Vrae van lesers
◼ Daniël het gesê dat hy nie geskenke van koning Belsasar sou aanvaar om die skrif op die muur uit te lê nie. Waarom het hy dan later die klere gedra en die ketting om sy hals gehad?
Net voordat die Meders en die Perse Babilon omvergewerp het, was koning Belsasar en sy howelinge besig om fees te vier. Gedurende die fees het hy die voorwerpe geneem wat in Jehovah se tempel was en dit gebruik om wyn daaruit te drink terwyl hulle die Babiloniese gode geprys het. Maar die fees is onverwags onderbreek toe ’n bomenslike hand vreemde dinge op die muur geskryf het.—Daniël 5:1-5.
Die wyse manne en waarsêers van Babilon kon nie die skrif uitlê nie, al het Belsasar belowe om aan enigiemand wat die vreemde handskrif kon lees en verklaar ’n goue ketting en ’n vername posisie in die regering te gee.—Daniël 5:7-9.
Toe die Hebreër genaamd Daniël eindelik voor die koning gebring is, het die koning sy aanbod herhaal—om Daniël met purper te beklee. ’n goue ketting om sy hals te hang en om hom die derde heerser in die koninkryk te maak. Die profeet het eervol geantwoord: “U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan ’n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en ’n uitlegging aan hom bekend maak.”—Daniël 5:17.
Dit was dus nie nodig om Daniël om te koop of te betaal om die uitlegging te gee nie. Die koning kon sy geskenke hou of hulle aan iemand anders skenk. Daniël sou die uitlegging gee, nie vir ’n beloning nie, maar omdat Jehovah, die ware God, wie se oordeel oor Babilon naby was, hom in staat gestel het om dit te doen.
Soos ons in Daniël 5:29 lees, het die koning beveel dat die belonings in elk geval aan Daniël gegee moes word nadat Daniël die woorde gelees en uitgelê het soos hy gesê het hy sou. Daniël het nie self die klere aangetrek en die ketting om sy hals gehang nie. Hy is op bevel van die absolute heerser, koning Belsasar, daarmee geklee. Maar dit is nie in stryd met Daniël 5:17 nie, waar die profeet dit duidelik gemaak het dat sy beweegrede nie selfsugtig was nie.
Jesus het later gesê: “Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die loon van ’n profeet ontvang” (Mattheüs 10:41). Dit is nouliks van toepassing op Belsasar, aangesien hy Daniël nie vriendelik of eerbiedig behandel het omdat hy hierdie getroue man as ’n profeet van die ware God gerespekteer het nie. Koning Belsasar was bereid om dieselfde geskenke te gee aan enigiemand, selfs aan sommige heidense waarsêers, wat die raaisel van die handskrif kon oplos. Die koning het die gepaste beloning ontvang, dié wat met die profetiese Skrif aan die muur ooreengekom het: “Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor. Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem.”—Daniël 5:30–6:1, NAV.