Estland
WELKOM in Estland! Die natuurskoon van hierdie “geliefde Baltiese juweel” sal jou asem wegslaan: sy woude en graslande, skilderagtige kusdorpies, meer as 1 400 mere en oor die 1 500 eilande. Byna die helfte van Estland is begroei met digte bome en onderbos—oorblyfsels van die oerwoud wat vroeër die grootste deel van Europa bedek het. Estland, wat nie veel groter as Switserland of Denemarke is nie, is een van die kleinste lande in Europa.
Jy sal vind dat die vriendelike maar teruggetrokke inwoners van hierdie pragtige landjie baie eienskappe het wat werklik bewonderenswaardig is. Hulle het oor die algemeen ’n goeie skoolopleiding en hou van lees, en die land het ’n baie hoë geletterdheidsyfer. Hoewel 30 persent van die bevolking Russies praat, is Esties die amptelike taal. Maar dit is nie ’n maklike taal om te leer nie omdat dit baie ingewikkeld is. Esties het byvoorbeeld ’n hele paar woorde vir “eiland”, na gelang van die voorkoms, grootte en ouderdom van die eiland.
STORMAGTIGE VERLEDE
Estland is deur een magtige buurland ná die ander oorheers. Duitse ridders en Deense troepe het die land vroeg in die 13de eeu binnegeval, waarna Denemarke, Litaue, Noorweë, Pole, Rusland en Swede eeue lank vir beheer oor Estland gestry het.
Toe, ná meer as ’n eeu van Sweedse heerskappy, het Rusland in 1721 die bewind oorgeneem. Ná ’n kort tydperk van onafhanklikheid tussen 1918 en 1940 het die Sowjetunie Estland binnegeval en geannekseer. In 1941 het Nazi-Duitsland die land beset, maar in 1944 het die Sowjetunie weer die beheer oorgeneem. Estland was byna 50 jaar lank deel van die Sowjetunie totdat dit in 1991 die eerste Sowjetrepubliek geword het wat onafhanklikheid verklaar het.
Hoe het hierdie gebeure Jehovah se Getuies in Estland geraak? Wat het gedurende die onderdrukkende Duitse besetting en die moeilike Sowjetera met die knegte van die ware God gebeur? Lees die opwindende verhaal van hulle geloof, moed en vindingrykheid te midde van wrede vervolging.
DIE LETSELS VAN VALSE GODSDIENS
Die kruisvaarders wat Estland in die 13de eeu binnegeval het, het “die Christelike godsdiens” onder bedreiging van die swaard op die mense afgedwing. Die bekerings was egter net vir die skyn. Agterna het die bewoners van hele dorpies hulle en hulle huise met water bespat om hulle gedwonge doop weg te was en na hulle heidense aanbidding teruggekeer. Die mense het voortgegaan om natuuraanbidding en heidense rites te beoefen totdat hulle rituele geleidelik met Katolieke opvattings vervleg geraak het.
In die 17de eeu is Estlanders tot die Lutherse Kerk bekeer, en later het die Russies-Ortodokse Kerk die Staatskerk in Estland geword. In 1925 is die Kerk en Staat geskei. Volgens ’n opname sê net 14 persent van alle Estlanders dat godsdiens ’n belangrike rol in hulle daaglikse lewe speel.
In onlangse tye het talle opregte Estlanders egter die helende balsem van God se Woord, “die gesonde leer volgens die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God”, verwelkom (1 Tim. 1:10, 11). Gevolglik het die aantal Getuies van Jehovah wat God se Koninkryk verkondig, sedert 1991 van minder as 1 000 tot meer as 4 000 toegeneem. Maar hoe het die goeie nuus die kleine Estland in die eerste plek bereik?
“JY HET ’N MOND”
Vroeg in die 20ste eeu het Martin Kose en sy broer Hugo lektuur van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het) bekom terwyl hulle in die Verenigde State was. Martin was opgewonde oor wat hy ontdek het, maar was besorg oor sy vaderland, waar hy geweet het geen Bybelstudente is nie. Nadat hy die adres van die New Yorkse hoofkwartier in ’n brosjure gevind het, het Martin later soontoe gegaan en sy besorgdheid uitgespreek teenoor J.F. Rutherford, wat destyds oor die werk van die Bybelstudente toesig gehou het.
“Wat moet ek doen?” het Martin gevra.
“Wel, jy het ’n mond, nie waar nie?” het broer Rutherford geantwoord. “Gaan dan terug en gebruik dit.”
En dit is wat Martin gedoen het! Omstreeks 1923 het hy na Estland teruggekeer en begin preek, en hy het dus die eerste Bybelstudent in die land geword. Martin het Bybelwaarhede aan sy familie geleer, en sy seun, Adolf, was ’n getroue kneg van God en ’n steunpilaar gedurende die moeilike dae wat gevolg het. Martin se broer Hugo het ook ’n Bybelstudent geword, maar hy het nooit permanent na sy vaderland teruggekeer nie.
“JY SAL NIE EENSAAM WEES NIE”
By ’n streekbyeenkoms van die Bybelstudente in Londen in 1926 het broer Rutherford om vrywilligers gevra om na die Baltiese lande te gaan. Albert West, Percy Dunham en James Williams het hulle hand opgesteek. Kort daarna is hulle aangestel om die verkondiging van die goeie nuus in Estland, Letland en Litaue te organiseer. William Dey, destyds die opsiener van die Noord-Europese Kantoor, wat in Denemarke was, het saam met Albert West na Tallinn, die hoofstad van Estland, gereis. Nadat hy Albert gehelp het om ’n kamer te vind om in te bly, het broer Dey sy hand op Albert se skouer gesit en gesê: “Wel, totsiens, Albert. Jy sal nie eensaam wees nie. Die Wagtoring sal binnekort kom!”
Kolporteurs, soos pioniers destyds genoem is, het van Engeland, Duitsland en ander lande gekom om te help. Hulle kon egter nie lank bly nie omdat hulle nie hulle visums kon verleng nie. Finse kolporteurs het vinnig aangepas, aangesien Esties en Fins naverwante tale is. Tientalle buitelandse voltydse predikers het ywerig baie Koninkryksaad geplant. Buitelanders, wat ’n nuwigheid was, is hartlik verwelkom en dikwels byname gegee, soos “Soome Miina” (Finse Miina). As ’n spreker van Brittanje gekom het, is hy eenvoudig voorgestel as ’n “Londenaar”.
DIE EERSTE TAKKANTOOR
Geskikte kantoorruimte was skaars, en omdat daar gemeen is dat buitelanders ryk is, is hulle hoër huur gevra. In 1926 is ’n takkantoor egter in ’n klein woonstel in Tallinn by Kreutzwaldistraat 17 geopen, en Albert West het as takkneg gedien. Die eerste boekies in Esties, insluitende Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie, is daardie selfde jaar vrygestel.
’n Jong Estiese vrou, Hilda Ang, het by haar vriende van die waarheid gehoor. Toe sy na die takkantoor gegaan het om lektuur te kry, het ’n Duitse broer haar gevra of sy hom sou help om sy openbare toespraak te vertaal. Sy het ingestem, en in 1928 is sy genooi om as ’n vertaler by die kantoor te kom werk. Sy is later getroud met ’n Britse broer, Alexander Brydson, wat na Estland verhuis het om voltyds te preek. Hilda was ’n bekwame en hardwerkende vertaler, en later, toe die werk ondergronds gedoen moes word en sy en haar man die land moes verlaat, het sy etlike dekades lank in die geheim vanuit die buiteland vertaal. Die Brydsons het uiteindelik saam oor die 100 jaar in die voltydse diens deurgebring!
In 1928 het die Bybelstudente hulle eerste boek in Esties, Die harp van God, uitgegee. Daarbenewens is Die Wagtoring, sewe ander boeke en baie boekies voor die Tweede Wêreldoorlog in Esties gepubliseer.
VROEË EVANGELIEDIENAARS
Die kolporteurs het groot gebiede per fiets gedek en geslaap waar hulle ook al verblyf kon vind—hetsy in huise of hooimiedens. Mense was arm, maar het graag na die Koninkryksboodskap geluister. Gevolglik het hierdie voltydse predikers blymoedig tussen 150 en 200 uur per maand aan die predikingswerk gewy, en een het selfs een maand 239 uur gerapporteer! Hulle diens is deur vlytigheid, vrymoedigheid en volharding gekenmerk. Hier volg die ondervinding van een suster toe sy die eerste keer in velddiens uitgegaan het:
“Kan jy fietsry?” het ’n ywerige Finse suster haar gevra.
“Ja, ek kan”, het die nuwe suster geantwoord.
“Wel, kom ons gaan na Sarema”, het die Finse suster geesdriftig gesê, met verwysing na die grootste Estiese eiland, sowat 200 kilometer daarvandaan.
Toe hulle by die eerste dorpie op Sarema aankom, het die Finse suster voorgestel: “Begin jy aan hierdie kant, en ek sal aan die ander kant begin. En vanaand sal ons in die middel van die dorpie ontmoet.” Die nuwe suster het nog nooit tevore gepreek nie. Maar by die eerste deur het sy gevoel hoe Jehovah haar help, en sy het gou genoeg vertroue opgebou om die res van die besoek aan die eiland te geniet.
Hellin Aaltonen (later Grönlund) het mense van die eiland Vormsi ontmoet en gevind dat hulle ’n vreemde taal praat.
“Praat julle nie Esties nie?” het sy die eilandbewoners gevra.
“Nee, ons praat Sweeds”, het hulle geantwoord.
“Wel, het julle Sweedse boeke om te lees?” het Hellin gevra.
“Ons het honderde jare laas Sweedse boeke gehad”, het hulle oordryf.
Hellin het besef dat die bewoners van Vormsi Sweedse lektuur nodig het en het besluit om die eiland saam met Fanny Hietala, wat Sweeds praat, te besoek.
“Ons het al die Sweedse boeke gekry wat die kantoor gehad het en is per boot soontoe”, vertel Hellin. “Ons het die hele eiland in drie dae gedek en byna al ons lektuur by mense gelaat. Dekades later het ek gehoor van ’n broer in Swede wat die waarheid geleer het danksy boeke wat hy in Vormsi bekom het!” Koninkryksverkondigers het keer op keer uitgevind hoe waar Prediker 11:6 is: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie.”
UITDAGINGS VAN DIE KOLPORTEURS
Die werk van die kolporteurs was nie maklik nie. In die winter het hulle, op ski’s of te voet, tussen 20 en 40 kilometer per dag afgelê. Dit was bitter koud, en gerieflike blyplek was skaars. Hulle kon net die allernodigste kos en artikels saamneem, aangesien hulle ook kartonne lektuur moes dra. Swaar reën het paaie dikwels onbegaanbaar gemaak. Die kolporteurs moes menige nag buite slaap. Hierdie veeleisende vorm van diens het al die fisiese krag en stamina geverg wat hulle gehad het. Maar hoe het hierdie toegewyde predikers oor hulle diens gevoel?
“Ek het nooit enigiets werklik belangriks kortgekom nie”, vertel Vilho Eloranta, ’n ywerige Finse broer wat maande lank voltyds in afgesonderde gebiede gepreek het. “Die meeste van die tyd het ek my daaglikse kos en slaapplek in ruil vir lektuur gekry. Ek het selde geld nodig gehad. Wanneer dit aand geword het, het ek blyplek begin soek. Min huisbewoners het geweier om vir my slaapplek te gee, veral as dit laat in die dag of ver na die volgende plaas toe was.”
“Dit was vir my so belangrik om die boodskap oor die Koninkryk in die hande van die mense te kry”, sê Vilho verder, “dat die eenvoudige lewenstoestande geensins die bevrediging en vreugde wat die predikingswerk my verskaf het, verminder het nie.”
Hierdie hardwerkende broers en susters het die weg vir toekomstige groei gebaan deur ontsaglike hoeveelhede lektuur te versprei. In 1929 is altesaam 53 704 boeke en boekies deur ’n handjie vol evangeliedienaars by mense gelaat.
“Estland het ongeveer 30 kolporteurs gehad”, vertel Adolf Kose, “en hulle het die hele land voor die Tweede Wêreldoorlog gedek.”
Die impak van hierdie vlytige vroeë predikers word nog steeds gevoel. Vroeg in die 1990’s het Jehovah se Getuies byvoorbeeld vir Ruth, ’n bejaarde vrou, ontmoet. Hulle boodskap het vir haar bekend geklink. Sy het onthou dat sy meer as 60 jaar tevore geluister het na ’n Duitse Bybelstudent wat een van haar bure ’n paar keer besoek het. Hoewel Ruth nou doof en bejaard was, het sy besef dat dit die waarheid is, ’n Bybelstudie aanvaar en is sy gedoop—byna 70 jaar nadat sy die waarheid die eerste keer gehoor het!
VROEË BEDRYWIGHEDE BY DIE TAKKANTOOR
In daardie vroeë dae is streekbyeenkomste by die klein takkantoor gehou. Die eerste streekbyeenkoms, in Junie 1928, is deur 25 bygewoon, en 4 is gedoop. Die volgende jaar het 80 Finse broers gekom om met die byeenkoms te help en in die veld te werk.
Albert West, wat as takkneg in Estland gedien het, is gestuur om William Dey as takkneg in Denemarke te help en hom later te vervang. Wie sou broer West as takkneg in Estland vervang? Wallace Baxter, van Skotland, wat ’n hartlike broer met ’n goeie sin vir humor was. Voordat hy die waarheid gekry het, het hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die Britse leër in Frankryk geveg. Wat hy gedurende die oorlog gesien en ervaar het, het nie met die leringe van Jesus Christus gestrook nie.
“Ek was verward”, vertel broer Baxter, “en het begin besef dat alle menslike oorlogvoering verkeerd is, ongeag wie die vyand is. Ek het altyd geglo dat alle mense broers is en dat enigiemand wat God soek, hom uiteindelik sal vind. Terwyl ek oor hierdie dinge nagedink het, het ek in my loopgraaf gekniel en God plegtig belowe dat ek hom my hele lewe lank sal dien as ek gespaar word en kan terugkeer huis toe.”
En dit is wat hy gedoen het. Nadat hy die waarheid geleer het, het hy die voltydse diens in 1926 met ywer betree. Twee jaar later het hy ’n uitnodiging aanvaar om in Estland te dien, waar hy dieselfde ywer aan die dag gelê het. Hy is in 1930, die jaar toe broer West daar weg is, as takkneg aangestel. In 1932 is die takkantoor na Suur Tartu-straat 72, Tallinn, verskuif, en die volgende jaar is die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap amptelik in Estland geregistreer.
VEELTALIGE UITSENDINGS
Reeds in 1927 het broer West toestemming gekry om oor ’n handelsradiostasie in Tallinn uit te saai. Die lesing wat hy gegee het, “Die seëninge van die Millennium”, is in Esties vertaal. Die uitsending het nie net baie belangstelling gewek nie, maar het ook omstredenheid veroorsaak. Gevolglik is daar eers weer in 1929 toestemming gegee om uit te saai. Van toe af was daar elke Sondag gereelde uitsendings. Die toesprake is in Engels, Esties, Fins, Russies, soms in Sweeds en Duits en ten minste een keer in Deens gehou. Hierdie toesprake het ook baie belangstelling gewek en kon selfs in Noorweë, Denemarke, Swede, Finland en Leningrad (nou St. Petersburg), Rusland, gehoor word. Gedurende die 1932-diensjaar was die 200 lesings wat uitgesaai is, ’n doeltreffende manier om Jehovah se naam bekend te maak. Dit het natuurlik ook teenstand van die geestelikes uitgelok!
Omdat die geestelikes geweet het hoe amptenare in Estland enigiets in verband met Kommunisme gevrees het, het hulle valslik beweer dat die Getuies Kommunistiese verbintenisse het. Die Estiese owerheid, wat gou gereageer het op enigiets wat hulle gedink het die nasie kon ondermyn, het die lesings in 1934 verbied. Maar nie almal het die verbod ondersteun nie. ’n Skoolseun het die volgende brief in Engels geskryf:
Liewe Wagtoring en regter Rutherford,
Ek is jammer dat ons regering in Estland die uitsendings van julle lesings verbied het. Ek is ’n skoolseun, ’n leerling. My ouers is nie ryk nie: hulle doen uitputtende werk om vir hulle kinders te sorg. Maar die liefde vir die Here en hoop in hom is soos ’n sonstraal op hulle gesigte. In die winter was ek baie siek, en toe was julle lesings oor die radio al wat my vertroos het. Die trane in my oë was toe trane van vreugde. . . . Waar is hierdie lesings nou? . . . Ek het Engels begin leer, en dit is die eerste brief wat ek in hierdie taal skryf, heeltemal sonder ’n woordeboek. . . . Met beste wense en groete aan regter Rutherford.
Broer Rutherford het ’n persoonlike brief aan die jong seun geskryf en ’n paar plate van sy lesings aan hom gestuur.
’N “STRYDWA VAN DIE HEMELSE KONINKRYK”
John North, ’n ywerige kolporteur van Engeland, het saam met sy gesin in ’n karavaan gebly terwyl hulle in Estland gepreek het. Dit het oral in die suidelike deel van Estland baie belangstelling gewek. ’n Plaaslike koerant het die karavaan soos volg beskryf: “Die [Wagtoring-]genootskap bou in Tartu ’n voertuig wat soos ’n huis is, en die doel is om daarmee deur die land te reis en kerkdienste te hou. Hulle preek vir die mense uit die ‘strydwa van die hemelse Koninkryk’ en versprei boeke wat die Bybel verduidelik. Die personeel van hierdie ‘strydwa’ bestaan uit vyf persone—die hoofsendeling, sy vrou, hulle kind en twee energieke jong mans. Laasgenoemdes ry vinnig op fietse (soos Jehu) in alle rigtings om die ‘strydwa’ en versprei lektuur.”
’n Voormalige lugmagvlieënier, Nikolai Tuiman, is gedurende die politieke onrus in die middel-1930’s in die tronk gesit omdat hy by ’n Estiese Fascistiese beweging betrokke was. In die tronkbiblioteek het Nikolai ’n paar boeke deur J.F. Rutherford gevind wat hom laat besef het dat hy op die verkeerde weg is. Ná sy vrylating het hy na Tallinn gereis, na die adres wat hy gevind het in ’n boek van die Getuies wat sy vrou gekry het. Met broer Baxter se hulp het Nikolai sy lewe heeltemal verander, sy politieke bedrywighede laat vaar en ’n vreedsame en ywerige Getuie van Jehovah geword. Toe die werk later verbied is, was hy een van die steunpilare in die gemeente en het hy met die ondergrondse drukwerk gehelp. Hy het gedurende sowat 15 jaar in ballingskap in Siberië getrou gebly.
Nog iemand wat by die politiek betrokke was en daardeur teleurgestel is, was ’n dokter, Artur Indus. Sy belangstelling in die waarheid is gewek toe hy ’n besoek by Martin Kose se huis afgelê het om nodige mediese behandeling te voorsien. Broer Kose het Artur aangespoor om die Bybel te studeer, en omdat Artur Duits geken het, het broer Kose vir hom al die lektuur bestel wat daarin beskikbaar was. Met Martin se hulp het Artur die waarheid aangeneem, hom aan Jehovah toegewy en is hy gedoop. Hy was ’n welbekende en gerespekteerde dokter, en hy het ook as ’n ywerige en gerespekteerde broer bekend geword.
DONKER WOLKE OP DIE HORISON
Die middel-1930’s was ’n onstuimige tyd. Weens druk deur Nazi-Duitsland en die Katolieke Kerk is die boekie Regverdige regeerder in Januarie 1935 gekonfiskeer.
In dieselfde jaar het die Minister van Binnelandse Sake die Wagtoringgenootskap in Estland gesluit, die lektuur gekonfiskeer en ’n retensiereg op die eiendom geplaas. Hoewel baie lektuur reeds versteek was, is ongeveer 76 000 stukke lektuur gekonfiskeer. Hierdie terugslag het egter nie die werk stopgesit nie. Tot die broers se groot verbasing en vreugde is die inhoud van twee gekonfiskeerde brosjures in twee vername koerante met ’n gesamentlike oplaag van 100 000 gepubliseer. Ondanks die verlies van die lektuur het Jehovah se naam meer publisiteit ontvang as wat die geval sou gewees het as die broers die brosjures versprei het.
Intussen is die predikingswerk voortgesit, en bedrywighede by die kantoor is hervat. Nog ’n hele klomp boeke is gedurende die volgende paar jaar gekonfiskeer. Hellin Aaltonen het by die takkantoor gewerk toe een van die klopjagte uitgevoer is.
“Drie jong polisiemanne het eintlik gekom om die boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie te konfiskeer”, sê suster Aaltonen, “maar ons het niks gehad nie. Hulle het al die boeke van die rakke af in ’n hoop op die vloer gegooi. Broer Baxter kon niks doen nie, want hulle het hom fyn dopgehou. Maar ek het agter die polisie aan opgeruim en het onopgemerk na broer Baxter se lessenaar beweeg om te kyk of daar enige dokumente daarop is wat die polisie nie moet sien nie. Ek het ’n brief met al die verkondigers se name en adresse gesien. Ek het dit in ’n snippermandjie in die hoek laat val. Toe die polisie die boeke in kartondose begin pak het, het die bevelvoerder verwaand ’n karton gegryp en dit met soveel geweld weggeruk dat hy sy arm gebreek het! Die polisie is haastig daar weg om hom hospitaal toe te neem, wat ons tyd gegee het om deur die kartonne te gaan voordat hulle terugkom.”
“Die polisiemanne het teruggekom”, vertel broer Baxter verder, “en terwyl hulle die boeke uitgedra het, het ek gesien hoe een van hulle ’n eksemplaar van die boek Verlossing in die groot sak van sy oorjas sit. Ek het al dikwels gewonder hoeveel ander boeke daardie mans geneem en gelees het.”
Die jaar 1939 was ’n onsekere en angswekkende tyd. ’n Aantal Sowjettroepe is toegelaat om Estland binne te kom. “Die radio het elke dag ’n stortvloed van Kommunistiese propaganda uitgesaai”, het broer Baxter geskryf. “Daar was heelwat bespiegeling, groot spanning en ongerustheid, en selfs vrees. Die lug was gevul met die gedreun van Sowjetoorlogsvliegtuie vol valskermtroepe.” Sou hierdie bedreiging die getuieniswerk belemmer?
Ondanks die beroeringe het Jehovah se lojale knegte in 1940 59 776 boeke en boekies versprei—’n merkwaardige prestasie vir net 27 verkondigers en 15 pioniers! Hulle het soveel moontlik in die oorblywende tydperk van vryheid gedoen.
DIE LAASTE BYEENKOMS IN VRYHEID
Die broers het kort voor die begin van die Sowjetbewind ’n byeenkoms in Tallinn gereël—die laaste wat vir die volgende vyf dekades in vryheid gehou sou word. Hulle het Wagtoring-artikels bespreek soos “Die teokrasie”, “Neutraliteit”, “Strikke” en “Die ondergang van godsdiens”—tydige geestelike voedsel wat gehelp het om God se volk voor te berei vir wat voorgelê het.
Estland sou weldra in die chaos van die Tweede Wêreldoorlog gedompel word, en ons broers sou nie die gevolge daarvan vryspring nie. Op 16 Junie 1940 het die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke ’n ultimatum aan die Estiese regering gestel om ’n nuwe regering aan te stel en meer Sowjettroepe in Estland toe te laat. Die Estiese Kommunistiese party, met minder as 150 lede, is wettig erken, en Estland is by die Sowjetunie ingelyf. Binne maande is duisende Estlanders na Siberië verban, en hulle huise en plase het verlate gelê, is afgebrand of is aan invallende Russe gegee. Duisende ander het in vissersbootjies probeer vlug, hoofsaaklik na Swede. Baie het daarin geslaag, maar ander het in die onstuimige see omgekom.
LAASTE BUITELANDERS VERTREK
Onder die Kommunistiese bewind is die takkantoor weer gesluit. Hoewel broer Baxter en Alexander en Hilda Brydson vasbeslote was om in hulle toewysing te bly, het dit vir buitelanders al hoe gevaarliker geword in die land. Gevolglik het broer Rutherford hulle aangeraai om die land te verlaat. Broer Baxter en die Dunhams van Letland het die land per trein deur Siberië verlaat en in Australië beland. Die Brydsons het omtrent ’n jaar later na Swede vertrek. Broer Baxter het getrou op die Australiese Takkomitee gedien totdat hy op 21 Junie 1994 sy aardse loopbaan voltooi het.a
Wat het op die groepie plaaslike broers gewag noudat die buitelandse broers vertrek het? Hulle was betreklik nuut in die waarheid en het hulle in die middel van ’n wrede oorlog bevind. Die oorlog het sy tol geëis en die werk vertraag. Ná hulle laaste verslag in 1941 is daar omtrent 20 jaar lank niks van ons broers gehoor nie.
HEWIGE TOETSE VAN GELOOF
Terwyl die Tweede Wêreldoorlog voortgewoed het, het Duitse troepe die Sowjets uitgedryf en Estland van 1941 tot 1944 beset. Maar toestande het nie vir ons broers verbeter nie. Jaan Pärrat, ’n dowe broer, het in 1942 in Tartu gepreek toe die Duitsers hom in hegtenis geneem het. Hy is van ondermynende bedrywighede beskuldig en in die tronk gesit. Volgens tronkdokumente is die bewaarder van sy tronk beveel om hierdie gevangene, Jaan Pärrat, “vir spesiale verwydering uit te lewer”. Dit was in werklikheid ’n teregstellingsbevel. ’n Groep mans het gesien hoe hy buitentoe geneem word en het toe geweerskote gehoor. Hy is nooit teruggebring of weer gesien nie.
Ja, dit was ’n moeilike tyd vir die broers. Eers was dit die Sowjetleër wat jong mans wou werf, en toe was dit die Duitse leër. “Ons moes wegkruip sodat ons nie vir die leër opgeroep word nie”, vertel Adolf Kose. “As ons gevang sou word, sou ons die bevel moes gehoorsaam om by die leër aan te sluit of geskiet word. Omdat dit baie moeilik was om enigiets te doen, het dit natuurlik die Koninkrykswerk benadeel.”
Die verloop van die oorlog het weer verander. Teen die einde van 1944 het die Sowjetleër die Duitsers uit Estland gedryf, en die land is weer eens aan die wrede Sowjetbewind onderwerp. Die oorlog en die daaropvolgende jare van onderdrukking het ’n verwoestende uitwerking op die Estlanders gehad. Ten minste ’n kwart van die bevolking is doodgemaak of na verafgeleë plekke in die Sowjetunie verban of het daarin geslaag om die land te verlaat. Oor die jare heen het honderdduisende Russe hulle in Estland gevestig, en die samestelling van die bevolking het grootliks verander. Onder die Sowjetbewind is ons broers se geloof aan hewige toetse onderwerp, soos ons sal sien.
VAN WOUDBROER TOT GEESTELIKE BROER
’n Nasionalistiese guerillabeweging van destyds wat teen die Sowjetbewind gestry het, is “Woudbroers” genoem omdat hulle in die digte woude weggekruip het. Onder hulle was daar baie wat nie guerillavegters was nie, maar wat moes wegkruip omdat die Russiese Geheime Polisie, die KGB, hulle gesoek het. Daar word geskat dat tussen 15 000 en 20 000 mans by tye in die woude weggekruip het—party van hulle het jare lank verdwyn sonder dat die owerheid hulle gevind het. Trouens, die laaste een is eers in 1978 gevind! Sou enige van die Woudbroers die waarheid aanneem en besluit om ’n geestelike broer te word?
Weens sy agtergrond in die Estiese staatsdiens het Erik Heinloo geweet dat hy in gevaar verkeer. Toe die Sowjetunie Estland beset het, het hy en sy vrou, Magda, talle kere probeer om per boot na Swede te vlug. Die laaste keer dat hulle op ’n boot geklim het, het die motor ingegee en moes hulle terugkeer. Hy het sewe jaar lank daarin geslaag om die owerheid te ontwyk deur in die woude weg te kruip, maar hy is uiteindelik in hegtenis geneem. Toe is hy en sy vrou na afsonderlike gevangeniskampe in die Sowjetunie gestuur.
Terwyl Magda in die tronk was, het sy twee Getuies ontmoet wat haar van die Koninkrykshoop vertel het. Magda het onmiddellik besef dat sy die waarheid gevind het en was so verheug dat sy letterlik gedans het van vreugde! Magda is in 1956 vrygelaat en in 1960 gedoop. Sewe jaar ná Erik se vrylating het hy ook die waarheid aangeneem. Uiteindelik het ’n Woudbroer ’n geestelike broer geword.
AGTERVOLG EN IN HEGTENIS GENEEM
Nadat die buitelandse broers Estland moes verlaat, is Martin Kose, ’n dapper en ywerige broer, aangestel om toesig te hou oor die werk in noordelike Estland. Suidelike Estland het onder die toesig gekom van Friedrich Altpere, ’n lang, beleefde Estlander wat ’n Engelse onderwyser by ’n hoërskool was. Hy is in die 1930’s gevra om ’n toespraak te tolk van een van die buitelandse pioniers wat na Võru gekom het. Nadat hy dit gedoen het, het hy besef dat hy die waarheid gevind het. Teen hierdie tyd het hy al soveel vordering gemaak dat hy die leiding kon neem in die predikingswerk in suidelike Estland.
Hierdie toewysings was vir albei broers moeilik omdat daar geen kontak met die organisasie was nie en nie een van hulle baie ondervinding gehad het nie. Ondanks die uitdagings van die ondergrondse werk het die twee broers getrou gedien, van 1940 af totdat hulle laat in 1948 in hegtenis geneem is.
In die plek van Martin Kose en Friedrich Altpere is ’n Dienskomitee gevorm, wat bestaan het uit Albert Kruus, Karl Talberg en Artur Indus, met Lembit Toom as ’n assistent. Terwyl die res van die komitee versteek moes bly, kon broer Toom vryelik reis en die groepe besoek. Hoe so? Hy was ’n meulenaar by ’n windmeul, en op stil dae wanneer die windmeul nie gewerk het nie, kon hy doen wat hy wou.
Verantwoordelike broers in Estland het hulle lewe op die spel geplaas om hulle medeaanbidders te help. Foto’s van diegene wat die owerheid gemeen het leiers is, is soos dié van voortvlugtige misdadigers by treinstasies ten toon gestel. Die KGB het tot vier agente aangestel om elk van ons sagmoedige, skaapgeaarde broers dop te hou. Hoewel die jare tussen 1948 en 1951 moeilik was, het Jehovah die pogings van sy toegewyde knegte in die predikingswerk geseën. Gevolglik het die aantal verkondigers tot meer as 100 toegeneem.
‘VERSIGTIG SOOS SLANGE, ONSKULDIG SOOS DUIWE’
Jesus se dissipels in Estland het al hoe meer die waarheid ondervind van hulle Heer se waarskuwing: “Wees . . . versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe. Wees op julle hoede vir die mense; want hulle sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges gesel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matt. 10:16-18). Maar party met prysenswaardige geloof het nie ten volle verstaan dat Jehovah nie altyd wonderdadige beskerming teen Satan se tirannie voorsien nie (Job 1:9-12; 2:3-6). Sommige Getuies was nie altyd so “versigtig soos slange”—soos hulle moes gewees het—nie, en hulle het maklike prooi vir wrede vervolgers geword.
“Daar was ’n belangstellende man wat skynbaar baie ywerig en moedig was”, vertel Adolf Kose. “Hy is verantwoordelikheid in die gemeente gegee en was baie gewild onder die susters. Maar die broers het agterdogtig geword en het die susters gewaarsku om hom nie na al ons vergaderplekke te neem nie.” Ongelukkig het party nie op die waarskuwing ag geslaan nie, en die man kon baie inligting direk aan die KGB oordra.
“In 1950”, vertel Lembit Toom, “het ons eksemplare van Die Wagtoring uit Duitsland ontvang, wat ons met al ons Christenbroers in Estland wou deel.”
’n Byeenkoms is in ’n hooiskuur in ’n afgesonderde deel van die land gereël. Die KGB het egter hiervan te hore gekom en planne beraam om al die broers en susters in hegtenis te neem. Hulle het ’n hinderlaag opgestel deur twee vragmotors vol soldate by die treinstasie te laat wag waar die broers sou afklim. Drie Getuies het by ’n afgesproke mylpaal op die pad na die byeenkomsplek gewag om vir die byeenkomsgangers die pad te beduie. Een van die broers het ’n verdagte geluid in die woud gehoor en ondersoek gaan instel. Skielik het hy in ’n geweerloop vasgekyk! Die soldate het hom teruggeneem na waar die ander twee broers was, en al drie Getuies is in hegtenis geneem.
Toe Lembit Toom en Ella Kikas (later Toom) besef het dat die drie broers in hegtenis geneem is, het hulle vinnig opgetree. Hulle het op Lembit se motorfiets gespring en so vinnig hulle kon na een van die vorige stasies gery om die broers wat op die volgende trein kom, te waarsku. Lembit en Ella het vinnig in die stasie ingeloop, op die trein gespring en die broers gou laat afklim! Toe die trein gevolglik by die stasie aankom waar die KGB-beamptes gewag het, was hulle teleurgesteld om geen Getuies op die trein te vind nie.
Intussen het die broers gou ’n ander plaas gevind waar die byeenkoms gehou kon word. Toe het hulle die byeenkomsgangers meer as tien kilometer op ’n stil pad na die nuwe byeenkomsplek laat loop. In die tussentyd het soldate op en af langs die hoofpaaie gery op soek na die byeenkomsgangers wat op geheimsinnige wyse verdwyn het. Die byeenkoms is sonder steurnis gehou, en daar was 111 teenwoordig. Almal was in ’n ernstige stemming omdat hulle besef het dat hulle ook enige tyd in hegtenis geneem kan word. Die program het verslae bevat oor die broers en susters in ander lande, insluitende geloofversterkende ondervindinge van Jehovah se Getuies in die Nazi-konsentrasiekampe. Hoewel hierdie ontkoming aan massa-inhegtenisneming hulle net kortstondige vryheid gebied het, het hierdie byeenkoms noodsaaklike leiding en krag voorsien vir die toetse wat voorgelê het.
ONDERVRA EN GEVONNIS
Gedurende die volgende paar maande is al die verantwoordelike broers een ná die ander in hegtenis geneem, asook meer as 70 verkondigers en ander mense wat ’n verbintenis met Jehovah se Getuies gehad het. Jehovah se vredeliewende knegte moes nou oneindige ondervragings verduur, terwyl dié wat nog vry was, geweet het dat hulle volgende kon wees.
Omdat die ondervragings gewoonlik snags plaasgevind het en maande lank aangehou het, kon die aangehoudenes vir lang tydperke nie behoorlik slaap nie. Hoe meer slaap hulle verloor het, hoe meer het die spanning hulle afgetakel. Broers is sonder verhoor gevonnis; hulle is bloot meegedeel wat hulle vonnis is—5 tot 12 jaar in die tronk of in werkkampe. Die meeste het vonnisse van tien jaar ontvang. Hulle oortreding? “Propaganda teen die staat en ondermynende bedrywighede”, volgens die amptelike verslae. Kort daarna het die wet verander en het Getuies tronkstraf van 25 jaar begin kry. Nadat die 63-jarige August Pressraud gevonnis is, het hy glo met ironie uitgeroep: “Ek dank die geëerde Hof dat julle my so ’n lang vonnis gee. Ek het gereken dat ek nog net sowat tien jaar sal lewe. Maar julle het my ’n kwarteeu gegee!”
Getuies is na berugte tronke of strafkampe dwarsoor die Sowjetunie gestuur, hoofsaaklik in Siberië en Rusland se Verre Ooste of Verre Noorde, waar toestande baie sleg was. Dit het gelyk of daar geen hoop op terugkeer is nie, en baie gevangenes het gevoel dat dit makliker sou wees om te sterf.
Selfs valse broers wat met die owerheid saamgewerk het, het nie die onderdrukking van die vervolgers vrygespring nie. ’n Voorbeeld is wat met twee broers gebeur het wat spioene vir die KGB geword het. Onmiddellik nadat hulle hulle taak verrig het, is hulle self deur die KGB vervolg. Albei van hulle is na strafkampe gestuur. Die KGB het blykbaar geen respek vir hierdie lafhartige informante gehad nie.b
VAN ESTLAND NA SIBERIË
Noudat die KGB dié in hegtenis geneem het wat as die prominentste Getuies beskou is, was hulle vasbeslote om van elke Getuie van Jehovah ontslae te raak. Hulle het vroeg die oggend van 1 April 1951 tot die aanval oorgegaan. ’n Uiters goed gekoördineerde veldtog is terselfdertyd in alle dele van die land (sowel as in Letland, Litaue en Wes-Oekraïne) uitgevoer.
Feitlik al Jehovah se Getuies, baie van hulle naverwante en selfs belangstellendes is vinnig uit hulle huise verwyder, na etlike treinstasies geneem en in goederewaens gestop. Hulle is toegelaat om kos en ’n paar persoonlike items saam te neem, maar die res van hulle eiendom is gekonfiskeer. Op daardie dag is byna 300 mense van Estland—sonder ’n verhoor of enige verduideliking—per trein na Siberië geneem, hoofsaaklik na die gebied van Tomsk, sowat 5 000 kilometer daarvandaan.
DAPPER JONGMENSE
Corinna Ennika, wat 17 jaar oud was, en haar 13-jarige suster, Ene, het by familie gekuier. Stel jou voor hoe ontsteld hulle moes gewees het toe hulle by die huis terugkom en vind dat hulle huis gesluit is en hulle ma nêrens te vinde is nie! Maar toe hulle uitvind dat hulle ma in hegtenis geneem is, was hulle ietwat verlig. Waarom?
“Sy het ten minste nog gelewe!” sê Corinna. “Ons het besef dat ander waarskynlik ook in hegtenis geneem is en het gedink dat my ma darem seker saam met Jehovah se knegte is. Ons het werklik gevoel dat Jehovah ons kragtig onderskraag en vrede gee. Ek het nie gehuil nie, en Ene, wat ietwat fyngevoelig en delikaat is, het ook nie. Die Maandag is ons albei terug skool toe, en ons het vir niemand gesê dat ons ma in hegtenis geneem is nie.”
Corinna en Ene het kalm gebly selfs toe beamptes hulle kom haal het. “In ons spoorwa was almal kalm”, sê Corinna verder. “Een suster het ons vertroos en gesê dat Jehovah nooit verdrukking sal toelaat wat bo ons krag is nie en dat ons moet vertrou op sy belofte om ons te help.” Die meisies is eers meer as ses jaar later met hulle ma herenig.
Die irrasionele haat van die vervolgers word toegelig deur die verbanningsdokument van ’n ses maande oue baba. Die misdaad waarvoor die baba verban is, is aangegee as: “Vyand van die staat.”
Die deportasie was baie traumaties, en die bannelinge is op elke moontlike manier verneder. Almal is elke oggend en aand toegelaat om van die trein af te klim om toilet toe te gaan, al was daar geen toilette nie. “Dit was benede enige standaard van fatsoenlikheid en menswaardigheid”, sê een suster. “Dit was onmoontlik om die mans en vroue te skei. Ander mense het verby ons gestap, en die wagte het almal na ons gestaan en kyk.”
DIE LEWE IN SIBERIË—EN DIE DOOD
Ná ’n moordende twee weke lange treinreis is die bannelinge, met hulle karige besittings, uiteindelik toegelaat om die goederewaens te verlaat, die koue sneeu in. By die nabygeleë gemeenskapsplaas het voormanne die beste werkers vir hulle plaas kom kies, soos grondeienaars werkers by ’n slawemark koop.
Baie van die mense wat in Siberië gewoon het, was self bannelinge, en hulle het medelye met die nuwelinge gehad. Met die hulp van medegelowiges en vriendelike plaaslike mense het die verbanne broers hulle dus gou daar gevestig. Party kon ’n betreklik normale lewe lei. ’n Paar het selfs onverwagte gesondheidsvoordele geniet, soos die twee Estiese susters wat aan tering gely het, maar in die droër Siberiese klimaat gesond geword het.
Maar nie almal was so gelukkig nie. Ten minste een kind is op die trein dood, en een bejaarde Getuie het gesterf as gevolg van die moeilike toestande of die emosionele trauma. Party broers het gestremd geraak weens ’n gebrek aan goeie medisyne of die uitmergelende werk. Ander het probleme opgedoen as gevolg van die moeilike lewenstoestande, swak voeding, siekte, ongelukke en snerpende koue. Daarbenewens het talle emosioneel gely omdat hulle vir baie jare van hulle gesinne weggeskeur is en nooit die briewe ontvang het wat hulle geliefdes geskryf het nie.
“Aangesien ons gesin net uit kinders en jong meisies bestaan het”, verduidelik Tiina Kruuse, “is ons na ’n arm gemeenskapsplaas geneem. Die lede van die kommune het nie eens genoeg kos vir hulleself gehad nie, wat nog te sê vir ons. Nuwelinge het dennebas en eetbare wortels gekou en dikwels brandnetelsop geëet.”
Die winters in Siberië is lank en bitter koud, ’n strawwe klimaat waaraan die Estiese bannelinge nie gewoond was nie. Selfs die algemeenste bedrywighede, soos om aartappels te kweek, was selde suksesvol. Die eerste jaar van ballingskap was vir die meeste bitter moeilik en het met knaende hongerpyne gepaardgegaan.
“Dit was minus 50 grade Celsius”, vertel Hiisi Lember. “As gevolg van die koue het ons die hen se hok onder ons bed gehou sodat sy nie verkluim nie. Party het selfs ’n kalf by hulle in die huis gehad as dit in die winter gebore is.”
NA ’N NUWE GEBIED—OP STAATSONKOSTE!
Jare vroeër het William Dey gesê dat die broers ontsaglike nuwe gebiede sou hê om in te preek as die Sowjetunie ooit die Baltiese lande sou oorneem. Hoe waar was hierdie woorde tog! Die Sowjetregering het Jehovah se Getuies grootliks gehelp om hulle predikingswerk na Siberië en ander vergeleë plekke uit te brei deur hulle soontoe te verban. Hoewel Jehovah toegelaat het dat sy Getuies getoets word, het dit baie mense wat nooit eens die goddelike naam gehoor het nie, die geleentheid gegee om die waarheid te leer.
Lembit Trell is byvoorbeeld vir antiregeringsbedrywighede in hegtenis geneem. Hy het in 1948 op ’n buitengewone manier van die waarheid gehoor—in ’n tronksel in Tartu. ’n Russiese leëroffisier, wat ook in aanhouding was, het hom vertel van die Getuies wat hy in ’n ander tronksel ontmoet het. Die offisier het vir Lembit ’n kort opsomming van hulle leringe gegee. Hy het verduidelik dat God se regering die enigste oplossing is en dat God binnekort oor die aarde sal begin heers. Dit het Lembit se belangstelling gewek.
Lembit is uiteindelik na ’n gevangeniskamp in Workoeta gestuur, in die verre noorde van Siberië, naby die Noordelike Yssee. Daar het hy ’n groep Getuies oor die Bybel hoor praat. Toe hy nader gaan, het hy besef dat hulle oor dieselfde dinge praat waarvan hy by die offisier gehoor het, en hy het dus by die gesprek aangesluit.
“Waarom is jy in die tronk?” het die broers vir Lembit gevra.
“Ek het vir geregtigheid gestry”, het hy geantwoord.
“Was jy suksesvol?” het een van die Getuies gevra.
Die antwoord was voor die hand liggend, maar Lembit het geantwoord: “Nee, ek was nie.”
“Kyk! Jy het aan die verkeerde kant geveg”, het ’n broer vir Lembit gesê. “Wil jy nie liewer aan die regte kant veg nie?” Toe het hulle begin verduidelik wat die Bybel oor geestelike oorlogvoering sê. Hoe meer Lembit gehoor het, hoe meer het hy besef dat hy die waarheid gevind het en hoe duideliker het hy gesien dat hy hom aan Jehovah se kant van die geestelike oorlog moet skaar.
Ná sy vrylating het Lembit na Estland teruggekeer en met sy geestelike oorlogvoering begin. Hy dien nou as ’n gewone pionier. Sy vrou, Maimu, het die waarheid op ’n soortgelyke wyse gevind; haar belangstelling is in ’n tronk gewek deur iemand wat nie ’n Getuie was nie.
Die predikingswerk was moeilik vir die broers wat min Russies gepraat het. Maar selfs met hulle beperkte woordeskat was dit altyd vir hulle maklik om ’n gesprek te begin deur te praat oor die rede waarom hulle na Siberië verban is. Hierdie benadering het die broers gehelp om bedrewe te raak in die informele getuieniswerk. Verder het hulle baie geleenthede gehad om vir Estiese bannelinge in hulle moedertaal te getuig. Een oorlewende skat dat 15 tot 20 Estlanders die waarheid in die kampe geleer het, en so ook ’n aantal Russe en Litauers.
HOE OM GEESTELIKE VOEDSEL TE VERKRY
Baie metodes is gebruik om Bybels en geestelike voedsel in tronke in te smokkel, asook na verbanne Getuies wat in afgeleë gebiede gewoon het. “Ons het lektuurblaaie in bottels met vark- of ander dierevet ontvang”, verduidelik een broer. “Omdat die vet in die koue wit geword het, kon die papier nie maklik gesien word nie. Hoewel die beamptes ’n mes in die bottels ingesteek het, het hulle amper nooit die dun papier, wat teen die kante van die bottels gedruk is, gevind nie.” Die beamptes het selde die kosbare geestelike voedsel gevind wat in die bottels met letterlike voedsel versteek is.
Stukkies lektuur kon ook in ’n handsak of binne-in klere vasgewerk, in ’n seepkissie versteek of in ’n uitgeholde seepkoekie gedruk word. “Ek kon vier Wagtorings in die seep in ’n seepkissie pas”, sê Ella Toom.
Hoewel briewe gesensor is, het die Getuies geleer hoe om Bybelwaarhede en teokratiese taal met alledaagse woorde te kamoefleer. Een suster het byvoorbeeld gesê: “Ons word baie goed deur die Vader versorg en het ook ’n tou wat die put bereik.” Sy het te kenne gegee dat “die Vader”, Jehovah, geestelik vir hulle sorg; dat hulle kontak het met “die put”, Jehovah se organisasie; en dat hulle toegang het tot die lewegewende waters van waarheid, Bybellektuur.
Hoewel baie lektuur bloot met die hand oorgeskryf is, is van die lektuur deur middel van eenvoudige drukmetodes gekopieer. Wanneer die Getuies lektuur met die hand oorgeskryf het, was hulle dankbaar as hulle in alleenopsluiting geplaas is as straf omdat hulle gepreek het. Waarom? “Dit was goed wanneer ek in alleenopsluiting geplaas is”, sê een suster. “Daar was dit vir my makliker om Die Wagtoring te vertaal, aangesien ek nie so dikwels gesteur is nie.” Dit is een van die baie maniere waarop vervolgers se taktiek misluk het en dikwels Koninkryksbelange bevorder het!—Jes. 54:17.
DIE BELANGRIKHEID VAN VERGADERINGE
Dit was selde moontlik om by vergaderinge saam met ander Getuies bymekaar te kom, en hierdie geleenthede is dus hoog op prys gestel. Corinna Ennika beskryf hoe sy en ’n ander suster die moed bymekaargeskraap het om sonder toestemming ’n paar dae lank van die werk af weg te bly om ’n vergadering by te woon. “Ons het ons werksplek die aand verlaat”, verduidelik Corinna, “en na ’n treinstasie 25 kilometer daarvandaan gestap. Die trein het tweeuur die oggend vertrek, en ons het ses uur lank gery voordat ons afgeklim en tien kilometer na die vergaderplek gestap het. Ons het die regte huis gevind en was nog besig om te besluit wie die wagwoord sou sê toe ’n broer uitkom, sien dat ons susters is en opgewek sê: ‘Julle is by die regte plek. Kom in!’ Ons het Die Wagtoring gestudeer en Koninkryksliedere gesing. Dit was vir ons ’n baie opbouende en geloofversterkende ondervinding.” Toe hulle drie dae later teruggegaan het werk toe, was hulle verlig om uit te vind dat die plaasbestuurder nie eers agtergekom het dat hulle weg was nie. Geheime vergaderinge het baie gehelp om die geloof en moed van Jehovah se getroue knegte op te bou.
By ’n ander geleentheid het ’n groep broers in die tronk ’n vergadering gehou toe die wagte skielik ingekom het om lektuur te soek. Een broer, wat ’n paar blaaie lektuur in sy hande gehad het, het gou ’n besem gegryp en die vloer begin vee. Die wagte het gesoek, het niks gevind nie en is daar weg. Intussen was die lektuur veilig om die besemstok gedraai wat die broer stewig vasgehou het terwyl hy die vloer vlytig gevee het!
DIE KRAG VAN WARE CHRISTELIKE LIEFDE
“Ek het vyf jaar lank ondergronds in die koolmyne gewerk”, vertel Adolf Kose. “Ons was bo die Noordpoolsirkel, waar daar in die winter geen daglig is nie. Dit was donker teen die tyd dat ons aan die einde van ons skof uit die myn opgekom het. Ons het dus maande lank geen daglig gesien nie. Ons het ook nie genoeg kos gekry nie. Dit het my geheue en besef van tyd aangetas. Weens die harde werk, gebrek aan kos en algehele uitputting het ons net genoeg krag gehad om ’n paar minute op ’n slag oor alledaagse dinge te praat. Maar wanneer ons Koninkrykswaarhede bespreek het, het ons nooit moeg gevoel nie. Ons kon dit ure lank doen.”
Deur al die ontberinge heen het Jehovah se volk geleer om selfopofferende liefde vir mekaar te toon. “Enigiets wat ons gehad het”, verduidelik broer Kose, “of enigiets wat enigeen van ons ontvang het, is gelykop onder die broers verdeel. Almal van ons het gebrek gely, en daarom het ons geleer om alles wat ons het, met mekaar te deel.”—1 Joh. 4:21.
Selfs die wagte het besef dat die Getuies mekaar altyd help. Toe Aino Ehtmaa van een kamp na ’n ander oorgeplaas is, het sy nie ’n lepel of ’n bord gehad nie—die basiese benodigdhede vir kamplewe.
“Wel, dis nie ’n probleem nie”, het die kampopsigter gesê, “jou susters sal vir jou gee wat jy nodig het.” En dit is wat hulle gedoen het. Sulke blyke van Christelike liefde het Jehovah se naam keer op keer tot eer gestrek.
Maar toetse van lojaliteit het nooit tot ’n einde gekom nie. Byvoorbeeld, hoewel suster Ehtmaa al ’n tyd lank in die gevangeniskamp was, het die wagte haar voortdurend gevra: “Weier jy nog steeds om met ons saam te werk?” Die soort samewerking wat hulle natuurlik wou hê, was vertroulike inligting oor Jehovah se Getuies.
“Julle hou my in gevangeniskampe aan, en my pa en ma is as gevolg van julle dood”, het suster Ehtmaa altyd geantwoord. “Hoe kan ek ooit met julle saamwerk?”
Selfs in hulle “gevangenisboeie” het die verbanne Getuies aangehou om Christelike liefde te betoon deur die goeie nuus van die Koninkryk bekend te maak wanneer hulle ook al kon. Maar vir wie het hulle gepreek? Die Sowjetbeleid om vooraanstaande burgers wat nie Kommuniste is nie, te hervestig, het in werklikheid vir hulle ‘’n deur vir die woord oopgemaak’. Baie broers en susters het produktiewe gesprekke gehad met daardie geleerde bannelinge, wat andersins dalk nie maklik die Koninkryksboodskap sou gehoor of daarop sou gereageer het nie.—Kol. 4:2-4.
“Later is ons na ander kampe geneem”, verduidelik broer Kose. “’n Groot getuienis is in elke sel gegee. Ek kon destyds meer preek as ooit tevore of sedertdien.”
Die aanval op Jehovah se Getuies was gedurende al die jare van ballingskap meedoënloos. Hulle is van hulle eiendom en vryheid beroof, en hulle is op elke moontlike manier verneder. Maar op sedelike en geestelike gebied het hulle vervolgers hulle nooit ondergekry nie.
TERUG IN ESTLAND
Toe Josef Stalin in 1953 dood is, was baie van sy toegewyde ondersteuners diep bedroef. Ella Toom was destyds saam met ses ander susters in ’n tronksel. Die wag het huilend daar ingekom en hulle beveel om Stalin te salueer. Hulle het moedig geweier.
As gevolg van Stalin se dood het die politieke atmosfeer begin verander. Van 1956 tot 1957 is honderde petisies ten behoewe van die verbanne broers deur die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies aan die Sowjetregering gestuur. Een ná die ander verbanne Getuie is amnestie toegestaan. Dié wat in die tronk was, is vrygelaat, en dié wat verban is, is toegelaat om terug te gaan huis toe. Party Getuies is kort ná Stalin se dood vrygelaat, maar ander moes ’n tyd lank wag. Die Tuiman-gesin is byvoorbeeld in 1951 verban, maar is eers in 1965 toegelaat om terug te keer. En al kon ons broers na Estland terugkeer, moes hulle nog steeds blyplek vind, aangesien al hulle eiendom gekonfiskeer is toe hulle verban is.
’N TERUGBLIK
Watter uitwerking het die intimidasie, wreedheid, dwangarbeid en haglike tronktoestande op die Getuies gehad? Die oorgrote meerderheid het geestelik sterk en getrou gebly, selfs toe hulle die dood in die gesig gestaar het. Ten minste 27 Estiese Getuies het in die tronk of in ballingskap gesterf, insluitende Artur Indus, wat op die Dienskomitee in Estland gedien het voordat hy gedeporteer is. Friedrich Altpere is kort ná sy vrylating oorlede, klaarblyklik weens die gevolge van dwangarbeid. Jehovah se knegte is in Siberië aan hewige toetse van geloof onderwerp; maar hulle het baie lesse geleer en het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf. Hulle het inderdaad met sterker geloof en groter volharding uit die stryd getree.—Jak. 1:2-4.
“Al die verantwoordelike broers was in gevangeniskampe”, verduidelik Viljard Kaarna, “en ons was heeltyd met hulle in aanraking. Gevolglik het ons in Siberië altyd lektuur gehad en geestelik goed gevaar. In Estland was dit baie moeiliker om gereeld geestelike voedsel te bekom. Ons dink nie dat ons geestelik so goed sou gevaar het as ons in Estland gebly het nie.”
Baie bannelinge wat nie Getuies was nie, het verbitterd geword as gevolg van die dinge wat hulle deurgemaak het. Jehovah se Getuies daarenteen het hulle ballingskap as ’n geestelik versterkende ondervinding beskou.
“Ons het gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat ons gely het”, sê Corinna Ennika. “Ons het ons hoop in Jehovah gestel en was nooit spyt daaroor nie. Ons het gesien hoe min ons nodig het om aan die lewe te bly. Ek en my suster, Ene, het net ’n klein koffer en ’n karton onder die bed gehad. Wanneer ons nou voel dat ons iets meers nodig het, dink ons terug aan daardie ondervinding. Ons het die beste jare van ons jeug—van 17 tot 23—in Siberië deurgebring. Ek het al dikwels gewonder of ons geestelik so sterk sou gewees het as ons nie in ballingskap was nie. Ek voel dat Siberië op daardie stadium vir ons die beste plek was.”
“Daardie vyf jaar in Siberië was gou vergete”, verduidelik een suster. “Dit was asof ek net ’n paar uur lank na ’n rolprent gekyk het.”
Aino Ehtmaa vertel: “Ek sal nooit die vrolike gedans van die noorderlig vergeet nie, en ook nie die ysige dae wanneer die kleurvolle miswolke van die see of riviere af opgestyg het nie, die pooldae wanneer die son twee weke lank nie gesak het nie en die poolnagte wanneer die sonsopkoms twee weke lank nie sigbaar was nie. Ek onthou die groen aarbeie wat gedurende die kort somer ryp geword het en die arktiese wilde voëls wat die klein takkies van die skraal bome geëet het. Ondanks al die ontberinge het ek gevoel asof ek op ’n toer in Siberië is. Ek het besef dat ’n mens selfs daar gelukkig kan wees as jy op Jehovah vertrou.”
NUWE TYE, OU METODES
Selfs nadat die broers uit Siberië na Estland teruggekeer het, het die vervolging nie opgehou nie. Die geheime polisie het direkte sowel as indirekte metodes gebruik om inligting oor die organisasie in te win en dit te beswadder.
Jüri Schönberg, wat in hegtenis geneem is omdat hy geweier het om militêre diens te doen, is vir intensiewe ondervraging uit die strafkamp geneem. ’n Spesiale KGB-agent het van Kiëf, in die Oekraïne, na Estland gereis om Jüri te oorreed om vir die KGB te werk. Die offisier het hom probeer wysmaak dat die lektuur van Jehovah se Getuies teen die regering en vol foute is. Hy het vir Jüri ’n paar eksemplare van Die Wagtoring gegee om te lees, maar hoewel dit na egte tydskrifte gelyk het, het Jüri geweier om dit te aanvaar. Hy was bang dat dit van die vervalste Wagtorings is wat die KGB soms saamgestel het om verwarring onder die Getuies te saai. Die agent het ’n hele week lank, van die oggend tot die aand, druk op Jüri geplaas om met die KGB saam te werk, maar ons broer het standvastig gebly en geweier om ontrou te wees.
WEER IN AANRAKING MET “MOEDER”
Al was die ystergordyn dig toe, kon dit nie heeltemal verhinder dat die lig van Bybelwaarheid deurskyn nie. Die broers moes jare lank met lektuur van vorige jare geestelik aan die gang bly. Maar terwyl die Estiese Getuies in Siberië in ballingskap was, kon hulle met broers uit ander dele van die Sowjetunie vergader. Toe hulle terug was in Estland, het hulle moedig kontak met hierdie broers in die Sowjetunie behou en kon hulle van tyd tot tyd vars geestelike voedsel kry. Hulle was byvoorbeeld van 1956 af in aanraking met Ivan Dziabko en ander van die Oekraïne en kon lektuur by hulle kry. Maar daar was min van hierdie kontakte, en die hoeveelheid lektuur was beperk. Iets meers was nodig, en Jehovah het ons broers se moedige pogings weldra geseën.
Onder die leiding van die Bestuursliggaam het die Finse takkantoor reëlings getref om die broers in Estland op ’n stelselmatiger wyse te help. Vilho Eloranta, wat in die 1930’s in Estland gepionier het, is gevra om met hulle kontak te maak. In die vroeë 1960’s, op sy eerste reis na Estland, het hy dit reggekry om met Fanny Hietala kontak te maak. Daarna het baie Finse broers wat hulle as toeriste voorgedoen het, as koeriers gedien en kommunikasie help behou. Uiteindelik was die broers in Estland in aanraking met “Moeder”, soos die broers Jehovah se organisasie genoem het. Hulle kon velddiensrapporte en korrespondensie stuur en lektuur op mikrofilm ontvang. Maar aangesien die reëling onder die diepste geheimhouding en met die grootste omsigtigheid moes geskied, was kontak tot twee of drie keer per jaar beperk.
Adolf Kose se neef, Hugo Kose jr., wat in die Verenigde State woon, het 15 keer as ’n koerier na Estland gereis. Op een van sy reise het die grenswagte hom deeglik deursoek, maar niks gevind nie. Die situasie het egter gespanne geraak toe die wagte hom reguit gevra het aan watter godsdiens hy behoort. Omdat Hugo opgemerk het dat die beamptes nie vlot Engels praat nie, het hy vinnig in Engels begin praat. Die beamptes wou nie hulle onkunde verraai deur hom te vra om stadig te praat nie, en toe die telefoon lui, het hulle dus vir hom gesê om te maak dat hy by die skip kom omdat dit gereed is om te seil. Hy het hierdie instruksie natuurlik sonder versuim uitgevoer!
Dié wat as koeriers gedien het, het geweet hoe belangrik hulle toewysing is en het dit ernstig opgeneem. Hulle was altyd versigtig en was voortdurend bewus van die gevaar om te selfversekerd te raak. Velddiensrapporte was in kode geskryf ingeval dit in die verkeerde hande val. Die koeriers het besef dat hulle hulle eie lewe en dié van ander in gevaar kan stel as hulle nie versigtig is nie. Soms het hulle agtergekom dat KGB-agente hulle agtervolg. Terwyl Viljard Kaarna gewag het om ’n pakkie van twee broers te ontvang, het hy gesien hoe ’n agent ’n foto van hulle neem en hulle toe volg. Hy was ongetwyfeld besig om bewyse teen die Getuies in te samel. Maar gedurende al daardie jare het die broers nooit ’n enkele besending lektuur of enige korrespondensie of rapporte verloor nie.
BETER ORGANISASIE
Die predikingswerk in die Sowjetunie was ’n tyd lank onder die toesig van ’n Landskomitee in die Oekraïne. Daarbenewens het etlike broers as streekopsieners in die ontsaglike land gedien. Maar weens die groei van die organisasie in Estland was dit nou nodig dat ’n plaaslike broer daaroor toesig hou. Adolf Kose, wat stil van geaardheid en deur verskeie toetse van geloof gelouter is, is in 1967 aangestel om hierdie werk te help organiseer. Later is hy die bykomende verantwoordelikheid gegee om korrespondensie en rapporte vir Letland, Litaue, Karelia, Leningrad (nou St. Petersburg) en Moermansk te hanteer. Broer Kose het ook gehelp om die drukwerk op verskeie plekke te organiseer.
Behalwe om na al hierdie verantwoordelikhede om te sien, het broer Kose ook voltyds saam met sy vrou, Koidula, op ’n varkplaas naby die dorp Tapa gewerk. Hoe het hy dit alles behartig? Broer Kose het masjinerie ontwerp wat sy sekulêre werk ietwat makliker gemaak het. En dit het hom meer tyd gegee om sy teokratiese toewysings te behartig.
Later het broers soos Viljard Kaarna, Lembit Toom en Silver Silliksaar gehelp om gemeentes in Estland en naburige republieke van die Sowjetunie te besoek. Toe die Russiese veld in Estland begin groei het, het Aleksandr Jewdokimof dieselfde in dié veld gedoen. Later is die drukwerk verdeel, en die Russiessprekende broers in Estland het hulle eie drukwerk gedoen. Wanneer hulle hulle publikasies op mikrofilm ontvang het, was dit reeds in Russies en kon dit direk op fotografiese papier gedupliseer word. Maar namate die gemeentes groter geword het, is hierdie omslagtige fotodupliseringsmetode uiteindelik vervang, aangesien dit nie by die groei kon bybly nie en vereis het dat baie broers met die drukwerk op verskeie plekke moes help. Ondanks hulle beperkte middele het die broers honderde eksemplare van meer as 20 boeke ondergronds gedruk. Meer as vyfmiljoen bladsye van Estiese en Russiese lektuur is tussen 1966 en 1989 per hand vervaardig.
OMSIGTIGHEID NOODSAAKLIK
Polisiemanne het eenkeer ’n broer se huis deursoek onder die voorwendsel dat hulle ’n gesteelde motorfiets soek. Maar hulle het reguit na ’n boekrak toe gegaan—beslis ’n onwaarskynlike plek om ’n motorfiets weg te steek! Dit was duidelik dat hulle eintlik verbode lektuur gesoek het. Hoe teleurgesteld was hulle tog om niks te vind nie!
Hoe het die broers die lektuur gekamoefleer en weggesteek? Wanneer hulle die lektuur vervaardig het, het hulle dikwels die omslae van ou sekulêre boeke of tydskrifte gebruik om dit te bind. Wanneer huise onverwags deursoek is, het hierdie “ou” publikasies dus gewoonlik onopgemerk gebly.
Die Getuies het spesiale geleenthede, soos troues, as ’n dekmantel vir vergaderinge en byeenkomste gebruik. Heimar en Elvi Tuiman se troue het byvoorbeeld twee dae geduur. Sulke samekomste het partykeer drie of vier dae geduur. Die Estiese ouer manne het paartjies aangespoor om troues te reël wat nie te groot is nie. Kleiner troues was nie so opvallend nie en het minder aandag getrek, en die kanse was kleiner dat dit probleme sou veroorsaak.
RUSSIESE BROERS TREK NA ESTLAND
In 1970 het broers in die Oekraïne, Belarus en ander dele van die Sowjetunie wat al lank Getuies was, na Estland begin trek. Vir baie van hulle was die lewe in Estland aansienlik makliker as wat dit in hulle vaderland was, waar hulle wrede vervolging verduur het.
Met die hulp van broers soos Nikolai Doebowinski, wat lank in die Oekraïne ’n ouer man was, is die eerste Russiessprekende gemeente in 1972 in Tartu gevorm, met sowat 50 verkondigers. Die Russiese veld was vrugbaar, en teen 2010 was daar 27 Russiessprekende gemeentes en 4 Russiessprekende groepe—wat meer as die helfte van die verkondigers in Estland uitgemaak het.
VERSKILLENDE MANIERE OM INFORMEEL TE GETUIG
Die Russiessprekende broers was moedige en ywerige verkondigers en het nie gehuiwer om in informele situasies met mense te praat nie. Byvoorbeeld, hulle het gesprekke aangeknoop met toeriste wat kerke in Tallinn besoek het en het vir hulle getuig. Toeriste het dikwels gedink dat iemand wat oor die Bybel praat, ’n toergids is, en daarom het hulle aandagtig geluister na wat die broers sê.
Party susters het op treine gepreek. Hulle het ’n retoerkaartjie van Tartu na Tallinn gekoop. Gedurende die agt uur lange rit het hulle oorgenoeg tyd gehad om gesprekke met passasiers te begin en hulle van die goeie nuus te vertel.
“Ek het vir ’n Bybelstudie gebid”, vertel Maria Pasechnick, wat van Kazakstan na Estland getrek het. Nadat sy daaroor nagedink het, het sy besluit om vir die mense te preek wat ure lank saam met haar in lang toue staan om kos by die plaaslike winkels te koop.
“Terwyl ek eendag in ’n tou gestaan het”, vertel Maria verder, “het ek met ’n vrou begin praat en die gesprek geleidelik op die Bybel gebring. Die vrou het nie baie belanggestel nie, maar sy het my na haar vriendinne geneem, my aan hulle voorgestel en my toe gelos om die gesprek met hulle voort te sit. Gevolglik het ek vier Bybelstudies begin. Een van die vroue het ’n gedoopte Getuie geword en dien Jehovah nog steeds getrou.”
Soos regoor die wêreld, was baie van Jehovah se knegte by hulle werk opvallend anders weens hulle voorbeeldige gedrag. Die Kommunistiese Party se organiseerder by ’n kragstasie het byvoorbeeld aan die hand gedoen dat Leonhard Nilsk nie meer by die maatskappy nodig is nie omdat hy godsdienstig is. Maar die hoof van die elektrisiteitslaboratorium het vir hom opgekom en gesê: “Het ons die Kommuniste wat drink en nie hulle werk doen nie, nodiger as ’n godsdienstige persoon wat bekend is vir sy betroubaarheid?” Leonhard se ander werksmaats het hom ook weens sy goeie reputasie verdedig, en die saak is daar gelaat. Die partyorganiseerder het blykbaar in die guns van die hoër partyamptenare probeer kom, en toe die Kommunistiese bewind in Estland tot ’n einde gekom het, het die partyorganiseerder háár werk verloor.
’N GETUIENIS TYDENS DIE VERBOD
“Toe ek op skool was”, vertel Lembit Reile, wat nou op die Estiese Takkomitee dien, “het ek met baie van my klasmaats gepraat, maar ek het dit versigtig gedoen. Ek het dikwels een van die seuns na ons huis toe genooi, en ek het op oordeelkundige wyse vir hom gepreek. Nadat ek klaar was met skool, het ek hom sowat 20 jaar lank nie gesien nie. Ek het onlangs ’n openbare toespraak in die gemeente in my tuisdorp gehou, en raai wie was in die gehoor? My skoolmaat! Hy het met Jehovah se Getuies gestudeer, en hy is kort ná my besoek gedoop! Hoe verheug was ek tog!”
Omdat ons werk verbied was, moes die broers op hulle hoede wees wanneer hulle gepreek het. Een ouer man verduidelik hoe hulle dit gedoen het: “Ons moes tyd neem om die mense om ons waar te neem en te besluit met wie dit veilig sou wees om ’n gesprek te begin. Ons moes baie versigtig wees wanneer ons met vreemdelinge gepraat het. Ná ’n ruk kon ons dikwels agterkom as iemand ’n KGB-informant was. En as iemand baie gepraat het of luidrugtig was, het dit ons agterdogtig gemaak. Daarenteen was dit gewoonlik veilig om met ’n teruggetrokke persoon te praat. Ons het dikwels ’n gesprek aangeknoop met diegene wat nie die Kommunistiese regering ondersteun het nie—die sogenaamde andersdenkendes—wat gewoonlik nie so bevooroordeeld was nie.”
’N BEMOEDIGENDE BESOEK IN ’N PARK
Die Bestuursliggaam het gereël dat een van die lede, Lloyd Barry, tesame met Viv Mouritz, van die Finse takkantoor, Adolf Kose ontmoet, wat die werk in Estland georganiseer het. Hulle het in ’n park in Leningrad (nou St. Petersburg) ontmoet.
“Broer Kose was aanvanklik bang om te praat”, sê broer Mouritz oor hulle geheime ontmoeting, “en hy het sy koerant behoedsaam voor hom gehou. Maar nadat ons ’n rukkie gesels het, het Adolf die koerant laat sak en vryelik begin praat.”
“Hy het ’n uitnodiging van die hand gewys om saam met ons te kom eet”, vertel broer Barry. “Hy het gesê dat dit beter is om net die nodige sake te bespreek en dit daar te laat.”
Toe broer Kose kommer oor die swaar juk van vervolging en die beperkings op die Getuies in die Sowjetunie uitgespreek het, het broer Mouritz en broer Barry talle bemoedigende gedagtes met hom bespreek. “In ander lande het ons ook toetse”, het hulle gesê. “Daardie toetse lyk makliker, maar dit is gevaarliker! Ons het baie versoekings wat julle nie het nie, en ons verloor meer mense in die Weste as wat julle hier verloor.”
Hierdie besoek was vir broer Kose baie tydig en geestelik versterkend. Hy het eers later uitgevind dat hy met ’n lid van die Bestuursliggaam gepraat het, en hy het die aanmoediging van Jehovah se organisasie met vreugde oorgedra aan almal wat hulle onkreukbaarheid onder tirannieke onderdrukking gehandhaaf het.
“Ons harte gaan uit na ons broers in die Sowjetunie”, het broer Barry later geskryf. “Dit was wonderlik om broer Kose te ontmoet, en die handdruk en stewige omhelsing wat hy ons gegee het toe ons gegroet het, was ’n gepaste slot vir ’n baie aangename ontmoeting.”
JONGMENSE NEEM MOEDIG STANDPUNT IN OP SKOOL
Daar is veral op jong knegte van Jehovah druk uitgeoefen om politieke organisasies te ondersteun. Hulle is ook aangespoor om deel te neem aan ander bedrywighede wat teen hulle Bybelopgeleide gewete ingedruis het.
“Eendag, toe ek nog ’n dogtertjie op skool was”, vertel Ester Tamm, “is almal in die klas aangesê om op te staan, vorentoe te kom en ’n brief met ’n verjaarsdagwens aan die diktator, Josef Stalin, te onderteken.”
Ester het opgestaan, maar het geweier om vorentoe te gaan. Sy het eerder beleef gesê dat sy nie die brief gaan onderteken nie. Die onderwyseres was kwaad, maar verbasend genoeg het party van die ander leerlinge Ester ondersteun en moedig gesê dat hulle ook nie die brief gaan onderteken nie. Dit was toe die einde van die saak.
Nog ’n geskil het die dra van ’n rooi halsdoek ter ondersteuning van Kommunisme behels. Dié wat geweier het om dit te doen, is met laer punte of ander vorme van straf gedreig. Ons jong broers en susters het geweier om ontrou te wees en het dieselfde lojale gees geopenbaar as Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle in eertydse Babilon.—Dan. 1:8.
’N SPLINTERNUWE ERA
Die feit dat net 7 persent van die bevolking aan die Kommunistiese Party behoort het, toon dat die Estlanders oor die algemeen nie die Sowjetstelsel ondersteun het nie. Estiese beamptes was nie altyd gretig om instruksies van Moskou uit te voer nie, en party het die Getuies selfs gehelp. In 1985 het ’n plaaslike beampte byvoorbeeld na Lembit Toom toe gekom en gewaarsku: “Ek weet dat jy ’n soort voorman onder die Getuies is. Wanneer julle vir julle vergaderinge bymekaarkom, moet julle dit nie op nasionale vakansiedae doen nie.”
“Wel, ek sal die inligting oordra”, het Lembit gesê. Dit het die KGB klaarblyklik gegrief dat die Getuies nasionale vakansiedae vir hulle vergaderinge gebruik. Die broers het blykbaar te openlik vergader en het dus ’n paar aanpassings gemaak na aanleiding van die vriendelike raad.
’n Splinternuwe era het in 1986 begin toe die Sowjetunie sy beleid van perestroika, of herstruktuering, ingestel het. Die Bestuursliggaam het die broers aangespoor om die nuwe openheid en vryheid te benut om streekbyeenkomste in Oos-Europa te reël. Vir ons broers in die Sowjetunie was dit moeilik om te glo dat daar voor Armageddon vryheid sou wees. Alles wat hulle gely het, was nog vars in hulle geheue, en klopjagte is nog gereeld op huise uitgevoer.
GENOOI OM DIE PUBLIEK TOE TE SPREEK
As gevolg van die groter vryheid het al hoe meer mense belangstelling in godsdiens en die Bybel getoon. Mense was nuuskierig omtrent die standpunt van Jehovah se Getuies, en verskeie instellings het broers genooi om openbare toesprake oor ons opvattings te hou.
Een van hierdie geleenthede het baie onverwags opgeduik. Lembit Reile het ingestem om ’n groep mense toe te spreek. Ainar Ojarand, wat die reëlings getref het, het daardie dag, terwyl hy geskeer het, na die radio geluister toe hy die aankondiging hoor: “Vandag sal daar in die Sakala-sentrum ’n toespraak gehou word met die titel: ‘Wat leer die Bybel?’” Die Sakala-sentrum was die vernaamste konferensiesentum in Tallinn, waar die Kommunistiese Party gewoonlik hulle vergaderinge gehou het! Ainar het amper sy skeermes laat val! Maar daar was geen manier waarop hy Lembit kon laat weet dat dit ’n baie groter vergadering gaan wees as wat hulle gedink het nie—nie voordat hulle by die bushalte ontmoet het nie.
“Die saal was stampvol”, vertel Lembit. “Ek het nooit tevore so ’n groot gehoor toegespreek nie. Ek het nog nooit ’n mikrofoon gebruik of van ’n verhoog af gepraat nie. Ná ’n kort gebed het ek aan Paulus by die Areopagus gedink en het ’n inleiding by my opgekom. Aangesien die meeste in die gehoor vegetariërs was, het ek my toespraak begin deur te verduidelik dat God die eerste mense net vrugte en groente gegee het om te eet. Eers ná die Vloed is hulle toegelaat om vleis te eet.”
Hierdie inleiding het blykbaar goed gewerk, en ’n aantal mense het agterna kom tou staan om hulle naam en adres in te gee sodat hulle lektuur kon ontvang wanneer dit beskikbaar is. Oor die jare heen het baie broers toesprake voor groot gehore in biblioteke, skole en kultuursentrums gehou. Gevolglik het talle regverdiggesinde mense die waarheid herken en aangeneem.
GEESTELIK WAKKER
In 1989 het Jehovah se knegte in die Sowjetunie groter godsdiensvryheid begin geniet, wat party broers in staat gestel het om na ’n streekbyeenkoms in Pole te reis. Hoe het dit gevoel om ná jare van tirannieke onderdrukking in vryheid te vergader?
“Ons was so gelukkig!” vertel Ella Toom. “Ons het baie gehuil! Vir ons was hierdie byeenkoms werklik ’n geestelike paradys.”
“Ons het vroeg in Pole aangekom en is dus na ’n vergadering in ’n Koninkryksaal geneem”, sê ’n ander suster. “Toe ek die broers en susters by die saal sien ingaan, het ek begin huil. Dit was die eerste keer dat ek ooit in ’n Koninkryksaal was.”
Daardie jaar het Theodore Jaracz en Milton Henschel, van die Bestuursliggaam, tesame met Willi Pohl van die Duitse takkantoor, deur die hele Sowjetunie gereis. Hulle wou met die broers vergader om hulle aan te moedig en om uit te vind wat die situasie is. Die toneel van die wêreld was vinnig aan die verander, en die Sowjetunie se beleid van perestroika moes sonder versuim benut word. Dit was ’n tyd vir geestelike herorganisering, en aandag moes eerstens aan die vertaalwerk geskenk word.
Sedert 1983 het Toomas (Tom) Edur, ’n energieke voormalige hokkieligaspeler met ’n Estiese agtergrond, party van die publikasies by die Kanadese takkantoor in Esties vertaal.c Hierdie publikasies is destyds hoofsaaklik aan Estlanders in die buiteland beskikbaar gestel. Maar in 1990, toe die werk weer in Estland aan die gang gekom het, is Toomas en sy vrou, Elizabeth, na die Finse takkantoor gestuur om ons lektuur in Esties te help vertaal. Kort daarna is hulle na Estland oorgeplaas.
Voor hierdie tyd het individuele vertalers op verskillende plekke gewerk. Dit was nou duidelik dat dit vir ’n vertaalspan beter sou wees om op een plek saam te werk. Gevolglik het ’n aantal vertalers by Lembit Toom se huis in Tartu begin werk. Maar omdat dit feitlik onmoontlik was om rekenaars in die Sowjetunie te bekom, het die vertalers nie die toerusting gehad om die werk doeltreffend te doen nie. Die situasie het egter verbeter toe ’n plaaslike broer die Amerikaanse takkantoor besoek het en twee rekenaars teruggebring het—’n goeie begin vir ’n doeltreffende vertaalafdeling. Aangesien net ’n paar van die vertalers ondervinding met rekenaars en die organisasie se Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS) gehad het, was dit ’n uitdagende taak. Maar hulle was gretig om te leer en het gou uitstekende werk gelewer.
NOG ’N VREUGDEVOLLE BYEENKOMS IN DIE BUITELAND
Namate Sowjetbeheer oor Oos-Europa afgeneem het, het mense al hoe meer vryheid begin geniet. Trouens, ongeveer 200 Estiese broers en susters is visums toegestaan om die “Suiwer taal”-streekbyeenkoms in Helsinki, Finland, in Junie 1990 by te woon.
Toe die Estiese afgevaardigdes afstap van die bote wat hulle na Finland gebring het, het die Finse broers by die hawe met dawerende applous losgebars, wat ongeveer ’n halfuur geduur het! Ander mense het gewonder wat aangaan en wou weet wie die beroemde persone is. Wat ’n ommekeer! Ons nederige broers, wat dekades lank deur die Sowjetowerheid sleg behandel is, is soos Olimpiese kampioene verwelkom!
Hoe verheug was die Estiese broers tog om na ’n deel van die program in Esties te luister en om van die nuwe vrystellings in hulle moedertaal te ontvang! “Toe ons ’n Estiese brosjure vir die eerste keer in ons hande gehou het”, sê ’n broer wat al lank ’n Getuie is, “was dit asof ons ’n kosbare juweel vasgehou het.”
Die Estiese afgevaardigdes was selfs meer verheug oor ’n opwindende aankondiging wat gedurende die laaste toespraak gemaak is. Die spreker het gesê dat die Bestuursliggaam goedkeuring gegee het dat ’n halfmaandelikse Estiese Wagtoring in volkleur vanaf Januarie 1991 gelyktydig met die Engelse nommer uitgegee word! Die ekstatiese gehoor het opgestaan en lank hande geklap. Toe, in die stilte ná die applous, het iemand in die gehoor gevra: “Sal daar net een tydskrif vir elke studiegroep wees soos voorheen? Of sal elkeen ’n persoonlike eksemplaar ontvang?” Die antwoord dat elkeen ’n persoonlike eksemplaar sal kry, was amper te goed om te glo en het nog ’n sarsie waarderende applous uitgelok.
Die Finse takkantoor het dadelik aan die werk gespring om die Estiese lektuur te druk en het ook die ouer nommers vanaf 1990 beskikbaar gestel. Benewens geestelike hulp het die Estiese Getuies ook baie humanitêre besendings van hulle broers in verskeie lande ontvang en versprei—hulp wat baie nodig was in die lig van die land se ekonomie.
DIE EERSTE STREEKBYEENKOMS IN VRYHEID
Jehovah se organisasie het gou van die toenemende godsdiensvryheid gebruik gemaak om groot streekbyeenkomste regoor die Sowjetunie te reël. Hoe opgewonde was die Estiese broers tog om die gasheer te wees vir die eerste “Liefhebbers van [godvrugtige] vryheid”-streekbyeenkoms wat op 13-14 Julie 1991 in Tallinn gehou is!
Hierdie byeenkoms was besonder vreugdevol vir party van die ouer byeenkomsgangers. Waarom? Omdat hulle in 1940 laas ’n streekbyeenkoms in Estland in vryheid bygewoon het. Hoe verheug was hulle tog nou, meer as 50 jaar later, om weer eens vryelik te vergader!
Die Russiessprekende broers uit die noordweste van die Sowjetunie, die Baltiese lande en Kaliningrad het in Tallinn se Linnahall (Stadskonsertsaal) vergader. In die Jäähall (Yssaal) langsaan het byna eenduisend die Estiese sessies bygewoon, en die gesamentlike hoogtepunt vir albei sale was 4 808. En aangesien 447 gedoop is, was dit beslis ’n tyd van groot vreugde!
Streekbyeenkomste soos dié het grootliks gehelp om nuwelinge die waarheid te leer. Leonhard Nilsk se ouma Amalie het byvoorbeeld aan die Adventistekerk behoort, maar sy het hulle leringe betwyfel. Leonhard het haar aangespoor om deur middel van die Bybel uit te vind wat die waarheid is. Maar vir Amalie was die keerpunt toe sy in 1991 die streekbyeenkoms in Tallinn bygewoon het. Ná die eerste dag het Amalie aangekondig dat sy nooit weer na haar kerk toe sal teruggaan nie. Wat Leonhard gesê het, was nie vir Amalie genoeg nie—sy moes Jehovah se volk eenvoudig self sien. Sy het ingestem om die Bybel te studeer en is later gedoop.
DROME WORD BEWAARHEID
Noudat die donker wolke van vervolging en onderdrukking nie meer oor Jehovah se knegte gehang het nie, was dit vir party moeilik om te glo dat daar werklik godsdiensvryheid is. ’n Broer wat al lank ’n ouer man was, het byvoorbeeld gedroom van die dag wanneer die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Esties beskikbaar sal wees. In 1991 was dit ons eerste boek wat in die nuwe era van groter vryheid in Esties gedruk is.
“Toe hierdie boek uiteindelik in my hand was”, sê die ouer man, “kon ek dit nouliks glo. Toe ek dit by die vergadering bekend gestel het, kon ek skaars my trane bedwing. Vir ’n oomblik was almal stil, want hulle kon hulle ore nie glo nie. Toe het uitroepe van vreugde weerklink! Broers het terselfdertyd gejuig en gehuil. Dit was ’n onvergeetlike oomblik. Elke keer wanneer ek daaraan dink, kry ek trane in my oë.”
Die broers het keer op keer gevoel “soos dié wat droom” (Ps. 126:1-6). Ná dekades van ontbering het baie self die gelukkige uiteinde ondervind wat in God se Woord belowe word: “Op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”—Gal. 6:9.
’N VREUGDEVOLLE TEOKRATIESE MYLPAAL
Die 31ste Oktober 1991 is ’n datum wat ons broers en susters in Estland lank sal onthou. Dit was die dag waarop die eerste gemeente van Jehovah se Getuies amptelik in Estland geregistreer is.
’n Tyd van groot geestelike herbouing was nou op hande. Daar was baie belangstelling in die goeie nuus, en mense het hulle belangstelling in die Bybel en in godsdiens openlik uitgespreek. Bybelstudies moes gehou word, en gemeentelike vergaderinge sowel as kring- en streekbyeenkomste moes georganiseer word. Die vertalers het voldoende fasiliteite nodig gehad om hulle toenemende werklas te behartig.
Intussen het Gileadsendelinge in die land begin aankom, en geskikte sendinghuise moes gevind word. Hulle het hulp nodig gehad om visumprobleme op te los en verblyfpermitte te verkry. Die neutraliteitskwessie moes met regeringsamptenare uitgestryk word. Boupermitte was nodig om Koninkryksale te bou.
“Daardie jare”, vertel Reino Kesk, wat destyds as ’n kringopsiener gedien het, “het soos ’n paar maande gevoel as gevolg van al die teokratiese voorbereidingswerk wat gedoen moes word. Dit was ook ’n baie emosionele tyd. Mense was lief vir die waarheid en het dit gou aangeneem. In elke gemeente was daar baie wat gedoop wou word. Party belangstellendes wat na die streekbyeenkoms gekom het en nie veel van Jehovah se Getuies geweet het nie, het die toesprake geniet en wou onmiddellik gedoop word. Baie moes gedoen word om hulle te help!”
Toe Estland onder Sowjetbewind was, was die predikingswerk onder die toesig van die takkantoor in Duitsland. Een van die geheime kommunikasiekanale tussen Duitsland en Estland was die Finse takkantoor. Maar noudat die grense oop was en vrye kommunikasie moontlik was, is die Finse takkantoor in 1992 aangestel om oor die werk in Estland toesig te hou.
BAIE YWERIG EN BAIE GRETIG!
Omdat so baie nuwelinge vinnig gevorder het, was dit ’n uitdaging om by te bly met almal wat as ongedoopte verkondigers wou kwalifiseer. Byvoorbeeld, die oggend van die Herdenking van Christus se dood het Tom Edur ’n nuwe groepie besoek en was hy verstom oor hoeveel opgedaag het om in velddiens uit te gaan.
“Ken jy almal hier?” het Tom die plaaslike broer gevra.
“Wel, party is nie verkondigers nie”, was die antwoord.
Tom het dus die velddiensvergadering gehou en toe aangekondig: “Miskien kan ek agterna afsonderlik praat met almal wat nog nie verkondigers is nie.”
Ongeveer tien Bybelstudente het na hom toe gekom en verduidelik dat hulle aan die vereistes wil voldoen om in velddiens uit te gaan. Nadat Tom die basiese vereistes vir ongedoopte verkondigers bespreek het, het drie van die jong vroue erken dat hulle nog nie uit hulle kerk bedank het nie. Tom het verduidelik dat hulle hulle kerklidmaatskap sal moet beëindig as hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer wil word. En dit is wat hulle gedoen het! Hulle het onmiddellik na hulle voormalige kerk gegaan, hulle naam van die register laat verwyder en toe by die ander in die predikingswerk aangesluit.
Een van die mans wat by die velddiensvergadering was, het nog gerook. Dit sou hom ’n ruk neem om van hierdie onrein gewoonte ontslae te raak; hy het dus huis toe gegaan met die vooruitsig om later ’n verkondiger te word.
Noudat die broers sonder regeringsbeperkings aan die predikingswerk kon deelneem, was hulle gretig om elke geleentheid te benut om soveel mense moontlik van die goeie nuus te vertel. Party was so gretig dat hulle gehelp moes word om ’n goeie geestelike balans te handhaaf. Toe Tom Edur byvoorbeeld die doopvrae met ’n jong kandidaat hersien het, het hy hom gevra of die ouer manne hom al ooit enige raad gegee het.
“Ja”, het die jong man gesê, “die ouer manne het my aangeraai om ’n bietjie meer gebalanseerd te wees in my gebruik van tyd.”
“O, wat was die probleem?” het Tom gevra.
“Wel, omdat ek 150 uur per maand aan velddiens bestee het”, het die jong man verduidelik, “het ek ander skriftuurlike verantwoordelikhede verwaarloos. Die ouer manne het gesê dat ek, as ek net 100 uur in die bediening deurbring, tyd sal kan maak vir persoonlike studie en voorbereiding vir die vergaderinge.”
’N VREUGDEVOLLE STREEKBYEENKOMS IN RUSLAND
Nog ’n belangrike mylpaal in die teokratiese geskiedenis was die internasionale byeenkoms wat in Junie 1992 in St. Petersburg, Rusland, gehou is. Vir baie van die 1 000 Estiese byeenkomsgangers was dit ’n vreugde om weer herenig te wees met voormalige medegevangenes en ander Getuies wat hulle gedurende hulle ballingskap in Siberië ontmoet het.
“Die byeenkoms is vir ons op ’n uitstekende tyd gehou”, sê een van die byeenkomsgangers. “Ons het ’n spesiale trein vir ’n redelike goeie prys in Russiese roebels gehuur. Toe, net ’n week voor die byeenkoms, het Estland sy geldeenheid van roebels na Estiese krone verander. As ons die week van die oorskakeling weg was, sou ons nie in Estland gewees het om ons geld om te ruil nie. Hoewel ons daar was om ons geld om te ruil, kon ons egter net ’n beperkte bedrag wissel. Wat moes ons doen met die ekstra roebels wat ons nie kon wissel nie? Omdat roebels nog in Rusland gebruik is, het broers die roebels na die byeenkoms saamgeneem en dit in die bydraebussies gesit. Wat meer is, as die byeenkoms ’n week later was, toe nuwe grensregulasies ingestel is, sou ons duur visums nodig gehad het om die grens oor te steek. Die byeenkoms was op presies die regte tyd vir die broers!”
Een van die baie persone wie se hart deur hierdie geskiedkundige byeenkoms geraak is, was ’n belangstellende vrou wat gereël het om saam met die Getuies van Estland af te reis. “Om die een of ander rede het ek my misgis met die vertrektyd”, vertel sy. “Toe ek by die stasie aankom, was die trein al weg. Maar ek het reeds vir die kaartjie betaal. Wat kon ek doen? Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra om my asseblief te help en vir hom gesê dat ek alles in my vermoë sal doen om daar te kom.
“Die stasiemeester het gesê dat ek ’n kaartjie vir ’n ander trein sal moet koop, maar ek het nie genoeg geld vir nog ’n kaartjie gehad nie! Skielik het ek ’n groep mense by die stasie sien aankom. Hulle was almal baie opgewek en netjies geklee! Dit was Getuies van die eiland Sarema. Hulle trein het nog nie gekom nie, en my kaartjie het dit vir my moontlik gemaak om saam met hulle te reis. Wat ’n verligting!
“Gedurende die reis het die Getuies Koninkryksliedere gesing, wat ’n groot impak op my gehad het. Ek het gevoel asof hulle my as ’n lid van hulle geestelike gesin aangeneem het. Ek het gedurende die hele byeenkoms by hulle gebly en gesien hoe opreg en liefdevol hulle is. Dit het al my twyfelgedagtes soos mis voor die son laat verdwyn. Dit was nou vir my duidelik dat ek God se aardse organisasie gevind het.” Hierdie voormalige belangstellende vrou dien nou as ’n gewone pionier saam met haar man.
GEWILLIGE WERKERS WELKOM
Die predikingswerk en die organisasie het vinnig gegroei, en daar was ’n behoefte aan meer broers met teokratiese ondervinding. Wie kon hierdie toenemende behoefte vervul? Soos Jesaja, het talle gunstig gereageer en gesê: “Hier is ek! Stuur my.”—Jes. 6:8.
Die eerste vier Gileadopgeleide sendelinge, Vesa en Leena-Maria Edvik sowel as Esa en Jaael Nissinen, het in 1992 in die land aangekom. Reino en Lesli Kesk, wat 17 jaar lank in Kanada in die reisende werk was, is ook na Estland gestuur. En in die lente van 1993 is 20 pioniers van Finland gestuur om in die Estiese en Russiese veld as spesiale pioniers te dien, en nog vier sendelinge het in die land aangekom.
Daarna is sendelinge van ’n hele paar opeenvolgende Gileadklasse na Estland gestuur, en hulle was vol vreugde en geesdrif. Party sendelinge sonder Gileadopleiding is ook hierheen gestuur. Die energieke sendelinge en gretige spesiale pioniers het voortgegaan om die stewige fondament te versterk wat oor baie dekades heen deur lojale Estiese broers en susters gelê is.
Daarbenewens het ongeveer tweehonderd buitelandse broers en susters kom dien waar hulp nodig is. Hulle geestelike volwassenheid het gehelp om die gemeentes te versterk en stabiliteit daaraan te gee. Baie nuwe gemeentes is gevorm, en in party gemeentes was hierdie broers van ander lande die enigste ouer manne totdat die plaaslike broers genoeg vordering gemaak het om meer verantwoordelikheid te aanvaar.
Lembit Välja is een van dié wat kom help het. Hy is in Estland gebore, het die Tweede Wêreldoorlog oorleef en het na Australië getrek, waar hy ’n Getuie geword het. In 1990 het hy, net voordat hy afgetree het, besluit om na Estland terug te trek om die geestelike dors van die talle belangstellendes te help les. Hy onthou dat hy op een stadium gestudeer het met 18 groepe wat oor die helfte van Estland versprei was en uit nagenoeg 80 mense bestaan het. Hy het met die bus na hierdie groepe gereis en het dikwels die nag by busstasies in sy slaapsak deurgebring. Meer as 50 van sy Bybelstudente is al gedoop, en op die ouderdom van 84 hou hy nog steeds vier Bybelstudies. Sy harde werk en opofferings het wonderlike vrugte afgewerp—daar is nou florerende gemeentes en Koninkryksale in die meeste dorpe wat hy besoek het.
Hierdie gewillige broers wat hier kom help het, het ook self daarby baat gevind. Baie het vertel wat ’n verrykende ondervinding dit vir hulle was om die plaaslike mense en hulle lewenswyse te leer ken. “Dit verbreed jou uitkyk”, verduidelik Reino Kesk, “en dit help jou om dinge meer te sien soos Jehovah dit ongetwyfeld sien wanneer hy na die hele wêreld kyk.”
DIE EERSTE KRINGBESOEKE
Gedurende hierdie tyd toe die werk so vinnig vooruitgegaan het, het die aanmoedigende besoeke van reisende opsieners die gemeentes grootliks versterk. Die kringopsieners het hulle met hart en siel aan hulle toewysings gewy en het dikwels 15 uur per dag gewerk—hulle het velddiens gedoen, vergaderinge bygewoon en gehou asook die baie vrae van die broers beantwoord.
Die eerste kring wat gevorm is, het Estland, Letland, Litaue en Kaliningrad ingesluit. In hierdie gebied was daar 46 gemeentes en 12 groepe, in vier tale! Die kringopsiener het ook ander tydrowende toewysings gehad, soos om registrasieprosedures in Letland en Litaue te behartig. Nou is daar in Estland alleen vier kringe.
“Die verkondigers het die kringopsiener se besoeke baie waardeer”, vertel Lauri Nordling, ’n plaaslike broer wat in 1995 as ’n kringopsiener gedien het. “Wanneer ons vir velddiens vergader het, was die vertrek dikwels vol mense. Eenkeer was ’n eenvertrekwoonstelletjie stampvol met sowat 70 broers en susters. As jy ’n appel in die lug opgegooi het, sou dit nie op die grond kon geval het nie.”
DIE UITDAGINGS OM ’N NUWE TAAL TE LEER
Dit is vir die meeste mense ’n uitdaging om ’n nuwe taal te leer, en Esties is ’n besonder moeilike taal om te bemeester. Markku Kettula, ’n nuwe sendeling, het byvoorbeeld met ’n man oor Jesus Christus gepraat. In plaas van te sê dat Jesus die Rahuvürst—die Vredevors—is, het hy ’n paar keer beklemtoon dat Jesus die rahuvorst—die vredewors—is. Eers toe Markku die Bybel by Jesaja 9:6 oopslaan, het die verwarde man besef dat die ware bron van vrede nie iets is wat geëet kan word nie!
’n Pioniersuster het Russies geleer nadat sy Estland toe getrek het. Terwyl sy aan die predikingswerk deelgeneem het, het sy, sonder dat sy dit besef, aan die deur van ’n plaaslike ouer man geklop, wat sy nie herken het nie. Met woordeboek in die hand het sy met haar aanbieding begin. Die broer het probeer verduidelik dat hy ’n ouer man in die gemeente is. Sy het gou die woord vir “ouer man” opgesoek en die woord “oud” gekry.
“Ag”, het die suster gesê, “jy is nie so oud nie! Buitendien kan jy in die Paradys weer jonk word.” Eers nadat hy vir haar die teokratiese publikasies in sy woonstel gewys het, het sy verstaan dat hy nie so oud is nie, maar in werklikheid ’n ouer man is.
’N ATEÏSTIESE REGTER LEER DIE WAARHEID
Gedurende die Sowjetera is Viktor Sen tot twee jaar tronkstraf gevonnis omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Nadat hy ’n jaar in die tronk was, het hy gevra om vrywillig na Siberië verban te word as ’n vry setlaar, ’n opsie wat hom groter vryheid sou gee. By sy paroolverhoor het die regters hulle verontwaardiging teen hom uitgespreek, en een regter het selfs gesê dat mense soos hy gehang of geskiet moet word.
’n Paar jaar later het ’n broer Viktor by ’n streekbyeenkoms aan ’n groep belangstellendes voorgestel en vir hom gevra: “Herken jy enigiemand?”
“Nee”, het Viktor geantwoord.
“Is jy seker?” het die broer gevra. Toe het hy na een van die mans in die groep gewys, wat klaarblyklik baie verleë was, en gevra: “Wat van hierdie man?”
Viktor het die man nog steeds nie herken nie. Hoe verbaas was Viktor tog om uit te vind dat dit Yuri is, een van die assessore by sy paroolverhoor. Hy het nou die Bybel gestudeer en was saam met Viktor by die byeenkoms. Wat het Yuri se beskouing van Jehovah se Getuies verander?
“Ek het in ’n gesin van onversetlike ateïste grootgeword”, verduidelik Yuri. “Op skool het ek dikwels toesprake gehou oor die gevaar van godsdiens. Toe, jare later, het ek bygesit tydens ’n paar van my vriende se Bybelstudies saam met Jehovah se Getuies. Ek het besef dat ek ’n goeie kennis van godsdiensleuens het, maar nie werklik enigiets van die Bybel weet nie. Ek wou dus meer omtrent die Bybel leer.”
Nadat Yuri gedoop is, het hy vir Viktor gesê: “Toe ons laas saam in die hof was, het ons op verskillende banke gesit. Maar as ons ooit weer by so ’n verhoor beland, sal ons op dieselfde bank sit! Ek sal nooit die een wees wat jou vonnis nie.” Yuri en Viktor dien nou albei as ouer manne in Tallinn.
’N ONVERGEETLIKE GEDENKMAAL
’n Broer wat kort tevore na Estland getrek het, het in gebroke Esties vir Pavel en Margarita gesê: “As julle die ewige lewe wil hê, moet julle vanaand na die Herdenking van Christus se dood kom.” Uit nuuskierigheid het die egpaar besluit om dit by te woon.
Pavel en Margarita is hartlik by die Gedenkmaal verwelkom. Maar gedurende die program was hulle ietwat verontrus toe hulle ’n man op en af in die gang sien loop terwyl hy na die mense kyk en aantekeninge maak. Hulle het nie besef dat hy maar net tel hoeveel teenwoordig is nie. Pavel en Margarita het begin wonder of dit ’n goeie idee was om te kom, maar hulle was bang om uit te loop omdat dit gelyk het asof twee groot mans by die deure wag staan. Hulle het nie besef dat die broers net saalwagters is nie en het dus besluit dat dit beter sal wees om maar te bly.
Aan die einde van die Gedenkmaaltoespraak is Pavel en Margarita se belangstelling egter gewek toe hulle hoor dat die spreker ’n gratis tuisbybelstudie aanbied vir enigiemand wat dit wil hê. Hulle vrese is gestil toe die broers hulle agterna vriendelik kom voorstel het, en die egpaar het ’n Bybelstudie aangevra. Aangesien hulle van plan was om twee weke later te verhuis, het hulle gevra of hulle elke dag ’n studie kon hê. Toe hulle in hulle nuwe huis ingetrek het, het hulle gou die broers daar naby gebel, hulle voorgestel en hulle Bybelstudie hervat.
‘OOGGETUIES VAN JULLE GOEIE WERKE’
Net soos hulle broers en susters regoor die aarde, betoon Jehovah se Getuies in Estland liefde aan mekaar (Joh. 13:35). Ander sien dit raak en word tot ware aanbidding aangetrek.—1 Pet. 2:12.
Toivo het die boek Die mensdom se soeke na God by ’n suster gekry wat sy hare by ’n haarkapperswinkel gesny het. Toe hy dit klaar gelees het, wou hy ’n vergadering by die Koninkryksaal bywoon, maar hy was huiwerig omdat hy teen die Getuies gewaarsku is. Hy het dus besluit om die Getuies by die Koninkryksaal vanuit die veiligheid van sy motor dop te hou. Hy wou sien watter soort mense voor die vergadering by die saal ingaan en hoe hulle lyk wanneer hulle ná die vergadering uit die saal kom.
Hy was beïndruk toe hy sien dat die susters mekaar hartlik omhels; dit was vir hom maklik om te sien dat hierdie mense werklik vir mekaar omgee. Hy het onmiddellik die vergaderinge begin bywoon en die Bybel begin studeer. Hy het vinnig gevorder en het weldra ywerig vir ander begin preek. Hy is nou ’n gedoopte Getuie.
“JEHOVAH HET MY GEBED VERHOOR!”
In 1997 is ’n eksemplaar van Koninkryksnuus Nr. 35 vir Maria in die klein dorpie Tootsi gegee. Sy het die traktaat gelees en aan die takkantoor geskryf om ’n Bybelstudie te vra. Kort daarna het Markku en Sirpa Kettula, sendelinge wat in Pärnu gewoon het, die Bybel met Maria begin studeer. Maria het kort voor lank met ander oor die waarheid begin praat, en haar skoondogter, Ingrid, en Ingrid se buurvrou Malle het weldra by die studie aangesluit. Toe Maria aan die bediening wou deelneem, het die ouer manne aanbeveel dat sy eers die gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon. Maar die naaste gemeente was in Pärnu, 40 kilometer daarvandaan, en sy het nie baie geld vir vervoer gehad nie. Op aansporing van die sendelinge het Maria dus tot Jehovah gebid om haar te help.
“Jehovah het my gebed verhoor!” het Maria vreugdevol gesê toe die sendelinge haar weer besoek.
“Hoe het hy jou gebed verhoor?” het Markku en Sirpa gevra.
“Ek sal mense na my huis toe laat kom”, het sy geesdriftig verduidelik, “en julle kan vergaderinge reël en ’n gemeente hier stig. Dan kan ek die vergaderinge bywoon en ook velddiens begin doen.”
Die sendelinge wou nie haar geesdrif demp nie, maar hulle het taktvol verduidelik dat dit nie so eenvoudig is om ’n nuwe gemeente te vorm nie. Hulle het haar aangespoor om die vergaderinge in Pärnu te probeer bywoon, ten minste Sondae om mee te begin.
Maria het weer oor haar vergaderingbywoning gebid. Sy het ook besluit om geld te spaar deur haar koerantintekening te kanselleer. Sy het gou genoeg geld gehad om die vergaderinge vier keer per maand by te woon en was verheug om aan die predikingswerk te begin deelneem. Maar Maria het selfs groter seëninge ontvang.
As gevolg van die toenemende belangstelling in Tootsi het die ouer manne gereël dat ’n boekstudie daar gehou word, wat Maria, Ingrid, Malle en ander belangstellendes kon bywoon. Maria en Malle is enkele maande later gedoop, en Ingrid is die volgende somer gedoop. Malle se man is kort daarna gedoop, en haar suster is die volgende winter gedoop. Die florerende groepie in Tootsi is dankbaar dat Koninkryksnuus Nr. 35 die waarheid na hulle klein dorpie toe gebring het en dat hulle Jehovah se seën ontvang het in antwoord op al hulle gebede.
Die afgelope twee dekades is gekenmerk deur produktiewe Koninkrykswerk en groot vreugde, aangesien talle opregtes van hart na Jehovah se organisasie gestroom het. Maar waar sou al hierdie regverdiggesinde mense vergader om die ware God te aanbid en deur hom geleer te word?
KONINRYKSALE DRINGEND NODIG!
Die eerste vergaderplek wat gebou is, was in Räpina, in die suide van Estland, en die broers het dit jare lank goed benut. Dit was egter duidelik dat plaaslike boupogings nie sou kon byhou met die vinnige toename in die aantal verkondigers nie. Die Ingenieurskantoor in die Finse takkantoor het gehelp deur Koninkryksale en kantoorfasiliteite vir die Baltiese lande te begin ontwerp. Dit was ’n groot vreugde om te sien hoe die eerste Koninkryksaal in 1993 in Maardu gebou word, en baie ander het gou gevolg.
Daar is tans in Estland 33 Koninkryksale vir die 53 gemeentes. Die broers is bly dat hulle ook twee Byeenkomssale het, een in Tallinn en die ander in Tartu, wat albei in 1998 voltooi is.
Alexandra Olesyuk, wat al lank ’n Getuie is, vertel: “Ons het daarvan gedroom om ’n Koninkryksaal in Tartu te bou. Toe ons dus gevra is om die perseel waarop die Koninkryksaal gebou sou word, te gaan skoonmaak, was ek eerste daar, hoewel ek 79 jaar oud was! Ek het skoongemaak en dinge gedra. Elke keer dat ek op die bus verby die Koninkryksaalperseel gery het, het ek van vreugde gehuil. En ek het ook gehuil toe die saal klaar was.”
’N NUWE VERTAALKANTOOR
Die aantal verkondigers het bly toeneem, en daarom was groter fasiliteite nodig om in die behoeftes van die land en veral in dié van die vertaalspan te voorsien. ’n Onvoltooide woonstelgebou wat geskik gelyk het, is in Tallinn by Herzenistraat 77 (nou Puhangustraat) gevind. Dit moes egter heeltemal omgebou word.
Die Finse takkantoor het bouplanne, materiaal, geld en ’n werkspan voorsien om die werk te doen. Sonder hulle hulp sou dit byna onmoontlik gewees het. Plaaslike boumateriaal was byvoorbeeld destyds van swak gehalte of eenvoudig nie beskikbaar nie. Daarbenewens het net ’n paar Estiese broers aanvanklik die nodige bouvaardighede gehad. Maar die plaaslike broers is stelselmatig opgelei en gehelp om meer ondervinding op te doen. Teen Februarie 1994 was die eerste deel van die kantoorkompleks klaar. Daardie selfde jaar is ’n Landskomitee (Toomas Edur, Reino Kesk en Lembit Reile) aangestel om die drie Baltiese lande te dien wat onder die toesig van die Finse takkantoor was. Omdat meer ruimte nodig was, is die kompleks in 1997 en 1999 vergroot.
Die waterraad, wat destyds die gebou langsaan beset het, het van die Betheltuin se uitleg gehou. Die broers het hulle dus gehelp om hulle tuin, heining en ligstelsel te ontwerp in ruil vir ’n laer watertarief. Gevolglik het hulle gebou op die ou end baie soos Bethel gelyk. Later het hulle hulle gebou teen ’n baie redelike prys aan die broers verkoop. Die ekstra ruimte word goed benut as ’n opnameateljee om streekbyeenkomsdramas en DVD’s, insluitende gebaretaal-DVD’s, te vervaardig. Die Bedieningsopleidingskool word ook gehou in ’n omgeboude deel van die gebou.
INTERNASIONALE BYEENKOMSTE IN TALLINN
Die Estiese broers en susters was baie verheug toe hulle ingelig is dat hulle in 1996 die gasheer vir “Boodskappers van Goddelike vrede”- internasionale byeenkomste sou wees. Twee byeenkomste in Tallinn is vir Esties- en Russiessprekende byeenkomsgangers sowel as vir broers van Letland en Litaue gehou. Afgevaardigdes is ook van 15 ander lande genooi. Die twee driedaagse byeenkomste is in Augustus gehou. Vyf lede van die Bestuursliggaam—broers Barber, Henschel, Jaracz, Schroeder en Sydlik—was teenwoordig om die broers met hulle bemoedigende toesprake te versterk. Die byeenkomste het ’n opkomshoogtepunt van 11 311 gehad, en 501 pastoegewydes is gedoop.
Die byeenkomste het ’n wonderlike getuienis gelewer en baie publisiteit geniet. Berigte het ’n tien minuut lange onderhoud op ’n TV-geselsprogram ingesluit. Die eienaar van die radiostasie het ’n program uitgesaai waarin die Getuies as baie “goeie mense” geprys is.
Die hartlike broederliefde van die byeenkomsgangers was duidelik aan die einde van elke byeenkoms te sien toe dit tyd was om totsiens te sê. Die see van waaiende arms en sakdoeke en die trane van vreugde het bewys gelewer van die diep emosies van Jehovah se ware aanbidders. Deur hulle lang applous ná die slotgebed het die hele gehoor hulle diepe waardering teenoor ons uiters vrygewige en liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, betoon. Hierdie streekbyeenkomste is nog steeds ’n mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Estland.
WEER ’N TAKKANTOOR
Tussen 1926 en 1940 was daar ’n kantoor in Tallinn. Toe, vanaf 1994, het ’n Landskantoor in Estland gefunksioneer, onder die toesig van die Finse takkantoor. Baie is bereik, en talle het gewonder of Estland weer sy eie takkantoor sou hê. Die antwoord het op 1 Maart 1999 gekom toe die Bestuursliggaam Toomas Edur, Reino Kesk (wat nou in die Demokratiese Republiek van die Kongo dien), Lembit Reile en Tommi Kauko aangestel het om op die Estiese Takkomitee te dien. Ongeveer 50 persone dien tans by die takkantoor, en hulle sien om na die behoeftes van 4 300 hardwerkende en lojale knegte van Jehovah in Estland.
JEHOVAH SE VOLK GAAN DIE TOEKOMS MET VERTROUE TEGEMOET
Wat hou die toekoms in vir Jehovah se volk in Estland? Jehovah het nog nooit versuim om sy lojale knegte t e lei en te versterk nie. Die broers en susters wat hulle onkreukbaarheid gedurende Nazi- en Sowjetvervolging in Estland gehandhaaf het, het inderdaad Jehovah se krag op unieke en onvergeetlike maniere ondervind. Soos hulle broers en susters regoor die wêreld, verheug hulle hulle dat Jehovah se groot naam tot in die verste uithoeke van die republieke van die voormalige Sowjetunie bekend gemaak en geheilig word.—Mal. 1:11.
Daar is nietemin nog talle nederige en opregte mense in Estland wat omtrent die ware God wil leer. Die huidige klimaat van godsdiensvryheid stel Jehovah se Getuies in staat om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk meer as ooit tevore te verkondig.
[Voetnote]
a Sy lewensverhaal het in The Watchtower van 15 Junie 1963, bladsye 373-376, verskyn.
b Die vonnisse en die toestande in tronke en kampe word beskryf in die 2002 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 157.
c Die Ontwaak! van 22 Februarie 1986 vertel hoe en waarom broer Edur sy hokkieloopbaan prysgegee het.
[Lokteks op bladsy 172]
“Ek het nooit enigiets werklik belangriks kortgekom nie”
[Lokteks op bladsy 204]
“Dit was goed wanneer ek in alleenopsluiting geplaas is”
[Venster op bladsy 168]
’n Oorsig van Estland
Land
Estland is ’n ongerepte, yl bevolkte land, wat gekenmerk word deur hoë, digte woude, meer as 1 400 mere, omtrent 7 000 strome en riviere en onbewoonbare moerasse. ’n Tiende van Estland bestaan uit meer as 1 500 eilande. Die grootste deel van die land is plat en lê minder as 50 meter bo seespieël. Die suidooste het ’n pragtige, golwende landskap.
Bevolking
Dit bestaan uit die volgende etniese groepe—Estlanders, 68 persent; Russe, 26 persent; en die res is hoofsaaklik Oekraïners, Belarusse en Finne. Godsdienste sluit die Lutherse en Ortodokse gelowe en ander verklaarde Christene in, sowel as Moslems en Jode. ’n Groot deel van die bevolking behoort aan ongenoemde godsdienste of aan geen godsdiens nie.
Taal
Die amptelike taal, Esties, behoort tot dieselfde taalgroep as Fins en Hongaars. Meer as ’n kwart van die bevolking is Russiessprekend.
Voedsel
Leib (swartbrood) en aartappels is gewild, asook gepekelde pampoen, beetslaai en suurkool. Ander spesiale geregte is onder meer sült (kalfsaspiek), rosolje (haring en beet), wildesampioensop, varkvleis, vis en rookvleis. Nageregte sluit in kringel—’n soet geknoopte brood wat met rosyntjies en neute besprinkel is—en pannekoek.
Klimaat
Die somers is koel, en die winters is matig. Die langste dag in die somer het meer as 19 uur daglig, en die kortste dag in die winter het net 6. Hoewel die weer aan die suidweskus in die somer soms heerlik warm is, kan die temperatuur in die winter tot minus 20 grade Celsius daal.
[Venster/Prente op bladsye 183, 184]
“Ons was soos een gesin”
ADOLF KOSE
GEBORE 1920
GEDOOP 1944
OORLEDE 2004
PROFIEL Was van 1951 tot 1956 in ’n gevangeniskamp in Siberië. Het gehelp om die predikingswerk in die Baltiese lande en die noordwestelike deel van die Sowjetunie te organiseer.
◼ “EK IS in 1950 in hegtenis geneem”, vertel Adolf, “en is na ’n strafkamp in Inta, Siberië, gestuur. Gedurende die eerste jaar en ’n half het ek nie geweet wat van my vrou en twee dogtertjies geword het, wat na ’n ander deel van Siberië verban is nie.
“Daar was ’n besondere soort eenheid onder die broers. Ons was soos een gesin. Ons het geestelike sowel as fisiese voedsel gedeel.
“Nadat ons na Estland teruggekeer het, was daar baie uitdagings. Hoe kom ons in aanraking met ons ‘Moeder’-organisasie? Hoe handhaaf ons eenheid onder die broers? Hoe gaan ons voort met die predikingswerk?
“Ek wou Fins leer sodat ek beter met die koeriers kon kommunikeer. Dit was makliker gesê as gedaan, want daar was geen grammatikaboeke of woordeboeke te koop nie.
“Wat drukwerk betref, was dit ’n misdaad om ’n ongeregistreerde tikmasjien te besit, wat nog te sê drukmasjiene. Enigiemand wat verbode lektuur gedruk het, kon vir sewe jaar opgesluit word. Dit was ook moeilik omdat daar ’n tekort was aan alles wat vir drukwerk nodig was. Ná baie probeerslae met die beskikbare materiaal het ek uiteindelik daarin geslaag om ’n druktegniek te ontwikkel. Ek het eerstens ’n drukmasjien gebou (onder). Daarna het ek die teks getik op doek wat ons met was bedek het. Dit het gaatjies in die was gemaak. Ons het die eerste publikasies gedruk met ink wat van ’n mengsel van roet en teer gemaak is. Gedurende die drukproses het die tuisgemaakte ink deur die gaatjies in die wasdoek gesypel en ’n afdruk op die papier daaronder gelaat. Die werk was ingewikkeld, tydrowend en nadelig vir ’n mens se gesondheid omdat die dampe van die ink en ander chemikalieë gevaarlik was. Behoorlike ventilasie van die vertrekke was onmoontlik, aangesien die vensters dig bedek is om die werk geheim te hou.”
Gedurende hierdie moeilike tye het Adolf die organisasie se riglyne onbevrees gevolg, want hy was altyd oortuig dat Jehovah antwoorde op die regte tyd sal voorsien. Hy het Jehovah tot sy dood in 2004 met dieselfde standvastigheid en onwankelbare geloof gedien.
[Venster/Prent op bladsy 186]
’n Brief aan Stalin
In Junie 1949 het die verantwoordelike broers in Estland moedig briewe aan amptenare in Moskou gestuur. Die een is aan Josef Stalin gestuur, en die ander aan Nikolai Sjwernik, die Voorsitter van die Presidium van die Opperste Sowjet.
In die briewe het die broers geëis dat die Getuies van Jehovah wat in hegtenis geneem is, onmiddellik vrygelaat word en dat die vervolging teen die Getuies gestaak word. Die briewe het ook ’n sterk waarskuwing bevat en het ’n vergelyking getref met die eertydse Farao van Egipte wat geweier het om die Israeliete toe te laat om Jehovah vryelik te dien (Eks. 5:1-4). Die broers het moedig gesê: “Jehovah God se organisasie . . . moet toegelaat word om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk ongehinderd aan al die inwoners van die Sowjetunie te verkondig; andersins sal Jehovah die Sowjetunie en die Kommunistiese Party heeltemal vernietig.”
“Ons het besef dat dit ’n baie gewaagde boodskap is”, vertel Adolf Kose. “Ons wou dit nie waag om die briewe in Tallinn te pos nie, aangesien dit tot ons teruggespoor kon word. Ons het dus na Leningrad (St. Petersburg) gereis om dit daar te gaan pos.”
Ons weet nie of Stalin self die brief gelees het nie, maar dit het beslis aandag ontvang. Wanneer broers ondervra is, is hulle ’n afskrif van die brief gewys waarop daar geskryf is: “Hierdie organisasie moet uitgewis word!” Kort voor lank is nog broers in hegtenis geneem, en die vervolging het vererger. Die brief wat aan Sjwernik gestuur is, is in die staatsargief gevind met ’n regeringstempel daarop.
[Venster/Prent op bladsy 189]
Die KGB en ons organisasie
Aan die einde van die 1940’s het die geheime polisie ’n daadwerklike poging aangewend om uit te vind hoe die werk van Jehovah se Getuies georganiseer word. Om inligting vir die KGB in te win, het party persone voorgegee dat hulle in die waarheid belangstel. Die bygaande tabel, wat in die staatsargief in Tallinn gevind is, toon dat die KGB baie goed ingelig was. Dit bevat onder andere die name van die broers op die Dienskomitee, dié wat toesig gehou het oor die werk in die groot stede van Estland en dié wat by die drukwerk betrokke was.
[Venster/Prent op bladsy 191]
Sy is nooit deur teenstanders stilgemaak nie ELLA TOOM
GEBORE 1926
GEDOOP 1946
PROFIEL Gevonnis tot altesaam 13 jaar gevangenskap, maar vrygelaat nadat sy 5 jaar en 6 maande uitgedien het.
◼ “DIE owerheid het my drie dae in alleenopsluiting geplaas in ’n poging om my te kry om my geloof te verloën”, sê Ella, “sodat ek nie meer met enigiemand oor God se regering sou praat of self daarin sou glo nie. Die amptenare het geskreeu: ‘Ons sal seker maak dat nie eens die naam Jehovah in Estland onthou word nie! Jy gaan na ’n kamp, en die ander gaan na Siberië!’ Hulle het tartend bygevoeg: ‘Waar is jou Jehovah?’ Ek het geweier om ’n verraaier te wees. Dit is beter om saam met God in die kamp te wees as om sonder God by die huis te wees. Selfs toe ek in die gevangeniskamp was, het ek nooit ingeperk gevoel nie. Ek het altyd gevoel dat Jehovah toegelaat het dat ek daarheen geneem word sodat ek in my nuwe gebied kan preek.
“In een kamp het ek elke dag saam met ’n belangstellende gaan stap. Maar eendag het ons besluit om nie te gaan nie. Later het ek uitgevind dat godsdiensfanatici beplan het om my op daardie dag in die rivier te verdrink as gevolg van my predikingswerk.” Ella is nooit deur teenstanders stilgemaak nie en sy dien Jehovah nog steeds getrou as ’n gewone pionier.d
[Voetnoot]
d Ella Toom se lewensverhaal het in die Ontwaak! van April 2006, bladsye 20-24, verskyn.
[Venster/Prente op bladsye 193, 194]
“Jehovah, laat u wil geskied”
LEMBIT TOOM
GEBORE 1924
GEDOOP 1944
PROFIEL In Estland gedurende die Duitse besetting en toe in ’n Siberiese werkkamp van 1951 tot 1956.
◼ LEMBIT was een van talle jong Getuies van Jehovah wat geweier het om by die Duitse leër aan te sluit en moes wegkruip. Een nag het polisiebeamptes ’n klopjag uitgevoer op die huis waar Lembit gewoon het. Hulle het ’n klag ontvang dat ’n verdagte man op daardie plaas wegkruip. Lembit het gou sy bed weggesteek en halfnaak in die ruimte onder die vloer ingekruip. Hy kon die geluid van die polisiemanne se stewels net bo sy kop hoor.
Een van die polisiemanne het ’n pistool op die boer gerig en geskreeu: “Iemand kruip in hierdie huis weg. Hoe kan ons onder die vloer inkom?” Die boer het stilgebly.
“As die een wat wegkruip, nie uitkom nie, sal ons ’n handgranaat onder die vloer ingooi!” het die polisieman geskreeu.
Toe het Lembit die ligstraal van hulle flits gesien terwyl hulle hom probeer vind het. Al wat Lembit toe kon doen, was om te bid: “Jehovah, laat u wil geskied.”
“Die spanning was feitlik ondraaglik”, vertel Lembit, “en ek het na ’n ander plek onder die vloer gekruip, amper reg om uit te kom.”
Toe het hy kalm gaan lê, en ná ’n paar uiters spanningsvolle minute het die polisie vertrek. Lembit het nog omtrent ’n uur lank daar gewag om seker te maak dat die polisie nie terugkom nie. Toe het hy voor dagbreek die huis verlaat om ’n ander wegkruipplek te vind.
Toe die Sowjets oorgeneem het, het Lembit ander toetse deurgemaak. “Ek is gevonnis tot tien jaar in ’n kamp in Noril’sk, Siberië, ongeveer 8 000 kilometer van Estland af. Dit het harde werk in ’n oopgroefnikkelmyn beteken. Die lewenstoestande in die kamp was sleg, en die werk was baie uitputtend. In die noordelike deel van die Sowjetunie bo die Noordpoolsirkel is die winters straf. Die temperatuur kan tot minus 30 grade Celsius daal, en soms baie laer. In die winter styg die son twee maande lank nie bo die horison op nie.”
Ná vyf jaar van dwangarbeid is Lembit vrygelaat, en in 1957 het hy met Ella Kikas getrou. Deur die jare heen het Lembit ook gehelp om lektuur te vertaal en te druk. Hy is bekend as ’n empatieke, liefdevolle ouer man, wat altyd ’n teks het om sy medeknegte te versterk.e
[Voetnoot]
e Lembit Toom se lewensverhaal het in die Ontwaak! van 22 Februarie 1999, bladsye 10-16, verskyn.
[Prent]
Lembit en Ella Toom
[Venster/Prent op bladsy 199]
“Dis jou ma”
KARIN REILE
GEBORE 1950
GEDOOP 1965
PROFIEL In die tronk gebore en van haar ma weggeneem om deur haar ouma grootgemaak te word.
◼ “EK IS gebore toe my ma, Maimu, in die tronk was weens haar politieke bedrywighede”, sê Karin. “Ek was ’n swak baba, en as gevolg van die koue tronksel het ek dubbele longontsteking opgedoen. Maar ek het dit oorleef, danksy ’n ander gevangene, Laine Prööm, wat later die waarheid geleer het.
“Destyds is baie van die gevangenes se baba’s na weeshuise dwarsoor die Sowjetunie gestuur sodat hulle hulle ouers sou vergeet. Gelukkig is ek vir my ouma gegee. My ma is na ’n gevangeniskamp in Mordowië gestuur, waar sy Ella Toom, ’n moedige suster, ontmoet het. My ma het die waarheid aangeneem en is daar gedoop.
“My ouma het my die volgende vyf jaar grootgemaak. Eendag het ’n vreemde vrou onverwags by ons huis opgedaag. ‘Dis jou ma’, het Ouma gesê. Dit was ’n baie verwarrende ondervinding, en dit het my etlike jare geneem om daaroor te kom.” Gelukkig het Karin en haar ouma ook die waarheid aangeneem.
Later het Karin Engels geleer en met die vertaling van ons publikasies begin help. Sy is met Lembit Reile getroud, en hulle dien nou saam by die Estiese takkantoor.
[Venster/Prente op bladsy 201]
God se naam in die Estiese Bybel
Die Griekse Geskrifte is reeds in 1686 in ’n dialek van suidelike Estland vertaal, en in 1715 in die noordelike dialek. Die volledige Bybel, Piibli Ramat, wat in 1739 uitgegee is, was geredelik beskikbaar vir die gewone mense. Dit was merkwaardig omdat dit die goddelike naam, Jehovah, gebruik het oral waar dit in die Hebreeuse Geskrifte voorgekom het, ’n gebruik wat in die daaropvolgende eeue voortgesit is. ’n Uitgawe van 1988 van die Bybel in Esties gebruik die goddelike naam 6 867 keer in die Hebreeuse Geskrifte. Gevolglik weet baie Estlanders dat God se naam Jehovah is.
’n Mylpaal is op 3 Julie 2009 by die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Tartu, Estland, bereik toe Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam, die Estiese uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte vrygestel het.
[Venster/Prente op bladsy 202]
Handgemaakte boeke
HELMI LEEK
GEBORE 1908
GEDOOP 1945
OORLEDE 1998
PROFIEL Opgesluit en na Siberië gestuur.
◼ HELMI is in hegtenis geneem omdat sy een van Jehovah se Getuies was en is na Siberië gestuur, waar sy ’n sakkie vir haar notaboek gemaak het. Sy het ’n vertroostende teks daarop uitgewerk—Romeine 8:35: “Wie sal ons van die liefde van die Christus skei? Sal verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?”
Helmi het ’n paar stukke bruinpapier gevind en dit gebruik om ’n boek te maak. Dit het ’n paar bemoedigende Bybelgedagtes bevat. Baie broers het hele boeke met die hand oorgeskryf, aangesien daar nie baie gedrukte publikasies beskikbaar was nie.
Nadat Helmi van Siberië teruggekeer het, het sy vir die amptenare gesê: “Ek is dankbaar dat julle my na die pragtige berge van Siberië gestuur het—ek sou dit nooit kon bekostig het om so ver te reis nie!”
[Venster/Prente op bladsye 209, 210]
’n Selfopofferende gees
FANNY HIETALA
GEBORE 1900
GEDOOP 1925
OORLEDE 1995
PROFIEL Het in 1930 na Estland verhuis, gepionier en ’n Getuieweeskind aangeneem.
◼ FANNY is in 1925 in Finland gedoop en het twee jaar later die voltydse diens betree. By ’n streekbyeenkoms in Helsinki het sy William Dey, die opsiener van die Noord-Europese Kantoor, ontmoet. Hoewel hulle nie dieselfde taal gepraat het nie, het broer Dey die woord “Estland” oor en oor gesê. Fanny het afgelei dat hy haar aanspoor om na ’n plek te gaan waar hulp nodig is, en daarom het sy, sowel as ’n paar ander pioniers, in 1930 na Estland verhuis. Gedurende die daaropvolgende jare het sy goed van haar fiets gebruik gemaak om die goeie nuus in etlike distrikte dwarsoor Estland, sowel as op die eiland Sarema, te verkondig.
Fanny het nooit getrou nie, maar sy het ’n weesmeisie, Ester, aangeneem, wie se ma en Getuiepa albei dood was teen die tyd dat sy agt jaar oud was. Danksy Fanny se liefdevolle sorg het Ester die waarheid heelhartig aangeneem toe sy grootgeword het.
Toe die Kommunisteregime oorgeneem en die vervolging begin het, kon Fanny na Finland teruggetrek het. Sy het egter ’n selfopofferende gees geopenbaar deur by ’n groepie plaaslike verkondigers te bly. As gevolg van haar besluit om te bly, het sy baie probleme en swak lewenstoestande verduur, maar danksy haar Finse burgerskap is sy nie na Siberië verban nie.
Fanny het as ’n koerier gedien en het gedurende die 1950’s mikrofilms en korrespondensie van Finland na Estland geneem. Sy was bekend vir haar moed en omsigtigheid, en hoewel daar ’n paar uiters spanningsvolle situasies was, is sy nooit gevang nie. Eenkeer het sy byvoorbeeld na Leningrad (St. Petersburg) gereis om ’n pakkie met mikrofilms by ’n Finse koerierbroer in ’n sekere park te kry. Daarna moes sy die pakkie so gou moontlik aan twee Estiese broers oorhandig. Die Estiese broers het egter agtergekom dat hulle deur die geheime polisie gevolg word en het probeer wegkom sonder dat Fanny hulle sien. Maar Fanny en die Finse broer het reguit op die Estiese broers afgeloop! As sy hulle gegroet het of die pakkie vir hulle probeer gee het, sou die geheime polisie ontdek het dat hulle saamwerk. Verbasend genoeg het Fanny reg by hulle verbygeloop asof sy hulle nie ken nie. Sy het hulle in werklikheid net nie gesien nie, hoewel sy hulle albei baie goed geken het! Gevolglik het die geheime polisie nooit uitgevind wie die koeriers was nie, en die pakkie is later veilig oorhandig. Danksy Fanny se hulp as ’n koerier was daar ’n bestendige vloei van geestelike voedsel, en gelukkig is nie een van die mikrofilmbesendings ooit ontdek nie.
Hierdie liefdevolle suster het Jehovah 70 jaar lank getrou gedien tot haar dood op die ouderdom van 95, terwyl sy nog steeds in Estland gewoon het.
[Prent]
Op ’n koeriersending in Leningrad, 1966
[Venster/Prent op bladsy 213]
Voorwerpe van laster
“Gelukkig is julle”, het Jesus vir sy dissipels gesê, “wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my” (Matt. 5:11). In ooreenstemming met hulle Heer se woorde is Jehovah se Getuies dikwels die voorwerpe van kwaadwillige laster. Die Getuies is valslik daarvan beskuldig dat hulle ’n politieke organisasie is wat skuldig is aan ondermyning en spioenasie. Veral in die laat 1950’s en die vroeë 1960’s het koerante beweer dat ons werk deur die Amerikaanse regering gerig word en dat ons deur ryk Amerikaanse kapitaliste gebruik word.
Nadat Silver Silliksaar in 1964 geweier het om militêre diens te doen, is hy daarvan beskuldig dat hy ’n verraaier van die vaderland is en tot tronkstraf gevonnis. ’n Kort rolprent van sy verhoor, vol arrogante Kommunistiese propaganda, is in elke bioskoop regoor Estland vertoon. Die meeste broers wat geweier het om militêre diens te doen, is vir twee tot drie jaar tronk toe gestuur. Jüri Schönberg, Taavi Kuusk en Artur Mikit is almal twee keer tronk toe gestuur—broer Mikit altesaam vir vyf en ’n half jaar.
[Prent]
Silver Silliksaar staan tereg weens sy geloof
[Venster op bladsy 226]
’n Ondergrondse Teokratiese Bedieningskool
Tydens die verbod kon die broers nooit seker wees hoe lank hulle lektuur of selfs die Bybel sou hê nie. Behalwe om verskillende wegsteekplekke vir lektuur te hê, het hulle ook probeer om soveel Bybelverse moontlik te memoriseer.
Die meeste gesellighede is gebruik om Bybelverse te bespreek en te memoriseer. Vir hierdie geleenthede het sommige kaartjies gemaak wat as geheuehulpe gedien het. Op die een kant van die kaartjie is ’n Bybelhoofstuk en -vers, soos Matteus 24:14, of ’n vraag of ’n Bybelnaam geskryf. Op die ander kant het hulle die Bybelteks of die antwoord op die vraag geskryf.
Die broers het enige geestelike publikasie wat hulle gehad het, gebruik om vergaderinge te hou. Die Teokratiese Bedieningskool het byvoorbeeld uit weeklikse klasse, huiswerkopdragte, mondelinge toetse en selfs eksamens bestaan. Elke drie maande is ’n hersiening gehou, en daar was ’n eindeksamen in die lente.
“Een van die weeklikse huiswerkopdragte”, vertel een van die studente, “was om vyf Bybeltekste te memoriseer, wat ons by die volgende klas moes opsê. Ek onthou die eindeksamen in 1988. Daar was een eksamenkaartjie wat eenvoudig gesê het: ‘Sê 100 tekste uit die kop op.’ Vreemd genoeg het almal gehoop dat hulle daardie kaartjie sou trek. Hierdie opdragte het ons baie in ons predikingswerk gehelp, aangesien ons selde die Bybel openlik kon gebruik.” In 1990 was die Estiese gemeentes verheug toe hulle uiteindelik die Teokratiese Bedieningskool soos die res van die wêreldwye broederskap kon hou.
[Venster/Prente op bladsye 236, 237]
“Die veldbediening was wonderlik”
Hier is ’n paar kommentare van sendelinge oor hulle toewysing in Estland:
Markku en Sirpa Kettula: “Die gebied waarheen ons gestuur is, was feitlik onaangeraak. Die velddiens was wonderlik omdat mense baie in die Bybel belanggestel het. Toe ons in Pärnu aangekom het, was daar sowat 30 verkondigers. Nou is daar drie gemeentes.”
Vesa en Leena-Maria Edvik: “Daar was feitlik niks om in die winkels te koop nie. Omdat mense nie juis inkopies gedoen het nie, het hulle dus tyd gehad om oor die Bybel te praat. Wanneer ons straatwerk gedoen het, het mense dikwels tougestaan om die lektuur te kry!”
Esa en Jaael Nissinen: “Jy kan baie by ander mense leer. Dit was ’n voorreg om baie van dié wat onder die hewigste toetse getrou gebly het, te leer ken.”
Anne en Ilkka Leinonen: “Ons het dag ná dag, week ná week, in gebied ná gebied mense ontmoet wat nog nooit die Bybel se boodskap gehoor het nie. Ons het van soggens vroeg tot saans laat gewerk en dit werklik geniet om die vinnige groei te sien. Dit was moeilik om te glo dat ons aan die einde van die 20ste eeu die voorreg sou hê om sulke groei te sien. Ons sal nooit daardie vroeë jare vergeet nie.”
Richard en Rachel Irgens: “Die mense was baie gasvry, en die veldbediening was wonderlik. Ons het in die dorpies langs die Peipusmeer gaan preek. Dit was nooit vir ons nodig om enigiets saam te neem om te eet nie, want die huisbewoners het ons ingenooi en vir ons kos gegee. Ons het gesien dat Jesus se instruksies in Matteus 10:9, 10 selfs in ons dag toegepas kan word. Ons diens in Estland het ons geleer om op die belangriker dinge te fokus en om nie deur minder belangrike dinge afgelei te word nie.”
[Prente]
Markku en Sirpa Kettula
Vesa en Leena-Maria Edvik
Anne en Ilkka Leinonen
Esa en Jaael Nissinen
Richard en Rachel Irgens
Tabel/Prente op bladsye 244, 245]
TYDLYN—Estland
1920
1923 Martin Kose keer terug na Estland om te preek.
1926 ’n Takkantoor word in Tallinn geopen.
Buitelandse kolporteurs kom help met die predikingswerk.
1928 Die eerste streekbyeenkoms word by die takkantoor gehou.
1930
1933 Die Wagtoring- Bybel-en Traktaatgenootskap word geregistreer.
1940 Die Estiese broers geniet die laaste byeenkoms wat vir die volgende vyf dekades in vryheid gehou sou word.
1948 Party Getuies word na tronke of gevangeniskampe in die Sowjetunie gestuur.
1949 Getuies skryf protesbriewe aan Stalin.
1950
1951 Byna 300 Getuies en baie van hulle familielede word na Siberië verban.
1953 Stalin sterf; die vrylating van die Getuies begin.
1960
1970
1972 Die eerste Russiessprekende gemeente word gevorm.
1980
1990
1991 ’n Vertaalkantoor word in Tallinn geopen.
Godsdiensvryheid word aan Jehovah se Getuies verleen.
Die heel eerste streekbyeenkoms wat in die Sowjetunie gehou is, word in Tallinn gehou.
1992 Die eerste Gileadsendelinge kom in die land aan.
1993 Estland se eerste Koninkryksaal word gebou.
1994 ’n Vertaalkantoor word in Tartu geopen.
1998 Byeenkomssale word in Tallinn en Tartu gebou.
1999 Estland kry weer ’n takkantoor.
2000
2000 Die eerste klas van die Bedieningsopleidingskool word gehou.
2009 Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Esties vrygestel.
2010
[Grafiek/Prent op bladsy 246]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal verkondigers
Aantal Pioniers
4,000
2,000
1990 2000 2010
[Kaarte op bladsy 169]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FINLAND
HELSINKI
Finse Golf
RUSLAND
St. Petersburg
LETLAND
RIGA
ESTLAND
TALLINN
Narwa
Maardu
Tapa
Vormsi
Pärnu
Võrtsjärvmeer
Tartu
Räpina
Võru
Hiiumaa
Sarema
Golf van Riga
Peipusmeer
Pskofmeer
[Volbladillustrasie op bladsy 162]
[Prent op bladsy 165]
Hugo en Martin Kose
[Prent op bladsy 166]
Albert West
[Prent op bladsy 167]
Alexander en Hilda Brydson, in die 1930’s
[Prent op bladsy 167]
Die eerste takkantoor was in hierdie woonstelgebou
[Prent op bladsy 170]
Die eerste pioniers uit Finland, Jenny Felt en Irja Mäkelä
[Prent op bladsy 174]
In 1932 is die takkantoor na Suur Tartu-straat 72, Tallinn, verskuif
[Prent op bladsy 175]
Kaarlo Harteva gee ’n radiolesing
[Prente op bladsy 177]
John North en sy “strydwa”
[Prent op bladsy 178]
Nikolai Tuiman
[Prent op bladsy 179]
Die polisie het groot hoeveelhede lektuur gekonfiskeer
[Prent op bladsy 181]
1940: Die laaste byeenkoms wat voor die Sowjetbewind in vryheid gehou is
[Prente op bladsy 188]
Broers Kruus, Talberg, Indus en Toom het die Dienskomitee uitgemaak
[Prent op bladsy 200]
Maimu en Lembit Trell, 1957
[Prent op bladsy 212]
Ene en haar suster, Corinna
[Prent op bladsy 218]
Heimar en Elvi Tuiman se troue —’n byeenkoms wat twee dae geduur het
[Prent op bladsy 227]
Toomas en Elizabeth Edur
[Prente op bladsye 228, 229]
Onvergeetlike streekbyeenkomste
Verwelkoming van byeenkomsgangers by die “Suiwer taal”-streekbyeenkoms, Helsinki, Finland, 1990
Die “Liefhebbers van vryheid”-streekbyeenkoms, Tallinn, Estland, 1991
[Prent op bladsy 238]
Die internasionale byeenkoms in St. Petersburg, Rusland, 1992
[Prent op bladsy 241]
Lauri en Jelena Nordling
[Prent op bladsy 243]
Reino en Lesli Kesk
[Prent op bladsy 247]
Yuri en Viktor
[Prente op bladsy 251]
Die Koninkryksaal in Maardu, en die Byeenkomssaal in Tartu
[Prente op bladsy 254]
Estiese Takkantoor
Takkomitee, van links na regs: Tommi Kauko, Toomas Edur en Lembit Reile