’n Jerusalem wat sy naam gestand doen
“Wees vir ewig vreugdevol oor wat ek skep. Want kyk, ek skep Jerusalem as ’n rede tot vreugde.”—JESAJA 65:18, NW.
1. Hoe het Esra oor God se uitverkore stad gevoel?
AS ’N ywerige student van God se Woord het die Joodse priester Esra groot waardering gehad vir die verbintenis wat Jerusalem vroeër met Jehovah se rein aanbidding gehad het (Deuteronomium 12:5; Esra 7:27). Sy liefde vir God se stad word in die deel van die Bybel geopenbaar wat hy geïnspireer is om te skryf—Eerste en Tweede Kronieke en Esra. In hierdie geskiedkundige verslae verskyn die naam Jerusalem byna ’n kwart van die meer as 800 keer wat dit in die hele Bybel gebruik word.
2. Watter profetiese betekenis het die naam Jerusalem?
2 In Bybelse Hebreeus word die woord “Jerusalem” in ’n vorm van die Hebreeuse taal geskryf wat die dualis genoem word. Die dualis word gewoonlik in verband met voorwerpe gebruik wat in pare kom, soos oë, ore, hande en voete. In hierdie tweevoudige vorm kan die naam Jerusalem beskou word as ’n profesie van ’n vrede wat God se volk in ’n tweeledige sin sou geniet—naamlik geestelik en fisies. Die Skrif sê nie of Esra dit ten volle verstaan het nie. As ’n priester het hy egter sy bes gedoen om die Jode te help om vrede met God te geniet. En hy het beslis hard gewerk sodat Jerusalem die betekenis van sy naam gestand sou doen, naamlik, “besitting [of fondament] van tweevoudige vrede”.—Esra 7:6.
3. Hoeveel jaar verloop voordat ons weer oor Esra se bedrywighede lees, en onder watter omstandighede vind ons hom?
3 Die Bybel sê nie waar Esra was tydens die 12 jaar wat verloop het tussen sy besoek aan Jerusalem en Nehemia se aankoms in die stad nie. Die swak geestelike toestand van die nasie gedurende daardie tyd dui aan dat Esra nie daar was nie. Maar ons vind dat Esra weer as ’n getroue priester in Jerusalem dien kort nadat die stad se muur herbou is.
’n Wonderlike byeenkomsdag
4. Wat was betekenisvol omtrent die eerste dag van Israel se sewende maand?
4 Jerusalem se muur is net betyds voltooi vir die belangrike feesmaand Tisjri, die sewende maand van Israel se godsdienskalender. Die eerste dag van Tisjri was ’n spesiale nuwemaansfees wat die fees van trompetgeskal genoem is. Op daardie dag het priesters op trompette geblaas terwyl offerandes aan Jehovah geoffer is (Numeri 10:10; 29:1). Hierdie dag het die Israeliete voorberei vir die jaarlikse Versoendag op die 10de Tisjri en vir die vreugdevolle fees van die insameling van die 15de tot die 21ste van dieselfde maand.
5. (a) Hoe het Esra en Nehemia goed gebruik gemaak van “die eerste dag van die sewende maand”? (b) Waarom het die Israeliete gehuil?
5 Op “die eerste dag van die sewende maand” het “die hele volk” bymekaargekom, waarskynlik nadat Nehemia en Esra hulle aangespoor het om dit te doen. Manne, vroue en “almal wat met verstand kon luister”, is ingesluit. Jong kinders was dus teenwoordig en het aandag geskenk terwyl Esra op ’n verhoog gestaan en die Wet gelees het “vandat dit lig geword het tot die middag” (Nehemia 8:2-5). Die Leviete het die volk met gereelde tussenposes gehelp om te verstaan wat gelees is. Dit het die Israeliete laat huil toe hulle besef hoe ver hulle en hulle voorvaders van God se Wet afgewyk het.—Nehemia 8:6-10.
6, 7. Wat kan Christene leer uit wat Nehemia gedoen het om die Jode te laat ophou huil?
6 Maar dit was nie die tyd om droefgeestig te huil nie. Dit was ’n fees, en die volk het toe net die herbouing van Jerusalem se muur voltooi. Nehemia het hulle derhalwe gehelp om in die regte gemoedstemming te kom deur te sê: “Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.” Die hele volk het hieraan gehoor gegee en het “weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is”.—Nehemia 8:11-13.
7 God se volk van vandag kan baie uit hierdie verslag leer. Diegene wat bevoorreg is om dele by vergaderinge en byeenkomste te behartig, moet die voorgaande in gedagte hou. Behalwe dat sulke geleenthede teregwysing voorsien wat soms nodig is, beklemtoon hulle die voordele en seëninge wat ’n mens geniet wanneer jy God se vereistes nakom. Dié wat daar is, word geprys vir hulle goeie werke en aangemoedig om te volhard. God se volk moet sulke samekomste met vreugde van hart verlaat weens die opbouende onderrigting wat hulle uit God se Woord ontvang het.—Hebreërs 10:24, 25.
Nog ’n vreugdevolle samekoms
8, 9. Watter spesiale vergadering het op die tweede dag van die sewende maand plaasgevind, en wat het dit vir God se volk tot gevolg gehad?
8 Op die tweede dag van daardie spesiale maand het “die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete by Esra, die skrifgeleerde, vergader om naamlik die woorde van die wet te ondersoek” (Nehemia 8:14). Esra was heeltemal bevoeg om hierdie vergadering te hou, aangesien hy “sy hart daarop gerig [het] om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Hierdie vergadering het ongetwyfeld die aandag gevestig op gebiede waar God se volk die Wetsverbond nougesetter moes nakom. Van onmiddellike belang was die nodigheid om behoorlik vir die viering van die naderende huttefees voor te berei.
9 Hierdie weeklange fees is op die regte manier gehou, want die hele volk het in tydelike skuilings gewoon wat van die takke en blare van verskillende bome gemaak is. Die volk het hierdie hutte op hulle plat dakke, in hulle voorhowe, in die tempelvoorhowe en in die openbare pleine van Jerusalem gemaak (Nehemia 8:16, 17). Wat ’n goeie geleentheid was dit tog om die volk byeen te laat kom en vir hulle uit God se Wet voor te lees! (Vergelyk Deuteronomium 31:10-13.) Dit is elke dag, “van die eerste dag [van die fees] tot die laaste dag toe”, gedoen, en dit het God se volk “baie groot blydskap” verskaf.—Nehemia 8:18, 19.
Ons moet nie God se huis verwaarloos nie
10. Waarom is ’n spesiale samekoms op die 24ste dag van die sewende maand gereël?
10 Daar is ’n gepaste tyd en plek om ernstige tekortkominge onder God se volk reg te stel. Esra en Nehemia het blykbaar besef dat dit só ’n tyd was, en daarom het hulle ’n vasdag op die 24ste van die maand Tisjri gereël. God se Wet is weer gelees, en die volk het hulle sondes bely. Daarna het die Leviete God se barmhartige handelinge met sy weerspannige volk hersien, pragtige lofbetuigings tot Jehovah gedoen en “’n vaste verbond” gesluit, wat bekragtig is deur die seël van hulle owerstes, Leviete en priesters.—Nehemia 9:1-38.
11. Tot watter “vaste verbond” het die Jode hulle verbind?
11 Die volk het ’n eed afgelê om die geskrewe “vaste verbond” na te kom. Hulle sou “wandel in die wet van God”. En hulle het ingestem om nie huweliksverbintenisse met “die volke van die land” aan te gaan nie (Nehemia 10:28-30). Daarbenewens het die Jode hulle daartoe verbind om die Sabbat te hou, om ’n jaarlikse geldelike bydrae ter ondersteuning van ware aanbidding te gee, om hout vir die offeraltaar te voorsien, om die eersgeborenes van hulle kuddes en kleinvee as offerandes te gee en om die eerstelinge van hulle opbrengs na die eetsale van die tempel te bring. Dit is duidelik dat hulle vasbeslote was om ‘nie die huis van hulle God te verwaarloos nie’.—Nehemia 10:32-39.
12. Wat behels dit vandag om nie God se huis te verwaarloos nie?
12 Jehovah se volk moet vandag versigtig wees om nie hulle voorreg te verwaarloos om ‘heilige diens te verrig’ in die voorhowe van Jehovah se groot geestelike tempel nie (Openbaring 7:15). Dit sluit gereelde ernstige gebede vir die bevordering van Jehovah se aanbidding in. As ons in ooreenstemming met sulke gebede wil lewe, moet ons vir Christelike vergaderinge voorberei en daaraan deelneem, reëlings ondersteun om die goeie nuus te verkondig en belangstellendes help deur na hulle terug te gaan en, indien moontlik, Bybelstudies met hulle te hou. Baie wat nie God se huis wil verwaarloos nie, dra geldelik by tot die predikingswerk en die instandhouding van plekke van ware aanbidding. Ons is moontlik ook in staat om met die bou van vergaderplekke te help, waaraan daar ’n groot behoefte is, asook om hulle skoon en netjies te hou. ’n Belangrike manier om liefde vir God se geestelike huis te toon, is om die vrede van medegelowiges te bevorder en enigeen by te staan wat materiële of geestelike hulp nodig het.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Hebreërs 13:15, 16.
’n Vreugdevolle inwyding
13. Watter dringende saak het aandag nodig gehad voordat Jerusalem se muur ingewy kon word, en watter goeie voorbeeld het baie gestel?
13 Die “vaste verbond” wat in Nehemia se dag bekragtig is, het God se eertydse volk voorberei vir die inwydingsdag van Jerusalem se muur. Maar ’n ander dringende saak het nog aandag nodig gehad. Jerusalem, wat nou deur ’n groot muur met 12 poorte omsluit is, het ’n groter bevolking nodig gehad. Hoewel sommige Israeliete daar gewoon het, was “die stad . . . wyd uitgestrek en groot, maar die mense daarin was min” (Nehemia 7:4). Om hierdie probleem op te los, het die volk “die lot gewerp om een uit tien daartoe te bring om in die heilige stad Jerusalem te woon”. Die gewillige reaksie op hierdie reëling het die volk beweeg om “al die manne [te seën] wat hulle vrywillig aangebied het om in Jerusalem te woon” (Nehemia 11:1, 2). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir hedendaagse ware aanbidders wie se omstandighede hulle toelaat om te verhuis na waar die hulp van ryp Christene nodig is!
14. Wat het op die inwydingsdag van Jerusalem se muur gebeur?
14 Daar is weldra met belangrike voorbereidings begin vir die groot inwydingsdag van Jerusalem se muur. Musikante en sangers is uit die omliggende stede van Juda byeengebring. Hulle is in twee groot dankkore georganiseer, wat elk deur ’n optog gevolg is (Nehemia 12:27-31, 36, 38). Die kore en optogte het by ’n punt van die muur wat die verste van die tempel af was, waarskynlik van die Valleipoort af, in teenoorgestelde rigtings begin loop totdat hulle by God se huis ontmoet het. “Op dié dag het hulle groot offers gebring en was vrolik; want God het hulle groot vreugde verskaf, en ook die vroue en kinders was vrolik, sodat die vreugde van Jerusalem tot ver weg gehoor is.”—Nehemia 12:43.
15. Waarom was die toewyding van Jerusalem se muur nie ’n rede tot blywende vreugde nie?
15 Die Bybel gee nie die datum van hierdie vreugdevolle viering nie. Dit was ongetwyfeld ’n hoogtepunt, moontlik selfs die klimaks, van Jerusalem se herstelling. Baie bouwerk moes natuurlik binne-in die stad gedoen word. Jerusalem se inwoners het mettertyd hulle goeie geestelike posisie verloor. Toe Nehemia die stad byvoorbeeld vir ’n tweede keer besoek het, het hy gevind dat God se huis weer verwaarloos is en dat die Israeliete weer met heidense vrouens getrou het (Nehemia 13:6-11, 15, 23). Hierdie selfde slegte toestande word in die geskrifte van die profeet Maleagi bevestig (Maleagi 1:6-8; 2:11; 3:8). Die toewyding van Jerusalem se muur was dus nie ’n rede tot blywende vreugde nie.
’n Rede tot ewige vreugde
16. Na watter belangrike gebeure sien God se volk uit?
16 Vandag verlang Jehovah se volk na die tyd wanneer God oor al sy vyande sal seëvier. Dit sal begin met die vernietiging van “Babilon die Grote”—’n simboliese stad wat alle vorme van valse godsdiens insluit (Openbaring 18:2, 8). Die vernietiging van valse godsdiens sal die eerste fase van die naderende groot verdrukking wees (Matteus 24:21, 22). Voor ons is ook ’n waarlik betekenisvolle gebeurtenis—die hemelse huwelik van die Here Jesus Christus met sy bruid van 144 000 burgers van die “Nuwe Jerusalem” (Openbaring 19:7; 21:2). Ons kan nie presies sê wanneer daardie belangrike huwelik voltrek sal word nie, maar dit sal beslis ’n vreugdevolle gebeurtenis wees.—Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1990, bladsye 30-1.
17. Wat weet ons omtrent die voltooiing van die Nuwe Jerusalem?
17 Ons weet wel dat die voltooiing van die Nuwe Jerusalem baie naby is (Matteus 24:3, 7-14; Openbaring 12:12). In teenstelling met die aardse stad Jerusalem sal dit nooit ’n rede tot teleurstelling wees nie. Dit is omdat al sy burgers geesgesalfde, beproefde en gelouterde volgelinge van Jesus Christus is. Wanneer hulle hulle tot in die dood getrou betoon het, sal elkeen bewys het dat hy vir ewig lojaal aan die Universele Soewerein, Jehovah God, is. Dit is baie betekenisvol vir die res van die mensdom—vir die lewendes en die dooies!
18. Waarom moet ons ‘bly wees en vir ewig juig’?
18 Let op na wat sal gebeur wanneer die Nuwe Jerusalem sy aandag vestig op mense wat geloof in Jesus se losprysofferande stel. “Kyk!” het die apostel Johannes geskryf. “Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:2-4). Daarbenewens sal God hierdie stadagtige reëling gebruik om die mensdom tot menslike volmaaktheid te verhef (Openbaring 22:1, 2). Watter wonderlike redes is daar tog om ‘bly te wees en vir ewig te juig oor wat God nou skep’!—Jesaja 65:18.
19. Wat is die geestelike paradys waarin Christene versamel is?
19 Maar berouvolle mense hoef nie tot dan te wag om hulp van God te ontvang nie. In 1919 het Jehovah die laaste lede van die 144 000 in ’n geestelike paradys begin versamel, waar die vrugte van God se gees—soos liefde, vreugde en vrede—in oorvloedige mate voorkom (Galasiërs 5:22, 23). ’n Uitstaande kenmerk van hierdie geestelike paradys is die geloof van die gesalfde inwoners daarvan, wat uiters produktief is terwyl hulle die voortou neem in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk in die hele bewoonde aarde (Matteus 21:43; 24:14). As gevolg hiervan is byna sesmiljoen “ander skape”, wat ’n aardse hoop het, ook in die geestelike paradys toegelaat waar hulle lonende werk geniet (Johannes 10:16). Hulle het hiervoor gekwalifiseer deur hulle aan Jehovah God toe te wy op grond van hulle geloof in die losprysofferande van sy Seun, Jesus Christus. Hulle assosiasie met die voornemende lede van die Nuwe Jerusalem is inderdaad ’n seën. Deur sy handelinge met gesalfde Christene het Jehovah derhalwe ’n vaste grondslag gelê vir “’n nuwe aarde”—’n gemeenskap van godvresende mense wat die aardse ryk van die hemelse Koninkryk sal beërf.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13.
20. Hoe sal die Nuwe Jerusalem sy naam gestand doen?
20 Die vreedsame toestande wat Jehovah se volk nou in hulle geestelike paradys geniet, sal binnekort in ’n fisiese paradys op aarde geniet word. Dit sal plaasvind wanneer die Nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal om die mensdom te seën. God se volk sal op ’n tweevoudige wyse die vreedsame toestande geniet wat in Jesaja 65:21-25 belowe is. As Jehovah se verenigde aanbidders in die geestelike paradys geniet die gesalfdes wat nog hulle plek in die hemelse Nuwe Jerusalem moet inneem en die lede van die “ander skape” nou reeds godgegewe vrede. En hierdie vrede sal ook in die fisiese Paradys geniet word, wanneer ‘God se wil, net soos in die hemel, op die hele aarde sal geskied’ (Matteus 6:10). Ja, God se glorieryke hemelse stad sal die naam Jerusalem as die vaste ‘fondament van tweevoudige vrede’ gestand doen. Dit sal tot in alle ewigheid sy Grootse Skepper, Jehovah God, en sy Bruidegom-Koning, Jesus Christus, tot eer strek.
Onthou jy?
◻ Wat is bereik toe Nehemia die volk in Jerusalem byeen laat kom het?
◻ Wat moes eertydse Jode gedoen het om nie die huis van God te verwaarloos nie, en wat word van ons verwag?
◻ Hoe is “Jerusalem” daarby betrokke om blywende vreugde en vrede te bewerkstellig?
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
POORTE VAN JERUSALEM
Syfers verteenwoordig huidige hoogte in meter
VISPOORT
POORT VAN DIE OU STAD
EFRAIMSPOORT
HOEKPOORT
Breë muur
Openbare plein
VALLEIPOORT
TWEEDE STADSDEEL
Eerste noordelike muur
STAD VAN DAWID
ASPOORT
Dal van Hinnom
Kasteel
SKAAPPOORT
WAGPOORT
Tempelgebied
INSPEKSIEPOORT
PERDEPOORT
OFEL
Openbare plein
WATERPOORT
Gihonfontein
WATERPOORT
Koningstuin
En-rogel
Tyropoeon (Sentrale) Vallei
Kidronstroomvallei
740
730
730
750
770
770
750
730
710
690
670
620
640
660
680
700
720
740
730
710
690
670
Die moontlike omvang van Jerusalem se muur toe die stad vernietig is en toe Nehemia die leiding in die herbouing van die muur geneem het