HOOFSTUK AGT
Sal jy, soos Jeremia, “bly lewe”?
1, 2. Waarom is dit logies om aandag te skenk aan die persoon sowel as die gesin?
NADAT Josua die Israeliete aangespoor het om te kies wie hulle sal dien, het hy gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Jos. 24:15). Josua was vasbeslote om aan God lojaal te wees, en hy was seker dat sy gesin ook lojaal sou wees. Baie later, toe Jerusalem se vernietiging nader gekom het, het Jeremia vir koning Sedekia gesê wat sou gebeur as hy hom aan die Babiloniërs oorgee: “Jy en jou huisgesin sal beslis bly lewe” (Jer. 38:17). Die koning se slegte keuse het hom, sy vrouens en sy seuns geraak. Sy seuns is voor sy oë doodgemaak; toe is hy verblind en in gevangenskap na Babilon weggevoer.—Jer. 38:18-23; 39:6, 7.
2 In albei hierdie gekursiveerde frases was een persoon regstreeks betrokke. Maar sy gesin is ook gemeld. Dit is logies. Elke volwassene is voor God aanspreeklik. Maar die meeste Israeliete was deel van ’n gesin. Die gesin is ook vir Christene belangrik. Ons sien dit uit wat ons in die Bybel lees en uit wat ons by Christelike vergaderinge oor die huwelik, die grootmaak van kinders en respek vir gesinslede bespreek.—1 Kor. 7:36-39; 1 Tim. 5:8.
’N BUITENGEWONE BEVEL
3, 4. In watter opsigte het Jeremia se situasie verskil van dié van die meeste mense, en hoe het dit hom tot voordeel gestrek?
3 Jeremia was iemand wat wel in sy dag “bly lewe” het. Hy het Jerusalem se vernietiging oorleef, al het sy persoonlike situasie verskil van dié van die meeste mense (Jer. 21:9; 40:1-4). God het vir hom gesê om nie te trou of kinders te hê of deel te neem aan sekere ander algemene aspekte van die Joodse lewe van destyds nie.—Lees Jeremia 16:1-4.
4 In Jeremia se dag en kultuur was dit normaal om te trou en kinders te hê. Die meeste Joodse mans het dit gedoen en het sodoende die voorvaderlike grond in die stam en familie gehou (Deut. 7:14).a Waarom nie Jeremia nie? As gevolg van wat voorgelê het, het God hom aangesê om nie aan normale geleenthede vir droefheid of vreugde deel te neem nie. Hy moes nie treurendes vertroos of ná ’n begrafnis saam met hulle eet nie; hy moes ook nie deel hê aan die lughartigheid van Joodse bruilofte nie. Sulke feesviering en verheuging sou weldra vir almal tot ’n einde kom (Jer. 7:33; 16:5-9). Jeremia se lewenswyse het geloofwaardigheid aan sy boodskap verleen en beklemtoon hoe ernstig die komende oordeel sou wees. Uiteindelik het hierdie rampspoed gekom. Kan jy jou voorstel hoe diegene gevoel het wat hulle tot kannibalisme moes wend of wat gesien het hoe geliefdes blote aas word? (Lees Jeremia 14:16; Klaagl. 2:20.) Ons hoef die ongetroude Jeremia dus nie jammer te kry nie. Hoewel die 18 maande lange beleëring en die gevolglike slagting gesinne sou uitwis, sou Jeremia die verlies van ’n huweliksmaat of kinders gespaar word.
5. Hoe raak die bevele in Jeremia 16:5-9 Christene?
5 Maar kan daar gesê word dat Jeremia 16:5-9 op ons van toepassing is? Nee. Christene word aangespoor om “dié wat in enige soort verdrukking is, [te] vertroos” en om “bly [te wees] saam met mense wat bly is” (2 Kor. 1:4; Rom. 12:15). Jesus het ’n bruilof bygewoon en tot die vreugde bygedra. Wat vir hierdie goddelose stelsel van dinge voorlê, is egter ernstig. Christene sal moontlik selfs teëspoed en ontberinge deurmaak. Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om bereid te wees om te doen wat ook al nodig is om te volhard en getrou te bly, net soos ons broers wat in die eerste eeu uit Judea gevlug het. Om ongetroud te bly, om te trou of om kinders te hê, is dus dinge waaroor daar ernstig nagedink moet word.—Lees Matteus 24:17, 18.
6. Wie kan daarby baat vind om na te dink oor God se bevel aan Jeremia?
6 Wat kan ons leer uit God se bevel dat Jeremia nie moes trou of kinders hê nie? Vandag is party lojale Christene ongetroud of kinderloos. Wat kan hulle uit Jeremia se geval leer? En waarom moet selfs Christene wat getroud is en kinders het, aandag skenk aan hierdie aspek van Jeremia se lewe?
7. Waarom verdien die feit dat Jeremia kinderloos moes bly, vandag ons aandag?
7 Beskou eers die feit dat Jeremia kinderloos moes bly. Jesus het nie sy volgelinge beveel om nie kinders te hê nie. Dit is egter opmerkenswaardig dat hy “wee” uitgespreek het oor swanger vroue of dié wat ’n baba soog wanneer verdrukking in 66-70 HJ oor Jerusalem sou kom. Dit sou vir hulle ’n baie moeilike tyd wees as gevolg van hulle situasie (Matt. 24:19). Ons staar nou ’n groter verdrukking in die gesig. Dit is iets waaroor Christenegpare wat moet besluit of hulle kinders gaan hê of nie, ernstig moet nadink. Stem jy nie saam dat dit lyk of dit al hoe moeiliker word om deur hierdie kritieke tye te kom nie? En egpare erken dat dit ’n groot uitdaging is om kinders groot te maak wat deur die einde van die teenswoordige stelsel heen sal “bly lewe”. Hoewel elke egpaar moet besluit of hulle kinders sal hê of nie, is dit die moeite werd om aan Jeremia se geval aandag te skenk. Maar wat van God se opdrag dat hy nie eens moes trou nie?
Watter buitengewone opdrag het Jeremia ontvang, en waaraan moet dit ons beweeg om aandag te skenk?
LEER UIT JEREMIA SE ONGETROUDE LEWE
8. Waarom kan ons sê dat dit nie noodsaaklik is om te trou om God te behaag nie?
8 Toe God vir Jeremia gesê het dat hy nie moet trou nie, het hy nie ’n standaard vasgestel wat al sy knegte moes volg nie. Die huwelik is goed. Jehovah het die huwelik onder die mens ingestel om die aarde te bevolk en om ’n bron van groot bevrediging en vreugde te wees (Spr. 5:18). Maar nie almal was getroud nie. Toe Jeremia geprofeteer het, was daar moontlik eunugs verbonde aan God se volk.b En jy kan seker wees dat daar weduwees en wewenaars was. Jeremia was dus nie die enigste ware aanbidder wat nie ’n huweliksmaat gehad het nie. Hy het natuurlik ’n rede gehad waarom hy nie getrou het nie, en vandag is dit ook die geval met party Christene.
9. Oor watter geïnspireerde raad oor die huwelik moet ons ernstig nadink?
9 Baie Christene trou wel, maar nie almal nie. Jy weet dat Jesus nie getrou het nie, en hy het gesê dat party dissipels die gawe sou hê om in hulle verstand en hart vir die ongetroude lewe ‘plek te maak’. Hy het diegene wat dit kan doen, aangespoor om dit te doen. (Lees Matteus 19:11, 12.) Dit sal dus gepas wees om diegene wat ongetroud bly sodat hulle meer in God se diens kan doen, te prys, nie te terg nie. Dit is so dat party Christene, ten minste ’n ruk lank, weens omstandighede ongetroud bly. Byvoorbeeld, hulle het miskien nie ’n geskikte Christenmaat gevind nie, en hulle vasbeslotenheid om te bly by God se standaard om “net in die Here” te trou, is prysenswaardig (1 Kor. 7:39). En party van God se knegte is natuurlik weduwees of wewenaars en is dus ongetroud.c Hulle moet nooit vergeet dat God (en Jesus) al lank besorgdheid oor sulke ongetroude persone toon nie.—Jer. 22:3; lees 1 Korintiërs 7:8, 9.
10, 11. (a) Wat het Jeremia gehelp om ’n sukses van die ongetroude lewe te maak? (b) Hoe bevestig hedendaagse ondervindinge dat diegene wat ongetroud bly, ’n vervullende lewe kan hê?
10 Terwyl Jeremia ongetroud gebly het, kon hy dus staatmaak op God se ondersteuning. Hoe? Wel, onthou dat Jeremia behae geskep het in Jehovah se woord. Dit sou vir Jeremia deur die dekades heen ’n bron van krag en versekering gewees het terwyl hy hom toegelê het op sy godgegewe bediening. Verder het hy sorgvuldig die geselskap vermy van diegene wat hom miskien sou spot omdat hy ongetroud is. Hy was bereid om eerder ‘heeltemal alleen te sit’ as om tussen mense met sulke neigings te wees.—Lees Jeremia 15:17.
11 Baie ongetroude Christene—mans en vroue, hetsy jonk of gevorderd in jare—volg Jeremia se goeie voorbeeld. Ondervindinge toon hoe nuttig dit is om ten volle by God se diens betrokke te wees, om ’n groot aandeel aan betekenisvolle geestelike bedrywighede te hê. Byvoorbeeld, ’n Getuie wat in ’n Chineessprekende gemeente dien, sê: “Die pionierdiens maak my lewe doelgerig. As ’n ongetroude suster lei ek ’n besige, bedrywige lewe, wat my help om eensaamheid te vermy. Aan die einde van elke dag voel ek tevrede, want ek kan sien dat my bediening mense werklik help. Dit verskaf my groot vreugde.” ’n Agt-en-dertigjarige pionier sê: “Ek dink die sleutel tot geluk is om die positiewe aspekte te geniet van enige situasie waarin jy jou bevind.” ’n Ongetroude Christen in Suid-Europa het openlik gesê: “My lewe het miskien nie presies verloop soos ek beplan het nie, maar ek is gelukkig en sal gelukkig bly.”
12, 13. (a) Wat is ’n realistiese beskouing van die ongetroude lewe sowel as die huwelik? (b) Wat beklemtoon Paulus se lewe en raad omtrent die ongetroude lewe?
12 Het Jeremia dalk opgemerk dat sy lewe nie verloop het soos hy beplan het terwyl hy grootgeword het nie? Maar hy het miskien wyslik gesien dat dit ook die geval is met baie wat trou en kinders het. ’n Pionier in Spanje het hierdie insiggewende stelling gemaak: “Ek ken getroude mense wat gelukkig is en ander wat ongelukkig is. Hierdie werklikheid oortuig my dat my geluk nie daarvan afhang of ek in die toekoms trou of nie.” Jeremia se ondervinding—net een van duisende—bewys sonder twyfel dat iemand wat ongetroud is, ’n vol, vervullende, gelukkige lewe kan lei. Ons het verdere bevestiging van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is as hulle bly soos ek is” (1 Kor. 7:8). Paulus was moontlik ’n wewenaar. Hoe dit ook al sy, hy was ongetroud toe hy soveel in die sendingdiens gedoen het (1 Kor. 9:5). Is dit nie redelik om tot die slotsom te kom dat dit vir hom voordelig was om ongetroud te wees nie? Vir hom het dit “volgehoue diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word”, en hy het dus baie bereik.—1 Kor. 7:35.
13 Paulus is geïnspireer om nog iets by te voeg: “Diegene wat wel trou, sal . . . verdrukking in hulle vlees hê.” God het Paulus hierdie belangrike waarheid laat insluit: “As iemand in sy hart vasstaan . . . om sy maagdelikheid te bewaar, . . . sal hy goed doen. Gevolglik doen ook hy wat sy maagdelikheid in die huwelik gee goed, maar hy wat dit nie in die huwelik gee nie, sal beter doen” (1 Kor. 7:28, 37, 38). Jeremia het nooit hierdie woorde gelees nie, maar sy lewenswyse oor dekades heen bewys dat ’n mens wel ’n vervullende lewe in God se diens kan hê al is jy ongetroud. Trouens, dit kan grootliks bydra tot ’n baie sinvolle lewe wat om ware aanbidding draai. Koning Sedekia was getroud, maar het nie ag geslaan op Jeremia se raad en “bly lewe” nie, terwyl die ongetroude profeet ’n weg gevolg het wat hom in staat gestel het om dit te doen.
Wat kan jy leer uit die voorbeeld wat Jeremia gestel het deur dekades lank ongetroud te bly?
VERKWIK EN WORD VERKWIK
14. Wat word deur die verhouding tussen Aquila se gesin en Paulus beklemtoon?
14 Soos vroeër gemeld is, het die meeste mans en vroue in Jeremia se dag getrou en was hulle deel van gesinne. Dit was ook die geval in Paulus se dag. Die meeste Christene met gesinne kon ongetwyfeld nie soos Paulus aan die bediening in die buiteland deelneem nie, maar hulle het baie werk in hulle plaaslike gebied gehad. Dit het ingesluit om ’n seën vir ongetroude broers en susters te wees. Onthou, toe Paulus in Korinte aangekom het, het Aquila en Priscilla hom in hulle huis verwelkom en saam met hom in hulle gemeenskaplike ambag gewerk. Maar dit was nie al nie. Die vriendskap wat Aquila se gesin aan Paulus gebied het, sou beslis verkwikkend gewees het. Dink aan die aangename etes wat hulle saam geniet het en aan ander geleenthede van hartlike omgang. Het Jeremia by soortgelyke assosiasie baat gevind? Hy het sy ongetroude lewe in God se diens gebruik, maar ons hoef nie aan hom te dink as ’n kluisenaar nie. Hy kon hartlike omgang geniet het met gesinne van toegewyde knegte van God, miskien dié van Barug, Ebed-Meleg of ander.—Rom. 16:3; lees Handelinge 18:1-3.
15. Hoe kan Christengesinne vir ongetroude Christene van groot hulp wees?
15 Ongetroude Christene vind vandag eweneens baat by die soort hartlike vriendskap wat Aquila se gesin aan Paulus gebied het. Maak jy, as jy ’n gesin het, ’n punt daarvan om vriendskap te bied aan dié wat ongetroud is? ’n Suster het haar gevoelens soos volg uitgedruk: “Ek het die wêreld verlaat en het geen begeerte om daarheen terug te gaan nie. Maar ek het nog steeds ’n behoefte aan liefde. Ek bid dat Jehovah ekstra geestelike voedsel en aanmoediging aan ons as ongetroude Christene sal voorsien. Ons is nie onsigbaar nie, en nie almal van ons is gretig om te trou nie. Tog voel dit soms asof ons op ons eie is. Ja, ons kan ons altyd tot Jehovah wend, maar kan ons, wanneer ons ’n behoefte aan kontak met ander mense het, met ons geestelike gesin praat?” Duisende ongetroude broers en susters kan eerlik ja antwoord. Hulle geniet wel sulke kontak met ander in hulle gemeente. Hulle vriendekring sluit nie net broers en susters van hulle eie ouderdom in nie. Omdat hulle op mense ingestel is, geniet hulle vriendskappe met persone van verskillende ouderdomme, insluitende bejaardes of die jongmense in plaaslike Christengesinne.
16. Watter eenvoudige dinge kan jy doen om ongetroude Christene in julle gemeente te verkwik?
16 Met ’n bietjie beplanning kan jy vir ongetroudes ’n bron van verkwikking wees deur hulle soms by julle gesinsbedrywighede in te sluit, soos by julle aand vir Gesinsaanbidding. Om ’n gesinsete met ’n ongetroude broer of suster te deel, kan baie meer beteken as net ’n bord lekker kos. Kan jy die inisiatief neem om ’n afspraak te maak om saam met hulle velddiens te doen? Kan jy dalk ’n ongetroude Christen nooi om saam met jou gesin instandhoudingswerk by die Koninkryksaal te doen of om soms saam met jou inkopies te doen? En party gesinne het ’n weduwee, wewenaar of ’n ongetroude pionier genooi om saam met hulle na ’n streekbyeenkoms of met vakansie te gaan. Hierdie omgang was wedersyds verkwikkend.
17-19. (a) Waarom moet kinders liefdevolle balans aan die dag lê wanneer hulle reëlings vir die versorging van bejaarde of verswakte ouers tref? (b) Watter praktiese les kan ons leer uit wat Jesus in verband met sy moeder se versorging gedoen het?
17 Nog ’n aspek rakende ongetroude broers en susters hou verband met die versorging van bejaarde ouers. In Jesus se dag het party vooraanstaande Jode die versorging van hulle vader en moeder op slinkse wyse ontduik. Hulle het beweer dat die nakoming van selfopgelegde godsdiensverpligtinge belangriker is as hulle godgegewe verpligtinge teenoor hulle ouers (Mark. 7:9-13). Dit moenie in Christengesinne die geval wees nie.—1 Tim. 5:3-8.
18 Maar sê nou bejaarde ouers het ’n aantal Christenkinders? Gestel een van die kinders is ongetroud; moet hy of sy noodwendig die vernaamste versorger wees? ’n Suster in Japan skryf: “Ek sou graag wou trou, maar omdat ek my ouers moet versorg, kan ek nie. Ek is oortuig dat Jehovah verstaan hoe stresvol die versorging van ouers is en watter hartseer ongetroude mense ervaar.” Het sy dalk getroude broers en susters wat, sonder om haar te raadpleeg, besluit het dat sý die versorging moet voorsien? In sulke gevalle is dit opmerkenswaardig dat Jeremia broers gehad het wat hom nie regverdig behandel het nie.—Lees Jeremia 12:6.
19 Jehovah verstaan ongetroude mense en het meegevoel met diegene wat hulle in moeilike omstandighede bevind (Ps. 103:11-14). Maar bejaarde of verswakte ouers is die ouers van al hulle kinders, nie net van dié wat ongetroud is nie. Party van die kinders is moontlik wel getroud en het hulle eie kinders. Maar dit verbreek nie die bande van natuurlike geneentheid met hulle ouers nie, en dit stel hulle ook nie vry van hulle Christelike plig om te help wanneer versorging nodig is nie. Ons onthou dat Jesus, selfs toe hy sterwend was aan die paal, bewus was van sy plig en opgetree het om sy moeder te versorg (Joh. 19:25-27). Die Bybel bevat nie breedvoerige reëls oor hoe die versorging van bejaarde of verswakte ouers verdeel moet word nie; en dit gee ook nie te kenne dat ongetroude kinders outomaties meer verantwoordelik is vir hulle versorging nie. Op hierdie sensitiewe gebied moet die besonderhede deur al die betrokkenes met redelikheid en onderlinge bedagsaamheid uitgewerk word, terwyl hulle Jesus se voorbeeld in die versorging van sy moeder in gedagte hou.
20. Hoe voel jy oor assosiasie met ongetroudes in julle gemeente?
20 Jeremia het onder inspirasie voorspel: “Hulle sal nie meer elkeen sy metgesel en elkeen sy broer leer en sê: ‘Ken Jehovah!’ nie, want hulle almal sal my ken” (Jer. 31:34). In beginsel geniet ons reeds sulke uitsonderlike kameraadskap in die Christengemeente, ook met broers en susters wat ongetroud is. Ons almal wil ongetwyfeld hierdie ongetroudes verkwik, en deur hulle verkwik word, en sien dat hulle “bly lewe”.
Watter bykomende stappe kan jy doen om party ongetroude broers of susters te verkwik en deur hulle verkwik te word?
a In die Hebreeuse Geskrifte is daar geen woord vir “vrygesel” nie.
b Jesaja het profetiese woorde gerig aan letterlike eunugs in sy dag, wat ’n beperkte aandeel aan die Israeliete se aanbidding sou hê. Hy het voorspel dat eunugs deur gehoorsaamheid “iets beters as seuns en dogters” sou verkry, dat hulle “’n naam tot onbepaalde tyd” in God se huis sou ontvang.—Jes. 56:4, 5.
c Ander woon dalk op hulle eie omdat hulle huweliksmaat, miskien ’n ongelowige, hulle verlaat het of wettig van hulle geskei het.