HOOFSTUK NEGE
Moenie ‘vir jou groot dinge soek’ nie
1, 2. (a) Voor watter probleem het Barug in die vierde jaar van Jojakim te staan gekom? (b) Hoe het Jehovah Barug gehelp?
BARUG, Jeremia se getroue sekretaris, het moeg geword. Dit was die vierde regeringsjaar van die goddelose koning Jojakim, of omstreeks 625 VHJ. Jeremia het vir die sekretaris gesê om al die woorde wat Jehovah deur die profeet oor Jerusalem en Juda gespreek het, woorde wat gedurende die 23 jaar van Jeremia se loopbaan tot op daardie stadium gespreek is, in ’n boekrol te skryf (Jer. 25:1-3; 36:1, 2). Barug het nie die inhoud van die boekrol onmiddellik aan die Jode voorgelees nie. Hy sou dit die volgende jaar doen (Jer. 36:9, 10). Maar het iets Barug gekwel?
2 “Wee my tog”, het Barug gekla, “want Jehovah het droefheid by my pyn gevoeg! Ek het moeg geword weens my gesug.” Jy het waarskynlik al soms gekla dat jy moeg is, hetsy hardop of net in jou hart. Hoe Barug dit ook al gedoen het, Jehovah het geluister. Die Ondersoeker van menseharte het geweet wat Barug se ontsteltenis veroorsaak het, en deur middel van Jeremia het God Barug liefdevol reggehelp. (Lees Jeremia 45:1-5.) Maar jy wonder dalk waarom Barug so moeg gevoel het. Was dit die toewysing wat hy ontvang het of miskien die omstandighede waarin hy dit moes uitvoer? Sy gevoelens het werklik uit sy hart opgebruis. Jy sien, Barug het ‘groot dinge gesoek’. Wat was hierdie dinge? Watter versekering het Jehovah hom gegee as hy God se raad en leiding sou aanvaar? En wat kan ons uit Barug se ondervinding leer?
WAT WAS HIERDIE “GROOT DINGE”?
3. Wat was die kern van Barug se geestelike probleem?
3 Barug het sekerlik geweet wat die “groot dinge” is. Die sekretaris het besef dat God se ‘oë op die weë van die mens is en dat hy al sy voetstappe sien’ (Job 34:21). Dit was nie die toewysing self wat Barug laat voel het dat hy “geen rusplek” gehad het terwyl hy Jeremia se profetiese woorde neergeskryf het nie. Dit was sy eie beskouing van wat skynbaar groot is—dit wat in sy hart was. Omdat Barug so besig was om vir hom “groot dinge” te soek, het hy die belangriker dinge uit die oog verloor, dié wat te doen gehad het met die uitvoering van God se wil (Fil. 1:10). Die Nuwe Wêreld-vertaling bring die fyn nuanse van die werkwoord wat gebruik is, na vore en vertaal dit met “aanhou soek”. Dit was dus nie ’n vlietende, terloopse gedagte nie. Barug het alreeds “groot dinge” gesoek toe Jehovah hom gewaarsku het om daarmee op te hou. Hoewel Jeremia se getroue sekretaris God se wil gedoen het, het hy terselfdertyd daarna gesmag om “groot dinge” te hê.
4, 5. Waarom het Barug se “groot dinge” moontlik roem en aansien ingesluit, en waarom was Jehovah se waarskuwing gepas?
4 Een van Barug se strewes het moontlik te doen gehad met roem en aansien. Hoewel Barug as skrywer vir Jeremia gedien het, was hy moontlik nie net ’n persoonlike sekretaris vir Jeremia nie. In Jeremia 36:32 word Barug “die sekretaris” genoem. Argeologiese bewyse dui daarop dat hy die posisie van ’n hoë koninklike amptenaar beklee het. Trouens, dieselfde titel word vir “die sekretaris Elisama” gebruik, wat onder Juda se vorste genoem is. Dit gee te kenne dat Barug as een van Elisama se kollegas ook toegang tot “die eetkamer van die sekretaris” in “die huis van die koning” gehad het (Jer. 36:11, 12, 14). Barug was dus ongetwyfeld ’n geleerde amptenaar in die koningshuis. Seraja, sy broer, het die amp beklee van kwartiermeester vir koning Sedekia en het die koning op ’n belangrike sending na Babilon vergesel. (Lees Jeremia 51:59.) As kwartiermeester moes Seraja waarskynlik omsien na die voorraad en verblyf vir die koning wanneer hy gereis het; inderdaad ’n hoë posisie.
5 Jy kan verstaan dat iemand wat gewoond was aan ’n hoë posisie, moeg kon word om die een veroordelende boodskap ná die ander teen Juda neer te skryf. Trouens, sy ondersteuning van God se profeet kon Barug se posisie en loopbaan in gevaar gestel het. En dink aan die gevolge as Jehovah sou afbreek wat hy opgebou het, soos ons in Jeremia 45:4 lees. Die “groot dinge” wat Barug in gedagte gehad het—hetsy dit groter eer in die koninklike hof of materiële voorspoed was—sou moontlik tevergeefs wees. As Barug ’n veilige posisie in die gedoemde Joodse stelsel van destyds gesoek het, het God rede gehad om hom van hierdie neiging te weerhou.
6, 7. Aan watter parallelle kan ons dink as Barug se “groot dinge” om materiële besittings gedraai het?
6 Maar Barug se “groot dinge” kon materiële voorspoed ingesluit het. Die nasies om Juda het grootliks staatgemaak op besittings en rykdom. Moab het op sy ‘werke en skatte’ vertrou. So ook Ammon. En Jehovah het Jeremia Babilon laat beskryf as “ryk aan skatte” (Jer. 48:1, 7; 49:1, 4; 51:1, 13). Maar die feit is dat God hierdie nasies veroordeel het.
7 As Barug dan eiendom en rykdom gesoek het, kan jy verstaan waarom Jehovah hom daarteen gewaarsku het. Wanneer God ‘sy hand sou uitsteek teen’ die Jode, sou hulle huise en landerye aan hulle vyande gegee word (Jer. 6:12; 20:5). Gestel jy het gedurende dieselfde tyd as Barug in Jerusalem gewoon. Die meeste van jou landgenote—insluitende vorste, priesters en die koning self—het gevoel dat hulle teen die invallende Babiloniërs moet veg. Maar jy het te hore gekom van Jeremia se boodskap: “Dien die koning van Babilon en bly lewe” (Jer. 27:12, 17). Sou dit, as jy baie besittings in die stad gehad het, vir jou makliker gewees het om God se bevel te gehoorsaam? Sou jou gevoelens oor daardie besittings jou meer geneig gemaak het om op Jeremia se waarskuwing ag te slaan of om die weg van die meerderheid te volg? Die feit is dat al die waardevolle dinge in Juda en Jerusalem, met inbegrip van dié in die tempel, geplunder en na Babilon geneem is. Dit sou dus niks gebaat het om materiële gewin na te jaag nie (Jer. 27:21, 22). Is daar ’n les hierin?
Hoe het Jehovah Barug se neiging om “groot dinge” te soek, liefdevol reggestel? Waarom dink jy dat dit wys is om teregwysing van God te aanvaar?
“EK SAL JOU SIEL VIR JOU AS BUIT GEE”
8, 9. Waarom sou jy sê dat dit betekenisvol is dat Barug sy siel as buit ontvang het?
8 Beskou nou hierdie aspek: Wat sou Barug ontvang as hy God se bevel gehoorsaam het? Sy siel! Hy is daarvan verseker dat dit vir hom “as buit” gegee sou word. (Lees Jeremia 45:5.) Betreklik min mense is gespaar. Wie? Dié wat God se bevel gehoorsaam het om na die Galdeërs oor te loop, oftewel hulle aan hulle oor te gee (Jer. 21:9; 38:2). Party wonder dalk: ‘Is dit ál wat hulle vir hulle gehoorsaamheid gegee is?’
9 Wel, dink aan die toestand van Jerusalem gedurende die beleëring deur Babilon. Jerusalem is stadigaan verskroei in die hitte van hierdie beleëring. Daarenteen is Sodom as ’t ware in ’n oomblik omvergewerp. Daar kan gesê word dat Sodom se vernietiging in sekere sin makliker was om te verduur (Klaagl. 4:6). Barug het die profesie opgeteken dat die inwoners van Jerusalem deur die swaard, die hongersnood of die pes sou sterf. Toe het hy ongetwyfeld die vervulling daarvan gesien. Al die kos in Jerusalem het opgeraak. Wat ’n skok was dit tog om in ’n stad te wees waar moeders, wat van nature ‘medelydend’ is, hulle eie kinders gekook en geëet het! (Klaagl. 2:20; 4:10; Jer. 19:9). Maar Barug het behoue gebly. Ja, te midde van hierdie beroering was die lewe self buit, soos ’n beloning vir oorwinnaars ná ’n veldslag. Dit is duidelik dat Barug wel God se raad om nie “groot dinge” te soek nie, aanvaar en gevolg het. En hy het Jehovah se guns verkry, soos blyk uit die feit dat hy behoue gebly het.—Jer. 43:5-7.
SAL JY “GROOT DINGE” SOEK?
10, 11. Hoe hou die verslag oor Barug met ons dag en met ons persoonlik verband?
10 Hoewel Barug besig was om God se wil te doen, het hy ’n ruk lank geworstel met ’n begeerte na “groot dinge”. Jehovah het hom teen die gevaar gewaarsku, en hy is gered van geestelike rampspoed en fisiese dood. Kan ons, soos Barug, deur begeertes diep in ons hart versoek en miskien oorweldig word, selfs terwyl ons bedrywig is in Jehovah se diens?
11 Vir Barug was dit miskien werklik ’n versoeking om vir hom ’n naam te maak. Kan jy jou voorstel dat hy dalk selfs gewonder het: ‘Sal ek my werk as “die sekretaris” kan behou? Kan ek selfs ’n hoër posisie bekom?’ En wat van ons? Vra jou af: ‘Koester ek “ambisies”, miskien diep in my hart, om nou of in die nabye toekoms ’n sukses van ’n wêreldse loopbaan te maak?’ Party jonger Christene kan nadink oor die vraag: ‘Kan die vooruitsig om aansien en finansiële sekuriteit deur middel van akademiese prestasies te verkry, my dalk verlok om vir my “groot dinge” te soek?’
12. Hoe het een broer groot dinge vir Jehovah gesoek, en wat dink jy van sy keuse?
12 ’n Broer wat nou by die wêreldhoofkwartier dien, was 15 toe hy ’n beurs aangebied is om universiteit toe te gaan. Tot sy onderwysers se ontsteltenis het hy nie hierdie aanbod aanvaar nie, want hy het ’n loopbaan in die pionierdiens verkies. Tog het hy nooit sy begeerte om te leer, verloor nie. Hy het ’n sendeling op ’n afgeleë eiland geword. Daar moes hy ’n taal leer wat deur net meer as 10 000 mense gepraat word. Omdat daar geen woordeboek in hierdie taal was nie, het hy op sy eie ’n woordelys opgestel. Hy het uiteindelik die taal bemeester en is gevra om van ons Christelike publikasies te vertaal. Later is die woordelys wat hy opgestel het, gebruik as ’n grondslag vir die eerste woordeboek in hierdie taal. Hy het eenkeer vir ’n groot gehoor by ’n streekbyeenkoms gesê: “As ek die universiteitsopleiding aanvaar het, sou enige akademiese werke wat ek voortgebring het, my tot eer gestrek het. Maar nou het ek hoegenaamd geen sekulêre kwalifikasies nie. Ek ontvang dus nie die eer vir wat ek gedoen het nie. Jehovah kry al die eer” (Spr. 25:27). Wat dink jy van die keuse wat hy gemaak het toe hy 15 was? Deur die jare heen het hy baie voorregte onder God se volk geniet. Hoe wil jy jóú talente gebruik? Is jy vasbeslote om dit te gebruik om Jehovah te loof eerder as om jou eie heerlikheid te soek?
13. Waarom moet party ouers peins oor die uitdaging waarvoor Barug te staan gekom het?
13 Daar is ’n verwante gevaar: om “groot dinge” te soek vir of deur middel van persone vir wie ons lief is en kan beïnvloed. Jy het waarskynlik al gesien hoe wêreldse ouers sake so bewerkstellig dat hulle kind meer in die lewe bereik as wat hulle bereik het of iemand word met wie hulle kan spog. Miskien het jy al kommentare gehoor soos: “Ek wil nie hê dat hy (of sy) so hard moet werk soos ek moes werk nie” of “Ek wil hê dat my kind universiteit toe moet gaan sodat hy ’n makliker lewe sal hê”. Christenouers voel dalk ook so. ’n Persoon sê miskien wel: ‘Ek soek nie vir my groot dinge nie.’ Maar doen hy dit dalk deur middel van iemand anders, byvoorbeeld ’n seun of ’n dogter? Soos Barug dalk in die versoeking gekom het om aansien deur middel van sy posisie of loopbaan te soek, kan ’n ouer dit innerlik deur middel van sy kinders se prestasies soek. Maar sal “die ondersoeker van harte” dit nie besef, net soos hy dit in Barug se geval besef het nie? (Spr. 17:3). Moet ons nie, soos Dawid, vir God vra om ons diepste gedagtes te ondersoek nie? (Lees Psalm 26:2; Jeremia 17:9, 10.) Jehovah kan verskillende maniere gebruik, soos hierdie bespreking oor Barug, om ons aandag te vestig op die gevaar om “groot dinge” te soek.
Wat was moontlik een manier waarop Barug “groot dinge” gesoek het? Watter les leer jy hieruit?
DIE STRIK VAN “WAARDEVOLLE DINGE”
14, 15. Hoe kan rykdom in ons geval “groot dinge” word?
14 Dink aan die moontlikheid dat Barug se “groot dinge” materiële rykdom was. Soos vroeër gemeld is, sou dit waarskynlik vir Barug, as hy baie geheg was aan sy besittings en eiendomme in Juda, moeilik gewees het om God se opdrag te gehoorsaam om hom aan die Galdeërs oor te gee. Jy het heel moontlik al gesien dat die ryk man dikwels op sy “waardevolle dinge” staatmaak, maar die Bybel bevestig dat die beskerming wat sulke dinge bied, “in sy verbeelding” is (Spr. 18:11). Al Jehovah se knegte kan daarby baat vind deur hulle te herinner aan die gebalanseerde beskouing van materiële dinge wat in sy Woord gevind word. (Lees Spreuke 11:4.) Maar party redeneer dalk: ‘Waarom sal ek nie ’n paar van die dinge geniet wat die wêreld bied nie?’
15 ’n Gehegtheid aan besittings kan by ’n Christen ’n begeerte laat ontstaan na dinge wat deel is van ’n verbygaande stelsel van dinge. Dit was nie die geval met Jeremia of Barug nie. Jare later het Jesus ’n waarskuwing gerig aan die mense wat sou lewe “wanneer die Seun van die mens geopenbaar . . . word”. Jesus het vir hulle gesê: “Dink aan die vrou van Lot.” Dit sal net so gepas wees om Christene aan te spoor: ‘Dink aan Jeremia en Barug’ (Luk. 17:30-33). As ons baie geheg raak aan materiële dinge, kan dit vir ons moeilik wees om Jesus se woorde toe te pas. Maar moenie vergeet nie—Barug het God se waarskuwing ter harte geneem en gevolglik bly lewe.
16. Meld ’n situasie waarin God se knegte materiële dinge op hulle regte plek gehou het.
16 Beskou die situasie van die broers in Roemenië gedurende die kommunistiese regime. Terwyl regeringsagente klopjagte op die huise van Getuies uitgevoer het, het hulle soms beslag gelê op persoonlike besittings, veral dinge wat hulle kon verkoop (Klaagl. 5:2). Baie broers en susters onder daardie regime was bereid om hulle besittings te verloor. Party moes hulle besittings en eiendom agterlaat toe hulle hervestig is; hulle het nietemin hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf. Sal jy, as jy voor so ’n toets te staan kom, toelaat dat jou gehegtheid aan materiële dinge jou verhinder om aan God lojaal te bly?—2 Tim. 3:11.
17. Hoe was party tydgenote van Jeremia en Barug hulle moontlik van hulp?
17 Dit is opmerkenswaardig dat Jeremia en Barug ondersteuning van party van hulle tydgenote ontvang het. Sefanja het geprofeteer gedurende die heerskappy van Josia, toe Jeremia as ’n profeet gedien het. Wat sou Jeremia gedink het van die woorde wat ons in Sefanja 1:18 vind? (Lees.) En kan jy jou nie net voorstel hoe Jeremia hierdie geïnspireerde insig aan Barug oorgedra het nie? Nog ’n tydgenoot was Esegiël, wat in 617 VHJ as ’n gevangene na Babilon weggevoer is. Party van sy bedrywighede en boodskappe het regstreeks verband gehou met die Jode wat in hulle vaderland was; gevolglik het Jeremia waarskynlik te wete gekom wat Esegiël gesê en gedoen het en omgekeerd. Dit sal die woorde insluit wat in Esegiël 7:19 opgeteken staan. (Lees.) Net soos Jeremia en Barug by hierdie geïnspireerde woorde kon baat vind, kan ons ook. Mense sal hulle gode aanroep om hulle op Jehovah se dag te red. Maar nie hulle gode of hulle rykdom sal hulle red nie.—Jer. 2:28.
SAL JY ‘JOU SIEL AS BUIT’ ONTVANG?
18. Wie se “siel” moet ons as buit wil ontvang, en hoe kan ons dit doen?
18 Ons moet onthou dat dit ons “siel” is wat Jehovah as buit belowe het. Al sou ’n paar van sy knegte sterf in die vervolging wat moontlik gedurende “die groot verdrukking” sal ontstaan wanneer die politieke horings van die wilde dier godsdiens aanval, sal hierdie getroues in werklikheid niks verloor nie. Hulle “siel” sal verseker weer lewe om “die werklike lewe” in die nuwe wêreld te geniet (Op. 7:14, 15; 1 Tim. 6:19). Maar ons kan gerus wees dat die meeste van God se knegte wat gedurende daardie tyd getrou bly, uit die groot verdrukking sal kom. Jy kan seker wees dat daar geen getroue persoon sal wees onder “dié wat deur Jehovah omgebring is” wanneer God rampspoed oor die nasies bring nie.—Jer. 25:32, 33.
Kies wat werklik waardevol is (Vergelyk bladsy 46.)
19. Hoe het die bespreking van die voorbeelde van Jeremia en Barug jou meer vasbeslote gemaak om nie vir jou “groot dinge” te soek nie?
19 Vir party is dit dalk ontnugterend om te dink dat hulle miskien net met hulle “siel” as buit behoue sal bly, maar dit behoort in werklikheid geen teleurstelling te wees nie. Onthou, terwyl mense in Jerusalem weens die hongersnood gesterf het, het Jehovah Jeremia aan die lewe gehou. Hoe? Koning Sedekia het Jeremia in die Voorhof van die Lyfwag onder bewaking gestel en “daagliks vir hom ’n ronde brood uit die straat van die bakkers [laat gee], totdat al die brood in die stad op was” (Jer. 37:21). En Jeremia het behoue gebly! Jehovah kan enige manier wat hy goeddink, gebruik om sy volk te bewaar. Maar hy sal sy volk beslis bewaar, want hulle vooruitsig op die ewige lewe is verseker. Barug het die vernietiging van Jerusalem oorleef deur nie “groot dinge te soek” nie. Net so kan ons daarna uitsien om Armageddon te oorleef en Jehovah te loof met ons “siel” as buit wat eindeloos geniet kan word.
Waarom is dit vandag verstandig om nie “groot dinge” te soek nie, maar om daarna te streef om ons “siel” as buit te ontvang?