Huwelik
Definisie: Die vereniging van ’n man en ’n vrou om as eggenote saam te leef volgens die standaard wat in die Heilige Skrif uiteengesit word. Die huwelik is ’n goddelike instelling. Dit maak voorsiening vir intieme verhoudinge tussen man en vrou, tesame met ’n gevoel van sekuriteit, omdat daar ’n atmosfeer van liefde is en omdat elke huweliksmaat hom/haar persoonlik verbind het. Toe Jehovah die huwelik ingestel het, het hy dit nie net gedoen om ’n intieme metgesel te voorsien wat vir die man ’n komplement sou wees nie, maar ook om voorsiening te maak vir die voortbring van meer mense en sodat dit in ’n gesinsreëling kan geskied. Die wetlike registrasie van ’n huwelik wat vir die Christengemeente aanneemlik is, word vereis indien dit moontlik is.
Is dit werklik belangrik om ooreenkomstig wetlike vereistes te trou?
Tit. 3:1: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte.” (Wanneer mense hierdie instruksies uitvoer, word die naam van elke party hooggehou en word enige kinders die smaad bespaar wat die lot is van diegene wie se ouers nie getroud is nie. Daarbenewens beveilig die wetlike registrasie van die huwelik die eiendomsregte van gesinslede wanneer een van die huweliksmaats sterf.)
Hebr. 13:4: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Dit is baie belangrik om wettig te trou as ’n mens ’n huwelik wil hê wat as “eerbaar” beskou kan word. Wanneer ons “hoerery” en “egbreuk” definieer, moet ons in gedagte hou wat gesê word in Titus 3:1, wat hierbo aangehaal is.)
1 Pet. 2:12-15: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring.”
Was daar enige “wetlike formaliteite” toe Adam en Eva begin saamwoon het?
Gen. 2:22-24: “Die HERE God bou die rib wat Hy van die mens [Adam] geneem het, tot ’n vrou, en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Let daarop dat dit Jehovah God self, die Universele Soewerein, was wat Adam en Eva bymekaar gebring het. Dit was nie ’n geval waar ’n man en ’n vrou besluit om saam te leef sonder om hulle aan die wetlike owerheid te steur nie. Let ook op die klem wat God op die permanensie van die verbintenis gelê het.)
Gen. 1:28: “God het hulle [Adam en Eva] geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Hier is die seën van die hoogste Regsgesag oor die verbintenis uitgespreek, hulle is gemagtig om geslagsomgang te hê en het ’n opdrag ontvang wat hulle lewens sinvol sou maak.)
Mag ’n persoon veelwywery beoefen as die landswet dit toelaat?
1 Tim. 3:2, 12: “’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou . . . Die diakens moet manne van een vrou wees.” (Daar is nie alleen verantwoordelikheid aan hierdie manne toevertrou nie, maar hulle was ook voorbeelde wat deur ander in die Christengemeente nagevolg moes word.)
1 Kor. 7:2: “Vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.” (Nòg die man nòg die vrou word hier toegelaat om meer as een huweliksmaat te hê.)
Waarom het God toegelaat dat Abraham, Jakob en Salomo elk meer as een vrou het?
Veelwywery het nie by Jehovah ontstaan nie. Hy het Adam net een vrou gegee. Later het Lameg, ’n afstammeling van Kain, vir hom twee vroue geneem (Gen. 4:19). Mettertyd het ander sy voorbeeld gevolg, en sommige het diensmeisies as byvroue geneem. God het die gebruik geduld, en onder die Mosaïese Wet het hy selfs wette gegee om te verseker dat vroue in so ’n verhouding reg behandel word. Hy het dit gedoen totdat die Christengemeente gestig is, maar toe het hy vereis dat sy knegte weer volgens die standaard leef wat hy in Eden ingestel het.
Wat Abraham betref, hy het Sarai (Sara) as vrou geneem. Toe sy ongeveer 75 jaar oud was en gemeen het dat sy nooit ’n kind sou hê nie, het sy haar man versoek om omgang met haar diensmeisie te hê sodat Sara ’n wettige kind deur middel van haar kon hê. Abraham het dit gedoen, maar dit het tot ernstige wrywing in sy huis gelei (Gen. 16:1-4). Jehovah het sy belofte aan Abraham in verband met ’n “saad” vervul deur Sara self later wonderdadig swanger te laat word (Gen. 18:9-14). Dit was eers na Sara se dood dat Abraham ’n ander vrou geneem het.—Gen. 23:2; 25:1.
Jakob het ’n poligamis geword omdat hy deur sy skoonvader bedrieg is. Dit was nie wat Jakob in gedagte gehad het toe hy ’n vrou in Paddan-Aram gaan soek het nie. Die Bybelverhaal vertel breedvoerig van die ongelukkige wedywer tussen sy vroue.—Gen. 29:18–30:24.
Dit is alom bekend dat Salomo baie vroue sowel as byvroue gehad het. Maar nie almal is daarvan bewus dat hy sodoende Jehovah se uitdruklike gebod oortree het nie: “Ook mag hy [die koning] nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie” (Deut. 17:17). Ons moet ook daarop let dat dit onder die invloed van sy uitlandse vroue was dat Salomo begin het om valse gode te aanbid. “So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE . . . Daarom was die HERE toornig op Salomo.”—1 Kon. 11:1-9.
Mag huweliksmaats uitmekaargaan as hulle eenvoudig nie in vrede kan saamlewe nie?
1 Kor. 7:10-16: “Aan die getroudes beveel ek—nie ek nie, maar die HERE—dat die vrou nie van die man moet skei nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie. Maar vir die ander sê ek—nie die Here nie [maar Paulus is, soos vers 40 toon, deur die heilige gees gelei]—as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?” (Waarom sou die gelowige ontbering verduur en opreg probeer om die huwelik te red? Uit eerbied vir die goddelike oorsprong van die huwelik en in die hoop dat die ongelowige mettertyd gehelp kan word om ’n kneg van die ware God te word.)
Wat is die Bybelse beskouing van egskeiding met die doel om weer te trou?
Mal. 2:15, 16: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel.”
Matt. 19:8, 9: “[Jesus] antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery [buite-egtelike omgang], en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” (Die onskuldige huweliksmaat word gevolglik toegelaat om te skei van ’n maat wat hom of haar aan “hoerery” skuldig maak, hoewel dit nie van die onskuldige vereis word om te skei nie.)
Rom. 7:2, 3: “Die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. Daarom dan, as sy ’n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ’n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie ’n egbreekster is as sy ’n ander man s’n word nie.”
1 Kor. 6:9-11: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (Dit beklemtoon die erns van die saak. Onberouvolle egbrekers sal geen aandeel in God se Koninkryk hê nie. Maar persone wat tevore egbreuk gepleeg het, moontlik selfs verkeerdelik weer getroud is, kan God se vergifnis en ’n rein naam by hom kry mits hulle opreg berouvol is en glo in die soenwaarde van Jesus se offer.)
Waarom het God in die verlede toegelaat dat broer en suster met mekaar trou?
Die Bybelverhaal toon dat Kain met een van sy susters, of moontlik ’n niggie, getrou het (Gen. 4:17; 5:4) en dat Abraham met sy halfsuster getrou het (Gen. 20:12). Maar later, in die Wet wat deur Moses gegee is, is sulke huwelike uitdruklik verbied (Lev. 18:9, 11). Dit word nie vandag onder Christene toegelaat nie. In ’n huwelik met ’n naverwant is daar ’n groot moontlikheid dat die kinders met skadelike, erflike faktore gebore sal word.
Waarom was huwelike tussen broers en susters aan die begin van die mensdom se geskiedenis nie onvanpas nie? God het Adam en Eva volmaak geskep en dit was sy voorneme dat die hele mensdom van hulle moes afstam (Gen. 1:28; 3:20). Dit is duidelik dat daar huwelike tussen naverwante sou wees, veral in die eerste paar geslagte. Selfs na die koms van die sonde was daar gedurende die vroeë geslagte min gevaar van groot gebreke by die kinders, aangesien die mensdom veel nader was aan die volmaaktheid wat Adam en Eva geniet het. Dit word gestaaf deur die lang lewensduur van mense van daardie tyd. (Kyk Genesis 5:3-8; 25:7.) Maar ongeveer 2 500 jaar nadat Adam ’n sondaar geword het, het God bloedskendige huwelike verbied. Dit het die afstammelinge beskerm en die geslagsedelikheid van Jehovah se knegte verhef bo dié van mense om hulle wat hulle destyds aan allerhande verdorwe gebruike skuldig gemaak het.—Kyk Levitikus 18:2-18.
Hoe kan ’n egpaar hulle huwelik verbeter?
(1) Deur God se Woord gereeld saam te bestudeer en tot God te bid om sy hulp om probleme op te los.—2 Tim. 3:16, 17; Spr. 3:5, 6; Filip. 4:6, 7.
(2) Deur die hoofskapbeginsel te eerbiedig. Dit plaas ’n swaar verantwoordelikheid op die man (1 Kor. 11:3; Ef. 5:25-33; Kol. 3:19). Dit verg ook opregte inspanning van die vrou.—Ef. 5:22-24, 33; Kol. 3:18; 1 Pet. 3:1-6.
(3) Deur seksuele belangstelling tot ’n mens se huweliksmaat te beperk (Spr. 5:15-21; Hebr. 13:4). Liefdevolle besorgdheid oor die behoeftes van ’n mens se huweliksmaat kan hom of haar beskerm teen die versoeking om te sondig.—1 Kor. 7:2-5.
(4) Deur op ’n vriendelike, bedagsame manier met mekaar te praat en woedeuitbarstings, neulery en bitsige, kritiese aanmerkings te vermy.—Ef. 4:31, 32; Spr. 15:1; 20:3; 21:9; 31:26, 28.
(5) Deur vlytig en op betroubare wyse na die gesin se woonplek en klere om te sien en deur voedsame maaltye voor te berei.—Tit. 2:4, 5; Spr. 31:10-31.
(6) Deur Bybelraad nederig toe te pas, of jy nou meen dat die ander een alles doen wat hy moet of nie.—Rom. 14:12; 1 Pet. 3:1, 2.
(7) Deur aandag te skenk aan die ontwikkeling van persoonlike, geestelike hoedanighede.—1 Pet. 3:3-6; Kol. 3:12-14; Gal. 5:22.
(8) Deur die kinders, indien daar enige is, van die nodige liefde, opleiding en dissipline te voorsien.—Tit. 2:4; Ef. 6:4; Spr. 13:24; 29:15.