Hou jy jou oë gevestig op die beloning?
DIE siekte vererger geleidelik. Aanvanklik verminder dit ’n persoon se perifere sig. As dit nie behandel word nie, kan dit na die middel van die gesigsveld versprei. Uiteindelik kan dit algehele gesigsverlies veroorsaak. Wat is dit? Gloukoom—’n vername oorsaak van blindheid.
Net soos ons ons letterlike sig stadig kan verloor, sonder dat ons eens daarvan bewus is, kan ons ’n selfs kosbaarder vorm van sig verloor—ons geestelike sig. Dit is dus noodsaaklik om ons oë stip op geestelike dinge gevestig te hou, dit as ’t ware in die middel van ons gesigsveld te hou.
Hou jou oë gevestig op die beloning
Onder “die dinge wat nie gesien word” deur ons letterlike oë nie, is die glorieryke beloning van die ewige lewe, wat Jehovah vir sy lojale knegte in die vooruitsig stel (2 Korintiërs 4:18). Die hoofrede waarom Christene God dien, is natuurlik omdat hulle hom liefhet (Matteus 22:37). Jehovah wil nietemin hê dat ons na ons beloning moet uitsien. Hy wil hê dat ons hom as ’n vrygewige Vader moet beskou wat “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Diegene wat God werklik ken en liefhet, beskou dus sy beloofde seëninge as iets kosbaars en smag na die vervulling daarvan.—Romeine 8:19, 24, 25.
Baie lesers van hierdie tydskrif en sy medetydskrif, die Ontwaak!, geniet die kunswerk daarin wat die komende Paradysaarde uitbeeld. Ons weet natuurlik nie presies hoe die Paradysaarde gaan lyk nie, en die prente is bloot kunstenaarsvoorstellings wat op Skrifgedeeltes soos Jesaja 11:6-9 gebaseer is. Een Christenvrou het nietemin gesê: “Wanneer ek prente van die komende Paradys in Die Wagtoring en Ontwaak! sien, bestudeer ek hulle noukeurig, soos wat ’n mens met ’n reisbrosjure sou doen. Ek probeer om myself daar te sien, want dit is waar ek graag sal wil wees op God se bestemde tyd.”
Dit is ook hoe die apostel Paulus gevoel het oor sy “roeping na bo”. Hy het nie gemeen dat hy dit al verkry het nie, want hy moes tot die einde toe getrou bly. Maar hy het voortgegaan om hom ‘uit te strek na die dinge wat voor is’ (Filippense 3:13, 14). Jesus het eweneens die dood aan ’n folterpaal verduur “vir die vreugde wat hom voorgehou is”.—Hebreërs 12:2.
Het jy al ooit getwyfel of jy in die nuwe wêreld sal wees? Dit is beslis goed om nie oorgerus te wees nie, aangesien ons slegs die lewe as prys sal ontvang as ons tot die einde toe getrou bly (Matteus 24:13). Maar as ons ons bes doen om aan God se vereistes te voldoen, kan ons die vaste vertroue hê dat ons die beloning sal ontvang. Onthou dat Jehovah “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). As ons op Jehovah vertrou, sal hy ons help om ons doel te bereik. Trouens, dit is strydig met sy geaardheid om na redes te soek om diegene te diskwalifiseer wat hom opreg probeer behaag.—Psalm 103:8-11; 130:3, 4; Esegiël 18:32.
Die feit dat ons weet hoe Jehovah oor sy knegte voel, gee ons hoop—’n eienskap wat net so belangrik is soos geloof (1 Korintiërs 13:13). Die Griekse woord wat in die Bybel met “hoop” vertaal word, dra die gedagte oor van ’n gretige “verwagting van iets goeds”. Met so ’n hoop in gedagte, het die apostel Paulus geskryf: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê, sodat julle nie traag sal word nie, maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:11, 12). Let op dat ons, as ons voortgaan om Jehovah getrou te dien, seker kan wees dat ons hoop verwesenlik sal word. In teenstelling met talle wêreldse strewes, lei hierdie hoop “nie tot teleurstelling nie” (Romeine 5:5). Hoe kan ons dan ons hoop helder en in fokus hou?
Hoe om ons geestelike fokus te verskerp
Ons fisiese oë kan nie terselfdertyd op twee dinge fokus nie. Dieselfde geld vir ons geestelike sig. As ons ons oë gevestig hou op dinge van die teenswoordige stelsel, sal God se beloofde nuwe wêreld definitief in ons verstand ietwat uit fokus raak. Mettertyd sal hierdie dowwe beeld nie meer so begeerlik lyk nie en eenvoudig uit ons gesigsveld verdwyn. Dit sal beslis tragies wees! (Lukas 21:34). Hoe belangrik is dit dus dat ons ons ‘oog eenvoudig’ hou—altyd gevestig op God se Koninkryk en die beloning van die ewige lewe!—Matteus 6:22.
Dit is nie altyd maklik om jou oog eenvoudig te hou nie. Alledaagse probleme verg ons aandag, en daar kan afleidings—selfs versoekings—op ons weg wees. Hoe kan ons ons oë, onder hierdie omstandighede, op die Koninkryk en God se beloofde nuwe wêreld gevestig hou sonder om ander belangrike bedrywighede af te skeep? Kom ons kyk na drie maniere.
Bestudeer God se Woord daagliks. Gereelde Bybellees en ’n studie van Bybelpublikasies help ons om ons gedagtes op geestelike dinge gerig te hou. Ons bestudeer God se Woord moontlik al jare lank, maar ons moet voortgaan om dit te bestudeer, net soos ons fisiese voedsel moet bly inneem om ons lewe te onderhou. Ons hou nie op om te eet net omdat ons in die verlede al duisende maaltye geëet het nie. Ongeag hoe goed ons dus vertroud is met die Bybel, ons moet gereeld en voortdurend geestelike voedsel inneem om ons hoop helder en ons geloof en liefde sterk te hou.—Psalm 1:1-3.
Peins met waardering oor God se Woord. Waarom is bepeinsing onontbeerlik? Om twee redes. Eerstens stel bepeinsing ons in staat om wat ons lees, te verwerk en hartgrondige waardering daarvoor op te bou. Tweedens help bepeinsing ons om Jehovah, sy wonderlike werke en die hoop wat hy vir ons voorhou, nie te vergeet nie. Ter toeligting: Die Israeliete wat Egipte saam met Moses verlaat het, het met hulle eie oë gesien hoe Jehovah sy ontsagwekkende krag gebruik het. Hulle het ook sy liefdevolle beskerming ondervind terwyl hy hulle na hulle erfenis gelei het. Maar die Israeliete het op pad na die Beloofde Land nog skaars die wildernis bereik, toe hulle begin kla het en sodoende ’n ernstige gebrek aan geloof geopenbaar het (Psalm 78:11-17). Wat was hulle probleem?
Die volk het nie hulle oë gevestig gehou op Jehovah en die wonderlike hoop wat hy vir hulle in die vooruitsig gestel het nie, maar hulle het op hulle onmiddellike gerief en vleeslike bekommernisse begin konsentreer. Ondanks die wonderwerke en tekens waarvan hulle ooggetuies was, het baie Israeliete ongelowige klaers geword. “Gou het hulle [Jehovah se] werke vergeet”, sê Psalm 106:13. Sulke onverskoonbare nalatigheid het veroorsaak dat daardie geslag nie in die Beloofde Land ingegaan het nie.
Wanneer jy dus die Skrif of Bybelstudiehulpe lees, moet jy tyd opsy sit om te peins oor wat jy gelees het. Sulke bepeinsing is noodsaaklik vir jou geestelike gesondheid en vordering. Wanneer jy byvoorbeeld Psalm 106 lees, wat hierbo gedeeltelik aangehaal word, moet jy oor Jehovah se eienskappe peins. Let op hoe geduldig en barmhartig hy met die Israeliete was. Kyk hoe hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle te help om die Beloofde Land te bereik. Let op hoe hulle voortdurend teen hom in opstand gekom het. Stel jou Jehovah se pyn voor toe sy barmhartigheid en geduld tot die uiterste beproef is deur ’n gevoellose en ondankbare volk. Wanneer ons oor verse 30 en 31 peins, waar Pinehas se ferm, dapper standpunt vir regverdigheid beskryf word, word ons boonop verseker dat Jehovah nie sy lojale knegte vergeet nie en dat hy hulle ryklik beloon.
Pas Bybelbeginsels in jou lewe toe. Wanneer ons Bybelbeginsels volg, sien ons persoonlik dat Jehovah se raad werk. Spreuke 3:5, 6 sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Dink aan hoe die onsedelike lewenswyse van baie mense verstandelike, emosionele en fisiese probleme tot gevolg het. Omdat hulle hulle oorgee aan tydelike genietinge, ondervind sulke mense probleme wat jare lank—selfs lewenslank—kan duur. In skerp teenstelling hiermee, kry diegene wat op die ‘smal pad’ loop, ’n voorsmakie van lewe in die nuwe stelsel, en dit moedig hulle aan om op die pad na die lewe te bly.—Matteus 7:13, 14; Psalm 34:8.
Dit kan ’n uitdaging wees om Bybelbeginsels toe te pas. Soms lyk dit of ’n onskriftuurlike oplossing onmiddellike verligting kan bring in ’n moeilike situasie. Wanneer ons byvoorbeeld finansiële probleme ondervind, kan ons in die versoeking kom om Koninkryksbelange die tweede plek in ons lewe te gee. Maar diegene wat in geloof optree en hulle geestelike fokus behou, het die versekering dat dit uiteindelik “goed sal afloop met dié wat die ware God vrees” (Prediker 8:12). Soms moet ’n Christen dalk oortyd werk, maar hy moet nooit soos Esau word, wat geestelike dinge verag het, deur dit as iets onbelangriks af te maak nie.—Genesis 25:34; Hebreërs 12:16.
Jesus het ons verantwoordelikheid as Christene duidelik uiteengesit. Ons moet ‘aanhou om eers die koninkryk en God se regverdigheid te soek’ (Matteus 6:33). As ons dit doen, sal Jehovah sy vaderlike liefde teenoor ons betoon deur toe te sien dat ons die nodige materiële dinge het. Hy wil gewis nie hê dat ons ons moet belas met bekommernisse oor dinge waarvoor hy sê hy sal sorg nie. Sulke onnodige bekommernisse kan soos geestelike gloukoom wees—as ons nie iets daaromtrent doen nie, sal dit ons gesigsveld stadigaan inkort sodat ons net materiële sorge sal raaksien en uiteindelik geestelik blind sal word. As ons in daardie toestand bly, sal Jehovah se dag “soos ’n strik” oor ons kom. Hoe tragies sal dit tog wees!—Lukas 21:34-36.
Bly doelgerig soos Josua
Laat ons ons oë stip gevestig hou op ons wonderlike Koninkrykshoop en ander verantwoordelikhede op hulle plek hou. As ons volhou met studie, bepeinsing en die toepassing van Bybelbeginsels, sal ons soos Josua vol vertroue kan wees dat ons hoop verwesenlik sal word. Nadat hy Israel in die Beloofde Land ingelei het, het hy gesê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
Mag die Koninkrykshoop jou krag gee en mag dit jou dae ophelder terwyl dit in jou gedagtes, gevoelens, besluite en bedrywighede weerspieël word.—Spreuke 15:15; Romeine 12:12.
[Prent op bladsy 21]
Het jy al ooit getwyfel of jy in die nuwe wêreld sal wees?
[Prent op bladsy 22]
Bepeinsing is ’n noodsaaklike deel van Bybelstudie
[Prente op bladsy 23]
Hou jou oë gevestig op Koninkryksbelange