Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr18 Junie bl. 1-6
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
  • Onderhofies
  • 4-10 JUNIE
  • 11-17 JUNIE
  • 18-24 JUNIE
  • 25 JUNIE – 1 JULIE
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
mwbr18 Junie bl. 1-6

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

4-10 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MARKUS 15-16

“Jesus het profesieë vervul”

(Markus 15:3-5) Maar die hoofpriesters het aangehou om hom van baie dinge te beskuldig. 4 En Pilatus het hom weer begin ondervra en gesê: “Het jy geen antwoord nie? Kyk hoeveel aanklagte bring hulle teen jou in.” 5 Maar Jesus het geen verdere antwoord gegee nie, sodat Pilatus hom begin verwonder het.

(Markus 15:24) En hulle het hom aan die paal gehang en sy boklere verdeel deur die lot daaroor te werp om te bepaal wat elkeen sou neem.

(Markus 15:29, 30) En die verbygangers het hom gesmaad, hulle kop geskud en gesê: “Ha! Jy wat glo die tempel sou afbreek en in drie dae sou opbou, 30 red jouself deur van die folterpaal af te kom.”

Studienotas oor Mr 15:24, 29 in nwtsty

sy boklere verdeel: Die verslag in Joh 19:23, 24 gee ekstra details wat nie in Matteus, Markus en Lukas genoem word nie: Die Romeinse soldate het blykbaar die lot oor sy bokleed en sy onderkleed gewerp; die soldate het die bokleed “vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel”; hulle wou nie die onderkleed skeur nie, en daarom het hulle die lot daaroor gewerp. Die feit dat hulle die lot oor die Messias se klere gewerp het, het die woorde in Ps 22:18 vervul. Diegene wie se werk dit was om ander tereg te stel het gewoonlik hulle slagoffers se klere gehou. Voordat misdadigers doodgemaak is, is hulle klere en besittings gevat, wat hulle nog verder verneder het.

hulle kop geskud: Hierdie kopbeweging en die woorde wat gewoonlik saam met dit gesê is, het gewys dat jy iemand beledig, niks van hom dink nie of hom spot. Die mense wat daar verbygeloop het, het die profesie in Ps 22:7 vervul sonder dat hulle dit besef het.

(Markus 15:43) het Josef van Arimateʹa, ’n hooggeagte lid van die Raad, wat self ook op die koninkryk van God gewag het, gekom. Hy het die moed bymekaargeskraap om na Pilatus in te gaan en het die liggaam van Jesus gevra.

(Markus 15:46) En hy het fyn linne gekoop en hom afgehaal, hom in die fyn linne toegedraai en hom in ’n graf neergelê wat in ’n rots uitgekap was; en hy het ’n klip voor die deur van die gedenkgraf gerol.

Studienota oor Mr 15:43 in nwtsty

Josef: Die Evangelieskrywers het verskillende details oor Josef gegee. Dit wys dat hulle elkeen dinge genoem het wat vir hulle belangrik was. Die belastinggaarder Matteus sê dat hy “’n ryk man” was; Markus, wat hoofsaaklik vir die Romeine geskryf het, sê dat hy “’n hooggeagte lid van die Raad” was wat vir God se Koninkryk gewag het; Lukas, die simpatieke dokter, sê dat hy “’n goeie en regverdige man” was wat nie saam met die Raad gestem het toe hulle Jesus veroordeel het nie; net Johannes sê dat hy “in die geheim [’n dissipel was] weens sy vrees vir die Jode”. — Mt 27:57-60; Mr 15:43-46; Lu 23:50-53; Joh 19:38-42.

Soek na geestelike skatte

(Markus 15:25) Dit was toe die derde uur, en hulle het hom aan die paal gehang.

Studienota oor Mr 15:25 in nwtsty

die derde uur: Omtrent 9:00 die oggend. Party voel dat hierdie verslag verskil van die verslag in Joh 19:14-16, wat sê dat dit “omtrent die sesde uur” was toe Pilatus Jesus gebring het om doodgemaak te word. Die Bybel verduidelik nie hierdie verskil heeltemal nie, maar daar is ’n paar dinge wat ons moet onthou: Die Evangelieverslae stem oor die algemeen ooreen wanneer dit kom by die tyd van die gebeure gedurende Jesus se laaste dag op die aarde. Al vier die verslae wys dat die priesters en die ouer manne net ná sonsopkoms bymekaargekom het en Jesus toe na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gevat het (Mt 27:1, 2; Mr 15:1; Lu 22:66–23:1; Joh 18:28). Matteus, Markus en Lukas sê dat Jesus alreeds aan die paal gehang het toe die hele land donker geword het van “die sesde uur af . . . tot die negende uur toe” (Mt 27:45, 46; Mr 15:33, 34; Lu 23:44). Volgens party mense was dit deel van die teregstelling om iemand te gesel, of met ’n sweep te slaan, en dit kon dalk die tyd van Jesus se dood beïnvloed het. Die slagoffer is partykeer so erg geslaan dat hy gesterf het. Jesus is so erg geslaan dat iemand anders die folterpaal verder moes dra nadat Jesus dit aan die begin alleen gedra het (Lu 23:26; Joh 19:17). As die slanery as die begin van die teregstellingsproses gesien is, sou daar tyd verbygegaan het voordat Jesus aan die folterpaal gehang is. Mt 27:26 en Mr 15:15 ondersteun hierdie gedagte, want die geseling (slanery met swepe) en die teregstelling aan ’n paal word hier saam genoem. Verskillende mense gee dalk verskillende tye vir die teregstelling, afhangende van wanneer hulle dink die proses begin het. Dit is miskien hoekom Pilatus verbaas was toe hy uitvind dat Jesus so gou gesterf het nadat hy aan die paal gehang is (Mr 15:44). Bybelskrywers wys dikwels ook dat die dag gewoonlik verdeel is in vier dele van drie uur elk, soos dit met die nag gedoen is. Dit verduidelik hoekom daar baie keer gepraat is van die derde, sesde en negende uur, wat 6:00 die oggend begin het wanneer die son opgekom het (Mt 20:1-5; Joh 4:6; Han 2:15; 3:1; 10:3, 9, 30). Daar was destyds nie akkurate horlosies nie, en daarom het mense dikwels die woord “omtrent” gebruik wanneer hulle van tyd gepraat het soos ons in Joh 19:14 kan sien (Mt 27:46; Lu 23:44; Joh 4:6; Han 10:3, 9). Kortliks: Markus het dalk gepraat van die geseling en die feit dat Jesus aan die paal gehang is, terwyl Johannes net die hang aan die paal bedoel het. Albei skrywers het moontlik die tyd van die dag afgerond tot die naaste tydperk van drie uur, en Johannes het die woord “omtrent” gebruik toe hy die tyd genoem het. Dit is moontlik hoekom die verslae verskillende tye noem. Laastens, die feit dat Johannes, wat dekades later geskryf het, se tyd anders is as dié van Markus, wys dat Johannes nie net Markus se verslag oorgeskryf het nie.

(Markus 16:8) En toe hulle uitkom, het hulle van die gedenkgraf af weggevlug, want bewing en sterk emosie het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand enigiets vertel nie, want hulle het gevrees.

Studienota oor Mr 16:8 in nwtsty

want hulle het gevrees: Volgens die vroegste manuskripte wat van die laaste deel van Markus beskikbaar is, eindig die Evangelie met die woorde in vers 8. Party voel dat die boek te skielik eindig en dat dit nie oorspronklik so was nie. Maar dit is nie noodwendig reg nie, want Markus het nie ’n breedvoerige skryfstyl gehad nie. En Hieronimus en Eusebius, geleerdes uit die vierde eeu, sê dat die oorspronklike verslag afsluit met die woorde “want hulle het gevrees”.

’n Hele paar Griekse manuskripte en vertalings in ander tale gee ’n lang of ’n kort slot ná vers 8. Die lang slot (wat uit 12 ekstra verse bestaan) kom voor in Codex Alexandrinus, Codex Ephraemi Syri rescriptus en Codex Bezae Cantabrigiensis, wat alles uit die vyfde eeu HJ kom. Dit kom ook voor in die Latynse Vulgaat, die Cureton-Siriese manuskrip en die Siriese Pesjitta. Maar dit kom nie voor in twee vroeëre Griekse manuskripte van die vierde eeu, naamlik die Codex Sinaiticus, Codex Vaticanus of in die Sinaïties-Siriese kodeks van die vierde of vyfde eeu of in die vroegste Saïdies-Koptiese manuskrip van Markus van die vyfde eeu, nie. Die oudste manuskripte van Markus in Armeens en Georgies eindig ook met vers 8.

Party latere Griekse manuskripte en vertalings in ander tale bevat die kort slot (wat uit net ’n paar sinne bestaan). Die Codex Regius van die agtste eeu HJ bevat albei slotte, en dit gee die kort slot eerste. Elke slot begin met ’n nota wat sê dat hierdie tekste deur sommige gebruik word, maar dat nie een van die twee as gesaghebbend erken word nie.

KORT SLOT

Die kort slot ná Mr 16:8 is nie deel van die geïnspireerde Skrif nie. Dit lees soos volg:

Maar al die dinge wat beveel is, het hulle kortliks vir dié om Petrus vertel. En ná hierdie dinge het Jesus self deur middel van hulle die heilige en onverderflike verkondiging van ewige redding van die ooste tot die weste uitgestuur.

LANG SLOT

Die lang slot ná Mr 16:8 is nie deel van die geïnspireerde Skrif nie. Dit lees soos volg:

9 Nadat hy vroeg op die eerste dag van die week opgestaan het, het hy eers aan Maria Magdaleʹna verskyn, uit wie hy sewe demone uitgedryf het. 10 Sy het vir dié wat vroeër saam met hom was, gaan vertel, aangesien hulle getreur en gehuil het. 11 Maar toe hulle hoor dat hy lewend geword het en deur haar gesien is, het hulle nie geglo nie. 12 Daarbenewens het hy ná hierdie dinge in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad na die platteland geloop het; 13 en hulle het teruggekom en vir die res vertel. Hulle het dié ook nie geglo nie. 14 Maar later het hy aan die elf self verskyn terwyl hulle aan tafel was, en hy het hulle verwyt oor hulle gebrek aan geloof en hardheid van hart, omdat hulle nie dié geglo het wat hom gesien het nadat hy uit die dode opgewek is nie. 15 En hy het vir hulle gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die goeie nuus aan die hele skepping. 16 Hy wat glo en gedoop word, sal gered word, maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. 17 Verder sal hierdie tekens dié vergesel wat glo: hulle sal demone uitdryf deur my naam te gebruik, hulle sal in tale praat, 18 en met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle glad nie kwaad doen nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

19 Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is hy na die hemel opgeneem en het hy aan die regterhand van God gaan sit. 20 En hulle het uitgegaan en oral gepreek terwyl die Here saam met hulle gewerk en die boodskap deur die gepaardgaande tekens bevestig het.

11-17 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 1

Soek na geestelike skatte

(Lukas 1:69) En hy het ’n horing van redding vir ons verwek in die huis van sy kneg Dawid,

Studienota oor Lu 1:69 in nwtsty

’n horing van redding: Of “’n kragtige redder”. In die Bybel word ’n dier se horings partykeer gebruik om krag en oorwinning voor te stel (1Sa 2:1; Ps 75:4, 5, 10; 148:14). Heersers en regerings, of hulle nou goed of sleg was, is deur horings voorgestel, en hulle oorwinnings is vergelyk met diere wat mekaar met hulle horings stamp (De 33:17; Da 7:24; 8:2-10, 20-24). In hierdie geval verwys die woorde “’n horing van redding” na die Messias as die een wat die mag het om te red, ’n magtige redder.

(Lukas 1:76) Maar wat jou betref, jong kindjie, jy sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor Jehovah uit gaan om sy weë gereed te maak,

Studienota oor Lu 1:76 in nwtsty

jy sal voor Jehovah uit gaan: Johannes die Doper sou “voor Jehovah uit gaan”. Dit beteken dat hy die voorloper van Jesus sou wees, wat sy Vader sou verteenwoordig en in sy Vader se naam sou kom. — Joh 5:43; 8:29; sien die studienota oor Jehovah in hierdie vers.

18-24 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 2-3

“Jongmense — Word julle vriendskap met Jehovah sterker?”

(Lukas 2:41, 42) En sy ouers was gewoond om van jaar tot jaar vir die pasgafees na Jerusalem te gaan. 42 En toe hy twaalf jaar oud geword het, het hulle volgens die feesgebruik opgegaan

Studienota oor Lu 2:41 in nwtsty

sy ouers was gewoond: Volgens die Wet was dit nie nodig dat vrouens die Pasgaviering bywoon nie. Maar Maria was gewoond daaraan om elke jaar saam met Josef Jerusalem toe te gaan vir die fees (Eks 23:17; 34:23). Die hele gesin het elke jaar altesaam amper 300 km vir die fees gereis.

(Lu 2:46, 47) Wel, ná drie dae het hulle hom in die tempel gevind, waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het. 47 Maar almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde.

Studienotas oor Lu 2:46, 47 in nwtsty

hulle uitgevra: Die feit dat die mense wat na Jesus geluister het so verbaas was, het gewys dat hy nie net vrae gevra het omdat hy ’n nuuskierige kind was nie (Lu 2:47). Die Griekse woord wat vertaal word met “uitgevra”, kan in party gevalle verwys na die soort vrae wat in ’n hofsaak gebruik word (Mt 27:11; Mr 14:60, 61; 15:2, 4; Han 5:27). Geskiedkundiges sê dat party van die belangrikste godsdiensleiers gewoonlik ná die feeste by die tempel agtergebly en mense op een van die groot stoepe geleer het. Mense kon by hulle voete sit, na hulle luister en vrae vra.

was die hele tyd verbaas: Die vorm van die Griekse woord vir “is verbaas”, kan hier wys dat ’n mens vir ’n lang ruk verbaas is of dat iets jou oor en oor verbaas.

(Lukas 2:51, 52) En hy het saam met hulle afgegaan en in Naʹsaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly. Ook het sy moeder al hierdie woorde sorgvuldig in haar hart bewaar. 52 En Jesus het deurentyd toegeneem in wysheid en in grootte en in guns by God en die mense.

Studienota oor Lu 2:51, 52 in nwtsty

onderdanig gebly: Of “het gehoorsaam gebly”. Hierdie is ’n vorm van die Griekse werkwoord wat ’n aanhoudende aksie aandui. Jesus het die onderrigters by die tempel beïndruk omdat hy so baie van God se Woord geweet het, maar toe hy huis toe gegaan het, het hy onderdanig aan sy ouers gebly. Hierdie gehoorsaamheid was anders as dié van enige ander kind; deur so gehoorsaam te wees, het Jesus elke detail van die Mosaïese Wet vervul. — Eks 20:12; Ga 4:4.

Soek na geestelike skatte

(Lukas 2:14) “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.”

Studienotas oor Lu 2:14 in nwtsty

en op aarde vrede onder mense van welwillendheid: Party manuskripte gebruik woorde soos “en op aarde vrede, welwillendheid teenoor mense”, en hierdie woorde word in party Bybelvertalings gevind. Maar die woorde wat in die New World Translation gebruik word, is nader aan die woorde in die manuskripte. Die engele se woorde het nie beteken dat alle mense God se guns het nie, maak nie saak watter soort mense hulle is of wat hulle doen nie. Dit verwys eerder na mense wat God se guns kry omdat hulle ware geloof het en sy Seun navolg. — Sien die studienota oor mense van welwillendheid in hierdie vers.

mense van welwillendheid: Die “welwillendheid” wat die engele hier bedoel het, word deur God gewys, en nie deur mense nie. Die Griekse woord eu·do·kiʹa kan ook vertaal word as “guns; vreugde; goedkeuring”. Eu·do·kiʹa se werkwoord eu·do·keʹo word gevind in Mt 3:17; Mr 1:11 en Lu 3:22 (sien die studienotas oor Mt 3:17; Mr 1:11), waar God met sy Seun praat direk nadat hy gedoop is. Dit beteken basies “om goed te keur; om tevrede te wees met; om te hou van”. En daarom kan ons sê dat die woorde “mense van welwillendheid” (an·throʹpois eu·do·kiʹas) verwys na mense wat God se goedkeuring en guns het, en dit kan ook vertaal word as “mense wat hy goedkeur; mense met wie hy gelukkig is”. Die engele het hier nie verwys na God se welwillendheid of guns teenoor alle mense nie, maar teenoor diegene wat hom gelukkig maak deur werklik geloof in hom te stel en volgelinge van sy Seun te word. Al verwys die Griekse woord eu·do·kiʹa partykeer na die welwillendheid van mense (Ro 10:1; Flp 1:15), word dit gereeld gebruik waar dit praat van God se welwillendheid, of guns, of die manier waarop hy graag wil hê ons moet lewe (Mt 11:26; Lu 10:21; Ef 1:5, 9; Flp 2:13; 2Te 1:11). In die Septuagint in Ps 51:18 [50:20, LXX] verwys die woord na God se “welwillendheid”.

25 JUNIE – 1 JULIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 4-5

“Weerstaan versoekings, net soos Jesus”

(Lukas 4:9-12) En hy het hom in Jerusalem ingelei en hom bo-op die muur van die tempel laat staan en vir hom gesê: “As jy ’n seun van God is, spring hier af; 10 want daar staan geskrywe: ‘Hy sal sy engele aangaande jou opdrag gee om jou te bewaar’, 11 en: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra, sodat jy nooit jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” 12 Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Daar is gesê: ‘Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie.’”

Media in nwtsty

Die muur van die tempel

Satan het Jesus dalk letterlik “bo-op die muur [of “hoogste punt”] van die tempel” laat staan en vir hom gesê om af te spring, maar ons weet nie presies waar hy gestaan het nie. Die woord wat hier vir “tempel” gebruik word, kan na die hele tempel verwys, en daarom het Jesus dalk op die suidoostelike hoek (1) van die tempel-area gestaan. Of hy het dalk op ’n ander hoek van die tempel gestaan. As hy by enige van hierdie plekke afgeval het, sou hy beslis dood gewees het, tensy Jehovah hom gered het.

Soek na geestelike skatte

(Lukas 4:17) Toe is die boekrol van die profeet Jesaja vir hom aangegee, en hy het die boekrol oopgemaak en die plek gevind waar geskrywe staan:

Studienota oor Lu 4:17 in nwtsty

die boekrol van die profeet Jesaja: Die Dooie See-rol van Jesaja bestaan uit 17 stukke perkament wat aan mekaar vas is, en dit vorm ’n rol van 7,3 m lank wat uit 54 kolomme bestaan. Die boekrol wat in die sinagoge van Nasaret gebruik is, was dalk net so lank. Die Skrif was in die eerste eeu nie in hoofstukke en verse gedeel nie, en daarom moes Jesus die deel wat hy wou lees, gaan soek. Maar die feit dat hy die plek gevind het waar die profetiese woorde geskryf was, wys dat hy God se Woord goed geken het.

(Lukas 4:25) Ek sê byvoorbeeld vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die dae van Eliʹa, toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ’n groot hongersnood oor die hele land gekom het;

Studienota oor Lu 4:25 in nwtsty

drie jaar en ses maande lank: Volgens 1Kn 18:1 het Elia “in die derde jaar” gesê dat die droogte verby is. Daarom sê party dat Jesus se woorde en die verslag in 1 Konings van mekaar verskil. Maar die verslag in die Hebreeuse Geskrifte wys nie dat die droogte korter as drie jaar was nie. Die woorde “in die derde jaar” verwys na die tyd toe Elia vir Agab gesê het dat die droogte gaan begin (1Kn 17:1). Toe hy vir Agab daarvan gaan sê het, was hulle waarskynlik alreeds in die droë seisoen — wat gewoonlik tot ses maande lank was, maar wat dalk langer as gewoonlik aangehou het. Die droogte het ook nie dadelik opgehou toe Elia “in die derde jaar” weer met Agab gaan praat het nie, maar eers nadat hy die toets van vuur op die berg Karmel gedoen het (1Kn 18:18-45). Jesus se woorde wat hier opgeteken is, asook die woorde van sy halfbroer in Jak 5:17, pas goed in by die volgorde waarvan 1Kn 18:1 praat.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel