’n Halfeeu onder totalitêre tirannie
Soos vertel deur Lembit Toom
In 1951 is ek tot tien jaar slawearbeid in Siberië gevonnis. Ons is duisende kilometers na ’n kamp ver bo die Noordpoolsirkel vervoer. Die werk was uitputtend, die weer uiters straf en die lewensomstandighede haglik. Laat ek verduidelik hoe ek daar gekom het en waarom ons lyding nie tevergeefs was nie.
IN Estland, die Baltiese land waar ek op 10 Maart 1924 gebore is, is my pa as ’n geleerde man beskou. Maar in sy later jare het hy die familieplaas in Jarwamaa in Sentraal-Estland bestuur. Ons was ’n groot Lutherse gesin met nege kinders, waarvan ek die jongste was. Toe ek 13 was, is my pa oorlede.
Die jaar daarna het ek met laerskool klaargemaak. In September 1939, toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, is my broer Erich vir militêre diens opgeroep, en ek kon nie verder skoolgaan nie. Toe, in 1940, is Estland deur die Sowjetunie geannekseer, en ’n jaar later het die Duitsers Estland ingeneem. Erich is deur hulle gevange geneem, maar is in Augustus 1941 vrygelaat en het na Estland teruggekeer. In 1942 kon ek na die landbouskool gaan.
Terwyl ek in 1943 vir Kersfees by die huis gekuier het, het my suster Leida vir my gesê dat ons huisdokter met haar oor die Bybel gepraat het. Hy het vir haar ’n paar boekies gegee wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is. Ek het hulle gelees en onmiddellik na dr. Artur Indus gegaan, wat toe die Bybel met my begin studeer het.
Gedwing om te besluit
Intussen het die gevegte tussen Duitsland en die Sowjetunie al hoe erger geword. Teen Februarie 1944 het die Russe tot naby die grens van Estland opgeruk. Erich is opgeroep vir diens in die Duitse leër, en ek het ook my dokumente ontvang om aan te sluit. Ek het geglo dat God se wet dit verbied dat ons ons medemens doodmaak, en dr. Indus het gesê dat hy my sal help om ’n wegkruipplek te kry tot die oorlog verby was.
Op ’n dag het ’n konstabel en die leier van die plaaslike burgermag op ons plaas opgedaag. Hulle opdrag was om my te arresteer op grond van die vermoede dat ek militêre diens probeer ontduik het. Ek het toe besef dat ek van my huis af sou moes vlug as ek nie na ’n Duitse konsentrasiekamp wou gaan nie.
Ek het op die plaas van een van Jehovah se Getuies skuiling gevind. Om my geloof te versterk, het ek soveel van die Bybel en van die Wagtoringgenootskap se lektuur gelees as wat ek kon terwyl ek weggekruip het. Een nag het ek weggeglip huis toe om ’n bietjie kos te gaan haal. Die huis was vol Duitse soldate, aangesien my broer Erich vir ’n paar dae vakansie saam met ’n paar vriende teruggekom het. Ek kon daardie nag op die dorsvloer in die geheim met Erich praat. Dit was die laaste keer dat ek hom gesien het.
’n Noue ontkoming
Daardie selfde nag, nadat ek na my wegkruipplek teruggekeer het, is ’n klopjag op die plaas uitgevoer. Die plaaslike konstabel en manne van die burgermag het op ’n berig gereageer dat iemand op die plaas wegkruip. Ek het in die spasie onder die vloer ingekruip, en kort daarna het ek gehoor hoe hulle met hulle swaar stewels bokant my rondloop. Die offisier het die boer met ’n geweer gedreig en geskreeu: “’n Man kruip in hierdie huis weg! Hoe kan ons onder die vloer inkom?” Ek kon die soekende ligstraal van hulle flits sien. Ek het nog ’n bietjie dieper teruggeskuif en daar gelê en wag. Nadat hulle daar weg is, het ek ’n rukkie onder die vloer gebly om seker te maak dat die gevaar verby is.
Voor dagbreek het ek die huis verlaat, dankbaar teenoor Jehovah dat hulle my nie gekry het nie. Christenbroers het my gehelp om ’n ander wegkruipplek te kry, waar ek tot die einde van die Duitse besetting gebly het. Later het ek gehoor dat die konstabel en die plaaslike burgermagleier blykbaar deur Russiese guerrillastryders doodgemaak is. Op 19 Junie 1944 het ek my toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer, en my suster Leida het ook een van Jehovah se Getuies geword.
Die Sowjetunie het Estland weer in Junie 1944 beset, en ’n paar maande later kon ek huis toe gaan om met die werk op die plaas te help. Maar in November, kort ná my terugkoms, is ek beveel om my by die Russiese leër aan te meld. Ek het moedig vir die werwingskomitee getuig. Hulle het vir my gesê dat die Sowjetstelsel nie in my oortuigings belangstel nie en dat almal in die leër moet dien. Ek het dit egter reggekry om die res van die oorlog my vryheid te behou, en ek het my daarop toegelê om Bybellektuur aan my mede-Getuies te help voorsien.
Naoorlogse bedrywighede
Toe die oorlog in Mei 1945 ten einde geloop het en amnestie aan die gewetensbeswaardes toegestaan is, het ek teruggegaan skool toe. Vroeg in 1946 het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar in Estland vir my geen toekoms in boerdery was nie, aangesien die privaatsektor oorgeneem is deur die Sowjetstelsel van kollektivisering. Daarom het ek skool verlaat en meer in die Koninkrykspredikingswerk begin doen.
Onder die Sowjetregering kon ons nie meer openlik aan die bediening deelneem nie. Trouens, ons het al gedurende die Tweede Wêreldoorlog kontak met die Wagtoringgenootskap verloor. Daarom het ek gehelp om die lektuur wat ons behou het met ’n ou mimeograafmasjien te dupliseer. Ons het ook ons bes gedoen om gemeentelike vergaderinge te hou.
Die KGB (die Russiese staatsveiligheidskomitee) het Jehovah se Getuies in Augustus 1948 begin vervolg. Vyf van dié wat die leiding in die werk geneem het, is gearresteer en in die tronk gesit, en kort daarna was dit duidelik dat die KGB almal wou arresteer. Vier van ons het ’n komitee gevorm om die predikingswerk te organiseer, ons Christenbroers te bemoedig en dié wat in die tronk was by te staan. Aangesien ek nog steeds relatief vry kon rondbeweeg, is ek gebruik om met mede-Getuies in verbinding te tree.
’n Formele skriftelike protes, gedateer 22 September 1948, is aan Sowjetamptenare in Estland gestuur. Dit het ons organisasie sowel as die doel van ons werk beskryf, en dit het die vrylating van ons medegelowiges in die tronk geëis. Die reaksie? Verdere arrestasies. Op 16 Desember 1948 het ons nog ’n protesverklaring aan die Hooggeregshofraad van die Estniese SSR gestuur waarin ons geëis het dat ons broers vrygespreek en vrygelaat word. Eksemplare van hierdie en ander petisies is nog steeds op lêer in die stadsargief in Tallinn.
Dit was gevaarlik om te reis, aangesien ons nie die regte dokumente kon kry nie. Maar ons het die gemeentes in Arawete, Otepää, Tallinn, Tartoe en Woroe besoek op ’n motorfiets met ’n kragtige viersilinderenjin en ’n syspan wat ons by ’n Russiese offisier gekoop het. Ons het dit die troetelnaam “die strydwa” gegee.
Ons protes aan Stalin
Op 1 Junie 1949 het ons nog ’n petisie na die hoogste departement van die Estniese Sosialistiese Republiek gepos, sowel as aan Nikolai Sjwernik, die voorsitter van die Presidium van die Opperste Sowjet. Hierdie dokument, waarvan ons ’n afskrif uit die Tallinn-argief teruggekry het, dra die stempel van Nikolai Sjwernik wat toon dat hy dit ontvang het en dat hy ’n afskrif aan Josef Stalin, die staatshoof van die Sowjetunie, gestuur het. Die laaste deel van die petisie lui soos volg:
“Ons eis dat Jehovah se Getuies uit die tronk vrygelaat word en dat die vervolging teen hulle stopgesit word. Jehovah God se organisasie moet toegelaat word om, deur middel van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk ongehinderd aan al die inwoners van die Sowjetunie te verkondig; andersins sal Jehovah die Sowjetunie en die Kommunistiese Party heeltemal vernietig.
“Ons eis dit in die naam van Jehovah God en die Koning van sy Koninkryk, Jesus Christus, en ook in die naam van al ons gevange medegelowiges.
“Geteken: Jehovah se Getuies in Estland (1 Junie 1949).”
Vervolging verskerp
Vroeg in 1950 het ons drie nommers van Die Wagtoring by iemand gekry wat van Duitsland af teruggekeer het. Sodat al ons Christenbroers by hierdie geestelike voedsel baat kon vind, het ons besluit om op 24 Julie 1950 ’n byeenkoms te reël in ’n Bybelstudent se hooiskuur naby die dorp Otepää. Maar op die een of ander manier het die KGB van ons planne uitgevind, en hulle het hulle op ’n massa-arrestasie voorberei.
Twee vragmotors vol soldate is by die spoorwegstasie in Paloepera opgestel, waar die broers moes afklim. Daarbenewens het ’n soldaat met ’n radiosender hulle voorgelê op die Otepää/Paloepera-pad, nie ver van die byeenkomsterrein af nie. Toe sekere broers wat ons vroeg verwag het nie betyds opdaag nie, het ons vermoed dat ons planne aan die lig gekom het.
Ek het ’n mede-Getuie, Ella Kikas, saamgeneem en met ’n motorfiets na die spoorwegstasie twee haltes voor Paloepera gejaag. Die trein het toe net gestop, en ek en Ella het dus aan teenoorgestelde kante opgeklim en deur die waens gehardloop en geskreeu dat almal moet afklim. Toe die Getuies afgeklim het, het ons gereël dat ons byeenkoms die volgende dag in ’n ander skuur gehou word. Sodoende is die KGB se plan vir ’n massa-arrestasie van Getuies gefnuik.
Twee maande ná die byeenkoms is daar egter op groot skaal met arrestasies begin. Ek is op 22 September 1950 weggeneem vir ondervraging, asook die ander drie broers op die komitee wat toesig gehou het oor die predikingswerk in Estland. Ons is agt maande lank in die KGB-tronk in Pagaristraat in Tallinn aangehou. Daarna is ons na die algemene tronk in Kaldastraat oorgeplaas, wat die Battery genoem is. Ons is drie maande lank daar aangehou. In vergelyking met die KGB-tronk waar ons in ’n kelder aangehou is, was hierdie tronk wat langs die Oossee geleë is soos ’n vakansie-oord.
Die moeilike lewe in Siberië
Kort daarna is ek saam met Harri Ennika, Aleksander Härm, Albert Kose en Leonhard Kriibi tot tien jaar in ’n kamp in die verafgeleë Norilsk, Siberië, gevonnis. Daar gaan die son gedurende die somer twee maande lank nie onder nie, en in die winter kom dit twee maande lank nie bo die horison op nie.
In Augustus 1951 het ons die eerste skof van ons reis van Tallinn na Norilsk per trein aangepak. Ons het sowat 6 000 kilometer ver gereis oor Pskof, St. Petersburg (voorheen Leningrad), Perm, Jekaterinburg (voorheen Swerdlowsk), Nowosibirsk en Krasnojarsk, langs die Jenesei-rivier. Uiteindelik het ons, vroeg in Oktober, by Krasnojarsk op ’n platboomskuitjie geklim en is ons meer as 1 600 kilometer verder noord gesleep. Twee weke later het ons by die dorp Doedinka aangekom, wat ver bo die Noordpoolsirkel geleë is. In Doedinka het ons weer op ’n trein oorgeklim vir die volgende 120 kilometer lange skof van die reis na Norilsk. Van die Norilsk-stasie af het ons die laaste 15 kilometer na die werkkamp buite die dorp geloop terwyl dit kwaai gesneeu het.
Aangesien my wintersklere gesteel is toe ons op die platboomskuitjie was, het ek net ’n somerjas, ’n pet en ligte skoene gehad. Die weke lange reis van Tallinn af het ons verswak, en ons het nie ons karige daaglikse kosrantsoen gekry nie. Party gevangenes het dus flou geword. Ons het hulle gehelp totdat perde gehaal is, en toe het ons hulle op perdesleë gelaai.
Toe ons by die kamp aangekom het, is ons geregistreer, na ’n sauna geneem en ons kosrantsoen vir die dag gegee. Die barak was warm, en ek het gou in ’n diep slaap geval. Maar in die middel van die nag het ek wakker geword van die skerp pyn wat deur ontsteking in my ore veroorsaak is. Die volgende oggend het ek mediese behandeling ontvang en is ek van werk verskoon. Maar die tronkamptenare was kwaad omdat ek nie kon werk nie en het my geslaan. Ek is ’n maand lank in alleenopsluiting gegooi, aangesien hulle gesê het dat ek “die vrede in die kamp versteur”. Gelukkig het ek medisyne van die siekeboeg af gekry, en die tyd in alleenopsluiting het my die geleentheid gegee om gesond te word.
Die eerste winter in die kamp was die swaarste. Die werk, meestal in die oop nikkelmyn, was uitputtend, en die bietjie kos wat ons gekry het, was nie voedsaam nie. Toe baie gevangenes simptome van skeurbuik gehad het, het ons vitamien C-inspuitings gekry om die siekte te verlig. Ons het gelukkig baie mede-Getuies in die kamp ontmoet wat van Moldowa, Pole en die Oekraïne af gekom het.
Veranderinge in die tronklewe
In die lente van 1952 het die gevangenes ’n klein salaris begin ontvang, waarmee ons kos kon koop om ons dieet aan te vul. Party Getuies het ook kos in bokse met vals bodems begin kry waarin Bybellektuur versteek is. ’n Getuie van Moldowa het eenkeer ’n blik varkvet gekry. Namate die varkvet opgebruik is, het die maagvlies van ’n vark begin verskyn. Daar was drie nommers van Die Wagtoring in!
Toe Stalin op 5 Maart 1953 dood is, het die tronklewe opvallend verander. Stakings en opstande het aanvanklik uitgebreek, aangesien die gevangenes hulle vrylating geëis het. Soldate van die leër is gestuur om dit te onderdruk. In Norilsk het 120 gevangenes in ’n opstand omgekom; maar die Getuies het nie betrokke geraak nie, en nie een van hulle is doodgemaak of gewond nie. In die somer van 1953 het werk in die nikkelmyn twee weke lank tot stilstand gekom. Daarna het die tronklewe makliker geword. Sommige gevangenes is vrygelaat, en ander se vonnisse is verkort.
’n Getroue Getuie
Ná hierdie tydperk van onrus in die kamp is ek oorgeplaas na ’n kamp in die suide naby die stad Taisjet, in die provinsie Irkoetsk. Daar het ek weer vir Artur Indus ontmoet, wat aanvanklik die Bybel met my gestudeer het. Hy het geweier om as ’n dokter in die kamp te werk en het eerder verkies om fisiese harde werk te doen. Hy het verduidelik: “My gewete het my nie toegelaat om siekteverlof toe te staan aan gesonde gevangenes wat in verantwoordelike posisies geplaas is, terwyl gevangenes wat werklik siek was, gedwing is om te werk nie.”
Broer Indus was teen daardie tyd uitgeteer en siek, aangesien hy nie gewoond was aan harde fisiese werk nie. Maar hy het vir my gesê hy voel sy lyding het sy hart in geestelike sin gelouter. Ons was ongeveer drie weke lank saam. Toe is hy na die kamphospitaal geneem, waar hy in Januarie 1954 oorlede is. Sy naamlose graf lê iewers in die eindelose subarktiese woud. Hy het as ’n getroue Christen gesterf en wag op die opstanding.
My vrylating en die reis huis toe
In 1956 is ’n Kommissie van die Presidium van die Opperste Sowjet na ons kamp gestuur om die gevangenes se lêers te hersien. Toe ek voor die kommissie verskyn, het die generaal in bevel gevra: “Wat gaan jy doen nadat jy vrygelaat is?”
“Ons sal sien wanneer dit gebeur”, het ek geantwoord.
Ek is uit die vertrek gestuur, en toe ek gevra is om weer in te kom, het die generaal gesê: “Jy is die Sowjetunie se grootste vyand—jy is ’n ideologiese vyand.” Maar hy het bygevoeg: “Ons gaan jou vrylaat, maar ons gaan jou agtervolg.” Ek is op 26 Julie 1956 vrygelaat.
Ek het twee dae lank by Oekraïense Getuies gekuier in Soejeticha, ’n dorpie naby Taisjet, waarheen hulle in 1951 verban is. Daarna het ek vier dae lank in die gebied van Tomsk gebly, naby die plek waarheen my ma verban is. Van die stasie af het ek 20 kilometer na die dorpie Grigorjewka geloop. Daar het ek toestande gesien wat selfs erger was as dit wat baie van ons in die kampe ondervind het! My suster Leida is uit ’n strafkamp in Kazakstan vrygelaat en het ’n paar maande vroeër na die gebied gekom om by my ma te wees. Maar aangesien haar paspoort in beslag geneem is, kon sy nog nie na Estland teruggekeer het nie.
Onder druk in Estland
Ek het mettertyd weer in Estland teruggekom en het reguit na my ouers se plaas gegaan. Ek het gesien dat die gerugte wat ek in Siberië gehoor het waar was—al ons geboue is deur die regering vernietig! ’n Paar dae later het ek polio gekry. Ek was lank in die hospitaal en het nadat ek ontslaan is nog steeds behandeling ontvang. Tot vandag toe loop ek nog mank.
Ek het gou werk gekry by ’n maatskappy waar ek gedurende die somer van 1943 gewerk het, die Lehtse-turfmaatskappy. Ek het deur hulle ’n woonstel gekry, en toe my ma en Leida in Desember 1956 uit ballingskap teruggekeer het, het hulle by my in Lehtse kom bly.
In November 1957 het ek met Ella Kikas getrou, wat kort tevore uit ’n strafkamp in Siberië teruggekeer het. Twee maande later het ons na Tartoe verhuis, waar ons ’n woonstelletjie aan iemand se huis gekry het. Ek kon uiteindelik werk kry as ’n drywer by die Verbruikerskoöperasie van die Tartoe-streek.
Terwyl ek in Siberië was, het ek tien Wagtoring-studieartikels uit Russies in Estnies vertaal en het hulle saam met my huis toe gebring. Later het ons die boek Van die verlore Paradys tot die herwonne Paradys ontvang, wat ons ook in Estnies vertaal het. Ons het daarna getikte kopieë van die boek gemaak. Intussen is ons nog steeds deur die KGB dopgehou. Aangesien ons vertroud was met hulle agtervolgingsmetodes, was ons altyd op ons hoede en versigtig, net soos diere wat gejag word.
Teikens van die KGB
In die vroeë sestigerjare het die KGB ’n lasterveldtog teen die Getuies geloods. Ek en my vrou was vername teikens. Koerante het lasterlike artikels begin druk, en ons is oor die radio en die televisie sleggesê. Die KGB het twee keer openbare vergaderinge by my werk gehou. ’n Satiriese komedie oor my is ook by die Estland-teater in Tallinn deur professionele akteurs opgevoer. Die situasie het my aan Dawid se woorde laat dink: “Die wat in die poort sit, praat van my—ook die spotlied van die wat sterk drank drink.”—Psalm 69:13.
Hierdie pogings om ons oneer aan te doen, het tot in 1965 aangehou toe ’n finale vergadering by die Werkersgesondheidsgebou in Tartoe gehou is. Ek en Ella was albei daar, sowel as KGB-agente en ’n saal vol mense. Die gehoor het etlike kere hande geklap terwyl Ella ondervra is. Dit was duidelik dat die gehoor aan ons kant was. Die KGB-agente was teleurgesteld en kwaad oor die afloop daarvan.
Geestelike honger gestil
Al het die Kommuniste die verspreiding van ons lektuur probeer keer, kon ons ná omstreeks 1965 ons Christenbroers van ’n betreklik goeie voorraad voorsien. Maar die ondergrondse bedrywighede om die lektuur te vertaal en daarna in geheime skuilplekke te druk, het baie tyd en energie geverg. ’n KGB-agent het eenkeer die volgende vir my gesê oor my ondergrondse bedrywighede en metode om lektuur te vervoer: “Jy, Toom, is soos ’n tas met ’n vals bodem.”
Ons vergaderinge moes natuurlik in die geheim en in klein groepies gehou word. En ons predikingswerk is informeel gedoen. Ons broers moes daarop voorbereid wees dat hulle woonplekke te eniger tyd deursoek kon word. Die Wagtoringgenootskap se lektuur moes dus baie sorgvuldig weggesteek word. Maar selfs onder hierdie omstandighede is baie mense gevind wat Bybelwaarheid liefgehad het, en hulle het hulle standpunt aan die kant van die Koninkryk ingeneem.
Toe die Russiese premier Michail Gorbatjof in die tagtigerjare met sy hervormings begin het, het ons groter vryheid gekry om God te dien. Die Sowjetunie het eindelik in 1991 ontbind, en Jehovah se Getuies het wetlike erkenning ontvang. Ons het tans vier gemeentes in Tartoe, en ons eie Koninkryksaalkompleks is onlangs klaar gebou. Daar is nou meer as 3 800 Getuies wat in Estland aan die bediening deelneem, in vergelyking met miskien 40 of 50 toe ek meer as ’n halfeeu gelede aan die predikingswerk begin deelneem het.
’n Bevredigende Christenlewe
Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek die regte besluit geneem het toe ek my standpunt ingeneem het om Jehovah te dien nie. Ek kyk terug met ’n hart vol diep bevrediging en is bly om te sien dat Jehovah se organisasie aanhou om koersvas vooruit te gaan en dat daar nog baie meer mense is wat Jehovah wil dien.
Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat sy liefde en beskerming my en my vrou deur al hierdie jare gedra het. Deur die feit in gedagte te hou dat Jehovah se regverdige stelsel op hande is, het ons geestelike krag gekry. Wanneer ons dink aan die wonderlike vermeerdering van diegene wat Jehovah aanbid, is ons beslis daarvan oortuig dat die lyding wat ons deurgemaak het nie tevergeefs was nie.—Hebreërs 6:10; 2 Petrus 3:11, 12.
[Kaart op bladsy 12, 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
’n Kaart wat die roete van die twee maande lange reis van Tallinn af na die berugte kamp by Norilsk aandui
Tallinn
Pskof
St. Petersburg
Perm
Jekaterinburg
Nowosibirsk
Krasnojarsk
Doedinka
Norilsk
NOORDPOOLSIRKEL
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 14]
Artur Indus, ’n getroue Christenmartelaar
[Prent op bladsy 14]
Gevangenes in Siberië, 1956. Ek is vierde van links in die agterste ry
[Prent op bladsy 15]
Saam met my vrou, voor die voormalige KGB-hoofkwartier waar ons dikwels ondervra is