Gees
Definisie: Die Hebreeuse woord rûach en die Griekse pneuʹma, wat dikwels met “gees” vertaal word, het ’n aantal betekenisse. Almal van hulle sien op iets onsigbaars vir mense-oë en iets wat getuig van krag in beweging. Die Hebreeuse en Griekse woorde word gebruik met betrekking tot (1) wind, (2) die werkende lewenskrag in aardse skepsele, (3) die dryfkrag wat uit ’n persoon se figuurlike hart kom en hom dinge op ’n sekere manier laat sê en doen, (4) geïnspireerde uitinge wat van ’n onsigbare bron kom, (5) geespersone, en (6) God se werkende krag of heilige gees. Verskeie van hierdie gebruike word hier bespreek in verband met onderwerpe wat in die veldbediening ter sprake kan kom.
Wat is die heilige gees?
’n Vergelyking van Bybeltekste wat van die heilige gees praat, toon dat dit mense kan “vervul”; dat hulle daarmee ‘gedoop’ kan word; en dat hulle daarmee “gesalf” kan word (Luk. 1:41; Matt. 3:11; Hand. 10:38). Nie een van hierdie uitdrukkings sou gepas wees indien die heilige gees ’n persoon was nie.
Jesus het die heilige gees ook ’n ‘trooster’ (AB) of ’n ‘helper’ (NW) (Grieks, pa·raʹkle·tos) genoem en gesê dat hierdie helper sou “leer”, “getuig”, “spreek” en “hoor” (Joh. 14:16, 17, 26; 15:26; 16:13). Dit is nie buitengewoon dat iets in die Skrif verpersoonlik word nie. Daar word byvoorbeeld gesê dat die wysheid “kinders” het (Luk. 7:35). Sonde en die dood word konings genoem (Rom. 5:14, 21, NW). Hoewel sommige tekste sê dat die gees “gespreek” het, toon ander gedeeltes duidelik dat dit deur engele of mense gedoen is. (Hand. 4:24, 25; 28:25; Matt. 10:19, 20; vergelyk Handelinge 20:23 met 21:10, 11.) In 1 Johannes 5:6-8 word daar gesê dat nie alleen die gees “getuig” nie, maar ook “die water en die bloed”. Nie een van die uitdrukkings in hierdie tekste bewys dus op sigself dat die heilige gees ’n persoon is nie.
Die korrekte identifisering van die heilige gees moet al die tekste pas wat van daardie gees praat. Daarom is dit logies om die gevolgtrekking te maak dat die heilige gees God se werkende krag is. Dit is nie ’n persoon nie, maar ’n sterk krag wat God uit homself uitstuur om sy heilige wil te volbring.—Ps. 104:30; 2 Pet. 1:21; Hand. 4:31.
Kyk ook bladsy 97, onder “Drie-eenheid”.
Wat bewys dat ’n persoon werklik die heilige gees het?
Luk. 4:18, 31-35: “[Jesus het uit die boekrol van die profeet Jesaja gelees:] Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. . . . En Hy het afgekom na Kapernaüm, ’n stad van Galilea, en hulle op die sabbat geleer. En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag. En in die sinagoge was daar ’n man met die gees van ’n onreine duiwel, en hy het met ’n groot stem uitgeskreeu . . . Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.” (Wat het bewys dat Jesus God se gees het? Die verslag sê nie dat hy gebewe of uitgeroep of koorsagtig rondbeweeg het nie. Dit sê eerder dat hy met gesag gespreek het. Dit is egter opmerklik dat ’n duiwelse gees ’n man by daardie geleentheid laat skreeu en op die vloer laat neerval het.)
Handelinge 1:8 sê dat wanneer Jesus se volgelinge die heilige gees ontvang het, hulle getuies van hom sou wees. Toe hulle eindelik daardie gees ontvang het, was waarnemers, volgens Handelinge 2:1-11, beïndruk deur die feit dat hoewel die sprekers almal Galileërs was, hulle gespreek het oor die groot dade van God in tale wat bekend was vir baie van die vreemdelinge wat teenwoordig was. Maar die verslag sê nie dat daar enige emosionele uitbarstings was aan die kant van diegene wat die gees ontvang het nie.
Dit is opmerklik dat toe Elisabet die heilige gees ontvang het en “met ’n groot stem uitgeroep” het, dit nie tydens ’n erediens was nie, maar toe sy ’n besoekende familielid gegroet het (Luk. 1:41, 42). Toe ’n groep dissipels die heilige gees ontvang het, soos berig in Handelinge 4:31, is die plek geskud, maar daardie gees het nie die dissipels laat bewe of rondrol nie. Hulle het eerder “die woord van God met vrymoedigheid gespreek”. Die vrymoedige verkondiging van die woord van God en ywerige deelname aan die getuieniswerk is eweneens vandag die dinge wat getuig dat iemand die heilige gees het.
Gal. 5:22: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Dit is na hierdie vrug dat ’n mens moet soek, eerder as na uitbarstings van godsdienstige geesdrif, wanneer jy soek na mense wat waarlik God se gees het.)
Bewys iemand se vermoë om met groot emosie in ’n taal te spreek wat hy nooit geleer het nie dat hy God se gees het?
Kyk onder “Talespraak”.
Word wonderdadige genesingswerke in ons dag deur die gees van God verrig?
Kyk onder “Genesing”.
Wie word met die heilige gees gedoop?
Kyk bladsy 93, onder “Doop”, asook onder “Wedergeboorte”.
Is daar ’n geesdeel van die mens wat ná die dood van die liggaam voortleef?
Eseg. 18:4: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.” (RS, NE, KJ en Dy gee almal die Hebreeuse woord nêfêsj in hierdie vers met “siel” weer en sê sodoende dat dit die siel is wat sterf. Sommige vertalings wat nêfêsj in ander gedeeltes met “siel” vertaal, gebruik die uitdrukkings “die man” of “die een” in hierdie vers. Die nêfêsj, die siel, is gevolglik die persoon, nie ’n onstoflike deel van hom wat voortleef wanneer sy liggaam sterf nie.) (Kyk onder “Siel” vir nadere besonderhede.)
Ps. 146:4: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne [“gedagtes”, NW] gedaan.” (Die Hebreeuse woord wat hier met “gees” vertaal word, is afgelei van rûach. Sommige vertalers gee dit weer met “asem”. Wanneer daardie rûach, of werkende lewenskrag, die liggaam verlaat, vergaan die persoon se gedagtes; dit bestaan nie in ’n ander ryk voort nie.)
Pred. 3:19-21: “Die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem [“gees”, NW, Ro, Yg], en ’n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. Wie bespeur dat die asem [“gees”, NW, Ro, Yg] van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem [“gees”, NW, Ro, Yg] van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?” (Omdat mense sonde en die dood by Adam geërf het, gaan hulle almal dood en keer hulle terug na die stof, net soos die diere. Maar het elke mens ’n gees wat voortleef as ’n intelligente persoonlikheid nadat dit opgehou het om in die liggaam te funksioneer? Nee; vers 19 antwoord dat mense en diere ‘almal dieselfde gees het’. Niemand kan bloot op grond van menslike waarneming die vraag wat in vers 21 oor die gees geopper word gesaghebbend beantwoord nie. Maar God se Woord antwoord dat mense inherent niks het wat hulle by die dood ’n voorsprong bo diere gee nie. Danksy God se barmhartige voorsiening deur Christus het mense wat geloof beoefen egter die vooruitsig om vir ewig te lewe, terwyl diere dit nie het nie. Vir baie lede van die mensdom sal dit moontlik gemaak word deur die opstanding, wanneer werkende lewenskrag van God af hulle weer lewend maak.)
Luk. 23:46: “Jesus het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees [Grieks, pneuʹma] oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Let op dat Jesus gesterf het. Dit sê nie dat toe sy gees uitgegaan het hy op pad hemel toe was nie. Jesus is eers drie dae later uit die dood opgewek. En soos Handelinge 1:3, 9 toon, het nog 40 dae verstryk voordat hy opgevaar het hemel toe. Wat is dus die betekenis van Jesus se woorde ten tye van sy dood? Hy het gesê dat hy geweet het dat sy toekomstige lewensvooruitsigte ná sy dood ten volle van God afgehang het. Kyk bladsy 377, onder “Siel”, vir verdere kommentaar oor die ‘gees wat na God terugkeer’.)
As iemand sê—
‘Het jy die heilige gees?’
Jy kan antwoord: ‘Ja, en dit is waarom ek vandag na u deur gekom het (Hand. 2:17, 18).’
Of jy kan sê: ‘Dit is wat dit vir my moontlik maak om aan die Christelike bediening deel te neem. Maar ek vind dat nie almal dieselfde idee het oor wat bewys dat ’n persoon werklik God se gees het nie. Wat beskou u as bewys?’ Dan kan jy byvoeg: (Bespreek van die materiaal op bladsye 145, 146.)