Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 3/15 bl. 21-23
  • Moenie deur sorge oorweldig word nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie deur sorge oorweldig word nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar om die lyn te trek
  • Moses voor Farao
  • Beheers jou gedagtes
  • Hulp is beskikbaar
  • “Wag op God”
  • Werp al julle bekommernis op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Werp al julle sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Mans wat angstig is – Hoe die Bybel kan help
    Nog onderwerpe
  • Wat kan ek omtrent angstigheid doen?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 3/15 bl. 21-23

Moenie deur sorge oorweldig word nie

“WEES . . . nooit besorg oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matteus 6:34). Daardie raad wat Jesus Christus gegee het, is beslis prakties vir ons almal wat in vandag se gejaagde wêreld lewe wat soveel spanning veroorsaak.

Maar is dit realisties gesproke moontlik vir ons om nie besorg te wees oor ons probleme, besluite, verpligtinge en verantwoordelikhede nie? Miljoene mense voel terneergedruk, beangs en belas. Dit is waarom die verkoop van kalmeermiddels ’n bedryf met ’n omset van miljoene rande is.

Waar om die lyn te trek

Ons moet beplan en voorberei vir ons verpligtinge, toewysings, besluite en probleme—hetsy hulle dringend is of nie. Die Bybel spoor ons aan om te gaan “sit en die koste [te] bereken” voordat ons enige groot taak aanpak (Lukas 14:28-30). Dit sluit in dat ons die beskikbare keuses moet oorweeg, die moontlike gevolge van die uitkoms moet ondersoek en moet vasstel hoeveel tyd, energie en geld dit ons gaan kos.

Hoewel ’n mens versigtig moet oorweeg wat waarskynlik sal gebeur, is dit nie moontlik of voordelig om aan elke denkbare situasie wat kan opduik te probeer dink nie. Jy sal byvoorbeeld ter wille van jou gesin se veiligheid voorsorg wil tref ingeval ’n brand in julle huis uitbreek. Jy kan rookverklikkers en brandblussers koop en installeer. Jy kan ontsnaproetes van verskillende dele van die huis beplan en oefen. Maar waar eindig verstandige, praktiese beplanning en waar begin oordrewe, ongegronde besorgdheid? Sulke besorgdheid begin wanneer jy jou begin kwel oor ’n eindelose aantal denkbeeldige situasies, waarvan baie dalk die produk is van ’n ryk verbeelding. Verontrustende gedagtes kan jou oorweldig en daarvan oortuig dat jy beslis iets oor die hoof gesien het of dat jy nie genoeg gedoen het om jou gesin te beskerm nie. Hierdie selfopgelegde angs kan so swaar op ’n mens se gemoed druk dat dit jou slapelose nagte kan besorg.

Moses voor Farao

Jehovah God het sy profeet Moses ’n moeilik toewysing gegee. Eerstens moes Moses voor die Israeliete verskyn en hulle daarvan oortuig dat Jehovah hom aangestel het om hulle uit Egipte te lei. Daarna moes Moses voor Farao verskyn en hom versoek om die Israeliete te laat gaan. Uiteindelik moes Moses ’n mag der menigte wat uit miljoene mense bestaan het deur die woestyn en in ’n land in lei wat deur vyandige volke bewoon is (Exodus 3:1-10). Dit kon alles baie intimiderend gewees het, maar het Moses toegelaat dat hierdie verantwoordelikheid sy verstand met onnodige angs vul?

Moses was natuurlik besorg oor ’n aantal kwessies. Hy het Jehovah gevra: “As ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?—wat moet ek hulle antwoord?” Jehovah het hom die antwoord gegee (Exodus 3:13, 14). Moses was ook besorg oor wat kon gebeur as Farao hom nie wou glo nie. Weer het Jehovah die profeet geantwoord. Daar was een laaste probleem—Moses het erken dat hy “nie ’n man van woorde” is nie. Hoe kon hierdie probleem opgelos word? Jehovah het Aäron voorsien om namens Moses te spreek.—Exodus 4:1-5, 10-16.

Moses het toe, voorbereid met antwoorde op sy vrae en met geloof in God, gedoen wat Jehovah hom beveel het. Moses het homself nie met vreesaanjaende gedagtes gefolter oor wat kan gebeur wanneer hy voor Farao verskyn nie, hy het eerder “net so gedoen” (Exodus 7:6). As hy toegelaat het dat sy sorge hom oorweldig, kon dit heel moontlik die geloof en vrymoedigheid ondermyn het wat hy vir sy toewysing nodig gehad het.

Die gebalanseerde manier waarop Moses sy toewysing aangepak het, is ’n voorbeeld van wat die apostel Paulus “gesonde verstand” genoem het (2 Timoteus 1:7; Titus 2:2-6). As Moses nie gesond van verstand was nie, kon die erns van sy toewysing hom so oorweldig het dat hy dit waarskynlik nie sou aanvaar het nie.

Beheers jou gedagtes

Hoe reageer jy wanneer jy in jou daaglikse lewe voor toetse van jou geloof of voor beproewinge te staan kom? Maak die blote gedagte aan die hindernisse en uitdagings wat voorlê jou paniekerig? Of het jy ’n gebalanseerde beskouing daarvan? Soos party sal sê: ‘Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.’ Daardie denkbeeldige moeilikhede word dalk nooit ’n werklikheid nie! Waarom jou dus folter oor iets wat dalk nooit sal gebeur nie? Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer” (Spreuke 12:25). Die gevolg is dikwels dat ’n mens ’n besluit sal uitstel totdat dit te laat is.

Wat baie ernstiger is, is die geestelike skade wat onnodige besorgdheid kan veroorsaak. Jesus Christus het getoon dat waardering vir “die woord van die koninkryk” heeltemal verstik kan word deur die bedrieglike krag van rykdom en “die sorge van hierdie stelsel van dinge” (Matteus 13:19, 22). Net soos dorings kan verhinder dat saailinge volgroeide plante word en vrug dra, kan onbeheerste besorgdheid verhinder dat ons geestelike vooruitgang maak en tot lof van God vrug dra. Selfopgelegde, vernietigende angs het sommige selfs daarvan weerhou om hulle aan Jehovah toe te wy. Hulle vra: ‘Sê nou ek leef nie my toewyding na nie?’

Die apostel Paulus het vir ons gesê dat ons in ons geestelike oorlogvoering probeer om “elke gedagte in gevangenskap [te bring] om dit aan die Christus gehoorsaam te maak” (2 Korintiërs 10:5). Ons aartsvyand, Satan die Duiwel, sal hoog in sy skik wees as hy ons bekommernisse kan gebruik om ons te ontmoedig en fisies, emosioneel en geestelik te verswak. Hy weet net hoe om twyfelgedagtes as ’n strik te gebruik waarmee hy onbehoedsames mislei. Dit is waarom Paulus Christene ook gewaarsku het om ‘nie plek vir die Duiwel toe te laat nie’ (Efesiërs 4:27). As “die god van hierdie stelsel van dinge” het Satan daarin geslaag om “die verstande van die ongelowiges [te] verblind” (2 Korintiërs 4:4). Mag ons hom nooit toelaat om ons verstand te beheer nie!

Hulp is beskikbaar

Wanneer ’n kind probleme het, kan hy na ’n liefdevolle vader gaan en leiding en vertroosting ontvang. Ons kan eweneens na ons hemelse Vader, Jehovah, met ons probleme gaan. Trouens, Jehovah nooi ons om ons laste en sorge op hom te werp (Psalm 55:23). Soos ’n kind wat nie meer oor sy probleme bekommerd is nadat sy vader hom gerusgestel het nie, moet ons nie net ons laste op Jehovah werp nie, maar hulle ook by hom laat.—Jakobus 1:6.

Hoe werp ons ons sorge op Jehovah? Filippense 4:6, 7 antwoord: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Ja, Jehovah kan ons volgehoue gebede en smeekbedes verhoor en ons ’n innerlike kalmte gee wat ons teen geesteskwellinge weens onnodige bekommernisse sal beskerm.—Jeremia 17:7, 8; Matteus 6:25-34.

Maar as ons in ooreenstemming met ons gebede wil optree, moet ons ons nie fisies of verstandelik afsonder nie (Spreuke 18:1). Dit sal goed wees as ons eerder Bybelbeginsels en -riglyne ondersoek wat op ons probleem betrekking het en sodoende nie op ons eie insig steun nie (Spreuke 3:5, 6). Oud en jonk kan die Bybel en Wagtoringpublikasies raadpleeg vir ’n skat van inligting wanneer hulle besluite moet neem en probleme die hoof moet bied. Daarbenewens is ons in die Christengemeente geseën met verstandige en ervare ouer manne en ander ryp Christene wat altyd bereid is om met ons te praat (Spreuke 11:14; 15:22). Diegene wat nie emosioneel betrokke is nie en wat God se denke oor ’n saak het, kan ons dikwels help om uit ’n ander oogpunt na ons probleme te kyk. En hoewel hulle nie besluite vir ons sal neem nie, kan hulle ’n groot bron van aanmoediging en ondersteuning wees.

“Wag op God”

Niemand kan ontken dat ons werklike probleme wat ons elke dag die hoof moet bied genoeg spanning veroorsaak sonder dat ons ons ook nog oor denkbeeldige probleme bekommer nie. As besorgdheid oor wat moontlik sal gebeur ons bevrees of ongerus laat voel, moet ons ons met gebed en smeking tot Jehovah wend. Vertrou op sy Woord en organisasie vir leiding, wysheid en gesonde verstand. Ongeag die omstandighede wat kan ontstaan, ons sal vind dat daar hulp beskikbaar is om dit die hoof te bied.

Toe die psalmis swaarmoedig en ontsteld gevoel het, het hy gesing: “Waarom is jy wanhopig, o my siel, En waarom is jy onstuimig in my? Wag op God, Want ek sal hom nog prys as my grootse redding en as my God” (Psalm 42:11, NW). Laat dit ook ons gevoel wees.

Ja, beplan vir wat redelikerwys verwag kan word, en laat die onvoorsiene aan Jehovah oor. ‘Werp al julle sorge op hom, want hy is besorg oor julle.’—1 Petrus 5:7.

[Prent op bladsy 23]

Werp jy, soos Dawid, jou laste en sorge op Jehovah?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel