Aardwye predikings- en onderrigtingswerk
JESUS se woorde het sy eerste-eeuse dissipels heel moontlik verwar. Hy het voorspel dat hulle vir al die nasies voorwerpe van haat sou wees—hulle sou doodgemaak en aan verdrukking oorgelewer word. En baie sou tot struikeling gebring en verraai word. Maar net daarna het Jesus gesê dat die goeie nuus oor die hele aarde verkondig sou word (Matt. 24:9-14). Hoe suksesvol sou ’n wêreldwye predikingskampanje wees as dit regoor die aarde teëgestaan word? Op die volgende bladsye sal jy die antwoord op hierdie interessante vraag vind.
Groottotale vir 2010
Takkantore van Jehovah se Getuies: 116
Aantal lande wat rapporteer: 236
Aantal gemeentes: 107 210
Wêreldwye Gedenkmaalopkoms: 18 706 895
Gedenkmaalgebruikers regoor die wêreld: 11202
Hoogtepunt van verkondigers in Koninkryksdiens: 7 508 050
Gemiddelde aantal verkondigers wat elke maand getuig het: 7 224 930
Persentasie van vermeerdering t.o.v.2009: 2,5
Aantal gedoop: 294 368
Gemiddelde aantal hulppionierverkondigers elke maand: 287 960
Gemiddelde aantal pionierverkondigers elke maand: 844 901
Aantal ure in die veld deurgebring: 1 604 764 248
Gemiddelde aantal tuisbybelstudies elke maand: 8 058 359
Gedurende die 2010-diensjaar het Jehovah se Getuies meer as R1 miljard daaraan bestee om spesiale pioniers, sendelinge en reisende opsieners in hulle velddienstoewysings te onderhou.
◼ Regoor die wêreld dien altesaam 20 062 geordende bedienaars by die takfasiliteite. Hulle is almal lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Dienaars van Jehovah se Getuies.
AFRIKA
LANDE 57
BEVOLKING 888 219 101
VERKONDIGERS 1 222 352
BYBELSTUDIES 2 596 614
’N GROEP SOEK NA DIE WAARHEID. In ’n dorpie in Madagaskar het 80 mense besluit om die Nasionale Protestantse Kerk te verlaat. Hulle het hulle eie kerk gebou en na die ware godsdiens begin soek deur elkeen van die plaaslike godsdienste te ondersoek. Hulle het tot die slotsom gekom dat die Katolieke nie die Bybel bestudeer nie en dat daar verdeeldheid in die Lutherse Kerk is. Die Pinksterkerk het volgens hulle nie die waarheid geleer nie, en die Sewendedagadventiste het te veel dinge verbied. Toe het hulle een van ons broers genader en hom gevra of hy vir hulle die Bybel kan leer. Die broer het onmiddellik ingestem.
’n Paar verkondigers het gereël om hierdie belangstellendes te besoek. Die broers het na die kerk gegaan wat die belangstellendes gebou het, en 26 van hulle het daar gewag om na Bybelinligting te luister. Die broers het hoofstuk 15 van die Leer Bybel-boek gebruik om te verduidelik hoe ’n mens die godsdiens kan vind wat God goedkeur. Die mense was tevrede met die verduideliking. Toe die broers teruggekeer het, was daar 73 belangstellendes. En met die derde besoek was daar 142!
SMS NA DIE VERKEERDE NOMMER. ’n Getuie met die naam Menen, wat in Etiopië woon, het die jaarteks vir 2009 via SMS vir haar Bybelstudent gestuur om haar aan te moedig. Maar sy het dit na die verkeerde nommer gestuur. Die vrou wat dit ontvang het, het dit oor en oor gelees: “‘Getuig deeglik van die goeie nuus.’—Handelinge 20:24, NW.” As ’n godvresende persoon het sy met die boodskap saamgestem, maar nie geweet hoe sy dit kan toepas nie. Sy het ook gewonder oor die raaiselagtige “NW” [Nuwe Wêreld-vertaling] aan die einde. Weke het verbygegaan, maar sy kon net nie daarvan vergeet nie. Sy het uiteindelik die persoon gebel wat die SMS gestuur het. Ons suster was verbaas toe sy hoor wat met haar SMS gebeur het, maar sy het die geleentheid aangegryp om die vrou se opregte vrae te beantwoord. ’n Bybelstudie is begin en dit word twee keer per week gehou.
JONG PIONIERMAATS. Persis, wat in Kameroen woon, het ’n ongedoopte verkondiger geword toe sy ses was. Sy het op haar eerste velddiensrapport aangedui dat sy tien tuisbybelstudies het. Die gemeente se sekretaris het gedink dat dit ’n fout is. Toe hy Persis vra, het sy aan hom verduidelik dat sy werklik tien verskillende studente het. Hy het verder gevra: “Hoe weet jy hoeveel tyd om te rapporteer, aangesien jy nie ’n horlosie het nie?” Sy het gesê dat sy weet dat haar skoolpouse ’n uur lank is. En sy preek die hele pouse lank totdat die klok lui. Die feit dat sy so moedig getuig, het ’n uitwerking gehad op haar ma en niggie, wat later ongedoopte verkondigers geword het. Persis, wat nou tien is, is gedoop en dien as ’n hulppionier terwyl sy nog op skool is. Haar agtjarige vriendin Aasy is reeds ’n ongedoopte verkondiger. ’n Bybelstudent het van hulle gesê: “Ek was bly om by die vergaderinge te sien dat kinders almal groet, veral die bejaardes, voordat hulle by hulle ouers gaan sit. Ek het dit nooit in my kerk gesien nie. Ek weet dat kinders wat so grootword, in die toekoms ’n aanwins vir die gemeenskap sal wees.”
DIE AMERIKAS
LANDE 55
BEVOLKING 918 834 998
VERKONDIGERS 3 673 750
BYBELSTUDIES 3 967 184
SY HET NIE GEKLOP NIE. Miriam, wat in Bolivia woon, het ’n week lank tot God gebid. Sy het min of meer soos volg gebid: “Help my asseblief om u te leer ken, maar ek wil nie hê dat Jehovah se Getuies my moet help nie. Ek wil nie hê dat hulle aan my deur moet klop nie.”
Later daardie week het die telefoon gelui. Dit was Candy, ’n spesiale pionier, wat aangebied het om ons tydskrifte binne die volgende uur vir Miriam te bring. Sy het ingestem. Binne ’n uur het Candy voor haar deur gestaan. Miriam het dit oopgeruk en vir Candy gesê om in te kom en te sit. Miriam het toe op en af begin loop en haar kop geskud. Sy was beslis ontsteld. Candy het haar gevra wat fout is. “Ek kan dit nie glo nie!” het Miriam gesê. “Ek bid nou al meer as ’n week lank tot God vir leiding, maar ek het dit in my gebede baie duidelik gemaak dat ek nie die hulp van Jehovah se Getuies wil hê, wat alewig aan my deur klop nie! En toe bel jy in plaas daarvan om te klop! Sedert jy ’n uur gelede gebel het, bid ek tot God dat jy my nie sal kom besoek nie. En jy het gekom! Ek kan dit nie glo nie! Dis baie duidelik dat hy wil hê dat julle, Jehovah se Getuies, my moet help.” ’n Studie is onmiddellik begin.
HULLE HET HOM VIR DOOD AGTERGELAAT. Pasensi was eens ’n gewilde dorpshoof, of kapiten, in Suriname en was ’n goeie vriend van die granman—die hoofman, of koning—van die hele riviergebied in die binneland. Pasensi het plaaslike tradisies trots verdedig. Hy het Jehovah se Getuies teëgestaan omdat hy gedink het dat hulle ’n bedreiging inhou vir die tradisionele lewenswyse.
Later het ’n jong man beweer dat hy dorpenaars kan uitwys wat towery beoefen. Sy talle volgelinge het hom in kano’s op die rivier gevolg en die beskuldigdes geslaan en alles gevat wat aan hulle behoort. Groot somme geld moes betaal word om die beskuldigdes te “reinig” van die bose gees wat glo in hulle gevaar het. Een van die tallose onskuldige slagoffers was Pasensi, wat geslaan en vir dood agtergelaat is. Nie eens sy vriend, die granman, kon hom help nie omdat hy bang was om sy eie lewe en reputasie op die spel te plaas deur iemand te help wat van towery beskuldig is. Vriende en familielede is verbied om enige hulp te verleen. Maar Pasensi se skoonseun het die moed bymekaargeskraap om hom na ’n dorpie te neem waar die meeste van die inwoners Jehovah se Getuies is. Die broers het die saak bespreek en besluit om te help, al het hulle geweet dat dit vir hulle gevaarlik sal wees. Hulle het gereël dat Pasensi met ’n kano na ’n nabygeleë dorpie geneem word waar ’n broer in ’n verantwoordelike posisie by ’n landingstrook werk. Van daar af is hierdie voormalige teenstander na ’n stad gevlieg vir mediese behandeling.
Pasensi, wat van sy beserings herstel het, is diep geraak deur die liefde van die mense wat hy eens teëgestaan het. Hy het die Bybel begin studeer en is in Desember 2009 gedoop. Pasensi is nou ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus, en al is hy 80 jaar oud, het hy in April 2010 hulppionierdiens gedoen.
HY HET GEDINK HY KEN DIE BYBEL. Eric, ’n man met ’n baard, het Bybel in die hand by ’n gemeentelike vergadering in die Verenigde State opgedaag. Toe een van ons broers hom groet, het Eric hom begin uitvra oor ons opvattings. Hy wou nie die Leer Bybel-boek hê nie, want hy het verkies om net die Bybel te gebruik. Sy Bybelleesrooster het behels dat hy elke dag 20 bladsye uit die Bybel lees, en hy kon nie onthou hoeveel keer hy die Bybel al deurgelees het nie. Ná die vergadering het hy meer as drie uur lank met die broer gesels. Teen die einde van sy besoek het Eric gesê: “Ek voel siek.” Ons broer het hom gevra waarom. Eric het geantwoord: “Ek was oortuig dat ek die Bybel redelik goed ken. Maar ná hierdie besoek besef ek dat ek dit glad nie ken nie.” Hy het toe ’n Leer Bybel-boek geneem.
Die volgende dag het die twee hulle eerste studie gehad. Eric het die vorige nag wakker gebly en die eerste tien hoofstukke van die Leer Bybel-boek gelees. Sy gevolgtrekking? “Ek het uiteindelik die waarheid gevind!” Hulle het vyf dae per week drie tot vier uur lank gestudeer. Hy het begin om vir al die vergaderinge voor te berei en dit saam met sy hele gesin by te woon. Binne die eerste week het hy bedankingsbriewe aan drie verskillende kerke gestuur, sy baard afgeskeer en besluit om nie meer vakansiedae te vier nie. Binne twee weke het hy by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, en binne vier weke was hy ’n ongedoopte verkondiger. Hy is in April 2010 gedoop, slegs ses maande nadat hy die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het!
GEDOOP TOE SY SEWE WAS. Paola, wat in die weste van Mexiko woon, word deur haar oupa en ouma grootgemaak. Toe Paola vyf jaar oud was, het haar ouma die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Paola het geluister terwyl hulle gestudeer het, en die waarheid het in haar jong hart wortelgeskiet. Hoewel haar ouma nie vordering gemaak het nie, het Paola vergaderinge op haar eie begin bywoon. Sy het haar oupa en ouma gevra om haar te help om aan te trek en oor die pad te stap na die Koninkryksaal.
Toe sy kon lees en skryf, het Paola by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit en ’n verkondiger geword. Haar liefde vir Jehovah het haar beweeg om gedoop te word toe sy sewe was. Toe sy gevra is waarom sy die vergaderinge bywoon en so ywerig preek, selfs al ondersteun haar gesin haar nie, het Paola, wat nou tien is, geantwoord: “Ek hou baie van die toesprake omdat dit my aanspoor om aan te hou met my Bybelstudie en om uit die moeilikheid te bly. En ek preek omdat ek mense wil leer wat Jehovah in die toekoms vir hulle gaan doen en omdat die Bybel hulle selfs nóú gelukkig kan maak.”
TELEFOONGETUIENISWERK MET ’N VERSKIL. In die Dominikaanse Republiek het ’n suster baie oproepe ontvang van mense wat die verkeerde nommer gebel het, en dit het haar werk onderbreek. Ná ’n paar dae het sy gedink: ‘Ek kan hierdie steurnis gebruik om te preek.’ Hoe het sy dit gedoen? Wanneer sy hierdie oproepe ontvang het, het sy gesê dat dit ongelukkig die verkeerde nommer is, maar dan het sy bygevoeg: “Kan ek jou sommer vra of jy vandag al die Bybel gelees het?” Hoewel baie die telefoon neergesit het, het ’n hele paar gesê dat hulle nie die Bybel gelees het nie. Dan het sy gevra: “Weet jy waarom dit so belangrik is?” Daarna het sy ’n skriftuurlike antwoord gegee deur Psalm 1:1-3 te lees. ’n Regeringsamptenaar het lank met die suster gepraat en gesê dat hy nie ’n Bybel het nie. Reëlings is getref om vir hom ’n Bybel en Bybellektuur te neem. Twee weke later het hy weer gebel, hierdie keer om haar te bedank vir haar belangstelling en die lektuur.
By ’n ander geleentheid het ’n jong vrou die suster gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Toe die suster ja sê, het die vrou begin huil en verduidelik dat sy ’n onbedrywige verkondiger is. Die suster het haar aangemoedig en gereël dat iemand haar geestelik help. Die vrou is nou weer ’n bedrywige verkondiger.
ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE
LANDE 47
BEVOLKING 4 587 021 833
VERKONDIGERS 652 251
BYBELSTUDIES 601 306
“DIE SAMARITAANSE VROU.” Dit was ’n warm somersdag in Kazakstan. Twee pioniers, ’n broer en ’n suster, het velddiens gedoen en ’n vrou gesien wat water uit ’n put skep. Die broer het haar vir ’n bietjie water gevra, en terwyl hy dit gedrink het, het die suster vir die vrou getuig. Die vrou het belangstelling getoon en die pioniers na haar huis genooi sodat sy meer kon leer. Hulle het ’n rukkie gesels, en die pioniers het vir haar Bybellektuur gegee. Die suster het belowe om haar twee dae later weer te besoek.
Die suster het haar belofte gehou en teruggegaan saam met haar ma, wat ook ’n Getuie is. Die vrou het buite haar huis gestaan en wag, met die lektuur in haar hand. Sy het dit vir die suster teruggegee en gesê: “Dít kom van Jehovah se Getuies af! Julle is ’n Russiese geloof!”
Die suster se ma het die vrou toe gevra of sy vir haar ’n teks uit die Skrif kan lees voordat hulle loop. Omdat sy vir die vrou God se naam in die Skrif wou wys, het sy na Eksodus 3:15 geblaai en gelees: “Jehovah, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.” Tot die susters se verbasing het die vrou hulle ingenooi. Wat het haar so skielik van gedagte laat verander? Die vrou het voorvaders met die name Abraham, Isak en Jakob gehad. Sy het geredeneer dat as Jehovah die God van haar voorvaders is, sy nie sy Getuies moet wegwys nie. Met die volgende besoek is ’n Bybelstudie begin. Sy was so gretig om die waarheid te leer dat sy twee keer per week gestudeer het. Ten spyte van haar seuns se teenstand, het sy geestelik vordering gemaak, en sy is nou ’n ongedoopte verkondiger. Wat meer is, haar skoondogter en die skoondogter se ma studeer nou die Bybel en woon die vergaderinge gereeld by. Omdat haar eerste kontak met die Getuies ’n mens aan Johannes 4:3-15 herinner, is sy in die gemeente bekend as “die Samaritaanse vrou”.
“EK HET ’N PAAR VRAE.” ’n Bejaarde pioniersuster op Siprus skryf: “Een Woensdagoggend het ek nie lekker gevoel nie, maar ek wou veel eerder straatgetuieniswerk doen as om by die huis te bly. Daarom het ek tot Jehovah gebid en hom gevra om iemand te stuur wat genoeg tyd het om langs my op die bankie te kom sit sodat ek ’n Bybelstudie kan begin. Kort voor lank het ’n jong man uit Nepal verbygestap. Ek het die tydskrifte in my hand gehou, en nog voordat ek met hom kon begin praat, het hy my gevra waaroor die tydskrifte handel. Toe ek vir hom sê dat die tydskrifte op die Bybel gebaseer is, het hy gesê: ‘Mevrou, ek het tyd. Kan ek maar langs u kom sit? Ek het ’n paar vrae oor die Bybel wat ek u graag wil vra.’
“Natuurlik het ek ja gesê, want dit was presies waarvoor ek Jehovah gevra het! Die man het toe gesê: ‘My eerste vraag is: Wat leer die Bybel werklik?’ Ek was so verbaas dat ek skaars ’n woord kon uitkry! Ek het die boek Wat leer die Bybel werklik? uit my sak gehaal en dit vir hom gewys. Hy het na die boek gekyk, na my gekyk en gesê: ‘Maar dit is mos die vraag wat ek u nou net gevra het.’ Ek het daar en dan ’n studie op die park se bankie begin! Hy het nou ’n gereelde Bybelstudie en woon die vergaderinge getrou by, en hy het gesê dat hy graag by die Teokratiese Bedieningskool wil aansluit. Ek besef werklik hoe belangrik dit is om ten volle op Jehovah se krag en leiding te vertrou om die Christelike bediening uit te voer, al voel ek soms fisies moeg.”
OUPA ONDERRIG KLEINSEUN SE MOORDENAAR. Miguel se kleinseun is ’n paar jaar gelede vermoor. Die moordenaar, Esmeraldo, is gevang, maar het tydens sy verhoor ontken dat hy die misdaad gepleeg het. Hy het nietemin, op grond van die getuienis, gevangenisstraf ontvang.
Later het ’n ouer man Miguel genooi om saam met hom te gaan preek in dieselfde gevangenis in die Filippyne waar Esmeraldo aangehou is. Miguel was huiwerig, want hy het geweet dat sy kleinseun se moordenaar daar is. Maar hy het saamgegaan en gehelp om ’n paar van die gevangenes wat die Bybel studeer, te onderrig. Gedurende die studie het hy opgekyk en gesien dat Esmeraldo na hom toe aangestap kom. Om te voorkom dat ’n gespanne situasie ontstaan, het Miguel kalm met hom gepraat en gesê: “Esmer, ek het nie hierheen gekom om te stry nie, maar om liefde te betoon aan mense soos jy. Kyk, ons bespreek die Bybel met hierdie man. Wat met jou gebeur het, sou nie gebeur het as jy die Woord van God geken het nie. Studeer asseblief die Bybel saam met ons.” Miguel was verbaas toe Esmeraldo ingesit het vir die res van die studie. Hy is geraak deur wat hy gehoor het en het openlik aan Miguel erken dat hy wel sy kleinseun vermoor het. Hy het toe om vergifnis gevra.
Die ouer man, wat nie hulle gesprek gehoor het nie, het gesien dat hulle blykbaar vriendelik met mekaar praat, en daarom het hy vir Miguel gevra om met Esmeraldo te studeer. Miguel was aanvanklik skrikkerig omdat hy geweet het dat sy kleinseun nie die enigste persoon is wat deur hierdie man vermoor is nie, maar hy het ingestem. Esmeraldo het lank gesukkel om aan God se standaarde te voldoen; maar sy geduld het vrugte afgewerp, en op 1 Februarie 2010 is hy gedoop om sy toewyding aan Jehovah te simboliseer. Miguel toon Christelike vergewensgesindheid teenoor Esmeraldo deur werk daarvan te maak om sy vonnis te verkort sodat Esmeraldo Bybelwaarhede in groter mate kan verkondig.
EUROPA
LANDE 47
BEVOLKING 739 193 855
VERKONDIGERS 1 575 094
BYBELSTUDIES 830 888
AL TWEE HAAR BEGEERTES IS VERVUL. Nelena, wat 19 is en in Bulgarye woon, het twee begeertes gehad—om gedoop te word en om hulppionierdiens te doen. Maar sy ly aan ’n oorerflike siekte wat haar bewegings- en gevoelsenuwees aantas en wat tans ongeneeslik is. Sy haal asem met behulp van ’n masjien, en daarom kan sy nie vryelik rondbeweeg nie. Dit was moeilik om haar eerste begeerte, naamlik om gedoop te word, te vervul omdat sy weens haar toestand nie haar woonstel kon verlaat om ’n byeenkoms by te woon nie. Toe sy 18 was, is ’n skriftuurlike toespraak dus by haar woonstel gehou, en sy is daarna in ’n bad gedoop.
Wat van haar begeerte om hulppionierdiens te doen? Gedurende die seisoen wanneer die weer goed is, kan sy soms vir ’n uur of wat sonder die masjien asemhaal. Dan doen sy hulppionierdiens, en ’n verkondiger stoot haar in ’n rolstoel van deur tot deur. Nelena hou ook ’n tuisbybelstudie deur middel van ’n Internettelefoondiens. Soms hou die susters in die gemeente hulle Bybelstudies in Nelena se woonstel sodat sy daaraan kan deelneem. Gevolglik kon Nelena die afgelope jaar drie keer hulppionierdiens doen. Sy sê: “Ek is so bly dat ek al twee my begeertes kon vervul. Dit het my nader laat kom aan Jehovah, my liefdevolle Skepper.”
HY DRA NOU ’N DAS. ’n Suster in Armenië is by haar werk gespot omdat sy een van Jehovah se Getuies is. ’n Werksmaat het haar gereeld getreiter en gesê dat “die mense wat dasse dra”, haar oorgehaal het om hulle godsdiens te aanvaar. Nadat sy baie keer tevergeefs met hom probeer redeneer het, het sy besluit om sy aanmerkings te ignoreer, en sy het, net soos Jesus Christus, “geen antwoord gegee nie” (Matt. 27:12). Uiteindelik het die werksmaat sy werk verloor weens sy slegte gedrag en omdat hy vir ons suster probleme veroorsaak het. Maande later het ’n man die suster by haar werksplek kom soek. Dit was die voormalige werksmaat wat die lewe vir haar so moeilik gemaak het. Sy voorkoms het haar verbaas. Hy het die Getuies gespot omdat hulle dasse dra, maar nou het hy self een gedra en ’n sak by hom gehad. Hy het vir ons suster gesê: “Ek is jammer oor die slegte dinge wat ek vir jou gesê het. Ek weet nou dat ek die waarheid gevind het.” Die man het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, is ten spyte van familieteenstand gedoop en het as ’n gewone pionier begin dien.
“KEN JY MEV. NADIA?” Nadia is ’n pionier in ’n gemeente in die noorde van Italië. In September 2009 het sy oor ’n interkom met ’n man gepraat wat haar onmiddellik in die rede geval het om vir haar te sê dat sy vrou onlangs oorlede is en dat hy nie met haar wil praat nie. Die volgende Sondag het Nadia teruggegaan om haar meegevoel uit te spreek en oor die Bybel se opstandingshoop te praat, maar die man het weer so gereageer. Die Wagtoring-studie wat daardie selfde middag gehou is, het die ondervinding bevat van ’n suster wat ’n brief geskryf het aan iemand wat ’n geliefde verloor het. Dit het Nadia laat dink aan die man met wie sy oor die interkom gepraat het, en daarom het sy besluit dat sy ’n brief sal skryf waarin sy haar meegevoel uitdruk en besonderhede oor die opstandingshoop verstrek. Twee dae later het sy die brief in die man se posbus gelaat.
’n Paar dae later het Nadia straatgetuieniswerk gedoen en vir ’n man in sy 70’s ’n Bybelvers gelees. Die man het gevra of sy een van Jehovah se Getuies is, en Nadia het gesê dat sy is. Die man het toe verduidelik dat een van Jehovah se Getuies hom besoek het en vir hom ’n pragtige brief geskryf het wat hom diep getref het. Hy het toe gevra: “Ken jy mev. Nadia?” Nadia het haar voorgestel, en hulle was albei baie verbaas. Sy het gereël dat sy en haar man hom gaan besoek. Die man het nie net die Bybel begin studeer nie, maar hy woon die vergaderinge nou ook gereeld by.
HULLE KAN NIE MET ALMAL STUDEER NIE. Vier gedoopte Getuies woon in die dorp Bujanovac in die suide van Serwië. Hierdie Koninkryksverkondigers was verheug toe 460 mense die Gedenkmaal in 2010 bygewoon het! Die ouer manne van ’n nabygeleë gemeente het ’n plek in Bujanovac gehuur waar vergaderinge gereeld gehou kan word. Daar is gewoonlik meer as 50 teenwoordig, en die meeste van hulle is van Roma-afkoms. Omdat so baie mense gunstig op die Koninkryksboodskap reageer, kan die spesiale pioniers in hierdie gebied nie Bybelstudies hou met almal wat belangstelling toon nie. Daarom studeer hulle net met diegene wat al die vergaderinge bywoon en goed daarvoor voorberei.
MEER AS 100 JAAR OUD! Elin, die oudste verkondiger in Swede, is 110 jaar oud—net so oud soos Josua geword het (Jos. 24:29). Sy woon in ’n ouetehuis en gebruik elke geleentheid om met besoekers en almal daar te praat. Sy versprei baie boeke. Toe ’n ouer man en sy dogter in die gebied van huis tot huis getuig het, het hulle ’n jong vrou ontmoet wat gesê het dat Elin vir haar gepreek en ’n boek gegee het. Dit het tot ’n goeie gesprek gelei.a
SY HET DIE BOEKE BY DIE KERK GEVIND. Tatjana, wat in Belarus woon, was verbaas toe sy eendag ’n oproep ontvang van ’n jong vrou wat sy nie geken het nie. Die vrou het vrae gehad en wou graag weet wat die Bybel se antwoord daarop is. ’n Lewendige gesprek het gevolg. Hoe het sy Tatjana se telefoonnommer gekry? Die vrou het verduidelik dat sy ’n Leer Bybel-boek en ’n Nuwe Wêreld-vertaling onder ’n kerkbank gekry het en dat Tatjana se telefoonnommer in die boeke geskryf was. Hoe het die boeke in die kerk beland? Die ma van ’n meisie met wie Tatjana die Bybel gestudeer het, het dit daarheen geneem. Blykbaar wou die ma by die priester uitvind of haar dogter dit moet lees of nie. Om die een of ander rede is die boeke onder die bank gelos. Die vrou het dit daar gesien en besluit om dit huis toe te neem. Die telefoonoproep het tot verdere Bybelbesprekings gelei.
VERLORE JAS BAAN DIE WEG. Elena, ’n suster wat ’n spesiale pionier is, het ’n mooi jas in ’n straat in Minsk, Belarus, sien lê. Die jas was skoon, en dit het nie gelyk asof iemand dit weggegooi het nie. Toe sy dit optel, het sy $1 200 (VSA) (R8 800) in die jas se sak gevind. Sy het na die mense gekyk wat verbygeloop het en gou die man geïdentifiseer wat die jas verloor het. Hy het koorsagtig rondgehardloop asof hy na iets soek. Elena moes hardloop om hom in te haal. Hy was ’n sakeman van Bangladesj, wat in Moskou woon. Hy was baie bly om sy jas met die geld terug te kry. Hy wou ook weet waarom die suster die jas terugbesorg het, en selfs agter hom aan gehardloop het om dit te doen. Sy het verduidelik dat sy een van Jehovah se Getuies is. Hy het gesê dat twee Getuies ’n paar dae tevore met hom gepraat het en dat hy omtrent 30 minute lank met hulle gestry het en sy godsdiensopvattings verdedig het. Die man het toe vir Elena gevra hoe hy sy waardering kan toon omdat sy die jas terugbesorg het. Sy het gesê dat sy nie voordeel uit die situasie wil trek nie en dat die beste manier waarop hy sy waardering kan toon, is om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer wanneer hy na Moskou terugkeer. Hy het ingestem om dit te doen.
OSEANIË
LANDE 30
BEVOLKING 39 384 408
VERKONDIGERS 101 483
BYBELSTUDIES 62 367
YWERIG TEN SPYTE VAN ’N SPRAAKSTEURNIS. Hamish, ’n 23-jarige broer wat in Australië woon, het ’n ernstige spraaksteurnis wat veroorsaak dat sy spraak deurmekaar of onverstaanbaar is of dat hy nie ’n woord kan uitkry nie. Maar hierdie steurnis het nie sy ywer om toesprake te hou of in die veldbediening uit te gaan, gedemp nie. Byvoorbeeld, om ’n toespraak by die Koninkryksaal te hou, tik Hamish eers sy manuskrip op ’n draagbare elektroniese toestel in wat geskrewe teks in hoorbare spraak omsit. Wanneer hy sy toespraak hou, sit hy die toestel op die rostrum en gebruik hy die sleutelbord om die dele van die toespraak te kies en terug te speel. Die gesintetiseerde spraak word deur ’n mikrofoon opgevang en deur die klankstelsel versterk. Wanneer sy programdeel gehoordeelname insluit, gebruik hy die toestel om vrae te vra en die gehoor vir hulle kommentare te bedank. In die veldbediening kommunikeer hy op feitlik dieselfde manier deur voorbereide sinne en Bybeltekste te gebruik en vinnig te tik! Gevolglik het hy talle goeie herbesoeke. Sedert 2007, toe Hamish as ’n bedieningskneg aangestel is, dien hy elke jaar ’n hele paar keer as ’n hulppionier.
PROBLEME MET HAAR DRUKKER. In Nieu-Kaledonië het David, wat rekenaars herstel, ’n oproep van ’n vrou gekry wat probleme met haar drukker gehad het—dit kon ’n sekere dokument nie druk nie. David het die probleem gou opgelos, maar hy was verbaas toe hy sien dat die gedrukte dokument sê: “MOENIE ons besoek nie. Jesus is in ons huis. Ons het geen ander godsdiens nodig nie.”
David het vir die huisbewoner gesê: “Verskoon my, maar terwyl ek jou drukker reggemaak het, het ek die boodskap op die dokument gelees. Mag ek vra waarom jy dit geskryf het?”
Sy het geantwoord: “Jy weet mos Jehovah se Getuies kom elke naweek. Ons is moeg daarvoor om hulle hier te sien. Nie een van hulle sal hulle voet in ons huis sit nie.”
David het gevra: “Besef jy dat jy reeds een van hulle in jou huis ingenooi het?”
Sy het geantwoord: “Dis onmoontlik. Dít sal nooit gebeur nie!”
David het gesê: “Ek is een van Jehovah se Getuies! En jy het my ingenooi!” Die vrou was verbaas en het ’n bietjie skaam gevoel. David het vriendelik verduidelik waarom Jehovah se Getuies mense by hulle huis besoek. Hulle het twee uur lank gepraat. ’n Paar dae later het David hierdie vrou en haar man weer besoek. Hulle het verduidelik dat hulle nagedink het oor wat gebeur het en seker was dat God David na hulle toe gelei het. Daarom kon hulle hom nie wegwys nie! Hulle neem ons tydskrifte nou gereeld.
MET TRAKTATE TOEGERUS. Nathan, wat 12 is, woon in Australië. Hy dra Bybeltraktate in sy skooltas en getuig gereeld vir sy skoolmaats. Terwyl hy eendag van die skool af huis toe geloop het, het hy ’n bejaarde vrou in haar voortuin sien staan. Die vrou het geglimlag; Nathan het teruggeglimlag en vir haar een van sy traktate gegee. Die vrou het toe vir hom gesê dat haar man drie jaar tevore oorlede is. Nathan het sy hand in sy tas gesit en die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? uitgehaal. Trane het in die vrou se oë opgewel toe Nathan vir haar vertel dat sy haar man weer sal kan sien in die komende opstanding in die Paradys. “Maar wanneer sal alle lyding eindig?” het die vrou gevra. Nathan het nog ’n traktaat, Alle lyding sal binnekort eindig!, uitgehaal. Die vrou het Nathan toe gevra wat hy nog glo. Hy het dus vir haar nog ’n traktaat, Wat glo Jehovah se Getuies?, uit sy tas gehaal. Toe is Nathan daar weg. Weke later het hy die vrou weer in haar voortuin gesien. Sy het hom nader geroep en hom ’n drukkie gegee. “Raai wat, Nathan?” het sy gesê. “Nadat jy vir my daardie traktate gegee het, het twee vroue, wat Getuies is, my besoek, en nou studeer ek die Bybel saam met hulle!”
HULLE HET NET EEN GEDENKMAALUITNODIGING GEHAD. Michael het gehelp met die bouwerk aan die nuwe takkantoorkompleks in die Salomonseilande. Daarna het hy besluit om te preek vir mense op Mbanika-eiland, ’n afgesonderde eiland waar hy as kind gewoon het en waar sy vleeslike broers nog woon. Daar was geen Getuies op die eiland nie. Daar is ook nie ’n skip wat gereeld na die eiland toe vaar nie, geen posdiens nie en net een telefoon.
Hy het saam met Hansly, ’n jong pionier, na Mbanika-eiland gereis. Toe hulle daar aankom, het hulle onmiddellik ’n klein Koninkryksaal van palmtakke begin bou en mense na die Herdenking van Christus se dood genooi. Aangesien die twee broers net een gedrukte uitnodiging gehad het, het hulle dit net vir mense gewys en verduidelik hoe belangrik die Gedenkmaal is.
’n Dag voor die geleentheid het die broers twee uur lank na die ander kant van die eiland geroei om ’n gesin wat daar woon, uit te nooi. Maar net die kinders was by die huis. Michael het besluit om die enigste uitnodiging wat hy gehad het, daar te los. Hy het dit vir die oudste dogter gegee en haar gevra om dit vir haar pa te gee.
Die volgende middag, terwyl Michael en Hansly besig was om voorbereidings vir die Gedenkmaal te tref, het hulle die gesin in ’n kano sien aankom. Die pa het die uitnodiging gelees en tot die slotsom gekom dat die Gedenkmaal ’n baie belangrike geleentheid moet wees, en daarom het hy sy hele gesin gebring. Daardie aand was daar 52 by die Gedenkmaal. Michael en Hansly preek nog steeds daar en studeer die Bybel met diegene wat die Gedenkmaal bygewoon het.
[Voetnoot]
a Elin is oorlede terwyl hierdie jaarboek gefinaliseer is.
[Tabel op bladsye 40-47]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2010-DIENSJAAR
(Sien publikasie)
[Kaarte op bladsye 48-50]
(Sien publikasie)