Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jr hfst. 1 bl. 4-13
  • “Ek het my woorde in jou mond gelê”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek het my woorde in jou mond gelê”
  • God se woord vir ons deur Jeremia
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD KIES ’N WOORDVOERDER
  • ’N MENS SOOS ONS
  • WAARNA KAN ONS UITSIEN?
  • “Ek kan nie stilbly nie”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Watter soort vriende sal jy kies?
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • “Jy moet vir hulle hierdie woord sê”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Vra jy elke dag: “Waar is Jehovah?”
    God se woord vir ons deur Jeremia
Sien nog
God se woord vir ons deur Jeremia
jr hfst. 1 bl. 4-13

HOOFSTUK EEN

“Ek het my woorde in jou mond gelê”

1, 2. Waarom stel jy vertroue in wat jy in die Bybel lees?

“DAAR is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spr. 18:24). Het jy al die waarheid van hierdie geïnspireerde woorde ondervind? Jy kan vertrou wat ’n ware vriend sê. As hy vir jou iets goeds sê of verduidelik wat hy gaan doen, glo jy dit. As hy jou op iets wys wat verander moet word, aanvaar jy dit waarskynlik en handel jy dienooreenkomstig. Hy het met verloop van tyd bewys dat hy jou belange op die hart dra, selfs wanneer hy jou raad gee. Hy wil hê dat jy suksesvol moet wees, en jy wil ook hê dat hy suksesvol moet wees sodat julle vriendskap kan voortduur.

2 Die mense wat God gebruik het om die boeke van die Bybel te skryf, is in baie opsigte sulke vriende. Jy kan glo wat jy by hulle hoor. Jy is seker dat wat hulle sê, vir jou beswil is. Die eertydse Israeliete moes eintlik so gevoel het oor die “mense [wat] uit God gespreek [het] namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Pet. 1:20, 21). Die een wat God gebruik het om die grootste profetiese boek te skryf, was Jeremia; hy het ook Klaagliedere en twee ander Bybelboeke geskryf.

3, 4. Hoe beskou party mense die boeke Jeremia en Klaagliedere, en waarom is dit ’n wanopvatting? Lig toe.

3 Maar jy het dalk al opgelet dat party Bybellesers geneig is om te dink dat Jeremia se geskrifte ‘nie vir hulle is nie’. Hulle meen moontlik dat die boeke Jeremia en Klaagliedere net skrikwekkende waarskuwings en sombere voorspellings bevat.a Maar is dit ’n realistiese beskouing van Jeremia en Klaagliedere?

4 Wat Jeremia geskryf het, bevat wel reguit waarskuwings en raad, maar jy weet dat ’n vriend ook soms reguit praat. Selfs Jesus het reguit gepraat wanneer sy vriende, die apostels, verkeerde gesindhede geopenbaar het; hy het hulle onomwonde tereggewys (Mark. 9:33-37). Jesus se hoofboodskap was nietemin positief en het gewys hoe ’n mens God se goedkeuring en toekomstige geluk kan verkry (Matt. 5:3-10, 43-45). Dit is ook die geval met Jeremia se geskrifte, wat deel is van “die hele Skrif” wat nuttig is om “dinge reg te stel” (2 Tim. 3:16). Jeremia het wel duidelik getoon hoe God diegene beskou het wat beweer het dat hulle Jehovah dien, maar wat verdien het om die gevolge van hulle slegte weë te dra. Nietemin bevat die boeke Jeremia en Klaagliedere ’n boodskap van hoop en toon dit hoe ons ’n geseënde toekoms kan hê. Jeremia het profesieë ingesluit oor hoe God se handelinge sou ontvou, en ons is vandag regstreeks betrokke by die vervulling. Verder sal jy in hierdie twee boeke positiewe en bemoedigende stellings vind.—Lees Jeremia 31:13, 33; 33:10, 11; Klaagliedere 3:22, 23.

5. Hoe kan ons baat vind by Jeremia se geskrifte?

5 Die geluk wat ons as lede van God se volk ervaar sowel as ons vooruitsigte vir die toekoms, hou verband met dinge wat Jeremia geskryf het. Ons verenigde broederskap is ’n voorbeeld. Sy geskrifte sal ons help om hierdie broederskap te versterk en om die apostel Paulus se raad toe te pas: “Broers, hou aan om julle te verheug, om julle te laat reghelp, om julle te laat vertroos, om eenders te dink, om vreedsaam te lewe; en die God van liefde en van vrede sal met julle wees” (2 Kor. 13:11). Jeremia se geskrifte hou ook regstreeks verband met die boodskap wat ons verkondig. Hoewel ons ander van die laaste dae vertel en hulle oor die naderende einde van hierdie stelsel waarsku, is ons boodskap nog steeds positief, want dit bied ’n grondslag vir hoop. Daarbenewens is wat Jeremia geskryf het, baie nuttig in ons daaglikse lewe. Daar is baie parallelle tussen ons situasie en sy lewe en boodskap. Om dit te verstaan, moet ons kyk na die agtergrond en toewysing van hierdie voorbeeldige profeet vir wie God gesê het: “Kyk, ek het my woorde in jou mond gelê.”—Jer. 1:9.

Prent op bladsy 6

6, 7. Waarom kan ons seker wees dat God in Jeremia belanggestel het, en wat was die situasie toe hy gebore is?

6 ’n Man en vrou wat op die geboorte van ’n kind wag, dink dikwels aan hulle toekomstige seun (of dogter). Watter soort persoon sal hy wees, en wat sal hy in die lewe doen—sy belangstellings, loopbaan en prestasies? Jou ouers het waarskynlik aan hierdie dinge gedink. Jeremia se ouers het dit sekerlik ook gedoen. Maar sy geval was buitengewoon. Waarom? Die Skepper van die heelal het baie belanggestel in Jeremia se lewe en bedrywighede.—Lees Jeremia 1:5.

7 Ja, voordat Jeremia gebore is, het God Sy voorkennis gebruik. Hy het spesiale belangstelling getoon in ’n seun wat gebore sou word uit ’n priesterlike familie wat noord van Jerusalem gewoon het. Dit was in die middel van die sewende eeu VHJ, wat weens die slegte heerskappy van koning Manasse nie ’n gelukkige tyd in Juda was nie. (Sien bladsy 19.) Manasse het gedurende die grootste deel van sy 55 jaar lange heerskappy gedoen wat sleg was in Jehovah se oë. Daarna het sy seun Amon ’n soortgelyke weg gevolg (2 Kon. 21:1-9, 19-26). ’n Dramatiese verandering het plaasgevind toe die volgende Judese koning aan bewind gekom het. Ja, koning Josia het Jehovah gesoek. Teen die 18de jaar van sy heerskappy het Josia reeds die land van afgodediens gereinig. Dit het ongetwyfeld Jeremia se ouers bly gemaak; dit was gedurende Josia se heerskappy dat God hulle seun as profeet aangestel het.—2 Kron. 34:3-8.

Waarom het jy rede om belang te stel in die boeke Jeremia en Klaagliedere?

GOD KIES ’N WOORDVOERDER

8. As wat is Jeremia aangestel, en hoe het hy gereageer?

8 Ons weet nie hoe oud Jeremia was toe God vir hom gesê het: “’n Profeet vir die nasies het ek jou gemaak” nie. Hy was miskien na aan 25, die ouderdom waarop ’n priester met die eerste fase van sy diens kon begin (Num. 8:24). Hoe dit ook al sy, Jeremia het geantwoord: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun” (Jer. 1:6). Hy was huiwerig, miskien omdat hy gedink het dat hy te jonk of onbekwaam is om die ernstige verantwoordelikheid na te kom of om in die openbaar te praat, soos van ’n profeet vereis is.

9, 10. Onder watter omstandighede het Jeremia as profeet begin dien, maar waarom was sy toewysing later intimiderend?

9 Jeremia is aangestel gedurende die tyd toe koning Josia verfoeilike valse aanbidding uitgewis en ware aanbidding bevorder het. Ongeag hoeveel interaksie daar tussen Jeremia en Josia was, die klimaat was beslis gunstig vir ’n ware profeet. Sefanja en Nahum het ook vroeg in Josia se heerskappy in Juda gedien.b So ook die profetes Hulda, maar sy het slegte tye voorspel. En Jeremia het dié tye beleef (2 Kon. 22:14). Trouens, vriende soos Ebed-Meleg en Barug moes Jeremia soms van ’n gewisse dood red of hom teen wraaksugtige vyande beskerm.

10 Hoe sal jy voel as God vir jou sê dat jy spesiaal as ’n profeet aangestel is om ’n kragtige boodskap bekend te maak? (Lees Jeremia 1:10.) Kyk na net een voorbeeld van wat Jeremia moes verkondig. In 609 VHJ het Babiloniese magte in die rigting van Jerusalem beweeg. Koning Sedekia het ’n gunstige boodskap van God deur middel van Jeremia gesoek. Maar dit is nie wat God vir dié koning gehad het nie.—Lees Jeremia 21:4-7, 10.

’N MENS SOOS ONS

11. Waarom was dit dalk vir Jeremia moeilik en tog bemoedigend om sy toewysing uit te voer?

11 Stel jou voor dat ons skerp veroordelings en oordeelsboodskappe teen goddelose konings, verdorwe priesters en valse profete moes verkondig. Jeremia moes dit doen. Maar ons het God se steun, net soos Jeremia dit gehad het (Jer. 1:7-9). God het vertroue in die jong Jeremia getoon en hom bemoedig met die woorde: “Ek het jou vandag ’n versterkte stad en ’n ysterpilaar en kopermure teen die hele land gemaak, teenoor die konings van Juda, teenoor sy vorste, teenoor sy priesters en teenoor die volk van die land. En hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’.”—Jer. 1:18, 19.

12. Meld ’n paar redes waarom ons ons met Jeremia kan vereenselwig.

12 Niemand hoef Jeremia te beskou as iemand wat besonder imposant was nie. Hy was ’n mens soos ons. Verder is dit betekenisvol dat Jeremia, hoewel hy in ’n ander tydperk gelewe het, met soortgelyke situasies as ons te kampe gehad het. Ons het in ons daaglikse lewe en gemeentelike bedrywighede met verskillende soorte mense te doen, net soos Jeremia met die mense om hom te doen gehad het. Dit alles hou verband met wat ons kan leer by Jeremia, wat, net soos die profeet Elia, ‘’n mens was met gevoelens soos ons s’n’ (Jak. 5:17). Beskou ’n paar voorbeelde van wat ons by Jeremia kan leer.

13, 14. Waarom kan party Christene hulle moontlik vereenselwig met Jeremia se ondervinding met Pasgur, soos uitgebeeld word op bladsy 10?

13 Het jy nie deur die jare heen goeie en slegte tye beleef nie? Jeremia het ook. By een geleentheid het Pasgur, ’n vooraanstaande priester, Jeremia aangerand en hom in die blok laat sit. Hy was ure lank in ’n houtraam vasgemaak waarin sy voete, hande en nek moontlik gesluit was, wat hom in ’n verwronge liggaamsposisie sou gedwing het. Benewens die pyn moes hy ongetwyfeld ook die bespotting van teenstanders verduur. Dink jy dat jy sal kan uithou teen venynige bespotting, selfs fisiese mishandeling?—Jer. 20:1-4.

Prent op bladsy 10

14 In die lig van Jeremia se situasie is dit nie verbasend dat hy gesê het nie: “Mag die dag waarop ek gebore is, vervloek wees! . . . Waarom het ek uit die moederskoot voortgekom om harde werk en droefheid te sien en om te sien dat my dae net in skaamte sou eindig?” (Jer. 20:14-18). Dit is duidelik dat hy geweet het wat wanhoop is. Het jy al ooit so mismoedig gevoel dat jy getwyfel het oor jou eie waarde, oor wat jy bereik en selfs of dit die moeite werd is om voort te gaan? Almal wat al sulke gevoelens ervaar het, kan baat vind by ’n beter begrip van Jeremia se ondervindinge en van hoe dinge vir hom afgeloop het.

Wat beïndruk jou omtrent Jehovah se aanstelling van Jeremia? Waarom kan jy jou met Jeremia vereenselwig?

15. Waarom kan ons daarby baat vind om te let op Jeremia se gemoedsveranderinge?

15 Die woorde van wanhoop wat ons in Jeremia 20:14-18 lees, volg direk op die profeet se aansporing om tot Jehovah te sing en hom te loof. (Lees Jeremia 20:12, 13.) Het jy al opgemerk dat jou emosies soms vinnig verander? Jy was baie gelukkig, en dan het jou gemoedstemming verander en het jy moedeloos gevoel. Ons kan almal heel moontlik daarby baat vind om Jeremia se ondervinding te ontleed. Dit is duidelik dat hy, net soos ons, gewone menslike gevoelens gehad het. Gevolglik kan ons waarskynlik grootliks daarby baat vind om die dade en reaksies te ondersoek van hierdie man wat so kragtig deur die Skepper as ’n woordvoerder gebruik kon word.—2 Kron. 36:12, 21, 22; Esra 1:1.

16. Vir wie is Jeremia se huwelikstaat moontlik van belang?

16 Nog ’n rede waarom party hulle met Jeremia vereenselwig, hou verband met sy huwelikstaat. Wat was dit? God het Jeremia ’n buitengewone en moontlik moeilike opdrag gegee: Moenie trou nie. (Lees Jeremia 16:2.) Waarom het Jehovah dit vir Jeremia gesê, en watter uitwerking het dit op hom gehad? Wat is daar in hierdie verslag wat miskien weerklank sal vind by broers en susters wat, uit eie keuse of weens omstandighede, nie ’n huweliksmaat het nie? Trouens, is daar iets in God se woorde aan Jeremia waaroor Getuies wat nou getroud is, moet peins? En wat van egpare wat nie “seuns en dogters” het nie? Hoe kan die verslag van Jeremia julle help?

17. Waaraan laat die profeet se woorde in Jeremia 38:20 ons dalk dink?

17 Dit is interessant dat Jeremia die heersende Judese koning by een geleentheid aangespoor het: “Gehoorsaam asseblief die stem van Jehovah in wat ek vir u sê, en dit sal met u goed gaan en u siel sal bly lewe” (Jer. 38:20). Hierdie verslag bied uitstekende riglyne in verband met ons interaksie met ander. Dit sluit in handelinge met mense wat nog nie in Jehovah se weë wandel nie, maar vir wie ons miskien sal kan help. En Jeremia se optrede teenoor diegene wat God gehoorsaam het, is ’n praktiese voorbeeld vir ons wat vandag lewe. Ja, ons kan baie by Jeremia leer.

WAARNA KAN ONS UITSIEN?

18, 19. Wat is van die maniere waarop die boeke Jeremia en Klaagliedere ondersoek kan word?

18 Hierdie boek sal jou help om die Bybelboeke Jeremia en Klaagliedere te ondersoek en daaruit te leer. Hoe? Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Tim. 3:16). Dit sluit die pas genoemde twee boeke in.

19 Die boeke Jeremia en Klaagliedere kan natuurlik op verskillende voordelige maniere benader word. Byvoorbeeld, ’n mens kan hierdie twee boeke vers vir vers bestudeer en die agtergrond of betekenis van elke vers probeer verstaan. Of ’n mens kan jou toespits op werklike parallelle—persone en gebeure wat in Jeremia en Klaagliedere beskryf word en wat met hedendaagse ekwivalente of verwikkelinge vergelyk of gekontrasteer word. (Vergelyk Jeremia 24:6, 7; 1 Korintiërs 3:6.) Nog ’n metode kan wees om die geskiedkundige agtergrond en gebeure te bestudeer wat in hierdie twee boeke bespreek word (Jer. 39:1-9). Trouens, van hierdie inligting is in sekere mate nodig vir enige lonende ondersoek van Jeremia en Klaagliedere. Daarom sal Hoofstuk 2, “Aan ‘die einde van die dae’”, ons help om ’n oorsig te kry van die geskiedkundige tydperk waarin Jeremia gelewe het en hoe God sake gerig het.

20. Hoe sal ons die boeke Jeremia en Klaagliedere in hierdie boek benader?

20 Maar dit is nie die hoofdoel van hierdie boek nie. Ons sal die boeke Jeremia en Klaagliedere benader as gawes van God om ons te help om vandag as Christene te lewe (Tit. 2:12). Ons sal meer as ooit tevore sien dat hierdie twee boeke ’n magdom van inligting bevat wat ‘nuttig is om te onderrig’. Hulle bevat praktiese raad en voorbeelde wat ons in staat kan stel om bevoeg en toegerus te wees wanneer ons voor die lewe se uitdagings te staan kom. Dit is die geval of ons ongetroud, getroud, ouer manne, pioniers, broodwinners, huisvroue of skoolkinders is. Elkeen van ons sal in hierdie twee geïnspireerde boeke goddelike hulp vind om “toegerus vir elke goeie werk” te wees.—2 Tim. 3:17.

Prent op bladsy 12

21. Waarom sien jy uit na die komende studieprogram?

21 Terwyl jy elke hoofstuk in hierdie boek bestudeer, moet jy punte soek wat jy kan gebruik. Dit ly geen twyfel nie dat die boeke Jeremia en Klaagliedere Paulus se woorde sal bevestig: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Rom. 15:4.

Wat kan jy uit ’n studie van die boeke Jeremia en Klaagliedere leer wat jou daaglikse lewe betref?

a ’n Aantal tale gebruik die woord “jeremiade”, wat “veroordelende klag” of “woedende tirade” beteken. Die koerant The Washington Post het ’n film oor ekologiese en klimaatsverandering as ’n “lastige jeremiade” beskryf.

b Later in Jeremia se profetiese loopbaan was ander profete sy tydgenote: Habakuk, Obadja, Daniël en Esegiël. Jeremia het reeds sowat 40 jaar gedien toe rampspoed Jerusalem in 607 VHJ getref het, en daarna het hy nog meer as 20 jaar gelewe.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel