met Bybelverhale
  • Saulus ontmoet ou vriende en voormalige vyande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 8 bl. 60-67

HOOFSTUK 8

Die gemeente het “’n tydperk van vrede ingegaan”

Die wrede vervolger Saulus word ’n ywerige bedienaar

Gebaseer op Handelinge 9:1-43

1, 2. Wat wou Saulus in Damaskus doen?

DIE stroewe reisigers nader Damaskus, waar hulle beoog om ’n bose plan uit te voer. Hulle gaan die gehate dissipels van Jesus uit hulle huise sleep, hulle boei, verneder en na Jerusalem neem waar hulle die toorn van die Sanhedrin sal moet verduur.

2 Die leier van die groep, Saulus, het reeds bloed aan sy hande.a Hy het kort tevore goedkeurend toegekyk terwyl sy medegodsdiensyweraars vir Stefanus, ’n getroue dissipel van Jesus, gestenig het (Hand. 7:57–8:1). Saulus is nie net tevrede om Jesus se volgelinge in Jerusalem te vervolg nie; hy word ook ’n opstoker wat gereed staan om die vlamme van vervolging verder te laat versprei. Hy wil die verpestelike sekte wat as “Die Weg” bekend staan, heeltemal uitwis. – Hand. 9:1, 2; sien die venster “Saulus se mandaat in Damaskus”.

3, 4. (a) Wat het met Saulus gebeur? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

3 Skielik skyn daar ’n helder lig rondom Saulus. Sy reisgenote sien die lig, maar is sprakeloos van skok. Saulus, wat met blindheid getref is, val op die grond neer. Hy kan nie sien nie, maar hoor ’n stem uit die hemel wat sê: “Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?” Saulus is verbysterd en vra: “Wie is u, Here?” Die antwoord wat Saulus ontvang, tref hom ongetwyfeld tot in sy diepste wese: “Ek is Jesus, die een wat jy vervolg.” – Hand. 9:3-5; 22:9.

4 Wat kan ons uit Jesus se eerste paar woorde aan Saulus leer? Hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van die gebeure wat met die bekering van Saulus gepaardgegaan het? En watter lesse kan ons leer uit die manier waarop die gemeente die tydperk van vrede ná Saulus se bekering gebruik het?

SAULUS SE MANDAAT IN DAMASKUS

Waar het Saulus die gesag gekry om Christene in ’n ander stad in hegtenis te neem? Die Sanhedrin en die hoëpriester het morele gesag oor Jode in alle plekke uitgeoefen, en die hoëpriester het blykbaar ook die gesag gehad om misdadigers uit te lewer. Briewe van die hoëpriester sou dus verseker dat die ouermanne van die sinagoges in Damaskus hulle samewerking gee. – Hand. 9:1, 2.

Daarbenewens het die Romeine die Jode die reg gegee om hulle eie regsake te hanteer. Dit verklaar waarom die apostel Paulus vyf keer van die Jode “39 houe” ontvang het (2 Kor. 11:24). Die boek 1 Makkabeërs noem ook ’n brief wat in 138 VHJ deur ’n Romeinse konsul aan Ptolemeus VIII van Egipte geskryf is en geëis het: “As enige niksnuts uit hul land [Judea] na julle toe gevlug het, lewer hom uit aan Simon, die hoëpriester, sodat hy hom in ooreenstemming met hulle wet mag straf” (1 Makk. 15:21). In 47 VHJ het Julius Caesar die voorregte bevestig wat voorheen aan die hoëpriester gegee is, sowel as sy reg om enige kwessies wat in verband met Joodse gebruike ontstaan het, op te los.

“Hoekom vervolg jy my?” (Handelinge 9:1-5)

5, 6. Wat kan ons uit Jesus se woorde aan Saulus leer?

5 Toe Jesus vir Saulus op die pad na Damaskus gestop het, het Hy nie gevra: “Hoekom vervolg jy my dissipels?” nie. Soos reeds getoon is, het hy gesê: “Hoekom vervolg jy my?” (Hand. 9:4). Ja, dit raak Jesus persoonlik wanneer sy volgelinge beproewinge verduur. – Matt. 25:34-40, 45.

6 As jy weens jou geloof in Christus onderdruk word, wees verseker dat Jehovah sowel as Jesus bewus is van jou situasie (Matt. 10:22, 28-31). Die beproewing sal dalk nie op daardie stadium verwyder word nie. Onthou, Jesus het gesien dat Saulus betrokke was by Stefanus se dood en het gesien hoe Saulus getroue dissipels uit hulle huise in Jerusalem sleep (Hand. 8:3). En tog het Jesus nie op daardie tydstip ingegryp nie. Nogtans het Jehovah, deur middel van Christus, aan Stefanus en die ander dissipels die nodige krag gegee om getrou te bly.

7. Wat moet jy doen om vervolging te verduur?

7 Jy kan ook vervolging verduur as jy die volgende doen: (1) Neem jou voor om lojaal te bly ongeag wat gebeur. (2) Vra Jehovah om jou te help (Fil. 4:6, 7). (3) Laat wraak aan Jehovah oor (Rom. 12:17-21). (4) Vertrou dat Jehovah jou die krag sal gee om te volhard totdat hy dit goeddink om die beproewing te verwyder. – Fil. 4:12, 13.

“Saul, broer, die Here . . . het my gestuur” (Handelinge 9:6-17)

8, 9. Hoe het Ananias moontlik oor sy toewysing gevoel?

8 Nadat Jesus Saulus se vraag: “Wie is u, Here?” beantwoord het, het hy vir hom gesê: “Staan op en gaan in die stad in, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen” (Hand. 9:6). Die blinde Saulus is na sy verblyfplek in Damaskus gelei, waar hy drie dae lank gevas en gebid het. Intussen het Jesus met ’n dissipel in daardie stad, ’n man met die naam Ananias, “oor wie al die Jode wat [in Damaskus] gebly het, goeie dinge gesê het”, oor Saulus gepraat. – Hand. 22:12.

9 Dink aan die gemengde gevoelens wat Ananias moes gehad het! Hier praat die Hoof van die gemeente, die verrese Jesus Christus, persoonlik met hom en sonder hom uit vir ’n spesiale toewysing. Wat ’n eer, maar wat ’n toewysing! Toe daar vir hom gesê is om met Saulus te gaan praat, het Ananias geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die skadelike dinge wat hy aan u heiliges in Jerusalem gedoen het. En nou het hy toestemming van die hoofpriesters om almal wat u naam aanroep, te arresteer.” – Hand. 9:13, 14.

10. Wat leer ons omtrent Jesus uit die manier waarop hy Ananias behandel het?

10 Jesus het Ananias nie berispe omdat hy sy kommer uitgespreek het nie. Maar Jesus het hom wel duidelike instruksies gegee. En Jesus het aan hom waardigheid verleen deur vir hom te sê waarom hy wou hê dat hy hierdie ongewone taak moet verrig. Jesus het van Saulus gesê: “Ek het hierdie man gekies om die nasies sowel as konings en die Israeliete van my naam te vertel. Want ek sal vir hom wys wat hy alles vir my naam moet ly” (Hand. 9:15, 16). Ananias het onmiddellik Jesus se opdrag uitgevoer. Hy het die vervolger Saulus opgespoor en vir hom gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat op die pad hierheen aan jou verskyn het, het my gestuur sodat jy weer kan sien en met heilige gees gevul kan word.” – Hand. 9:17.

11, 12. Wat leer ons uit die gebeure waarby Jesus, Ananias en Saulus betrokke was?

11 Verskeie feite kom na vore uit die gebeure waarby Jesus, Ananias en Saulus betrokke was. Byvoorbeeld, Jesus rig die predikingswerk daadwerklik, net soos hy belowe het (Matt. 28:20). Hoewel hy vandag nie direk met individue praat nie, rig Jesus wel die predikingswerk deur middel van die getroue slaaf, wat hy nou oor sy huisknegte aangestel het (Matt. 24:45-47). Onder leiding van die Bestuursliggaam word verkondigers en pioniers uitgestuur om diegene te vind wat meer van Christus wil weet. Soos in die vorige hoofstuk genoem is, het baie van hierdie mense gebid vir leiding en is hulle toe deur Jehovah se Getuies besoek. – Hand. 9:11.

12 Ananias was gehoorsaam en het die toewysing aanvaar, en hy is geseën. Is jy gehoorsaam aan die opdrag om deeglik te getuig, al voel jy effens skrikkerig oor die toewysing? Party voel dalk angstig om van huis tot huis te preek en met vreemdelinge te praat. Ander vind dit moeilik om vir mense by hulle besigheid, op straat of oor die telefoon of deur briewe te getuig. Ananias het sy vrees oorkom en het die voorreg gehad om Saulus te help om die heilige gees te ontvang.b Ananias was suksesvol omdat hy vertroue in Jesus gestel het en Saulus as sy broer beskou het. Ons kan ons vrese te bowe kom as ons, soos Ananias, vertrou dat Jesus die predikingswerk rig, empatie het met mense en selfs die intimiderendste persone as potensiële broers beskou. – Matt. 9:36.

“Hy het . . . begin preek oor Jesus” (Handelinge 9:18-30)

13, 14. Wat kan jy uit Saulus se voorbeeld leer as jy die Bybel bestudeer maar nog nie gedoop is nie?

13 Saulus het onmiddellik gereageer op wat hy geleer het. Nadat hy genees is, het hy hom laat doop en noue omgang met die dissipels in Damaskus begin geniet. Maar hy het meer as dit gedoen. “Hy het onmiddellik in die sinagoges begin preek oor Jesus, dat hy die Seun van God is.” – Hand. 9:20.

14 Sal jy, as jy die Bybel bestudeer maar nog nie gedoop is nie, soos Saulus wees en daadwerklik optree in ooreenstemming met wat jy leer? Saulus het weliswaar persoonlik ’n wonderwerk gesien wat deur Christus verrig is, en dit het hom ongetwyfeld tot dade beweeg. Maar ander het ook wonderwerke gesien wat deur Jesus verrig is. Byvoorbeeld, ’n groep Fariseërs het toegekyk terwyl hy ’n man se verdorde hand genees het, en baie van die Jode het geweet dat Jesus Lasarus uit die dood opgewek het. Nogtans het baie van hulle onverskillig, selfs vyandig, gebly (Mark. 3:1-6; Joh. 12:9, 10). In teenstelling hiermee het Saulus heeltemal verander. Waarom het Saulus gunstig gereageer terwyl ander dit nie gedoen het nie? Omdat hy God meer as mense gevrees het en omdat hy diepe waardering gehad het vir die barmhartigheid wat Christus aan hom bewys het (Fil. 3:8). As jy op soortgelyke wyse reageer, sal jy nie toelaat dat enigiets jou daarvan weerhou om aan die predikingswerk te begin deelneem en te kwalifiseer om gedoop te word nie.

15, 16. Wat het Saulus in die sinagoges gedoen, en hoe het die Jode in Damaskus gereageer?

15 Kan jy jou die verbasing, skok en woede van die skare voorstel toe Saulus in die sinagoges oor Jesus begin preek het? “Is dit nie die man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem swaar vervolg het nie?” het hulle gevra (Hand. 9:21). Toe hy verduidelik waarom sy gesindheid teenoor Jesus verander het, het Saulus “logies bewys . . . dat Jesus die Christus is” (Hand. 9:22). Maar nie almal word deur logika oortuig nie. Dit kan nie die denke verander van mense wat aan tradisie vasklou of wat weens trots nie wil verander nie. Nogtans het Saulus nie moed verloor nie.

16 Drie jaar later het die Jode in Damaskus Saulus nog altyd teëgestaan. Uiteindelik het hulle hom probeer doodmaak (Hand. 9:23; 2 Kor. 11:32, 33; Gal. 1:13-18). Toe die plan aan die lig gekom het, het Saulus die verstandige weg gevolg en uit die stad padgegee deur toe te laat dat hy in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat sak word. Lukas beskryf dié wat Saulus daardie nag help ontsnap het, as “sy [Saulus se] dissipels” (Hand. 9:25). Hierdie bewoording dui blykbaar daarop dat ten minste ’n paar van dié wat Saulus in Damaskus hoor praat het, gunstig op sy prediking gereageer het en volgelinge van Christus geword het.

17. (a) Hoe reageer mense soms op Bybelwaarheid? (b) Wat moet ons aanhou doen, en waarom?

17 Toe jy vir jou familie, vriende en ander begin vertel het van die goeie dinge wat jy leer, het jy dalk verwag dat almal die onbetwisbare logika van Bybelwaarheid sou aanvaar. Party het dit moontlik gedoen, maar baie het nie. Trouens, van jou eie gesinslede het jou miskien soos ’n vyand behandel (Matt. 10:32-38). Maar as jy aanhou om jou vermoë te verbeter om uit die Skrif te redeneer, en jou altyd as ’n Christen goed gedra, sal selfs diegene wat jou teëstaan, dalk uiteindelik van gesindheid verander. – Hand. 17:2; 1 Pet. 2:12; 3:1, 2, 7.

18, 19. (a) Wat was die gevolg toe Barnabas vir Saulus opgekom het? (b) Hoe kan ons Barnabas en Saulus navolg?

18 Toe Saulus in Jerusalem aankom, was die dissipels begryplikerwys skepties oor sy bewering dat hy nou ’n dissipel is. Maar toe Barnabas vir Saulus opkom, het die apostels hom aanvaar, en hy het ’n tyd lank by hulle gebly (Hand. 9:26-28). Saulus was versigtig, maar hy het hom nie vir die goeie nuus geskaam nie (Rom. 1:16). Hy het moedig in Jerusalem gepreek, die einste plek waar hy die dissipels van Jesus Christus wreed begin vervolg het. Tot hulle groot ontsteltenis het die Jode in Jerusalem besef dat hulle voorvegter hulle geledere verlaat het, en hulle het hom nou probeer doodmaak. “Toe die broers daarvan uitvind”, sê die verslag, “het hulle [Saulus] na Sesarea geneem en hom daarna na Tarsus gestuur” (Hand. 9:30). Saulus het hom onderwerp aan Jesus se leiding, soos geopenbaar is deur die gemeente. Saulus sowel as die gemeente het hierby baat gevind.

19 Let op dat Barnabas die inisiatief geneem het om Saulus by te staan. Hierdie goedhartige daad het ongetwyfeld bygedra tot die hartlike vriendskap wat tussen hierdie ywerige knegte van Jehovah ontwikkel het. Staan jy, soos Barnabas, nuwelinge in die gemeente gewillig by deur saam met hulle velddiens te doen en hulle te help om geestelike vooruitgang te maak? Jy sal ryklik beloon word hiervoor. As jy ’n nuwe verkondiger van die goeie nuus is, aanvaar jy die hulp wat ander jou aanbied, soos Saulus gedoen het? Deur saam met meer ervare verkondigers te werk, sal jy jou vaardigheid in die bediening verbeter, sal jou vreugde toeneem en sal jy vriendskapsbande smee wat lewenslank kan duur.

“Baie het . . . begin glo” (Handelinge 9:31-43)

20, 21. Hoe het God se knegte in die verlede en vandag ‘tydperke van vrede’ benut?

20 Ná Saulus se bekering en veilige vertrek het “die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria ’n tydperk van vrede ingegaan” (Hand. 9:31). Hoe het die dissipels hierdie goeie tydperk gebruik? (2 Tim. 4:2). Die verslag sê dat hulle “opgebou” is. Die apostels en ander verantwoordelike broers het die geloof van die dissipels versterk en die leiding geneem terwyl die gemeente “getoon [het] dat hulle Jehovah vrees en in die vertroosting van die heilige gees lewe”. Petrus het byvoorbeeld die tyd gebruik om die dissipels in die dorp Lidda op die Vlakte van Saron aan te moedig. As gevolg van sy pogings het baie wat in die omgewing gewoon het, hulle “tot die Here” bekeer (Hand. 9:32-35). Die dissipels het hulle nie deur ander strewes laat aflei nie, maar het hulle daarop toegelê om mekaar te help en die goeie nuus te verkondig. Die gevolg was dat die gemeente “bly vermeerder” het.

21 Teen die einde van die 20ste eeu het Jehovah se Getuies in baie lande ’n soortgelyke “tydperk van vrede” ingegaan. Regimes wat God se volk dekades lank onderdruk het, het skielik tot ’n einde gekom, en sekere verbooie op die predikingswerk is verslap of opgehef. Tienduisende Getuies het die geleentheid aangegryp om in die openbaar te getuig, met verstommende resultate.

22. Hoe kan jy jou vryheid ten beste benut?

22 Benut jy jou vryheid? As jy in ’n land woon waar daar godsdiensvryheid is, sou Satan jou graag wil verlok om materiële rykdom in plaas van Koninkryksbelange na te streef (Matt. 13:22). Moenie toelaat dat jy afgelei word nie. Maak goeie gebruik van enige tydperke van relatiewe vrede wat jy dalk nou geniet. Beskou dit as geleenthede om deeglik te getuig en die gemeente op te bou. Onthou, jou omstandighede kan skielik verander.

23, 24. (a) Watter punte leer ons uit die verslag oor Tabita? (b) Wat moet ons ons voorneem?

23 Dink aan wat gebeur het met ’n dissipel met die naam Tabita, of Dorkas. Sy het in Joppe, ’n dorp naby Lidda, gewoon. Hierdie getroue suster het haar tyd en middele wyslik gebruik en “het altyd goeie dinge vir ander gedoen en die armes gehelp”. Maar sy het skielik siek geword en gesterf.c Haar dood het groot droefheid onder die dissipels in Joppe veroorsaak, veral onder die weduwees aan wie sy goedhartigheid betoon het. Toe Petrus by die huis aankom waar hulle haar liggaam vir die begrafnis voorberei het, het hy ’n wonderwerk verrig wat nie een van Jesus Christus se apostels al verrig het nie. Petrus het gebid en Tabita daarna uit die dood opgewek! Kan jy jou die vreugde voorstel van die weduwees en ander dissipels toe Petrus hulle na die kamer terugroep en Tabita lewend voor hulle stel? Hierdie gebeure het hulle sekerlik versterk vir die beproewinge wat voorgelê het! Dit is geen wonder dat “almal in Joppe” van die wonderwerk “gehoor, en baie . . . in die Here begin glo” het nie. – Hand. 9:36-42.

’n Suster gee vir ’n bejaarde suster wat siek is, blomme.

Hoe kan jy Tabita navolg?

24 Ons leer twee belangrike punte uit hierdie hartroerende verslag oor Tabita. (1) Die lewe is kort. Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat ons ’n goeie naam by God maak terwyl ons kan! (Pred. 7:1). (2) Die opstandingshoop is wis en seker. Jehovah het Tabita se talryke dade van goedhartigheid raakgesien, en hy het haar beloon. Hy sal ook ons harde werk onthou en sal ons opwek as ons voor Armageddon sterf (Heb. 6:10). Laat ons dan, hetsy ons tans “moeilike tye” verduur of “’n tydperk van vrede” geniet, daarin volhard om deeglik van Christus te getuig. – 2 Tim. 4:2.

SAULUS, DIE FARISEËR

Die “jong man met die naam Saulus” wat in Handelinge in verband met die steniging van Stefanus genoem word, was van Tarsus. Dit was die hoofstad van die Romeinse provinsie Silisië, in die suide van hedendaagse Turkye (Hand. 7:58). Daar was ’n redelike groot Joodse gemeenskap in dié stad. Volgens sy eie geskrifte is Saulus “op die agtste dag besny” en was hy “uit die nasie Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër gebore uit Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër”. Hy was dus van onbesproke Joodse afkoms. – Fil. 3:5.

Saulus, die Fariseër.

Saulus het gewoon in ’n groot, welvarende handelstad, ’n sentrum van Griekse kultuur. Aangesien hy in Tarsus grootgeword het, het Saulus Grieks geken. Hy het heel waarskynlik sy vroeë skoolopleiding in ’n Joodse skool ontvang. Saulus het geleer om ’n tentmaker te wees, ’n algemene vaardigheid in sy tuisgebied. Hy het hierdie ambag heel moontlik by sy vader geleer terwyl hy nog jonk was. – Hand. 18:2, 3.

Die verslag in Handelinge meld ook dat Saulus as ’n Romeinse burger gebore is (Hand. 22:25-28). Dit beteken dat een van sy voorsate reeds hierdie status verkry het. Hoe Saulus se familie Romeinse burgerskap ontvang het, is onbekend. Hoe dit ook al sy, hierdie voorreg sou hulle onder die sosiale elite van hulle provinsie geplaas het. Saulus se agtergrond en geleerdheid het hom dus ’n goeie grondslag in drie kulture gegee – Joods, Grieks en Romeins.

Saulus was moontlik maar 13 jaar oud toe hy 840 kilometer ver na Jerusalem verhuis het om sy opvoeding daar voort te sit. In dié stad het Saulus onderrigting ontvang aan die voete van Gamaliël, ’n hooggeagte leermeester in die Fariseïese tradisie. – Hand. 22:3.

Hierdie verdere studies, wat vandag vergelyk kan word met universiteitsopleiding, het bestaan uit onderrigting in en memorisering van die Skrif sowel as Joodse mondelinge wette. ’n Belowende loopbaan sou vir ’n suksesvolle student van Gamaliël voorgelê het, en Saulus was blykbaar juis so ’n student. Hy het later geskryf: “Ek het groter vooruitgang in die godsdiens van die Jode gemaak as baie ander van my ouderdom in my nasie, omdat ek baie yweriger vir die tradisies van my vaders was” (Gal. 1:14). Dit was natuurlik Saulus se ywer vir die Joodse tradisie wat van hom ’n berugte vervolger van die jong Christengemeente gemaak het.

TABITA – “SY HET ALTYD GOEIE DINGE VIR ANDER GEDOEN”

Tabita gee ’n geskenk aan iemand wat vir hulp vra.

Tabita was ’n lid van die Christengemeente in die hawestad Joppe. Haar medegelowiges was lief vir haar, want “sy het altyd goeie dinge vir ander gedoen en die armes gehelp” (Hand. 9:36). Soos baie Jode wat in gebiede met ’n gemengde Joodse en nie-Joodse bevolking gewoon het, het Tabita twee name gehad – een Hebreeus of Aramees en die ander Grieks of Latyn. Haar Griekse naam, Dorkas, was in Aramees “Tabita”. Albei name beteken “wildsbokkie”.

Tabita het blykbaar siek geword en skielik gesterf. Haar liggaam is volgens die gebruik gewas ter voorbereiding vir die begrafnis. Dit is in ’n bo-kamer neergelê, moontlik in haar eie huis. Die warm klimaat van die Midde-Ooste het vereis dat begrafnisse op die dag dat die persoon gesterf het of die volgende dag plaasvind. Die Christene in Joppe het gehoor dat die apostel Petrus in die nabygeleë Lidda is. Daar was genoeg tyd vir Petrus om na Joppe te kom voordat Tabita begrawe moes word, aangesien die twee stede maar 18 kilometer – omtrent vier uur se loop – van mekaar af was. Die gemeente het dus twee manne gestuur om Petrus te vra om so gou as moontlik te kom (Hand. 9:37, 38). Een geleerde sê: “Dit was ’n gereelde gebruik in vroeë Judaïsme om boodskappers twee-twee uit te stuur, deels sodat die een die ander se getuienis kon bevestig.”

Wat het gebeur toe Petrus daar aankom? Die verslag sê vir ons: “Hulle [het] hom na die bo-kamer geneem. Daar het al die weduwees by hom kom staan terwyl hulle gehuil het en vir hom baie van die klere gewys het wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was” (Hand. 9:39). Een van die dinge wat Tabita by die lede van haar gemeente geliefd gemaak het, was dat sy die gewoonte gehad het om vir hulle klere te maak. Sy het tunieke gemaak, wat onder die bokleed gedra is, sowel as mantels en ander kledingstukke wat bo-oor die tuniek gedra is. Die verslag sê nie of Tabita self al die materiaal gekoop het en of sy net die naaldwerk gedoen het nie. Hoe dit ook al sy, die gemeente het haar liefgehad weens haar goedhartigheid en omdat sy “die armes gehelp” het.

Wat Petrus in daardie bo-kamer gesien het, moes hom diep geroer het. “Dit was ’n heeltemal ander soort droefheid as dié in die huis van Jaïrus, waar lawaaierige, gehuurde rouklaagsters en fluitspelers rou bedryf het”, sê die geleerde Richard Lenski. “Dit was nie so ’n aangeplakte vertoon van droefheid nie” (Matt. 9:23). Dit was opreg en innig. Die feit dat daar geen melding gemaak word van Tabita se man nie, laat baie tot die slotsom kom dat sy ongetroud was.

Toe Jesus sy apostels aangestel het, het hy hulle die gesag gegee om ‘dooies op te wek’ (Matt. 10:8). Petrus het gesien hoe Jesus sulke wonderwerke verrig, insluitende die opstanding van Jaïrus se dogter, maar voor dié een is daar geen verslag van ’n apostel wat iemand opgewek het nie (Mark. 5:21-24, 35-43). Petrus het die omstanders nou gevra om die bo-kamer te verlaat, en toe het hy vurig gebid, waarna Tabita haar oë oopgemaak en regop gesit het. Hoe verheug moes die Christene in Joppe tog gewees het toe Petrus vir die heiliges en die weduwees wys dat hulle geliefde Tabita lewe! – Hand. 9:40-42.

a Sien die venster “Saulus, die Fariseër”.

b Oor die algemeen is die gawes van die heilige gees deur middel van die apostels oorgedra. Maar in hierdie ongewone situasie het Jesus blykbaar vir Ananias die gesag gegee om die gawes van die gees aan Saulus oor te dra. Ná sy bekering het Saulus vir ’n geruime tyd geen kontak met die 12 apostels gehad nie. Maar hy het heel waarskynlik gedurende daardie hele tyd bedrywig gebly. Op dié manier het Jesus blykbaar toegesien dat Saulus die nodige krag sou hê om sy predikingstoewysing uit te voer.

c Sien die venster “Tabita – ‘Sy het altyd goeie dinge vir ander gedoen’”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel