Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
3-9 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 9-11
Soek na geestelike skatte
(Handelinge 10:6) Hierdie man gaan as gas tuis by ’n sekere Simon, ’n leerlooier, wat ’n huis by die see het.”
Studienota oor Han 10:6 in nwtsty
Simon, ’n leerlooier: ’n Leerlooier het met dierevelle gewerk en het ’n kalkoplossing gebruik om die pels en enige teken van vleis of vet te verwyder. Hy het die vel dan met sterk drank behandel sodat hy leerprodukte daarmee kon maak. Die looiproses het gestink en het baie water benodig, wat dalk verduidelik hoekom Simon by die see, waarskynlik aan die buiterand van Joppe, gewoon het. Volgens die Mosaïese Wet was mense wat met dierekarkasse gewerk het seremonieel onrein (Le 5:2; 11:39). Daarom het baie Jode op leerlooiers neergesien en nie sommer by hulle oorgebly nie. Die Talmoed het later selfs gesê dat ’n leerlooier se werk minderwaardiger is as dié van ’n misversamelaar. Maar Petrus het nie toegelaat dat vooroordeel keer dat hy by Simon oorbly nie. Dit was goeie voorbereiding vir sy volgende toewysing toe hy ’n nie-Jood in sy huis moes gaan besoek. Party geleerdes voel dat die Griekse woord vir “leerlooier” (byr·seusʹ) Simon se van was.
10-16 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 12-14
Soek na geestelike skatte
(Handelinge 13:9) Saulus, wat ook Paulus is, het met heilige gees vervul geraak en hom stip aangekyk
Studienotas oor Han 13:9 in nwtsty
Saulus, wat ook Paulus is: Van hier af word Saulus nou Paulus genoem. Die apostel was ’n Hebreër van geboorte, maar het Romeinse burgerskap gehad (Han 22:27, 28; Flp 3:5). Dit is dus waarskynlik dat hy van kleins af die Hebreeuse naam Saulus sowel as die Romeinse naam Paulus gehad het. Dit was destyds nie ongewoon dat die Jode, veral dié wat buite Israel gewoon het, twee name gehad het nie (Han 12:12; 13:1). Party van Paulus se familielede het ook Romeinse en Griekse name gehad (Ro 16:7, 21). As “’n apostel vir die nasies”, het Paulus die opdrag gehad om die goeie nuus aan nie-Jode te verkondig (Ro 11:13). Hy het waarskynlik besluit om sy Romeinse naam te gebruik; hy het dalk gedink dat dit meer aanvaarbaar sal wees (Han 9:15; Ga 2:7, 8). Party het gesê dat hy die Romeinse naam gekies het ter ere van Sergius Paulus, maar dit is onwaarskynlik aangesien Paulus die naam behou het nadat hy Siprus verlaat het. Ander het weer gesê dat Paulus nie sy Hebreeuse naam wou gebruik nie omdat die Griekse uitspraak daarvan geklink het soos ’n Griekse woord wat verwys na ’n persoon (of ’n dier) wat op ’n spoggerige manier geloop het. — Sien studienota oor Han 7:58.
Paulus: In die Christelike Griekse Geskrifte beteken die naam Pauʹlos, wat van die Latynse Paulus afkomstig is, “bietjie; klein”. Dit word 157 keer gebruik wanneer dit verwys na die apostel Paulus en een keer wanneer dit verwys na die prokonsul van Siprus met die naam Sergius Paulus. — Han 13:7.
17-23 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 15-16
Soek na geestelike skatte
(Handelinge 16:37) Maar Paulus het vir hulle gesê: “Hulle het ons onveroordeeld in die openbaar geslaan, manne wat Romeine is, en ons in die gevangenis gegooi; en gooi hulle ons nou in die geheim uit? Volstrek nie! maar laat hulle self kom en ons uitbring.”
Studienota oor Han 16:37 in nwtsty
manne wat Romeine is: Dit wil sê, Romeinse burgers. Paulus was ’n Romeinse burger, en dit lyk of Silas ook een was. Volgens die Romeinse reg was ’n burger altyd geregtig op ’n behoorlike verhoor en moes hy nooit onveroordeeld in die openbaar gestraf word nie. ’n Romeinse burger het sekere regte en voorregte gehad waar hy ook al in die Romeinse gebied was. ’n Romeinse burger het onder die Romeinse wet geval, en nie onder die wette van die stede in die provinsies nie. Wanneer hy aangekla is, kon hy instem om volgens die plaaslike wet verhoor te word, maar hy het nog steeds die reg behou om deur ’n Romeinse hof verhoor te word. As hy die doodstraf gekry het, het hy die reg gehad om te vra om deur die keiser verhoor te word. Die apostel Paulus het regdeur die Romeinse Ryk gepreek. Daar is drie gevalle opgeteken waar hy van sy regte as ’n Romeinse burger gebruik gemaak het. Die eerste geval is hier in Filippi waar hy vir die Filippensiese magistrate gesê het dat hulle sy regte geskend het deur hom te slaan. — Sien die studienotas oor Han 22:25; 25:11 vir die ander twee gevalle.
24-30 DESEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 17-18
“Preek en onderrig soos die apostel Paulus”
(Handelinge 17:2, 3) Toe het Paulus volgens sy gewoonte na hulle toe ingegaan, en hy het drie sabbatte lank uit die Skrif met hulle geredeneer 3 en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan en gesê: “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, hý is die Christus.”
Studienotas oor Han 17:2, 3 in nwtsty
geredeneer: Paulus het nie net vir mense die goeie nuus vertel nie. Hy het dit verduidelik en bewyse gegee uit die Skrif, dit wil sê, uit die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte. Hy het nie net uit die Skrif gelees nie; hy het daaruit geredeneer en sy redenasie by sy gehoor aangepas. Die Griekse werkwoord di·a·leʹgo·mai is al beskryf as “deelname aan ’n gesprek; om te gesels; om te bespreek”. Dit beteken dat daar interaksie is met mense. Hierdie Griekse woord word ook in Han 17:17; 18:4, 19; 19:8, 9; 20:7, 9 gebruik.
deur verwysings bewys: Die Griekse woord beteken letterlik “om iets langs iets anders neer te sit”. Dit gee die idee dat Paulus die Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte noukeurig met die gebeure in Jesus se lewe vergelyk het om te wys dat Jesus daardie profesieë vervul het.
(Handelinge 17:17) Gevolglik het hy in die sinagoge met die Jode en die ander mense wat God aanbid het, begin redeneer, en elke dag op die markplein met dié wat daar was.
Studienota oor Han 17:17 in nwtsty
die markplein: Atene se markplein was NW van die Akropolis geleë (Grieks, a·go·raʹ) en was min of meer 5 ha groot. Die markplein was baie meer as net ’n plek waar mense kon koop en verkoop. Dit was die middelpunt van die stad se ekonomiese, politieke en kulturele lewe. Ateners het daarvan gehou om na hierdie plek te kom waar daar soveel mense was en waar hulle aan intellektuele gesprekke kon deelneem.
(Handelinge 17:22, 23) Paulus het toe in die middel van die Areoʹpagus gestaan en gesê: “Manne van Atene, ek sien dat julle in alles blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig is as ander. 23 Terwyl ek rondgegaan en julle voorwerpe van verering sorgvuldig waargeneem het, het ek byvoorbeeld ook ’n altaar gevind waarop gegraveer is: ‘Aan ’n Onbekende God.’ Waaraan julle dan nou onwetend godvrugtige toegewydheid betoon, dít verkondig ek aan julle.
Studienota oor Han 17:22, 23 in nwtsty
Aan ’n Onbekende God: Die Griekse woorde A·gnoʹstoi the·oiʹ het op ’n altaar in Atene verskyn. Die Ateners het gewys dat hulle die gode vrees deur baie tempels en altare te bou. Hulle het selfs altare gebou vir abstrakte gode soos Roem, Beskeidenheid, Energie, Oorreding en Jammerte. Omdat hulle dalk bang was dat hulle van ’n god vergeet het en sodoende in sy slegte boekie sou beland, het hulle ’n altaar “aan ’n Onbekende God” gewy. Die feit dat hulle hierdie altaar gehad het, het gewys dat hulle erken het dat daar ’n God is van wie hulle niks geweet het nie. Paulus het daardie altaar op ’n baie slim manier gebruik as ’n inleiding om vir die mense te vertel van die God — die ware God — wat hulle nog nie geken het nie.
Soek na geestelike skatte
(Handelinge 18:21) maar afskeid geneem en vir hulle gesê: “As Jehovah wil, sal ek weer na julle toe terugkeer.” En hy het van Eʹfese uitgevaar
Studienota oor Han 18:21 in nwtsty
As Jehovah wil: ’n Uitdrukking wat wys hoe belangrik dit is dat ons God se wil in gedagte moet hou wanneer ons enigiets doen of beplan om dit te doen. Die apostel Paulus het hierdie beginsel toegepas (1Kor 4:19; 16:7; Heb 6:3). Die dissipel Jakobus het ook sy lesers aangemoedig om te sê: “As Jehovah wil, sal ons lewe en ook dit of dat doen” (Jak 4:15). Dit is nie woorde wat ons sommer net sal sê nie; enigeen wat opreg sê “as Jehovah wil” moet probeer om in ooreenstemming met Jehovah se wil op te tree. Hierdie woorde hoef nie altyd hardop gesê te word nie. Dit is iets wat mense dikwels net in hulle hart sê. — Sien die studienotas oor Han 21:14; 1Kor 4:19; Jak 4:15 en sgd deel 2, bl. 6-11.