Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/22 bl. 5-11
  • Lewe langer en voel beter

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe langer en voel beter
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Identifiseer die hindernisse
  • Gewoontes wat jou baanrekord beïnvloed
  • Die omgewing maak ’n verskil
  • Beskikbaar—goedkoop mediese sorg met hoë genesingsyfers
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
    Ontwaak!—1999
  • Oorwinning en tragedie
    Ontwaak!—1997
  • ’n Wêreldwye oplossing—is dit moontlik?
    Ontwaak!—1997
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/22 bl. 5-11

Lewe langer en voel beter

VERBEEL jou dat die mens se lewe ’n lang hekkieswedloop is—’n wedloop waarin die hardlopers oor hindernisse moet spring. Al die hardlopers spring gelyk weg; maar namate hulle oor die hindernisse spring en af en toe daarteen stamp, hardloop hulle stadiger, en al hoe meer val uit die wedloop.

Net so het die mens se lewe ’n beginpunt en hoë hindernisse op pad. Gedurende sy lewe spring die mens oor die een hindernis na die ander. Elke sprong maak hom swakker, en mettertyd hou hy op. Hoe hoër die hindernisse, hoe gouer val hy uit, of sterf hy. As iemand in die ontwikkelde wêreld lewe, kom die punt waar hy uitval op ongeveer 75-jarige ouderdom. Hierdie tydperk word die gemiddelde menslike leeftyd genoem—wat vergelyk kan word met die afstand wat die meeste hardlopers in werklikheid aflê.a (Vergelyk Psalm 90:10.) Maar sommige mense hardloop langer, en ’n paar bereik selfs wat vermoedelik die maksimum menslike leeftyd is, 115 tot 120 jaar—’n prestasie wat ongewoon genoeg is om wêreldwyd groot opslae in die nuus te maak.

Identifiseer die hindernisse

Mense kan nou byna twee keer so lank in die wedloop bly as wat hulle aan die begin van hierdie eeu kon doen. Waarom? Basies omdat die mens in staat was om die hindernisse laer te maak. Maar wat is hierdie hindernisse? En kan hulle selfs nog laer gemaak word?

’n Deskundige op die gebied van openbare gesondheid van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het verduidelik dat gewoontes, die omgewing en mediese sorg van die vernaamste hindernisse, of faktore, is wat die mens se lewensverwagting beïnvloed.b Met ander woorde, hoe gesonder jou gewoontes en jou omgewing en hoe beter jou mediese sorg is, hoe laer is daardie hindernisse en hoe langer sal jy moontlik lewe. Hoewel mense se omstandighede grootliks van mekaar verskil, kan feitlik almal—van ’n bankbestuurder in Sydney tot ’n straatverkoper in Sao Paulo—iets doen om die hindernisse in sy of haar lewe laer te maak. Hoe?

Gewoontes wat jou baanrekord beïnvloed

“Mense met goeie gesondheidsgewoontes lewe nie net langer nie, maar in sulke mense kom gebreke eers later en oor ’n korter tydperk aan die einde van hulle lewe voor”, berig The New England Journal of Medicine. Trouens, die eerste hindernis kan laer gemaak word deur jou eet-, drink-, slaap-, rook- en oefengewoontes te verander. Neem byvoorbeeld oefengewoontes.

Liggaamlike oefengewoontes. Matige liggaamlike oefening kan baie nuttig wees. (Sien die venster “Hoeveel en watter soort oefening?”) Studies toon dat eenvoudige oefeninge in en om die huis bejaardes, selfs die ‘oudste van die oudstes’, help om hulle fisiese krag en lewenskragtigheid te herwin. Een groep bejaardes tussen die ouderdomme van 72 en 98 het byvoorbeeld gevind dat hulle vinniger kon loop en trappe makliker kon klim nadat hulle net tien weke lank ’n bietjie met gewigte geoefen het. En dit is geen wonder nie! Toetse wat ná die oefenprogram gedoen is, het getoon dat die deelnemers se spierkrag meer as verdubbel het. ’n Ander groep, bestaande uit vroue wat meestal ’n sittende lewe lei en tot 70 jaar oud was, het twee keer per week geoefen. Ná ’n jaar het hulle spiermassa toegeneem, sowel as hulle krag, balans en beendigtheid. “Toe ons begin het, was ons bang dat ons ligamente, senings en spiere sou skeur”, het die fisioloog Miriam Nelson, wat die studies gedoen het, gesê. “Maar ons het bloot gevind dat die mense sterker en gesonder word.”

Een handboek som die resultate van etlike wetenskaplike studies oor veroudering en oefening soos volg op: “Oefening vertraag die verouderingsproses, verleng die lewe en verkort die tydperk van afhanklikheid wat gewoonlik die dood voorafgaan.”

Denkoefeninge. Dit lyk of die gesegde: “Gebruik dit of verloor dit” nie net vir die spiere geld nie, maar ook vir die verstand. Hoewel veroudering met ’n mate van vergeetagtigheid gepaardgaan, toon studies wat deur die Amerikaanse Nasionale Instituut van Veroudering gedoen is dat ’n ouer brein nog steeds goed genoeg funksioneer om die gevolge van veroudering te hanteer. Dr. Antonio R. Damasio, ’n professor in neurologie, kom dus tot die volgende gevolgtrekking: “Ouer mense kan voortgaan om ’n uiters vol en gesonde verstandelike lewe te lei.” Wat maak dat ’n ouer brein nog steeds goed kan funksioneer?

Die brein bestaan uit 100 miljard breinselle, of neurone, en biljoene verbindings tussen hulle. Hierdie verbindings werk soos telefoonlyne wat neurone in staat stel om met mekaar te “praat” om onder meer geheue te skep. Namate die brein verouder, gaan neurone dood. (Sien die venster “’n Nuwe siening van breinselle”.) Maar ’n ouer brein kan vergoed vir die verlies van neurone. Wanneer ’n neuron doodgaan, reageer die neurone rondom hom deur nuwe verbindings met ander neurone te maak en die werklas van die verlore neuron oor te neem. Sodoende verskuif die brein in werklikheid die verantwoordelikheid vir ’n spesifieke taak van een gebied na ’n ander. Daarom kan talle ouer mense dieselfde verstandelike take as jonger mense doen, maar hulle gebruik moontlik ander dele van hulle brein daarvoor. In sekere opsigte is ’n ouer brein soos ’n ouer tennisspeler wat vergoed vir die feit dat hy nie meer so rats is nie deur van vaardighede gebruik te maak wat ’n jonger speler moontlik nie het nie. En tog teken die ouer speler nog steeds punte aan ten spyte daarvan dat hy ander tegnieke as sy juniors gebruik.

Wat kan ouer mense doen om steeds punte aan te teken? Nadat dr. Marilyn Albert, ’n navorser in gerontologie, meer as 1 000 mense tussen 70 en 80 jaar bestudeer het, het sy gevind dat denkoefeninge een van die faktore is wat bepaal of ouer mense hulle intellektuele vaardighede behou of nie. (Sien die venster “Hou jou verstand besig”.) Denkoefeninge hou die brein se ‘telefoonlyne’ aan die werk. Daarenteen, sê deskundiges, begin verstandelike agteruitgang “wanneer mense aftree, besluit om hulle nie te veel in te span nie en sê dat hulle nie meer op hoogte met die wêreld hoef te bly nie”.—Inside the Brain.

Die goeie nuus is dus, verduidelik die gerontoloog dr. Jack Rowe, dat “faktore waaroor ons beheer het of wat ons kan verander ons vermoë behoort te verbeter om ’n gelukkige oudag te hê”. Daarbenewens is dit nooit te laat om goeie gewoontes te begin aankweek nie. “Selfs al het jy die grootste deel van jou lewe slegte gesondheidsgewoontes gehad en jy eers later in jou lewe verander”, sê ’n navorser, “behoort jy nog steeds ten minste ’n paar belonings van ’n gesonde lewenstyl te geniet.”

Die omgewing maak ’n verskil

As ’n meisie wat vandag in Londen gebore word, teruggeneem sou word na die Londen van die Middeleeue, sou haar lewensverwagting minder as die helfte wees van wat dit vandag is. Daardie verskil sou nie deur ’n skielike verandering in die fisiese toestand van die meisie teweeggebring word nie, maar eerder deur ’n skielike verandering in die hoogte van twee ander hindernisse—die omgewing en mediese sorg. Kyk byvoorbeeld na die eerste hindernis, die omgewing.

Fisiese omgewing. In die verlede was die mens se fisiese omgewing—sy huis byvoorbeeld—’n geweldige gesondheidsrisiko. Maar gedurende onlangse dekades is die gevare wat die fisiese omgewing inhou, verminder. Beter sanitasie, veiliger water en minder insekte in die huis het die mens se omgewing en sy gesondheid verbeter en sy lewe verleng. Gevolglik kan die mens nou in baie dele van die wêreld langer in die wedloop bly.c Maar dit behels meer as net binnenshuise sanitêre geriewe om hierdie hindernis laer te maak. Dit is ook nodig om ’n gesonde sosiale en godsdiensomgewing, oftewel milieu, te handhaaf.

Sosiale milieu. Jou sosiale milieu bestaan uit mense—die mense saam met wie jy lewe, werk, eet, aanbid en ontspan. Jou fisiese omgewing verbeter wanneer jy toegang tot veilige water het; net so sal jou sosiale milieu moontlik verbeter wanneer jy gewaardeerde vriende het, om maar een belangrike faktor te noem. Wanneer ’n mens jou vreugde en leed, drome en frustrasies met ander mense kan deel, maak dit die omgewingshindernis laer en help dit jou om langer in die wedloop te bly.

Die teenoorgestelde is egter ook waar. ’n Gebrek aan kameraadskap kan tot eensaamheid en sosiale afsondering lei. ’n Mens is geneig om agteruit te gaan as jy bestaan sonder dat die mense om jou toon dat hulle vir jou omgee. Een vrou wat in ’n ouetehuis woon, het vir ’n vriendin geskryf: “Ek is 82 jaar oud en ek is nou al 16 lange jare hier in die tehuis. Hulle behandel ons goed, maar die eensaamheid is soms net te veel vir my.” Hierdie vrou se situasie is ongelukkig kenmerkend van talle bejaardes, veral in die Westerse wêreld. Hulle lewe dikwels in ’n sosiale milieu waar hulle geduld, maar selde gewaardeer word. Gevolglik “is eensaamheid een van die vernaamste toestande wat die welsyn van bejaardes in die ontwikkelde wêreld voortdurend bedreig”, sê James Calleja, van die Internasionale Instituut van Veroudering.

Jy sal weliswaar dalk nie die omstandighede uit die weg kan ruim wat jou kwesbaar vir eensaamheid maak nie—soos gedwonge aftrede, verminderde beweegbaarheid, die verlies van ou vriende of die dood van ’n huweliksmaat—maar jy kan nog steeds sekere maatreëls tref om hierdie hindernis tot ’n hanteerbare hoogte te verlaag. Om mee te begin, moet jy onthou dat dit nie die ouderdom is wat jou laat eensaam voel nie; sommige jongmense voel ook eensaam. Om oud te wees, is nie die oorsaak van die probleem nie—om sosiaal afgesonderd te wees, is wel. Wat kan jy doen om te keer dat jy afgesonderd raak?

“Maak dit aangenaam vir mense om by jou te wees”, is ’n ouer weduwee se raad. “Min mense geniet dit om met ’n knorrige persoon te assosieer. Jy moet hard probeer om opgewek te wees. Dit verg weliswaar inspanning, maar die inspanning word beloon. Vriendelikheid is aansteeklik.” Sy voeg by: “Om te verseker dat ek ’n paar gesprekspunte in gemeen het met die mense wat ek ontmoet, jonk of oud, probeer ek op hoogte bly met die hede deur leersame tydskrifte te lees en die nuus te volg.”

Hier is ’n paar ander wenke: Leer om belang te stel in die dinge waarvan ander mense hou. Vra vrae. Wees sover moontlik vrygewig. As jy nie materiële besittings het nie, kan jy van jouself gee; dit verskaf geluk om te gee. Skryf briewe. Begin ’n stokperdjie. Neem uitnodigings aan om by ander mense te kuier of om saam met hulle uit te gaan. Hou jou huis vrolik en aangenaam vir besoekers. Verleen hulp aan mense wat hulp nodig het.

Godsdiensmilieu. Daar is al hoe meer bewyse wat daarop dui dat godsdiensbedrywighede ouer mense help om “sinrykheid en betekenis in die lewe” te vind en om “geluk”, “’n gevoel van diensbaarheid”, “groter bevrediging uit die lewe” en “’n gevoel van gemeensaamheid en welsyn” te ervaar. Waarom? Die boek Later Life—The Realities of Aging verduidelik: “Godsdiens gee mense ’n lewensbeskouing sowel as ’n reeks gesindhede, waardes en opvattings wat hulle help om die wêreld waarin hulle lewe te ontleed en te verstaan.” Godsdiensbedrywighede bring ouer mense boonop in aanraking met ander mense en “verminder [sodoende] die moontlikheid van sosiale afsondering en eensaamheid”.

Vir Louise en Evelyn, albei 80-jarige weduwees en lede van ’n gemeente van Jehovah se Getuies, bevestig hierdie studies maar net wat hulle al dekades lank weet. “Ek geniet dit om by ons Koninkryksaald met ander, oud en jonk, te gesels”, sê Louise. “Die vergaderinge is leersaam. Wanneer ons ná die vergaderinge met mekaar assosieer, lag ons soms ook heerlik. Dis ’n gelukkige tyd.” Evelyn vind ook baat by haar godsdiensbedrywighede. “As ek uitgaan om met my bure oor die Bybel te praat”, sê sy, “keer dit dat ek my afsonder. Maar dit maak my boonop gelukkig. Dit is bevredigende werk om ander te help om die werklike betekenis van die lewe te verstaan.”

Dit is duidelik dat Louise en Evelyn ’n doel in die lewe het. Die gevoel van welsyn wat hulle gevolglik ervaar, maak die tweede hindernis—die omgewing—laer en help hulle om koers te hou.—Vergelyk Psalm 92:14, 15.

Beskikbaar—goedkoop mediese sorg met hoë genesingsyfers

Vooruitgang in die geneeskunde in hierdie eeu het die derde hindernis, mediese sorg, geweldig verlaag—maar nie wêreldwyd nie. In etlike arm lande, sê The World Health Report 1998, “het die lewensverwagting tussen 1975 en 1995 in werklikheid afgeneem”. Die direkteur-generaal van die WGO het gesê “in die mins ontwikkelde lande sterf 3 uit 4 mense vandag voordat hulle 50 is—die wêreldwye lewensverwagting van ’n halfeeu gelede”.

’n Toenemende aantal ouer en jonger mense in arm lande maak nietemin hierdie hindernis laer deur gebruik te maak van beskikbare en bekostigbare gesondheidsorg. Neem byvoorbeeld ’n nuwe benadering in die behandeling van tuberkulose (TB).

Wêreldwyd sterf meer mense aan TB as aan vigs, malaria en tropiese siektes saam—8 000 mense elke dag. Vyf-en-negentig uit elke 100 TB-pasiënte woon in die wêreld se ontwikkelende lande. Sowat 20 miljoen mense ly nou aan aktiewe TB, en sowat 30 miljoen kan in die volgende tien jaar daaraan sterf, net soveel as die gekombineerde bevolkingsyfer van Bolivia, Kambodja en Malawi.

Dit is geen wonder nie dat die WGO bly was om in 1997 aan te kondig dat hulle ’n behandelingsmetode ontwikkel het om TB binne ses maande te genees sonder dat die pasiënt in die hospitaal opgeneem word of hipertegnologiese mediese sorg moet kry. “Vir die eerste keer”, het The TB Treatment Observer, ’n WGO-publikasie, gesê, “het die wêreld beproefde instrumente en behandelingsmetodes om die TB-epidemie te beëindig, nie net in die ryk lande nie, maar ook in die wêreld se armste lande.” Hierdie behandeling—wat deur sommige as “die grootste gesondheidsdeurbraak van hierdie dekade” beskryf word—word DOTS genoem.e

Hoewel hierdie behandeling baie minder kos as konvensionele TB-behandeling, is die resultate belowend, veral vir diegene wat in ontwikkelende lande woon. “Geen ander TB-behandelingsmetode het konsekwent sulke hoë genesingsyfers behaal nie”, sê dr. Arata Kochi, direkteur van die WGO se Wêreldwye TB-program. “DOTS behaal genesingsyfers van tot 95 persent, selfs in die armste lande.” Teen die einde van 1997 het 89 lande met die DOTS-metode begin. Vandag het daardie syfer tot 96 gestyg. Die WGO hoop dat hierdie behandeling nog miljoene arm mense in die mins ontwikkelde lande sal bereik, en hulle sodoende in staat sal stel om die derde hindernis in die wedloop van die lewe laer te maak.

Die mens kon inderdaad sy gemiddelde leeftyd en lewensverwagting verleng deur sy gewoontes te verander, sy omgewing te verbeter en beter mediese sorg te kry. Die vraag is: Sal dit eendag vir die mens moontlik wees om ook sy maksimum leeftyd te verleng—om dalk selfs sonder ’n eindstreep te lewe?

[Voetnote]

a Alhoewel die terme “lewensverwagting” en “gemiddelde leeftyd” dikwels uitruilbaar gebruik word, is daar ’n verskil tussen die twee. “Lewensverwagting” verwys na die aantal jare wat ’n individu kan verwag om te lewe, terwyl “gemiddelde leeftyd” verwys na die gemiddelde aantal jare wat lede van ’n bevolking werklik lewe. Die lewensverwagting word dus volgens gemiddelde leeftye bereken.

b Benewens hierdie veranderlike faktore het die mens se vasgestelde, oorgeërfde genetiese samestelling uiteraard ’n invloed op sy gesondheid en hoe lank hy lewe. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

c Sien die artikels “Bied die uitdaging van sindelikheid die hoof” en “Wat jou gesondheid beïnvloed—Wat jy kan doen”, in die Ontwaak! van 22 September 1988 en 8 April 1995, vir verdere inligting oor hoe jy die huislike omgewing deur eenvoudige maatreëls kan verbeter.

d Die plek waar Jehovah se Getuies hulle weeklikse vergaderinge hou, word ’n Koninkryksaal genoem. Hierdie vergaderinge is oop vir die publiek, en geen kollektes word opgeneem nie.

e DOTS is ’n akroniem vir behandeling deur regstreekse waarneming, kortkursus. Sien die artikel “’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose”, in die Ontwaak! van 22 Mei 1999, vir verdere inligting oor die DOTS-metode.

[Venster/Prent op bladsy 6]

HOEVEEL EN WATTER SOORT OEFENING?

“Dertig minute van matige oefening elke dag is ’n goeie doelwit”, sê die Nasionale Instituut van Veroudering (NIV). Maar jy hoef nie 30 minute lank op een slag te oefen nie. As ’n mens drie kort oefensessies van 10 minute elk doen, is dit glo net so voordelig as wanneer dieselfde soort oefeninge in een sessie van 30 minute gedoen word. Watter soort oefeninge kan jy doen? Die NIV-boekie Don’t Take It Easy: Exercise! beveel aan: “Kort sessies van aktiwiteit, soos om trappies te klim pleks van die hyser te gebruik of om te loop pleks van te ry, kan op 30 minute van oefening per dag te staan kom. Om blare bymekaar te hark, aktief met jou kinders te speel, tuin te maak en selfs om huishoudelike takies te verrig, kan alles op so ’n manier gedoen word dat dit tot jou daaglikse totaal bydra.” Dit is natuurlik verstandig om jou dokter te raadpleeg voordat jy met ’n oefenprogram begin.

[Prent]

Matige liggaamlike oefening kan bejaardes help om hulle fisiese krag en lewenskragtigheid te herwin

[Venster/Prent op bladsy 7]

HOU JOU VERSTAND BESIG

Wetenskaplike studies wat op duisende ouer mense gedoen is, het etlike faktore gevind wat help dat ’n ouer verstand steeds goed kan funksioneer. Dit sluit in dat jy jou “aktief besig hou met lees, reis, kulturele bedrywighede, opvoeding, klubs en professionele verenigings”. “Doen soveel verskillende dinge moontlik.” “Behou jou werk. Moenie aftree nie.” “Skakel die TV af.” “Volg ’n kursus in iets.” Volgens mening verhef sulke bedrywighede nie net die gees nie, maar dit vorm ook nuwe verbindings in die brein.

[Prent]

Denkoefeninge help om die brein voortdurend goed te laat funksioneer

[Venster/Prent op bladsy 8]

GESONDHEIDSWENKE VIR MENSE WAT OUER WORD

Die Nasionale Instituut van Veroudering, ’n afdeling van die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste, sê “die kanse dat ’n mens gesond sal bly en lank sal lewe, kan vergroot word” deur verstandige raad soos die volgende te volg:

● Volg ’n gebalanseerde dieet, wat vrugte en groente insluit.

● As jy alkohol drink, moet jy matigheid voor oë hou.

● Moenie rook nie. Dit is nooit te laat om op te hou nie.

● Oefen gereeld. Spreek ’n dokter voordat jy met ’n oefenprogram begin.

● Behou kontak met familie en vriende.

● Bly aktief deur jou werk, ontspanning en die gemeenskap.

● Behou ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe.

● Doen dinge wat jou gelukkig maak.

● Gaan gereeld vir roetine- mediese ondersoeke.

[Venster op bladsy 9]

’N NUWE SIENING VAN BREINSELLE

“Ons het altyd gedink dat ’n mens elke dag van jou lewe oral in jou brein breinselle verloor”, sê dr. Marilyn Albert, ’n professor in psigiatrie en neurologie. “Dit is eenvoudig nie die geval nie—jy verloor ’n paar tydens gesonde veroudering, maar dit vind nie te dramaties plaas nie, en net in baie selektiewe gebiede in jou brein.” Daarbenewens dui onlangse bevindings daarop dat selfs die tradisionele oortuiging dat mense nie nuwe breinselle kan ontwikkel nie, om die minste te sê, “te veel van ’n veralgemening is”, berig Scientific American vir November 1998. Neurowetenskaplikes sê dat hulle nou bewyse ingesamel het dat selfs bejaardes “wel bykomende neurone by die honderde ontwikkel”.

[Venster op bladsy 11]

OUER EN WYSER?

“Is daar nie wysheid onder die bejaardes en verstand in lengte van dae nie?” vra die Bybel (Job 12:12, NW). Wat is die antwoord? Navorsers het ouer mense bestudeer om eienskappe te evalueer soos “insig, gesonde oordeel, perspektief en die vermoë om teenstrydige waardes teen mekaar op te weeg en goeie probleemoplossingstrategieë te gebruik”. Volgens U.S.News & World Report het die studie getoon dat “ouer mense jonger mense konsekwent in die skadu stel wat alle maatstawwe van wysheid betref en dat hulle bedagsamer, lewenswyse raad gee”. Studies toon ook dat “ouer mense gewoonlik beter besluite as jonger mense neem, al neem dit hulle dikwels langer om dit te doen”. Gevolglik, soos die Bybelboek Job te kenne gee, is grysheid inderdaad wysheid.

[Prent op bladsy 5]

Die mens se lewe is soos ’n wedloop vol hindernisse

[Prent op bladsy 9]

“Maak dit aangenaam vir mense om by jou te wees”, is ’n weduwee se raad

[Prente op bladsy 10]

“Dit is bevredigende werk om ander te help om die werklike betekenis van die lewe te verstaan.”—Evelyn

[Prente op bladsy 10]

“Ek geniet dit om by ons Koninkryksaal met ander, oud en jonk, te gesels.”—Louise

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel