Satan die Duiwel
Definisie: Die geesskepsel wat die aartsteenstander is van Jehovah God en van almal wat die ware God aanbid. Hy het die naam Satan gekry omdat hy ’n teenstander van Jehovah geword het. Satan staan ook bekend as die Duiwel, want hy is die vernaamste lasteraar van God. Satan word beskryf as die ou of oorspronklike slang, klaarblyklik omdat hy ’n slang in Eden gebruik het om Eva te mislei, en daarom het “slang” die betekenis van “bedrieër” gekry. In die boek Openbaring word die simbool van ’n draak wat verslind ook vir Satan gebruik.
Hoe kan ons weet of so ’n geespersoon werklik bestaan?
Die Bybel is die vernaamste bron van getuienis. Hy word herhaaldelik daarin by name genoem (52 keer Satan, 33 keer Duiwel). Dit bevat ook die getuienis van ’n ooggetuie dat Satan bestaan. Wie was die ooggetuie? Jesus Christus, wat in die hemel gelewe het voordat hy as ’n mens aarde toe gekom het en wat herhaaldelik by name van daardie Bose gepraat het.—Luk. 22:31; 10:18; Matt. 25:41.
Wat die Bybel oor Satan die Duiwel sê, klop met die feite. Die boosheid wat die mensdom ondervind, is heeltemal buite verhouding met die kwaadwilligheid van die betrokke mense. Die Bybel se verduideliking van Satan se oorsprong en sy bedrywighede verklaar waarom die mensdom, ondanks die meerderheid se begeerte om in vrede te lewe, al duisende jare lank geteister word deur haat, geweld en oorlog en waarom dit so toegeneem het dat dit nou dreig om die hele mensdom te vernietig.
Indien daar werklik geen Duiwel was nie, sou dit geen blywende voordele vir ’n persoon ingehou het as hy geglo het wat die Bybel oor hom sê nie. Maar in baie gevalle het persone wat hulle tevore met die okkulte opgehou het of wat behoort het tot groepe wat spiritisme beoefen, vertel dat hulle destyds veel angs ondervind het omdat hulle “stemme” uit onsigbare bronne gehoor het, bomenslike wesens van hulle “besit geneem” het, ensovoorts. Hulle het ware verligting verkry toe hulle geleer het wat die Bybel oor Satan en sy demone sê, die Bybel se raad toegepas het om spiritistiese gebruike te vermy en Jehovah in gebed om hulp gevra het.—Kyk bladsye 387-392, onder “Spiritisme”.
As ’n mens glo dat Satan bestaan, beteken dit nie dat jy die gedagte aanvaar dat hy horings, ’n pylstert en ’n vurk het en dat hy mense in ’n vurige hel braai nie. Die Bybel bevat nie so ’n beskrywing van Satan nie. Dit is die produk van die verbeelding van Middeleeuse kunstenaars wat beïnvloed is deur voorstellings van die mitologiese Griekse God Pan en deur die Inferno wat deur die Italiaanse digter Dante Alighieri geskryf is. Die Bybel leer nie ’n vurige hel nie, maar sê duidelik: “Die dooies weet glad niks nie.”—Pred. 9:5
Is Satan moontlik slegs die kwaad in mense?
Job 1:6-12 en 2:1-7 vertel van gesprekke tussen Jehovah God en Satan. As Satan die kwaad in ’n persoon was, sou die kwaad in hierdie geval in Jehovah moes wees. Maar dit bots regstreeks met wat die Bybel ons oor Jehovah meedeel as Iemand ‘in wie geen onreg is nie’ (Ps. 92:16; Openb. 4:8). Dit is opmerklik dat die Hebreeuse teks die uitdrukking has·Satanʹ (die Satan) in die verslae in Job gebruik, wat toon dat daar gepraat word van die een wat by uitstek die teenstander van God is.—Kyk ook Sagaria 3:1, 2, voetnoot in die NW-naslaanbybel.
Lukas 4:1-13 berig dat die Duiwel probeer het om Jesus te versoek om te doen wat hy wou hê. Die verhaal bevat verklarings deur die Duiwel en antwoorde daarop deur Jesus. Is Jesus daar versoek deur die kwaad in homself? So ’n beskouing strook nie met die Bybel se beskrywing van Jesus as ’n persoon sonder sonde nie (Hebr. 7:26; 1 Pet. 2:22). Hoewel die Griekse woord di·aʹbo·losʹ in Johannes 6:70 gebruik word om die slegte eienskap te beskryf wat in Judas Iskariot bestaan het, word die uitdrukking ho di·aʹbo·los (die Duiwel) in Lukas 4:3 gebruik, en dit dui op ’n bepaalde persoon.
Is dit net ’n set om verantwoordelikheid vir slegte toestande te ontduik wanneer die Duiwel die skuld daarvoor gegee word?
Sommige mense gee die Duiwel die skuld vir die dinge wat hulleself doen. Die Bybel toon egter dat mense dikwels baie van die skuld dra vir die kwaad wat hulle ondervind, hetsy deur die toedoen van ander mense of as gevolg van hulle eie gedrag (Pred. 8:9; Gal. 6:7). Maar die Bybel laat ons nie onkundig oor die bestaan en liste van die bomenslike vyand wat die mensdom soveel leed aangedoen het nie. Dit toon hoe ons onder sy beheer kan uitkom.
Waar kom Satan vandaan?
Al Jehovah se werke is volmaak; hy is nie verantwoordelik vir ongeregtigheid nie; hy het gevolglik niemand goddeloos geskape nie (Deut. 32:4; Ps. 5:5). Die een wat Satan geword het, was oorspronklik ’n volmaakte geesseun van God. Deur te sê dat die Duiwel “nie vasgestaan het in die waarheid nie”, het Jesus getoon dat die Duiwel eens op ’n tyd “in die waarheid” was (Joh. 8:44, NW). Maar net soos al God se intelligente skepsele was hierdie geesseun begaaf met ’n vrye wil. Hy het sy keusevryheid misbruik, toegelaat dat eiebelang in sy hart ontwikkel, begin om die aanbidding wat slegs God toegekom het, te begeer en gevolglik Adam en Eva mislei om na hom te luister in plaas van na God. Deur sy handelwyse het hy homself gevolglik Satan gemaak, wat “teenstander” beteken.—Jak. 1:14, 15; kyk ook bladsy 384, onder “Sonde”.
Waarom het God Satan nie dadelik vernietig nadat hy in opstand gekom het nie?
Satan het ernstige geskille geopper: (1) Die regverdigheid en regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit. Het Jehovah vryheid van die mensdom weerhou wat tot hulle geluk sou bydra? Het die mensdom se vermoë om hulle sake met welslae te bestuur en hulle voortgesette lewe waarlik van hulle gehoorsaamheid aan God afgehang? Was Jehovah oneerlik toe hy ’n wet gegee het wat gesê het dat ongehoorsaamheid tot hulle dood sou lei? (Gen. 2:16, 17; 3:3-5). Het Jehovah dus werklik die reg gehad om te regeer? (2) Intelligente skepsele se onkreukbaarheid teenoor Jehovah. Adam en Eva se afwyking het die vraag laat ontstaan: Het Jehovah se knegte hom werklik uit liefde gehoorsaam, of sou hulle almal God dalk verlaat en Satan volg? In die dae van Job het Satan hierdie geskil verder gevoer. (Gen. 3:6; Job 1:8-11; 2:3-5; kyk ook Lukas 22:31.) Hierdie geskille kon nie besleg word bloot deur die rebelle tereg te stel nie.
Dit was nie vir God nodig om enigiets aan homself te bewys nie. Maar Jehovah het oorgenoeg tyd toegelaat sodat hierdie geskille buite alle twyfel besleg kon word sodat hulle nooit weer die vrede en welsyn van die heelal sou versteur nie. Dit het mettertyd duidelik geword dat Adam en Eva gesterf het nadat hulle aan God ongehoorsaam was (Gen. 5:5). Maar meer het op die spel gestaan. God het Satan sowel as mense dus toegelaat om elke regeringsvorm wat hulle tot stand kon bring, op die proef te stel. Nie een het blywende geluk gebring nie. God het die mensdom tot die uiterste laat gaan in die najaging van lewenswyses wat Sy regverdige standaarde ignoreer. Die resultate spreek vir hulself. Die Bybel sê tereg dat ‘dit nie aan die mens toebehoort om sy voetstappe te rig nie’ (Jer. 10:23). God het sy knegte terselfdertyd die geleentheid gebied om hulle lojaliteit aan hom deur hulle dade van liefdevolle gehoorsaamheid te bewys, en dít ondanks versoekings en vervolging wat deur Satan aangestig word. Jehovah vermaan sy knegte met die woorde: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Diegene wat getrou bly, maai nou groot voordele en het die vooruitsig op die ewige lewe in volmaaktheid. Hulle sal daardie lewe gebruik om Jehovah se wil te doen, omdat hulle sy persoonlikheid en weë waarlik liefhet.
Hoeveel mag oefen Satan in vandag se wêreld uit?
Jesus Christus het hom “die owerste van hierdie wêreld” genoem, die een wat die mensdom oor die algemeen gehoorsaam deur ag te slaan op sy aansporing om God se vereistes te ignoreer (Joh. 14:30; Ef. 2:2). Die Bybel noem hom ook “die god van hierdie wêreld”, wat vereer word deur die godsdiensgebruike van mense wat hierdie stelsel aanhang.—2 Kor. 4:4; 1 Kor. 10:20.
In ’n poging om Jesus Christus te versoek, “bring die duiwel Hom op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort” (Luk. 4:5-7). Openbaring 13:1, 2 toon dat Satan ‘krag, ’n troon en groot mag’ aan die wêreldwye politieke stelsel van heerskappy gee. Daniël 10:13, 20 openbaar dat Satan demoniese vorste oor die vernaamste koninkryke van die aarde het. Efesiërs 6:12 sê dat hulle ‘owerhede, magte, wêreldheersers van die duisternis, bose geeste in die lug’ is.
Geen wonder 1 Johannes 5:19 sê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” nie. Maar hy het sy mag slegs ’n beperkte tyd lank en slegs deur die toelating van Jehovah, wat self die almagtige God is.
Hoe lank sal Satan toegelaat word om die mensdom te mislei?
Kyk bladsye 209-211, onder “Jaartalle”, asook onder “Laaste dae” vir getuienis dat ons nou in die laaste dae van Satan se goddelose stelsel lewe.
Die voorsiening om verligting te verskaf van Satan se goddelose invloed word simbolies soos volg beskryf: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (Openb. 20:1-3). Wat dan? “Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp” (Openb. 20:10). Wat beteken dit? Openbaring 21:8 antwoord: “Dit is die tweede dood.” Hy sal vir ewig van die toneel verdwyn!
Beteken die ‘toesluiting’ van Satan dat hy 1 000 jaar lank beperk sal word tot ’n verlate aarde met niemand om te versoek nie?
Sommige mense gebruik Openbaring 20:3 (wat op bladsy 368 aangehaal is) om hierdie idee te staaf. Hulle sê dat die “afgrond” of “bodemlose diepte” (LB) ’n verlate aarde voorstel. Is dit so? Openbaring 12:7-9, 12 toon dat Satan die een of ander tyd voordat hy in die afgrond gewerp word uit die hemel “neergewerp” word na die aarde, waar hy groter weë vir die mensdom veroorsaak. Wanneer Openbaring 20:3 dan sê dat Satan “in die afgrond gewerp” word, word hy tog seker nie net gelaat waar hy reeds is nie—onsigbaar, maar beperk tot die omgewing van die aarde. Hy word ver weg verwyder, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie”. Let op dat Openbaring 20:3 sê dat dit Satan is wat aan die einde van die duisend jaar uit die afgrond ontbind word, nie die nasies nie. Wanneer Satan ontbind word, sal mense wat vantevore daardie nasies uitgemaak het, reeds aanwesig wees.
Jesaja 24:1-6 en Jeremia 4:23-29 word soms aangehaal as steun vir hierdie opvatting. Hulle sê: “Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit . . . Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die HERE het hierdie woord gespreek.” “Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg . . . Ek het gekyk, en daar was geen mens nie . . . Want so sê die HERE: Die hele land sal ’n wildernis word . . . die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie.” Wat beteken hierdie profesieë? Hulle is aanvanklik vir Jerusalem en die land Juda vervul. As voltrekking van goddelike oordeel het Jehovah die Babiloniërs toegelaat om die land in te neem. Dit is eindelik woes en leeg gelaat. (Kyk Jeremia 36:29.) Maar God het nie destyds die hele aardbol ontvolk nie, en hy gaan dit ook nie nou doen nie. (Kyk bladsye 25-28, onder “Aarde”, asook onder “Hemel”.) Maar hy gaan die hedendaagse teenbeeld van ontroue Jerusalem, die valse Christendom, wat die naam van God deur sy onheilige gedrag smaad aandoen, sowel as die res van Satan se sigbare organisasie, verwoes.
In plaas van ’n verlate woesteny te wees, sal die hele aarde gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy, terwyl Satan in die afgrond is, ’n paradys word. (Kyk “Paradys”.)