Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 4/1 bl. 10-12
  • Sal ons aarde ooit vernietig word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal ons aarde ooit vernietig word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se voorneme met die aarde
  • Die Bybel weerspreek homself nie
  • Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • God se voorneme met die aarde sal binnekort vervul word
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Aarde
    Redenering uit die Skrif
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat vereis God van ons?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 4/1 bl. 10-12

Sal ons aarde ooit vernietig word?

HET jy al ooit gewonder: ‘Wat is die toekoms van ons aarde?’ Baie mense glo dat ons aarde moontlik nie sal voortbestaan nie as gevolg van wat hulle met ons pragtige planeet sien gebeur.

Die aarde word vandag inderdaad verderf deur die misbruik van kosbare hulpbronne, soos water, woude en die delikate atmosfeer. Ook waarsku party wetenskaplikes dat die aarde en alle lewe daarop bedreig word deur dinge soos ’n groot meteoriet, ’n ontploffende ster of die uitputting van die son se waterstofbrandstof.

Wetenskaplikes glo dat die aarde geleidelik—dalk oor baie miljarde jare—die vermoë sal verloor om menselewe te onderhou. Die Encyclopædia Britannica beskryf dit as “die onomkeerbare neiging tot wanorde”.

Gelukkig verseker die Bybel ons dat Jehovah God nie sal toelaat dat ons aarde vernietig of onbewoonbaar gemaak word nie. As Skepper het hy onbeperkte “dinamiese energie”, en daarom kan hy die heelal onbepaald onderhou (Jesaja 40:26). Jy kan dus geloof stel in hierdie woorde: “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie.” “Loof hom, son en maan. Loof hom, alle ligtende sterre. . . . Want hy het bevel gegee, en hulle is geskep. En hy hou hulle vir ewig in stand.”—Psalm 104:5; 148:3-6.

God se voorneme met die aarde

Dit was nooit God se voorneme dat die aarde misbruik en besoedel moet word soos vandag die geval is nie. Inteendeel, God het die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskep en hulle in ’n pragtige tuin geplaas. Hulle Paradystuiste sou natuurlik nie vanself mooi gebly het nie. God het hulle die taak gegee “om dit te bewerk en daarvoor te sorg” (Genesis 2:8, 9, 15). Watter genotvolle en bevredigende werk het God ons eens volmaakte ouers tog gegee!

Maar God se voorneme met die aarde het veel meer behels as dat daar net vir daardie oorspronklike tuin gesorg word. Hy wou hê dat die hele aarde in ’n paradys omskep word. Daarom het God hierdie bevel vir Adam en Eva gegee: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.”—Genesis 1:28.

Ongelukkig is God se voorneme teëgestaan deur ’n trotse engel wat as Satan bekend geword het. Hy wou baie graag deur Adam en Eva aanbid word. Deur ’n slang as sy mondstuk te gebruik, het Satan hulle sover gekry om teen God se heerskappy in opstand te kom (Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9). Hoe moes hulle selfsugtige gebrek aan waardering ons Skepper tog bedroef het! Maar iets wat hulle opstand nie gedoen het nie, was om Jehovah God se voorneme met die aarde te verander. Hy sê: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . , sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.

Jehovah het met goeie rede toegelaat dat Satan se opstand tot ons dag voortduur. Gedurende hierdie tyd kon die mensdom met baie vorme van selfregering eksperimenteer, en die resultate het bewys dat onafhanklikheid van God, wat deur Satan bevorder word, ’n volslae mislukking is.a—Jeremia 10:23.

Die positiewe sy van die saak is dat God gedurende die millenniums wat verby is, sekere opregte mense geseën het. Hy het ook in die Bybel ’n verslag bewaar van wat die gevolge is wanneer God gehoorsaam word of wanneer sy heerskappy verwerp word. Daarbenewens het Jehovah wonderlike dinge tot ons toekomstige voordeel gedoen. Hy het die mensdom liefdevol van ’n Redder voorsien deur sy geliefde Seun, Jesus Christus, te stuur om ons te leer wat die beste lewenswyse is en om sy lewe vir ons te gee (Johannes 3:16). Omdat Jesus nie verdien het om te sterf nie, het God sy dood as ’n wetlike grondslag gebruik om terug te koop wat Adam en Eva verloor het, naamlik die vooruitsig op ewige lewe in ’n aardwye paradys.b Met die oog hierop het Jehovah God ’n hemelse regering opgerig om oor die hele mensdom te heers, en hy het sy Seun, die verrese Jesus Christus, as die Koning van hierdie Koninkryk aangestel. Hierdie wonderlike reëling sal verseker dat God se voorneme met die aarde vervul word.—Matteus 6:9, 10.

Jy kan dus jou volle vertroue stel in hierdie wonderlike beloftes wat in die Bybel opgeteken is: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” “‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’ En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’”—Psalm 37:9, 29; Openbaring 21:3-5.

Die Bybel weerspreek homself nie

Maar party wonder dalk: ‘Hoe kan die voorgemelde Bybeltekste versoen word met ander verse wat skynbaar praat van die aarde se einde?’ Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde. So ’n ondersoek sal toon dat die Bybel homself nie weerspreek nie.

Lank voordat wetenskaplikes die “neiging tot wanorde” in alle fisiese dinge gesien het, het ’n Bybelpsalmis geskryf: “U [dit wil sê God] [het] die fondamente van die aarde gelê, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar u sal bly bestaan; en net soos ’n kleed sal hulle almal verslyt. Net soos klere sal u hulle vervang, en hulle beurt sal tot ’n einde kom. Maar u is dieselfde, en u jare sal nie tot ’n einde kom nie.”—Psalm 102:25-27.

Toe die psalmis hierdie woorde neergeskryf het, het hy nie God se ewige voorneme met die aarde weerspreek nie. Hy het eerder God se ewige bestaan vergelyk met die verganklikheid van alle materie wat God geskep het. Sonder God se ewige hernuwingskrag sal die heelal—insluitende die sonnestelsel waarop ons staatmaak vir stabiliteit, lig en energie—in algehele wanorde en uiteindelike vernietiging verval. As ons aarde aan homself oorgelaat word, sal dit dus “verslyt”, of tot ’n permanente einde kom.

Daar is ook ander verse in die Skrif wat miskien op die oog af lyk of dit God se verklaarde voorneme met die aarde weerspreek. Die Bybel praat byvoorbeeld van ’n hemel en aarde wat ‘verbygaan’ (Openbaring 21:1). Hierdie woorde weerspreek sekerlik nie Jesus se belofte nie: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Wat bedoel die Bybel dan wanneer dit praat van ’n hemel en aarde wat ‘verbygaan’?

Die Bybel gebruik dikwels die woord “aarde” figuurlik in die betekenis van die mensegemeenskap. Kyk byvoorbeeld na die volgende vers: “Die hele aarde het steeds een taal en een stel woorde gehad” (Genesis 11:1). Dit spreek vanself dat “aarde” hier verwys na die mense wat op die aarde gewoon het. ’n Ander voorbeeld is Psalm 96:1, wat volgens die Ou Afrikaanse Bybelvertaling sê: “Sing voor die HERE, o ganse aarde!” Dit is duidelik dat die woord “aarde” in hierdie en baie ander gedeeltes figuurlik gebruik word om na mense te verwys.—Psalm 96:13.

Die Bybel vergelyk partykeer die heersende magte op aarde met die hemel of hemelliggame. Die onderdrukkende Babiloniese heersers is byvoorbeeld vergelyk met ’n ster omdat hulle hulle verhef het bo diegene om hulle (Jesaja 14:12-14). Soos voorspel is, het die figuurlike Babiloniese “hemel”, of heersende klas, en “aarde”, die ondersteuners van daardie heerskappy, in 539 v.G.J. tot ’n einde gekom (Jesaja 51:6). Dit het berouvolle Jode in staat gestel om na Jerusalem terug te keer, waar “nuwe hemele”, ’n nuwe heersende liggaam, oor “’n nuwe aarde”, ’n regverdige mensegemeenskap, geheers het.—Jesaja 65:17.

Die Bybel se woorde oor ’n hemel en aarde wat ‘verbygaan’, verwys klaarblyklik na die einde van vandag se verdorwe menseregerings en hulle goddelose ondersteuners (2 Petrus 3:7). Dit sal die weg baan vir God se nuwe hemelse regering om ’n regverdige nuwe mensegemeenskap te seën, want “daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon”.—2 Petrus 3:13.

Jy kan dus geloof stel in God se belofte dat ons aardse tuiste vir ewig sal bestaan. Wat meer is, die Bybel toon wat jy moet doen om ook daardie wonderlike tyd te geniet wanneer die hele aarde in ’n paradys omskep sal word. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Stel jou dit gerus ten doel om te ondersoek wat die Bybel leer omtrent die toekoms van die aarde en die mensdom. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte hiermee help.

[Voetnote]

a Vir ’n bespreking van waarom God lyding toelaat, sien bladsye 106-14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Vir meer inligting oor Jesus se offerdood, sien bladsye 47-56 van die boek Wat leer die Bybel werklik?

[Lokteks op bladsy 12]

Die Bybel belowe dat ons aardse tuiste vir ewig sal bestaan

[Foto-erkennings op bladsy 10]

Aardbol op agtergrond: NASA/The Visible Earth (http://visibleearth.nasa.gov/); ysbeer: © Bryan and Cherry Alexander Photography

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel