VRAE VIR DIÉ WAT GEDOOP WIL WORD
Deel 2: Die Christelike lewenswyse
In jou studie van die Bybel het jy geleer wat Jehovah van jou verwag en hoe om volgens sy regverdige standaarde te lewe. In reaksie op wat jy geleer het, het jy moontlik ’n hele paar veranderinge in jou gedrag en jou beskouing van die lewe gemaak. Noudat jy jou voorgeneem het om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe, is jy in ’n posisie om as ’n bedienaar van die goeie nuus aanvaarbare diens te doen.
’n Hersiening van die volgende vrae sal jou ’n duidelike oorsig van Jehovah se regverdige vereistes gee. Dit sal jou ook herinner aan van die dinge wat jy kan doen om een van sy goedgekeurde knegte te word. Hierdie inligting sal jou help om te besef hoe belangrik dit is om alles met ’n goeie gewete en tot eer van Jehovah te doen. – 2 Kor. 1:12; 1 Tim. 1:19; 1 Pet. 3:16, 21.
Noudat jy hierdie punt in jou studie bereik het, wil jy seker graag onderdanig aan Jehovah se heerskappy wees en deel van sy organisasie word. Die vrae en Bybelaanhalings sal jou help om te sien of jy verstaan wat dit beteken om onderdanig aan Jehovah se reëling te wees as dit kom by die gemeente, in die gesin of die politiek van hierdie wêreldstelsel. Jy sal selfs meer waardering hê vir Jehovah se reëling om sy volk geestelik te leer en op te bou. Dit sluit gemeentelike vergaderinge in wat jy moet bywoon en aan deelneem as jou omstandighede dit toelaat.
Hierdie deel sal ook wys hoe belangrik dit is om gereeld aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem. Hierdie werk help ander om Jehovah te leer ken en leer mense wat hy vir die mensdom doen (Matt. 24:14; 28:19, 20). Dit sal jou uiteindelik laat besef hoe ernstig jou toewyding aan Jehovah God en jou doop is. Jy kan seker wees dat dit wat jy doen in reaksie op Jehovah se onverdiende goedhartigheid deur hom waardeer word.
1. Wat is die Christelike standaard vir die huwelik? Wat is die enigste skriftuurlike rede vir egskeiding?
• “Het julle nie gelees dat die Een wat mense geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Hy het gesê: ‘Daarom sal ’n man sy pa en sy ma verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. . . . Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van seksuele onsedelikheid, en met iemand anders trou, [pleeg] egbreuk.” – Matt. 19:4-6, 9.
2. Hoekom moet ’n man en vrou wat saamwoon, wettig getroud wees? As jy getroud is, is jy seker dat jou huwelik wettig is en deur die regering erken word?
• “Hou aan om hulle daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede.” – Tit. 3:1.
• “Die huwelik moet vir almal eerbaar wees en die huweliksbed moet rein bly, want God sal seksueel onsedelike mense en egbrekers oordeel.” – Heb. 13:4.
3. Wat is jou rol in die gesin?
• “Luister, my seun, na die dissipline van jou pa, en moenie die onderrigting van jou ma verwerp nie.” – Spr. 1:8.
• “’n Man is die hoof van sy vrou, net soos die Christus ook die hoof van die gemeente is . . . Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad het.” – Ef. 5:23, 25.
• “Pa’s, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en riglyne van Jehovah op te voed.” – Ef. 6:4.
• “Kinders, wees in alles gehoorsaam aan julle ouers, want dit maak die Here se hart bly.” – Kol. 3:20.
• “Vrouens, [julle moet] onderdanig wees aan julle mans.” – 1 Pet. 3:1.
4. Hoekom moet ons respek vir lewe hê?
• “[God gee] self aan alle mense lewe en asem en alles . . . Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons.” – Hand. 17:25, 28.
5. Hoekom moet ons niemand doodmaak nie, insluitende ’n ongebore baba?
• “As mans met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou seermaak en . . . as daar ’n besering is wat tot die dood lei, moet jy lewe vir lewe gee.” – Eks. 21:22, 23.
• “U oë het my selfs as ’n embrio gesien. In u boek is al die dele daarvan neergeskryf, asook die dae toe hulle gevorm is, voordat enige van hulle bestaan het.” – Ps. 139:16.
• “Jehovah haat . . . hande wat onskuldige mense doodmaak.” – Spr. 6:16, 17.
6. Wat is God se opdrag oor bloed?
• “Weerhou julle . . . van bloed [en] van wat verwurg is.” – Hand. 15:29.
7. Hoekom moet ons lief wees vir ons Christenbroers en -susters?
• “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – Joh. 13:34, 35.
8. Om te keer dat ’n aansteeklike of lewensgevaarlike siekte aan ander oorgedra word: (a) Hoekom moet ’n besmette persoon nie liefdesblyke wys, soos om iemand ’n drukkie te gee of te soen nie? (b) Hoekom moet hy nie ontsteld wees wanneer party mense verkies om hom nie na hulle huis te nooi nie? (c) Hoekom moet iemand wat moontlik in kontak gekom het met ’n aansteeklike siekte, self besluit om ’n bloedtoets te laat doen voordat hy met iemand begin uitgaan? (d) Hoekom moet iemand wat ’n aansteeklike siekte het, die koördineerder van die liggaam van ouermanne daarvan vertel voordat hy gedoop word?
• “Moet niemand enigiets skuld nie, behalwe om mekaar lief te hê . . . ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Iemand wat liefhet, doen niks slegs aan sy naaste nie.” – Rom. 13:8-10.
• “Terwyl julle nie net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander.” – Fil. 2:4.
9. Hoekom verwag Jehovah dat ons mekaar moet vergewe?
• “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe, selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook vergewe.” – Kol. 3:13.
10. Wat moet jy doen as ’n broer teen jou laster of bedrog teen jou pleeg?
• “As jou broer ’n sonde pleeg, gaan praat alleen met hom en sê vir hom wat hy verkeerd gedoen het. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee saam met jou, sodat elke saak deur twee of drie getuies bevestig kan word. As hy nie na hulle luister nie, praat met die gemeente. As hy nie eens na die gemeente luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” – Matt. 18:15-17.
11. Hoe beskou Jehovah die volgende sondes?
▪ Seksuele onsedelikheid
▪ Gebruik van beelde in aanbidding
▪ Homoseksualiteit
▪ Steel
▪ Dobbelary
▪ Dronkenskap
• “Moenie mislei word nie. Mense wat seksueel onsedelik is, afgode aanbid, egbreuk pleeg, sowel as mans wat toelaat dat hulle vir homoseksuele dade gebruik word, mans wat homoseksualiteit beoefen, diewe, mense wat gierig is, dronkaards, mense wat ander uitskel en afpersers sal God se Koninkryk nie erf nie.” – 1 Kor. 6:9, 10.
12. Wat is jy vasbeslote om te doen as dit kom by seksuele onsedelikheid, wat ’n verskeidenheid seksuele dade buite die huwelik insluit?
• “Vlug vir seksuele onsedelikheid!” – 1 Kor. 6:18.
13. Hoekom moet ons die niemediese gebruik van stowwe vermy wat die brein kan affekteer of wat verslawend is?
• “[Bied] julle liggame aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanvaarbaar is. So doen julle heilige diens met julle denkvermoë. En moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie, maar verander julle denkwyse sodat julle aan julleself kan bewys wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.” – Rom. 12:1, 2.
14. Wat is van die demoniese gebruike wat God verbied?
• “Die volgende mag nooit onder julle gevind word nie: . . . enigiemand wat van waarsêery gebruik maak, enigiemand wat toorkuns beoefen, enigiemand wat na tekens soek, ’n towenaar, enigiemand wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek, enigiemand wat hulp gaan soek by ’n persoon wat geeste oproep of by ’n fortuinverteller of enigiemand wat die dooies raadpleeg.” – Deut. 18:10, 11.
15. Wat moet ’n persoon dadelik doen as hy ernstig gesondig het en weer Jehovah se goedkeuring wil hê?
• “Ek [het] my sonde aan u bely. Ek het my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek sal my oortreding aan Jehovah bely.’” – Ps. 32:5.
• “Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouermanne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en in die naam van Jehovah olie aan hom smeer. Die gebed van geloof sal die een wat siek is, gesond maak, en Jehovah sal hom laat opstaan. En as hy sondes gepleeg het, sal hy vergewe word.” – Jak. 5:14, 15.
16. Wat moet jy doen as jy weet dat ’n mede-Christen ernstig gesondig het?
• “As iemand sondig omdat hy ’n openbare oproep gehoor het om getuienis af te lê en hy ’n getuie is of iets gesien het of van iets uitgevind het en hy dit nie rapporteer nie, sal hy die gevolge dra van sy oortreding.” – Lev. 5:1.
17. Hoe moet ons iemand behandel as ’n aankondiging gemaak is dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie?
• Hou op om te “assosieer met enigeen wat ’n broer genoem word maar wat seksueel onsedelik of gierig is of wat afgode aanbid of ander uitskel of wat ’n dronkaard of ’n afperser is. Moenie eers saam met so iemand eet nie.” – 1 Kor. 5:11.
• “As iemand na julle toe kom en nie hierdie leringe bring nie, moet julle hom nie in julle huise ontvang of hom groet nie.” – 2 Joh. 10.
18. Hoekom moet jy vriende wees met mense wat lief is vir Jehovah?
• “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word, maar dit sal sleg gaan met die een wat met dwase te doen het.” – Spr. 13:20.
• “Moenie mislei word nie. Slegte assosiasie bederf goeie gewoontes.” – 1 Kor. 15:33.
19. Hoekom is Jehovah se Getuies polities neutraal?
• “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek [Jesus] geen deel van die wêreld is nie.” – Joh. 17:16.
20. Hoekom moet jy gehoorsaam wees aan die regering?
• “Laat elkeen onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag wat nie van God af kom nie. Die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.” – Rom. 13:1.
21. Wat moet jy doen as ’n menslike wet in stryd is met God se wet?
• “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” – Hand. 5:29.
22. Watter tekste kan jou help om ’n werk te kies sodat jy nie deel van die wêreld sal wees nie?
• “Nasie sal nie teen nasie die swaard opneem nie, en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.” – Miga 4:3.
• “Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie en as julle nie deel van haar plae wil ontvang nie.” – Op. 18:4.
23. Watter soort ontspanning en vermaak sal jy kies, en wat sal jy verwerp?
• “Jehovah . . . haat elkeen wat geweld liefhet.” – Ps. 11:5.
• “Haat wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is.” – Rom. 12:9.
• “Hou aan om te dink aan alles wat waar is, alles wat werklik belangrik is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, alles wat goed is en alles wat prysenswaardig is.” – Fil. 4:8.
24. Hoekom aanbid Jehovah se Getuies nie saam met ander godsdiensgroepe nie?
• “Julle kan nie aan ‘die tafel van Jehovah’ en aan die tafel van demone eet nie.” – 1 Kor. 10:21.
• “‘Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af,’ sê Jehovah, ‘en hou op om te raak aan wat onrein is’; ‘en ek sal julle inneem.’” – 2 Kor. 6:17.
25. Watter beginsels sal jou help om te besluit of jy aan ’n viering moet deelneem?
• “Hulle het met die nasies gemeng en hulle weë aangeleer. Hulle het hulle afgode bly dien, en dit het vir hulle ’n strik geword.” – Ps. 106:35, 36.
• “Die dooies weet absoluut niks nie.” – Pred. 9:5.
• “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.” – Joh. 17:16.
• “In die verlede het julle lank genoeg die wil van die nasies gedoen toe julle julle oorgegee het aan skaamtelose gedrag, onbeheerste begeertes, dronkenskap, wilde partytjies, drinkpartytjies en walglike afgodediens.” – 1 Pet. 4:3.
26. Hoe help voorbeelde in die Bybel jou om te besluit of jy verjaarsdae moet vier?
• “Op die derde dag was dit Farao se verjaarsdag, en hy het ’n feesmaal vir al sy knegte voorberei, en hy het die hoofskinker sowel as die hoofbakker in die teenwoordigheid van sy knegte uitgebring. Hy het die hoofskinker in sy amp herstel . . . Maar hy het die hoofbakker gehang.” – Gen. 40:20-22.
• “Toe Herodes se verjaarsdag gevier is, het die dogter van Herodias by die geleentheid gedans, en Herodes het dit so geniet dat hy met ’n eed belowe het om vir haar enigiets te gee waarvoor sy vra. Toe het sy, nadat haar ma haar opgesteek het, gesê: ‘Gee vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord.’ Hy het toe iemand gestuur en Johannes se kop in die tronk laat afkap.” – Matt. 14:6-8, 10.
27. Hoekom wil jy na die ouermanne se riglyne luister?
• “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle en sal daarvoor aanspreeklik gehou word. As julle dit doen, sal hulle hulle werk met vreugde kan doen sonder om te sug, want anders sal dit vir julle skadelik wees.” – Heb. 13:17.
28. Hoekom is dit vir jou en jou gesin belangrik om gereeld tyd te maak om die Bybel te lees en te studeer?
• “Hy vind vreugde in die wet van Jehovah, en dag en nag lees hy Sy wet en dink hy daaroor na. Hy sal soos ’n boom wees wat by waterstrome geplant is, ’n boom wat vrugte op die regte tyd gee, waarvan die blare nie verlep nie. Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” – Ps. 1:2, 3.
29. Hoekom hou jy daarvan om vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem?
• “Ek sal u naam aan my broers bekend maak. Ek sal u in die gemeente loof.” – Ps. 22:22.
• “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.” – Heb. 10:24, 25.
30. Wat is die belangrikste werk wat Jesus ons gegee het om te doen?
• “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.” – Matt. 28:19, 20.
31. Watter gesindheid maak Jehovah bly wanneer ons donasies gee vir die Koninkrykswerk of ons broers en susters help?
• “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge.” – Spr. 3:9.
• “Laat elkeen gee net soos hy in sy hart besluit het, nie teësinnig of omdat hy gedwing word nie, want God is lief vir iemand wat met vreugde gee.” – 2 Kor. 9:7.
32. Watter uitdagings verwag Christene?
• “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, want die Koninkryk van die hemel behoort aan hulle. Gelukkig is julle wanneer mense julle beledig en julle vervolg en julle valslik beskuldig van allerhande slegte dinge omdat julle my volgelinge is. Wees bly en vreugdevol omdat julle beloning groot is in die hemel, want so het hulle die profete voor julle vervolg.” – Matt. 5:10-12.
33. Hoekom is dit ’n spesiale voorreg om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word?
• “U woord het vir my die vreugde en die blydskap van my hart geword, want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah, God.” – Jer. 15:16.