“Rig jou hart op” God se tempel!
“Menseseun, . . . rig jou hart op alles wat ek vir jou wys . . . Vertel alles wat jy sien aan die huis van Israel.”—ESEGIËL 40:4, NW.
1. In watter toestand het God se uitverkore volk hulle in 593 v.G.J. bevind?
DIT was die jaar 593 v.G.J., die 14de jaar van Israel se ballingskap. Vir die Jode wat in Babilon gewoon het, het dit seker gevoel of hulle geliefde vaderland voorwaar baie ver weg was. Toe die meeste van hulle Jerusalem laas gesien het, was dit in vlamme gehul, sy ontsaglike muur was verwoes en sy indrukwekkende geboue het in puin gelê. Die tempel van Jehovah—wat eens die sieraad van die stad was, die enigste sentrum van rein aanbidding in die hele wêreld—was ’n puinhoop. Op daardie tydstip het die grootste deel van Israel se ballingskap nog voorgelê. Die beloofde verlossing sou eers 56 jaar later plaasvind.—Jeremia 29:10.
2. Waarom sou herinneringe aan God se tempel in Jerusalem Esegiël bedroef het?
2 Dit het die getroue profeet Esegiël ongetwyfeld bedroef om te dink aan God se tempel wat honderde kilometers daarvandaan in puin gelê het, ’n verlate lêplek vir wilde diere (Jeremia 9:11). Sy eie vader, Busi, het as ’n priester daar gedien (Esegiël 1:3). Esegiël sou dieselfde voorreg geniet het, maar hy is as ’n jong man in 617 v.G.J. saam met die adel van Jerusalem in ballingskap weggevoer. Aangesien Esegiël nou omtrent 50 jaar oud was, het hy waarskynlik geweet dat hy Jerusalem nooit weer sou sien nie en geen deel sou hê aan die herbouing van die tempel nie. Stel jou dus voor hoeveel dit vir Esegiël moes beteken het om ’n visioen van ’n luisterryke tempel te ontvang!
3. (a) Wat was die doel van Esegiël se tempelvisioen? (b) Wat is die vier hoofelemente van die visioen?
3 Hierdie uitvoerige visioen, wat nege hoofstukke van Esegiël se boek beslaan, het Judese ballinge ’n geloofversterkende belofte gegee. Rein aanbidding sou herstel word! In die eeue sedertdien, selfs tot in ons dag, het hierdie visioen as ’n bron van aanmoediging vir liefhebbers van Jehovah gedien. Hoe so? Kom ons ondersoek wat Esegiël se profetiese visioen vir die Israelitiese ballinge beteken het. Dit bevat vier hoofelemente: die tempel, die priesterdom, die vors en die land.
Die herstel van die tempel
4. Waarheen word Esegiël aan die begin van sy visioen geneem, wat sien hy daar en wie begelei hom op ’n toer?
4 Eers word Esegiël na “’n baie hoë berg” gebring. Aan die suidekant op die berg is ’n groot tempel, soos ’n ommuurde stad. ’n Engel, wat in sy “voorkoms soos koper gelyk het”, begelei die profeet op ’n deeglike toer van die tempel (Esegiël 40:2, 3). In die visioen sien Esegiël hoe die engel noukeurig die afmetings neem van die tempel se drie eenderse stelle poorte sowel as hulle sykamers, ’n buitenste voorhof, ’n binneste voorhof, eetkamers, ’n altaar en die tempelheiligdom met die Heilige en Allerheiligste.
5. (a) Watter versekering gee Jehovah Esegiël? (b) Wat was die “lyke van hul konings” wat uit die tempel verwyder moes word, en waarom was dit belangrik?
5 Dan verskyn Jehovah self in die visioen. Hy gaan die tempel binne en verseker Esegiël dat Hy daar sal woon. Maar Hy eis dat Sy huis gereinig moet word en sê: “Nou sal hulle hul hoerery en die lyke van hul konings ver van My af verwyder; en Ek sal vir ewig onder hulle woon” (Esegiël 43:2-4, 7, 9). Hierdie “lyke van hul konings” het blykbaar na afgode verwys. Jerusalem se opstandige heersers en inwoners het God se tempel met afgode verontreinig en as ’t ware konings van hulle gemaak. (Vergelyk Amos 5:26.) Hulle was alles behalwe lewende gode of konings, maar eerder lewelose, afstootlike dinge in Jehovah se oë. Hulle moet verwyder word.—Levitikus 26:30; Jeremia 16:18.
6. Waarop het die meting van die tempel gedui?
6 Wat was die punt van hierdie deel van die visioen? Dit het die ballinge verseker dat rein aanbidding by God se tempel volkome herstel sou word. Verder het die meting van die tempel ’n Goddelike waarborg voorsien dat die visioen sonder enige twyfel vervul gaan word. (Vergelyk Jeremia 31:39, 40; Sagaria 2:2-8.) Alle vorme van afgodediens sou verwyder word. Jehovah sou weer eens sy huis seën.
Die priesterdom en die vors
7. Watter inligting word oor die Leviete en die priesters gegee?
7 Die priesterdom moes ook gereinig, of gelouter, word. Die Leviete moes bestraf word omdat hulle afgodediens beoefen het, terwyl die priesterlike seuns van Sadok geprys en beloon moes word omdat hulle rein gebly het.a Tog sou albei groepe diensposisies in God se herstelde huis hê—wat ongetwyfeld sou afhang van hulle getrouheid as individue. Daarbenewens het Jehovah beveel: “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Esegiël 44:10-16, 23). Die priesterdom sou dus herstel word, en die getroue volharding van die priesters sou beloon word.
8. (a) Wie was die vorste van eertydse Israel? (b) Hoe was die vors van Esegiël se visioen betrokke by rein aanbidding?
8 Die visioen praat ook van iemand wat die vors genoem word. Van die tyd van Moses af het die nasie vorste gehad. Die Hebreeuse woord vir vors, na·siʼʹ, kan verwys na ’n familiehoof, die hoof van ’n stam of selfs ’n nasie. In Esegiël se visioen word Israel se heersers as ’n klas bestraf omdat hulle die volk verdruk en word hulle aangespoor om onpartydig en regverdig te wees. Hoewel die vors nie van die priesterlike klas is nie, speel hy ’n vername rol in rein aanbidding. Hy gaan die buitenste voorhof saam met die niepriesterlike stamme binne en verlaat dit weer saam met hulle, sit in die voorportaal van die Oostelike Poort en voorsien party van die offerandes wat die volk moet bring (Esegiël 44:2, 3; 45:8-12, 17). Die visioen het Esegiël se volk dus verseker dat die herstelde nasie met voorbeeldige leiers geseën sou word, manne wat die priesterdom sou ondersteun om God se volk te organiseer en goeie voorbeelde in geestelike sake sou wees.
Die land
9. (a) Hoe moes die land verdeel word, maar wie sou nie ’n erfdeel ontvang nie? (b) Wat was die heilige offergawe, en wat het dit ingesluit?
9 Laastens het Esegiël se visioen ’n oorsig oor die land van Israel ingesluit. Dit sou verdeel word sodat elke stam ’n deel sou kry. Die vors sou ook ’n erfdeel hê. Maar die priesters sou nie, want Jehovah het gesê: “Ek is hulle erfdeel” (Esegiël 44:10, 28; Numeri 18:20). Die visioen het getoon dat die vors se toegewese grond aan weerskante van ’n spesiale gebied sou wees wat die heilige offergawe genoem word. Dit was ’n vierkantige stuk grond wat in drie dele verdeel is—die boonste deel vir die berouvolle Leviete, die middelste deel vir die priesters en die onderste deel vir die stad met sy landbougrond. Jehovah se tempel sou in die priesters se grondgebied geleë wees, in die middel van die vierkantige offergawe.—Esegiël 45:1-7.
10. Wat het die profesie oor die verdeling van die land vir getroue Judeërs in ballingskap beteken?
10 Hoe moes dit alles tog nie die harte van daardie ballinge verbly het nie! Elke familie kon seker wees van ’n erfdeel in die land. (Vergelyk Miga 4:4.) Rein aanbidding sou ’n verhewe, vername plek daar inneem. En let op dat die vors, soos die priesters, in Esegiël se visioen op grond sou woon wat deur die volk geskenk is (Esegiël 45:16). In die herstelde land moes die volk dus bydra tot die werk van diegene wat Jehovah aangestel het om die leiding te neem en hulle ondersteun deur hulle leiding te volg. In sy geheel gesien, was hierdie land ’n toonbeeld van organisasie, samewerking en veiligheid.
11, 12. (a) Hoe gee Jehovah sy volk ’n profetiese versekering dat hy hulle herstelde vaderland sal seën? (b) Wat is deur die bome langs die oewers van die rivier afgebeeld?
11 Sou Jehovah hulle land seën? Die profesie beantwoord hierdie vraag met ’n aangrypende beskrywing. ’n Stroom vloei vanuit die tempel en word geleidelik al hoe wyer totdat dit ’n sterk stroom is teen die tyd dat dit in die Dooie See invloei. Daar laat dit die lewelose waters weer lewe, en ’n vissersbedryf floreer langs ’n deel van die kuslyn. Op die rivier se oewers groei baie bome wat die hele jaar deur vrug dra en voedsel sowel as genesing verskaf.—Esegiël 47:1-12.
12 Vir die ballinge was hierdie belofte ’n herhaling en bevestiging van vroeëre herstellingsprofesieë wat hulle baie na aan die hart gelê het. Jehovah se geïnspireerde profete het al meer as een keer ’n paradysagtige beskrywing van ’n herstelde, herbevolkte Israel gegee. Dor gebiede wat nuwe lewe kry, was ’n profetiese tema wat telkens herhaal is (Jesaja 35:1, 6, 7; 51:3; Esegiël 36:35; 37:1-14). Die volk kon dus verwag dat Jehovah se lewegewende seëninge soos ’n rivier vanuit die herstelde tempel sou voortvloei. Gevolglik sou ’n geestelik dooie nasie weer lewend word. Die herstelde volk sou geseën word met voortreflike geestelike manne—manne wat so regverdig en standvastig was soos die bome langs daardie rivieroewers in die visioen, manne wat die leiding sou neem in die herbouing van ’n verwoeste land. Jesaja het ook geskryf van “groot bome van regverdigheid” wat die “plekke wat lank reeds verwoes is, [sou] herbou”.—Jesaja 61:3, 4, NW.
Wanneer word die visioen vervul?
13. (a) In watter sin het Jehovah sy herstelde volk met “groot bome van regverdigheid” geseën? (b) Hoe is die profesie oor die Dooie See vervul?
13 Is die ballinge wat teruggekeer het, teleurgestel? Baie beslis nie! ’n Herstelde oorblyfsel het in 537 v.G.J. na hulle geliefde vaderland teruggekeer. Mettertyd, onder leiding van hierdie “groot bome van regverdigheid”—soos die skrifgeleerde Esra, die profete Haggai en Sagaria, asook die hoëpriester Josua—is die plekke wat lank woes gelê het wel herbou. Vorste, byvoorbeeld Nehemia en Serubbabel, het met onpartydigheid en regverdigheid in die land geheers. Jehovah se tempel is herstel en sy voorsienings vir lewe—die seëninge wat dit meebring om volgens sy verbond te lewe—het weer voortgevloei (Deuteronomium 30:19; Jesaja 48:17-20). Een van die seëninge was kennis. Die priesters het weer hulle werk begin doen, en hulle het die volk in die Wet onderrig (Maleagi 2:7). As gevolg hiervan het die volk geestelik herlewe en weer bedrywige knegte van Jehovah geword, soos afgebeeld is deur die Dooie See wat genees is en ’n lonende vissersbedryf tot gevolg gehad het.
14. Waarom sou daar ’n groter vervulling van Esegiël se profesie wees as wat gebeur het nadat die Jode uit ballingskap in Babilon teruggekeer het?
14 Was hierdie gebeure die enigste vervulling van Esegiël se visioen? Nee; dit dui op iets veel groters. Dink hieraan: Die tempel wat Esegiël gesien het, kon nie werklik gebou word soos dit beskryf is nie. Die Jode het weliswaar daardie visioen ernstig opgeneem en selfs sommige besonderhede letterlik toegepas.b Maar die tempel in die visioen was in sy geheel te groot om selfs op die berg Moria, die ligging van die vorige tempel, te pas. Daarbenewens was Esegiël se tempel nie in die stad nie, maar ’n ent daarvandaan op ’n afsonderlike stuk grond, terwyl die tweede tempel op dieselfde plek as die eerste een gebou is, naamlik in die stad Jerusalem (Esra 1:1, 2). Boonop het geen letterlike rivier ooit uit Jerusalem se tempel gevloei nie. Eertydse Israel het dus slegs ’n gedeeltelike vervulling van Esegiël se profesie gesien. Dit impliseer dat daar ’n groter, geestelike vervulling van hierdie visioen moet wees.
15. (a) Wanneer het Jehovah se geestelike tempel in werking getree? (b) Wat toon dat Esegiël se visioen nie gedurende Christus se leeftyd op aarde vervul is nie?
15 Dit is duidelik dat ons vir die primêre vervulling van Esegiël se visioen na Jehovah se groot geestelike tempel moet kyk, wat die apostel Paulus breedvoerig in die boek Hebreërs bespreek. Daardie tempel het in werking getree toe Jesus Christus in 29 G.J. as die Hoëpriester daarvan gesalf is. Maar is Esegiël se visioen in Jesus se dag vervul? Klaarblyklik nie. Jesus het, as die Hoëpriester, die profetiese betekenis van die Versoendag vervul deur middel van sy doop, sy offerdood en sy ingang in die Allerheiligste, die hemel self (Hebreërs 9:24). Wat egter interessant is, is dat Esegiël se visioen nie een keer melding maak van die hoëpriester of die Versoendag nie. Dit lyk derhalwe onwaarskynlik dat hierdie visioen na die eerste eeu G.J. gewys het. Op watter tydperk is dit dan van toepassing?
16. Aan watter ander profesie laat die plek waar Esegiël se visioen plaasvind ons dink, en hoe help dit ons om te onderskei wanneer die primêre vervulling van Esegiël se visioen plaasvind?
16 Laat ons na die visioen self teruggaan om dit te beantwoord. Esegiël het geskryf: “In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ’n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ’n stad gebou was, teen die suide” (Esegiël 40:2). Die visioen vind op ’n “baie hoë berg” plaas, wat ons laat dink aan Miga 4:1: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.” Wanneer gaan hierdie profesie in vervulling? Miga 4:5 toon dat dit in vervulling begin gaan terwyl die nasies nog valse gode aanbid. Trouens, dit is in ons tyd, “die einde van die dae”, dat rein aanbidding verhef en tot sy regmatige plek in die lewe van God se knegte herstel is.
17. Hoe help die profesie in Maleagi 3:1-5 ons om vas te stel wanneer die tempel van Esegiël se visioen gereinig is?
17 Wat het hierdie herstel moontlik gemaak? Onthou dat Jehovah, in die belangrikste gebeurtenis in Esegiël se visioen, na die tempel kom en daarop aandring dat sy huis van afgodediens gereinig moet word. Wanneer is God se geestelike tempel gereinig? In Maleagi 3:1-5 voorspel Jehovah ’n tyd wanneer hy saam met sy “boodskapper van die verbond” (NW), Jesus Christus, “na sy tempel [sal] kom”. Met watter doel? “Hy sal wees soos die vuur van die smelter [“louteraar”, NW] en soos die loog van die wassers.” Hierdie loutering het gedurende die tyd van die Eerste Wêreldoorlog begin. Die resultaat? Sedert 1919 woon Jehovah in sy huis en seën hy die geestelike land van sy volk (Jesaja 66:8). Ons kan dus tot die slotsom kom dat Esegiël se tempelprofesie ’n belangrike vervulling gedurende die laaste dae het.
18. Wanneer sal die tempelvisioen finaal vervul word?
18 Soos met ander herstellingsprofesieë het Esegiël se visioen ’n verdere, finale vervulling, in die Paradys. Slegs dan sal die regskape mensdom ten volle baat vind by die voordele van God se tempelreëling. Christus sal dan, tesame met sy hemelse priesterdom van 144 000, die waarde van sy losprysofferande aanwend. Alle gehoorsame menslike onderdane van Christus se heerskappy sal tot volmaaktheid verhef word (Openbaring 20:5, 6). Maar die Paradys kan nie die primêre tyd van vervulling van Esegiël se visioen wees nie. Waarom nie?
Die visioen het betrekking op ons dag
19, 20. Waarom moet die primêre vervulling van die visioen vandag plaasvind en nie in die Paradys nie?
19 Esegiël het ’n tempel gesien wat van afgodediens en geestelike hoerery gereinig moes word (Esegiël 43:7-9). Dit kan beslis nie op die aanbidding van Jehovah in die Paradys van toepassing wees nie. Daarbenewens beeld die priesters van die visioen die gesalfde priesterlike klas af terwyl hulle nog op aarde is, nie ná hulle hemelse opstanding of tydens die Millennium nie. Waarom? Let op dat die priesters voorgestel word waar hulle in die binneste voorhof dien. Artikels in vorige nommers van Die Wagtoring het getoon dat hierdie voorhof die unieke geestelike posisie van Christus se onderpriesters afbeeld terwyl hulle nog op die aarde is.c Let ook op dat die visioen die onvolmaaktheid van die priesters beklemtoon. Daar word vir hulle gesê om offerandes vir hulle eie sondes te offer. Hulle word gewaarsku teen die gevaar om geestelik en sedelik onrein te word. Hulle beeld dus nie die verrese gesalfdes af nie, van wie die apostel Paulus geskryf het: “Die trompet sal klink, en die dooies sal onverderflik opgewek word” (1 Korintiërs 15:52; Esegiël 44:21, 22, 25, 27). Die priesters in Esegiël se visioen gaan met die volk om en dien hulle regstreeks. Dit sal nie die geval in die Paradys wees wanneer die priesterlike klas in die hemel sal wees nie. Die visioen voorsien derhalwe ’n baie goeie voorstelling van die manier waarop die gesalfdes vandag ten nouste met die “groot skare” op aarde saamwerk.—Openbaring 7:9; Esegiël 42:14.
20 Esegiël se visioen van die tempel dui dus op die heilsame gevolge van ’n geestelike reiniging wat vandag vervul word. Maar wat beteken dit vir jou? Dit is nie bloot ’n abstrakte teologiese raaisel nie. Hierdie visioen het baie te doen met jou daaglikse aanbidding van die enigste ware God, Jehovah. In ons volgende artikel sal ons sien in watter opsigte dit so is.
[Voetnote]
a Dit het Esegiël dalk persoonlik geraak, want daar word gesê dat hy self van die priesterlike familie van Sadok was.
b Die eertydse Misjna beweer byvoorbeeld dat die herstelde tempel se altaar, sy tweevleueldeure en die kookareas gebou is om met Esegiël se visioen ooreen te kom.
c Sien Die Wagtoring van 1 Julie 1996, bladsy 16; 15 Februarie 1973, bladsye 83-4.
Onthou jy?
◻ Hoe is Esegiël se visioen van die tempel en sy priesterdom aanvanklik vervul?
◻ Hoe het Esegiël se visioen oor die verdeling van die land ’n vroeë vervulling gehad?
◻ Wie het tydens die herstel van eertydse Israel as getroue vorste gedien en wie het as “groot bome van regverdigheid” gedien?
◻ Waarom moet die primêre vervulling van Esegiël se tempelvisioen gedurende die laaste dae plaasvind?