STUDIE 42
Leersaam vir jou gehoor
AS JY jou aanbieding leersaam vir jou gehoor wil maak, moet jy meer doen as om net oor ’n interessante onderwerp te praat. Vra jou af: ‘Waarom moet hierdie gehoor na hierdie onderwerp luister? Wat gaan ek sê wat die gehoor sal laat voel dat hulle werklik by die bespreking baat gevind het?’
As jy in die skool moet demonstreer hoe om vir iemand te getuig, sal jou huisbewoner jou gehoor wees. In ander gevalle sal jy moontlik met die hele gemeente praat.
Wat jou gehoor weet. Vra jou af: ‘Wat weet die gehoor van die onderwerp?’ Dit moet jou uitgangspunt bepaal. As jy met ’n gemeente met heelwat ryp Christene praat, moet jy nie net basiese waarhede, wat die meeste van hulle ken, herhaal nie. Bou voort op daardie grondwaarhede. As daar natuurlik baie nuwe belangstellendes teenwoordig is, moet jy die behoeftes van albei groepe in ag neem.
Pas die tempo van jou aanbieding aan by wat jou gehoor weet. As jy besonderhede insluit wat die meeste waarskynlik goed ken, moet jy dit redelik vinnig dek. Maar gaan stadiger wanneer jy gedagtes bespreek wat moontlik nuut is vir die meeste van dié wat na jou luister, sodat hulle dit goed kan begryp.
Wat leersaam sal wees. Om iets aan te bied wat leersaam is, beteken nie altyd dat ’n mens met iets nuuts vorendag moet kom nie. Party sprekers het die vermoë om sekere bekende waarhede so eenvoudig te stel dat baie in die gehoor dit vir die eerste keer ten volle sal verstaan.
In die veldbediening is dit nie genoeg om ’n nuusberig te noem om te toon dat ons in die laaste dae lewe nie. Gebruik die Bybel om die betekenis van die gebeurtenis te toon. Die huisbewoner sal dit werklik leersaam vind. Wanneer jy eweneens iets oor die natuurwette of oor die plant- of dierelewe noem, moet jou doel nie wees om aan die huisbewoner ’n fassinerende wetenskaplike feit mee te deel wat hy nog nooit gehoor het nie. Jou doel moet eerder wees om bewyse uit die natuur met verklarings in die Bybel te koppel om te toon dat daar wel ’n Skepper is wat vir ons lief is. Dit sal die huisbewoner help om sake uit ’n nuwe hoek te sien.
Dit kan ’n uitdaging wees om ’n onderwerp met ’n gehoor te bespreek wat al dikwels in die verlede daarna geluister het. Maar as jy ’n bekwame onderrigter wil wees, moet jy leer om dit op doeltreffende wyse te doen. Hoe kan dit gedoen word?
Navorsing sal jou help. Moenie sommer net die eerste die beste feite waaraan jy kan dink, in jou toespraak insluit nie, maar gebruik die navorsingshulpe wat op bladsye 33 tot 38 bespreek is. Hou daardie wenke oor die doelwitte wat jy moet probeer bereik, in gedagte. In jou navorsing sal jy dalk vind dat ’n minder bekende geskiedkundige gebeurtenis direk met jou onderwerp verband hou. Of jy vind dalk ’n onlangse aanhaling in die nuus wat die punt wat jy wil bespreek, sal toelig.
Terwyl jy die materiaal bestudeer, moet jy jou eie denke stimuleer deur vrae te vra soos wat? waarom? wanneer? waar? wie? en hoe? Byvoorbeeld: Waarom is dit waar? Hoe kan ek dit bewys? Watter gewilde opvattings maak dit vir party moeilik om hierdie Bybelwaarheid te verstaan? Waarom is dit belangrik? Hoe moet dit ’n mens se lewe raak? Watter voorbeeld lig die voordele daarvan toe as dit toegepas word? Wat openbaar hierdie Bybelwaarheid oor Jehovah se persoonlikheid? Na gelang van die materiaal wat jy bespreek, kan jy vra: Wanneer het dit gebeur? Hoe kan ons hierdie materiaal vandag prakties toepas? Jy kan jou toespraak selfs interessanter maak deur van hierdie vrae te stel en hulle dan gedurende jou toespraak te beantwoord.
Jy moet dalk tekste in jou toespraak bespreek wat jou gehoor goed ken. Wat kan jy doen om dit leersaam te maak? Moet dit nie net lees nie; verduidelik dit.
’n Bespreking van ’n bekende teks kan leersamer wees as jy die teks opbreek deur die dele wat met die tema van jou toespraak verband hou, uit te lig en dit dan te verduidelik. Kyk byvoorbeeld wat jy met ’n teks soos Miga 6:8 in die Nuwe Wêreld-vertaling kan doen. Wat is “geregtigheid”? Wie se standaard van geregtigheid word bespreek? Hoe sou jy toelig wat bedoel word met “om geregtigheid te beoefen”? Of “om goedhartigheid lief te hê”? Wat is beskeidenheid? Hoe sou jy die materiaal in die geval van ’n bejaarde toepas? Die materiaal wat jy gaan gebruik, moet natuurlik bepaal word deur faktore soos jou tema, jou doel, jou gehoor en die tyd wat jy beskikbaar het.
Eenvoudige definisies van woorde is dikwels nuttig. Vir sommige mense is dit ’n openbaring om uit te vind wat die “koninkryk” beteken waarna Matteus 6:10 verwys. Selfs iemand wat al lank ’n Christen is, kan gehelp word om ’n beter begrip te hê van wat ’n teks eintlik beteken as hy aan ’n definisie herinner word. Dit is duidelik wanneer ons 2 Petrus 1:5-8 lees en dan die verskillende elemente definieer wat in hierdie verse genoem word: geloof, deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde. Wanneer woorde wat mekaar in betekenis oorvleuel, in dieselfde konteks gebruik word, kan jy, deur hulle te definieer, help om die een van die ander te onderskei. Dit is waar in die geval van woorde soos wysheid, kennis, onderskeidingsvermoë en begrip, wat in Spreuke 2:1-6 gebruik word.
Jou gehoor sal dit dalk leersaam vind as jy eenvoudig oor ’n teks redeneer. Baie mense is verbaas wanneer hulle vir die eerste keer besef dat Genesis 2:7 in party Bybelvertalings van Adam as ’n lewende siel praat en dat siele volgens Esegiël 18:4 sterf. By een geleentheid het Jesus die Sadduseërs van stryk gebring deur te verwys na Eksodus 3:6, wat hulle gesê het hulle glo, en dit toe op die opstanding van die dooies toe te pas.—Luk. 20:37, 38.
Soms is dit insiggewend om melding te maak van die konteks van ’n teks, die omstandighede waaronder dit geskryf is en wie dit gesê het of vir wie dit gesê is. Die Fariseërs het Psalm 110 goed geken. En tog het Jesus hulle aandag op ’n belangrike punt in die eerste vers gevestig. Hy het gevra: “‘Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is hy?’ Hulle het vir hom gesê: ‘Dawid s’n.’ Hy het vir hulle gesê: ‘Hoe is dit dan dat Dawid hom deur inspirasie “Here” noem en sê: “Jehovah het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete stel’”? As Dawid hom dan “Here” noem, hoe is hy sy seun?’” (Matt. 22:41-45). Wanneer jy oor die Skrif redeneer soos Jesus gedoen het, sal jy mense help om God se Woord met groter aandag te lees.
Wanneer ’n spreker sê wanneer ’n Bybelboek geskryf is of wanneer ’n sekere gebeurtenis plaasgevind het, moet hy ook die toestande beskryf wat destyds geheers het. Só sal die gehoor die belangrikheid van die boek of die gebeurtenis beter verstaan.
Vergelykings kan help om wat jy sê, leersamer te maak. Jy kan ’n gewilde beskouing vergelyk met wat die Bybel oor dieselfde punt sê. Of jy kan twee parallelle Bybelverslae vergelyk. Is daar verskille? Waarom? Wat leer ons daaruit? Jy kan jou gehoor sodoende iets nuuts oor die onderwerp leer.
As jy die een of ander aspek van die Christelike bediening moet bespreek, kan jy jou aanbieding leersamer maak deur met ’n oorsig te begin. Bespreek wat gedoen moet word, waarom dit gedoen moet word en hoe dit met ons algemene doelwitte as Jehovah se Getuies verband hou. Verduidelik dan waar, wanneer en hoe om die werk te doen.
Sê nou jou toespraak vereis dat jy van “die diep dinge van God” bespreek? (1 Kor. 2:10). As jy begin deur sekere sleutelelemente van die onderwerp te identifiseer en te verduidelik, sal die besonderhede makliker verstaan word. En as jy afsluit deur ’n bondige oorsig van jou materiaal te gee, sal jou gehoor heel moontlik voel dat hulle werklik iets geleer het.
Raad oor die Christelike lewenswyse. Jou gehoor sal veral baat vind as jy hulle help om te sien hoe die inligting in jou toespraak op hulle lewe van toepassing is. Terwyl jy die tekste in jou toegewese materiaal bestudeer, kan jy jou afvra: ‘Waarom is hierdie inligting tot ons dag toe in die Skrif bewaar?’ (Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11). Dink aan situasies in die lewe waarmee die mense in jou gehoor te kampe het. Dink aan die spesifieke situasies in die lig van die raad en beginsels in die Skrif. Redeneer in jou toespraak uit die Skrif om te toon hoe dit ’n mens kan help om sulke situasies verstandig te hanteer. Moenie veralgemeen nie. Bespreek spesifieke gesindhede en dade.
Pas aan die begin een of twee van die bogenoemde wenke toe wanneer jy weer ’n toespraak voorberei. Namate jy ondervinding opdoen, kan jy meer daarvan toepas. Mettertyd sal jy vind dat die gehoor na jou toesprake sal uitsien omdat hulle weet dat hulle iets sal hoor waarby hulle werklik baat sal vind.