STUDIE 50
Poging om die hart te bereik
JY MOET nie net vir mense ’n getuienis gee nie, maar ook hulle hart probeer bereik. In die Bybel word die hart dikwels gestel teenoor wat ’n mens na die uiterlike is. Die figuurlike hart verteenwoordig die innerlike wese van ’n persoon—hoe hy voel, alles waaroor hy dink, waarom hy daaroor dink en hoe daardie gedagtes sy dade beïnvloed. Dit is in hierdie figuurlike hart waar die saad van waarheid gesaai word (Matt. 13:19). En gehoorsaamheid aan God moet ook uit die hart voortspruit.—Spr. 3:1; Rom. 6:17.
As jy wil hê dat jou onderrigting so diep moet deurdring, moet jy aandag skenk aan die volgende: (1) Stel vas watter dinge reeds ’n invloed gehad het op die hart van die persoon wat na jou luister. (2) Bou voort op positiewe eienskappe, soos liefde en godvrugtige vrees. (3) Spoor die persoon wat na jou luister, aan om die beweegredes van sy hart te ondersoek sodat hy Jehovah ten volle kan behaag.
Gebruik onderskeidingsvermoë. Die redes waarom mense nog nie die waarheid aangeneem het nie, verskil. Wanneer jy ’n tuisbybelstudie hou, sal jy moontlik vooroordeel uit die weg moet ruim en feite moet verstrek om verkeerde idees wat die student het, reg te stel, of jy moet dalk net bewyse voorsien. Vra jou af: ‘Is hierdie persoon bewus daarvan dat hy as mens geestelike behoeftes het? Hoeveel glo hy reeds? Wat glo hy nie? Waarom het hy tot daardie gevolgtrekkings gekom? Het hy hulp nodig om begeertes te bowe te kom wat hom daarvan kan weerhou om verantwoordelikhede te aanvaar wat met kennis van die waarheid gepaardgaan?’
Dit is nie altyd maklik om uit te vind waarom mense sekere dinge glo nie. “Raad in die hart van ’n man is soos diep waters”, sê Spreuke 20:5, “maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep.” Onderskeidingsvermoë is die vermoë om iets te begryp wat nie voor die hand liggend is nie. Dit verg fyn waarneming en besorgdheid.
Mense kommunikeer nie net deur middel van die gesproke woord nie. ’n Sekere onderwerp sal dalk ’n student se gesigsuitdrukking of stemtoon laat verander. As jy ’n ouer is, besef jy ongetwyfeld dat ’n verandering in jou kind se gedrag moontlik toon dat hy op ’n nuwe invloed in sy lewe reageer. Moenie hierdie tekens ignoreer nie. Dit is die innerlike mens wat hom openbaar.
Goed gekose vrae kan jou help om uit te vind wat in iemand se hart is. Jy kan vra: “Hoe voel jy oor . . . ?” “Wat het jou oortuig dat . . . ?” “Hoe sou jy reageer as . . . ?” Maar wees versigtig om mense nie met vrae te bestook nie. Voordat jy ’n vraag stel, kan jy taktvol sê: “Gee jy om as ek vra . . . ?” Om uit te vind wat in iemand se hart is, is ’n moeilike taak wat nie haastig gedoen kan word nie. In die meeste gevalle moet vertroue oor ’n tydperk opgebou word voordat iemand bereid is om sy diepste gevoelens te openbaar. Selfs dan moet ’n mens versigtig wees sodat die persoon nie voel dat jy oor dinge vra wat jou nie aangaan nie.—1 Pet. 4:15.
Die manier waarop jy reageer op wat jy hoor, vereis ook onderskeidingsvermoë. Onthou dat jou doel is om mense te verstaan sodat jy kan bepaal watter Bybelse inligting hulle waarskynlik sal motiveer. Onderdruk die begeerte om vir hulle te wys hoe verkeerd hulle beskouings is. Wees eerder daarop ingestel om die gevoelens agter hulle woorde te onderskei. Dan sal jy weet hoe jy moet antwoord; en omdat jou student voel dat jy hom verstaan, sal hy heel moontlik ernstig dink oor wat jy sê.—Spr. 16:23.
Jy kan mense tot ’n sekere mate motiveer, selfs wanneer jy ’n groot groep toespreek. As jy goeie kontak met jou gehoor het, op mense se gesigsuitdrukkings let en gedagteprikkelende retoriese vrae stel, sal jy waarskynlik agterkom hoe dié wat na jou luister, voel oor wat jy sê. As jy jou gehoor goed ken, moet jy hulle omstandighede in ag neem. Hou die algemene gesindheid van die gemeente in gedagte terwyl jy uit God se Woord met hulle redeneer.—Gal. 6:18.
Wek positiewe gevoelens. Wanneer jy tot ’n mate verstaan wat iemand glo, wat hy nie glo nie en wat die redes hiervoor is, sal jy daarop kan voortbou. Ná Jesus se opstanding het hy die harte van sy dissipels bereik deur ‘die Skrif ten volle vir hulle te open’ in verband met wat kort tevore gebeur het (Luk. 24:32). Jy moet ook die verband probeer verduidelik tussen wat iemand al ondervind het, wat hy begeer en wat hy in God se Woord sien. ’n Student se hart sal op ’n positiewe manier geraak word wanneer hy duidelik besef: “Dit is DIE WAARHEID!”
Wanneer jy die aandag vestig op Jehovah se goedheid, sy liefde, sy onverdiende goedhartigheid en die regverdigheid van sy weë, help jy diegene wat jy onderrig, om hulle liefde vir God op te bou. Wanneer jy tyd neem om aan dié wat na jou luister, te verduidelik watter goeie eienskappe God in hulle as individue sien, gee jy hulle rede om te glo dat ’n persoonlike verhouding met hom moontlik is. Dit kan gedoen word deur na te dink oor tekste soos Psalm 139:1-3, Lukas 21:1-4 en Johannes 6:44 en deur dié wat na jou luister, te help om die diepte van Jehovah se liefdevolle gehegtheid aan sy getroue knegte te verstaan (Rom. 8:38, 39). Verduidelik dat Jehovah verder as ons foute kyk en ons hele lewenswandel, ons ywer vir rein aanbidding en ons liefde vir sy naam sien (2 Kron. 19:2, 3; Heb. 6:10). Hy onthou selfs die fynste besonderhede van ons samestelling, en hy sal “almal wat in die gedenkgrafte is”, op ’n merkwaardige wyse weer lewend maak (Joh. 5:28, 29; Luk. 12:6, 7). Aangesien mense na die beeld en gelykenis van God geskep is, sal ’n bespreking van sy eienskappe dikwels die persoon se hart roer.—Gen. 1:27.
Die hart kan ook geraak word wanneer iemand leer om dieselfde beskouing van ander te hê as wat Jehovah van hulle het. Ons God betoon tere geneentheid teenoor ons as individue. Dit spreek dus vanself dat hy ook dieselfde bedagsaamheid teenoor ander betoon, ongeag hulle agtergrond, nasionaliteit of ras (Hand. 10:34, 35). Wanneer iemand dit begryp, het hy ’n vaste skriftuurlike grondslag om haat en vooroordeel uit sy hart te verwyder. Dit sal hom in staat stel om vreedsaam met ander oor die weg te kom terwyl hy leer om God se wil te doen.
Godvrugtige vrees is nog ’n gevoel wat jy ander moet help om aan te kweek (Ps. 111:10; Op. 14:6, 7). Sulke diepe eerbied, of vrees vir God, kan iemand help om dinge te vermag wat dalk nie in sy eie krag moontlik sou gewees het nie. Deur Jehovah se ontsagwekkende werke en sy uitsonderlike liefderyke goedhartigheid te bespreek, kan jy ander help om ’n heilsame vrees te ontwikkel om hom te mishaag.—Ps. 66:5; Jer. 32:40.
Maak seker dat dié wat na jou luister, verstaan dat hulle gedrag vir Jehovah van belang is. Hy het gevoelens, en deur die manier waarop ons op sy leiding reageer, maak ons hom hartseer of bly (Ps. 78:40-42). Wys vir mense waarom hulle gedrag ’n verskil kan maak aan die antwoord wat op Satan se uitdaging teen God gegee kan word.—Spr. 27:11.
Help jou gehoor om te sien dat dit hulle tot voordeel strek as hulle aan God se vereistes voldoen (Jes. 48:17). Een manier waarop dit gedoen kan word, is om te toon wat die fisiese en emosionele gevolge is as ’n mens God se wysheid selfs net vir ’n oomblik verwerp. Verduidelik hoe sonde ons van God vervreem, ander die geleentheid ontsê om die waarheid by ons te leer en hoe dit op ander maniere op hulle regte inbreuk maak (1 Tess. 4:6). Help jou gehoor om die seëninge wat hulle alreeds geniet omdat hulle God se wette onderhou, as iets kosbaars te beskou. Bou hulle waardering op vir die feit dat ons baie teëspoed gespaar word as ons in Jehovah se regverdige weë wandel. Wanneer iemand geloof stel in die wysheid van God se weë, sal enige weg wat in stryd is daarmee, hom met afkeer vervul (Ps. 119:104). Hy sal gehoorsaamheid nie as ’n las beskou nie, maar as ’n manier om liefdevolle toegewydheid aan Jehovah as ’n persoon te toon.
Help ander om ondersoek in te stel. Mense moet bewus word van wat in hulle harte is sodat hulle kan aanhou om geestelik te groei. Verduidelik hoe die Bybel hulle kan help om dit te doen.
Help dié wat na jou luister, om te besef dat die Bybel meer is as ’n verslag van gebooie, raad, geskiedkundige gebeure en profesieë. Dit openbaar ook God se gedagtes. In Jakobus 1:22-25 word God se Woord met ’n spieël vergelyk. Deur ons reaksie op wat dit sê en die manier waarop Jehovah sy voorneme uitvoer, openbaar die Bybel se boodskap as ’t ware wat in ons hart is. So toon dit hoe God, wat “die ondersoeker van harte” is, ons beskou (Spr. 17:3). Moedig dié wat na jou luister aan om dit in gedagte te hou. Spoor hulle aan om te peins oor wat God in die Bybelverslag vir ons bewaar het en watter aanpassings hulle moontlik in hulle lewe moet maak om hom in groter mate te behaag. Help hulle om Bybellees as ’n manier te beskou om Jehovah se siening van die “gedagtes en bedoelings van die hart” te kry sodat hulle met God kan saamwerk en enige nodige aanpassing kan maak.—Heb. 4:12; Rom. 15:4.
Party Bybelstudente wil dalk toepas wat hulle leer, maar hulle is bekommerd oor wat ander mense sal dink. Hulle worstel dalk met sterk vleeslike begeertes. Of miskien probeer hulle die situasie rasionaliseer sodat hulle ’n manier kan vind om God te dien terwyl hulle aan die gebruike van die wêreld vasklou. Verduidelik watter gevare sulke besluiteloosheid inhou (1 Kon. 18:21). Spoor hulle aan om tot God te bid om hulle harte te ondersoek en te louter.—Ps. 26:2; 139:23, 24.
Help hulle om te sien dat Jehovah hulle stryd verstaan en dat die Bybel verduidelik wat plaasvind (Rom. 7:22, 23). Help hulle om op hulle hoede te wees sodat hulle nie toelaat dat die neigings van ’n onvolmaakte hart hulle oorheers nie.—Spr. 3:5, 6; 28:26; Jer. 17:9, 10.
Moedig elkeen van hulle aan om die beweegredes vir sy dade te ontleed. Leer hom om hom af te vra: ‘Waarom wil ek dit doen? Sal dit vir Jehovah toon dat ek werklik waardering het vir alles wat hy vir my gedoen het?’ Werk om die oortuiging te versterk dat ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah die waardevolste ding is wat enigiemand kan hê.
Help jou gehoor om te besef wat dit beteken om Jehovah met hulle “hele hart” te dien (Luk. 10:27). Dit beteken dat al hulle gevoelens, begeertes en beweegredes met Jehovah se weë in ooreenstemming gebring moet word. Leer dus dié wat na jou luister, om nie net te ontleed wat hulle doen nie, maar ook hoe hulle oor God se vereistes voel en met watter beweegredes hulle hom dien (Ps. 37:4). Wanneer jou studente onderskei waarin hulle moet verbeter, kan jy hulle aanspoor om tot Jehovah te bid: “Verenig my hart om u naam te vrees.”—Ps. 86:11.
Wanneer ’n student ’n persoonlike verhouding met Jehovah opbou, sal hy God weens geloof gehoorsaam en nie bloot omdat jy hom aanspoor nie. Hy sal dan self “[aanhou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10; Fil. 2:12). Sulke opregte gehoorsaamheid maak Jehovah bly.—Spr. 23:15.
Onthou dat Jehovah die een is wat harte toets en mense na hom toe trek sodat hulle ’n verhouding met hom kan geniet (Spr. 21:2; Joh. 6:44). Ons rol is om ons samewerking te gee (1 Kor. 3:9). Dit is “asof God ’n dringende versoek deur ons doen” (2 Kor. 5:20; Hand. 16:14). Jehovah dwing niemand om die waarheid aan te neem nie, maar wanneer ons die Skrif gebruik, sal hy dié wat na ons luister, dalk laat besef dat wat hulle hoor, die antwoord op hulle vrae—of gebede—is. Benader elke geleentheid wat jy kry om ander te onderrig, met hierdie bewustheid, en smeek Jehovah vir sy leiding en hulp.—1 Kron. 29:18, 19; Ef. 1:16-18.