Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr18 November bl. 1-5
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
  • Onderhofies
  • 5-11 NOVEMBER
  • 12-18 NOVEMBER
  • 19-25 NOVEMBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
mwbr18 November bl. 1-5

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

5-11 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 20-21

“Het jy my liewer as hulle?”

(Johannes 21:1-3) Ná hierdie dinge het Jesus hom weer aan die dissipels geopenbaar by die see van Tibeʹrias; maar hy het hom só geopenbaar. 2 Simon Petrus en Tomas, wat Die Tweeling genoem is, en Nataʹnael uit Kana in Galileʹa en die seuns van Sebedeʹus en twee ander van sy dissipels was daar bymekaar. 3 Simon Petrus het vir hulle gesê: “Ek gaan visvang.” Hulle het vir hom gesê: “Ons kom ook saam met jou.” Hulle het uitgegaan en in die boot geklim, maar gedurende daardie nag het hulle niks gevang nie.

(Johannes 21:4-14) Maar net toe dit oggend begin word, het Jesus op die strand gestaan, maar die dissipels het natuurlik nie besef dat dit Jesus is nie. 5 Toe het Jesus vir hulle gesê: “Jong kinders, het julle nie miskien iets om te eet nie?” Hulle het hom geantwoord: “Nee!” 6 Hy het vir hulle gesê: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit, en julle sal iets vind.” Toe het hulle dit uitgegooi, maar weens die menigte visse kon hulle dit nie meer intrek nie. 7 Daarom het dié dissipel vir wie Jesus lief was, vir Petrus gesê: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus dus hoor dat dit die Here is, het hy sy oorkleed om hom gegord, want hy was naak, en in die see gespring. 8 Maar die ander dissipels het in die bootjie gekom, want hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent negentig meter daarvandaan, en hulle het die net met die visse gesleep. 9 Toe hulle egter aan land stap, het hulle ’n houtskoolvuur daar gesien, en vis wat daarop lê, en brood. 10 Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” 11 Simon Petrus het dus aan boord gegaan en die net vol groot visse na die land getrek, honderd-drie-en-vyftig visse. Maar hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12 Jesus het vir hulle gesê: “Kom, eet julle ontbyt.” Nie een van die dissipels het die moed gehad om hom te vra: “Wie is u?” nie, omdat hulle geweet het dat dit die Here is. 13 Jesus het gekom en die brood geneem en dit vir hulle gegee, en net so ook die vis. 14 Dit was dan nou die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat hy uit die dode opgewek is.

(Johannes 21:15-19) En toe hulle ontbyt geëet het, het Jesus vir Simon Petrus gesê: “Simon, seun van Johannes, het jy my liewer as hulle?” Hy het vir hom gesê: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.” Hy het vir hom gesê: “Voed my lammers.” 16 Weer het hy vir hom gesê, ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy my lief?” Hy het vir hom gesê: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.” Hy het vir hom gesê: “Hou as herder toesig oor my skapies.” 17 Hy het die derde keer vir hom gesê: “Simon, seun van Johannes, het jy geneentheid vir my?” Petrus het bedroef geword dat hy die derde keer vir hom gesê het: “Het jy geneentheid vir my?” Daarom het hy vir hom gesê: “Here, u weet alles; u weet dat ek geneentheid vir u het.” Jesus het vir hom gesê: “Voed my skapies. 18 Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Toe jy jonger was, het jy jouself omgord en rondgegaan waar jy wou. Maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek en ’n ander sal jou omgord en jou bring waar jy nie wil wees nie.” 19 Dit het hy gesê om aan te dui deur watter soort dood hy God sou verheerlik. En nadat hy dit gesê het, het hy vir hom gesê: “Hou aan om my te volg.”

Studienotas oor Joh 21:15, 17 in nwtsty

het Jesus vir Simon Petrus gesê: Hierdie gesprek tussen Jesus en Petrus het plaasgevind kort nadat Petrus Jesus drie keer verloën het. Jesus het drie vrae gevra wat Petrus se gevoelens vir hom ondersoek het, en dit het ‘Petrus bedroef gemaak’ (Joh 21:17). Johannes se verslag in Joh 21:15-17 gebruik twee verskillende Griekse werkwoorde: a·ga·paʹo wat as liefde vertaal word en phi·leʹo wat as geneentheid het vertaal word. Jesus het twee keer vir Petrus gevra: “Het jy my lief?” Petrus het albei kere in alle erns bevestig dat hy “geneentheid” vir Jesus het. Jesus vra toe ’n derde keer: “Het jy geneentheid vir my?” Petrus het dit toe weer bevestig. Elke keer wat Petrus sy liefde bevestig het, het Jesus beklemtoon dat hierdie liefde en geneentheid Petrus moet beweeg om Jesus se dissipels geestelik te voed en ‘as herder toesig oor’ hulle te hou. Jesus se dissipels word hier lammers, of “skapies”, genoem (Joh 21:16, 17; 1Pe 5:1-3). Jesus het Petrus die geleentheid gegee om sy liefde drie keer te bevestig en het daarna die verantwoordelikheid aan hom toevertrou om vir die skape te sorg. Hierdeur het Jesus duidelik gewys dat hy Petrus vergewe het nadat Petrus hom drie keer verloën het.

het jy my liewer as hulle?: Die uitdrukking “liewer as hulle” kan meer as een betekenis hê. Party geleerdes verkies die betekenis “het jy my liewer as wat jy hierdie ander dissipels liefhet?” of “het jy my liewer as wat hierdie dissipels my liefhet?” Maar dit beteken waarskynlik eerder “het jy my liewer as hierdie dinge?”, dit wil sê die visse wat hulle gevang het of hulle werk as vissermanne. Dit lyk dus eerder asof Jesus met hierdie vers bedoel het: ‘Het jy my liewer as materiële dinge of strewes? Voed dan my lammers.’ As ons na Petrus se verlede kyk, is hierdie vraag baie gepas. Al was Petrus een van Jesus se eerste dissipels (Joh 1:35-42), het hy Jesus nie onmiddellik voltyds gevolg nie. Hy het eerder teruggegaan na sy werk as ’n visserman. ’n Paar maande later het Jesus Petrus van daardie winsgewende besigheid weggeroep om ’n ‘visser van mense’ te word (Mt 4:18-20; Lu 5:1-11). Kort na Jesus se dood het Petrus weer gesê dat hy gaan visvang, en van die ander apostels het saam met hom gegaan (Joh 21:2, 3). Dit is dus heel moontlik dat Jesus dit by Petrus wou tuisbring hoe belangrik dit is om ’n beslissende keuse te maak. Die visse wat op ’n hopie voor hulle gelê het, het Petrus se loopbaan as ’n visserman voorgestel. Sou hy dit eerste stel? Of sou hy die werk om Jesus se lammers, of volgelinge, geestelik te voed eerste stel? — Joh 21:4-8.

die derde keer: Petrus het sy Heer drie keer verloën; Jesus het hom nou drie keer die geleentheid gegee om sy gevoelens te bevestig. Terwyl Petrus dit gedoen het, het Jesus vir hom gesê dat hy daardie liefde en geneentheid moet wys deur heilige diens bo enigiets anders te stel. Saam met ander verantwoordelike broers sou Petrus Christus se kudde van getroue volgelinge voed, versterk en as herder oor hulle toesig hou. Hierdie volgelinge moes nog steeds geestelik gevoed word al was hulle gesalfdes. — Lu 22:32.

Soek na geestelike skatte

(Johannes 20:17) Jesus het vir haar gesê: “Hou op om aan my vas te klou. Want ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.’”

Studienota oor Joh 20:17 in nwtsty

Hou op om aan my vas te klou: Die Griekse werkwoord haʹpto·mai kan beteken “om te raak aan” of “om vas te klou aan”. In party vertalings word Jesus se woorde weergegee met: “Moenie aan my raak nie.” Dit was nie vir Jesus ’n probleem dat Maria Magdalena aan hom geraak het nie, aangesien hy toegelaat het dat ander vroue wat hom ná sy opstanding gesien het ‘hom aan sy voete gryp’ (Mt 28:9). Maria Magdalena was blykbaar bang dat Jesus daar en dan na die hemel sou opvaar. Omdat sy ’n sterk begeerte gehad het om by haar Here te wees, het sy aan Jesus vasgehou en hom nie laat gaan nie. Om haar te verseker dat hy nog nie weggaan nie, het Jesus vir Maria gesê om op te hou om aan hom vas te klou en eerder die nuus van sy opstanding vir sy dissipels te gaan vertel.

(Johannes 20:28) Tomas het geantwoord en vir hom gesê: “My Here en my God!”

Studienota oor Joh 20:28 in nwtsty

My Here en my God!: Lett., “Die Here van my en die God [ho the·osʹ] van my!” Party geleerdes beskou hierdie uitdrukking as ’n uitroep van verbasing aan Jesus maar wat eintlik aan God, sy Vader, gerig was. Ander sê nou weer dat, as ’n mens na die oorspronklike Grieks kyk, die woorde aan Jesus gerig is. Al is dit so, moet ’n mens nog steeds na die konteks van die res van die Bybel kyk om die uitdrukking “my Here en my God” reg te verstaan. Aangesien die Bybel wys dat Jesus sy dissipels by ’n vorige geleentheid laat weet het: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God”, is daar geen rede om te glo dat Tomas gedink het dat Jesus die almagtige God is nie. (Sien die studienota oor Joh 20:17.) Tomas het gehoor toe Jesus tot sy “Vader” gebid het en hom “die enigste ware God” genoem het (Joh 17:1-3). Tomas het Jesus dalk vir die volgende redes “my God” genoem: Hy het Jesus as “’n god” beskou, maar nie die almagtige God nie. (Sien die studienota oor Joh 1:1.) Of hy het Jesus dalk aangespreek soos God se knegte engeleboodskappers van Jehovah aangespreek het, soos ons in die Hebreeuse Geskrifte kan sien. Tomas was natuurlik bekend met verslae waarin individue, of soms die Bybelskrywer van die verslag, met of van engeleboodskappers gepraat het asof hulle Jehovah God is. (Vergelyk Ge 16:7-11, 13; 18:1-5, 22-33; 32:24-30; Rig 6:11-15; 13:20-22.) Daarom het Tomas Jesus dalk “my God” genoem, met die bedoeling dat hy Jesus as die verteenwoordiger of woordvoerder van die ware God erken het.

Party redeneer dat die gebruik van die Griekse bepalende lidwoord voor die woorde “here” en “god” aandui dat hierdie woorde na die almagtige God verwys. Maar in hierdie konteks lyk dit asof die bepalende lidwoord basies net die Griekse grammatika weergee. Die letterlike vertaling van tekste soos Lu 12:32 (lett., “die klein kuddetjie”) en Kol 3:18–4:1 (lett., “die vrouens”; “die mans”; “die kinders”; “die vaders”; “die slawe”; “die here”) is voorbeelde van gevalle waar die nominatiewe selfstandige naamwoord saam met die bepalende lidwoord as ’n vokatief in Grieks gebruik word. Net so sal ’n letterlike vertaling van 1Pe 3:7 wees: “Die mans.” Die gebruik van die lidwoord is hier dalk nie belangrik om te bepaal wat Tomas in gedagte gehad het toe hy hierdie woorde gesê het nie.

12-18 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 1-3

“Heilige gees word op die Christengemeente uitgestort”

Soek na geestelike skatte

(Handelinge 3:15) terwyl julle die Hoofbewerker van die lewe doodgemaak het. Maar God het hom uit die dode opgewek, ’n feit waarvan ons getuies is.

it-2-E 61 ¶1

Jesus Christus

“Hoofbewerker van die lewe.” As bewys van sy Vader se onverdiende goedhartigheid het Christus Jesus sy volmaakte menselewe opgeoffer. As gevolg hiervan kon Christus se gekose volgelinge saam met hom in die hemel begin regeer en kon daar voorsiening gemaak word vir aardse onderdane onder sy Koninkryksheerskappy. (Mt 6:10; Joh 3:16; Ef 1:7; Heb 2:5; sien RANSOM in it-2-E.) Sodoende het hy “die Hoofbewerker [“Prins”, KJ; JB] van die lewe” vir die hele mensdom geword (Han 3:15). Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken basies “hoofleier”, en hierdie woord is verwant aan die woord “heerser” wat vir Moses (Han 7:27, 35) in Israel gebruik is.

LÊ JOU TOE OP DIE VELDBEDIENING

Toespraak

it-1-E 129 ¶2-3

Apostel

Wie het die twaalfde apostel geword in die plek van Judas Iskariot?

Omdat Judas Iskariot afvallig geraak het en as ’n ontroue persoon gesterf het, was daar net 11 apostels oor. Gedurende die 40 dae vanaf Jesus se opstanding totdat hy na die hemel opgevaar het, het hy nie ’n ander apostel in Judas Iskariot se plek aangestel nie. Die een of ander tyd gedurende die tien dae tussen Jesus se hemelvaart en Pinkster is dit as noodsaaklik beskou dat iemand anders in Judas se plek gekies moet word. Volgens Petrus se aanhaling uit die Skrif was dit nie net omdat Judas gesterf het nie, maar omdat hy afvallig geword het. (Han 1:15-22; Ps 69:25; 109:8; vergelyk Op 3:11.) In teenstelling hiermee lees ons nêrens dat dit nodig was om iemand as ’n apostel aan te stel in die plek van die getroue apostel Jakobus nadat hy doodgemaak is nie. – Han 12:2.

Petrus se woorde wys duidelik dat enigiemand wat as ’n apostel van Jesus Christus aangestel is, die volgende kwalifikasies moes hê: Hy moes Jesus persoonlik geken het en hy moes ’n ooggetuie gewees het van sy werk, van sy wonderwerke en veral van sy opstanding. Met die oog hierop sou dit onmoontlik gewees het vir iemand om later as ’n apostel aangestel te word, tensy God iets sou doen om dit vir daardie spesifieke persoon moontlik te maak om aan hierdie vereistes te voldoen. Maar op daardie tydstip, voor Pinkster, was daar manne wat aan hierdie vereistes voldoen het, en twee van hulle is aanbeveel as goeie plaasvervangers vir die ontroue Judas. Met Spreuke 16:33 in gedagte, is die lot gewerp en is Mattias gekies. Daarna is hy “saam met die elf apostels gereken” (Han 1:23-26). Daarom word hy ingesluit by “die twaalf” wat gehelp het om die probleem in verband met die Griekssprekende dissipels op te los (Han 6:1, 2). Dit is duidelik dat Paulus ook na hom verwys as deel van “die twaalf” waar hy in 1 Korintiërs 15:4-8 praat oor die kere wat Jesus ná sy opstanding verskyn het. Daarom was daar, met Pinkster, 12 apostoliese fondasies waarop die geestelike Israel, wat toe gevorm is, kon rus.

19-25 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | HANDELINGE 4-5

“Hulle het God se woord met vrymoedigheid bly spreek”

(Handelinge 4:18-20) Daarop het hulle hulle geroep en hulle beveel om nêrens enigiets in die naam van Jesus te sê of te leer nie. 19 Maar Petrus en Johannes het geantwoord en vir hulle gesê: “Of dit regverdig is in God se oë om na julle eerder as na God te luister, moet julle self oordeel. 20 Maar wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”

(Handelinge 4:23-31) Nadat hulle vrygelaat is, het hulle na hulle eie mense toe gegaan en vertel wat die hoofpriesters en die ouer manne vir hulle gesê het. 24 Toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: “Soewereine Heer, u is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het, 25 en wat deur middel van heilige gees deur die mond van ons voorvader Dawid, u kneg, gesê het: ‘Waarom het nasies onstuimig geword en volke leë dinge bedink? 26 Die konings van die aarde het stelling ingeneem en die heersers het soos een man saamgespan teen Jehovah en teen sy gesalfde.’ 27 Net so het Herodes sowel as Pontius Pilatus, saam met mense van die nasies en volke van Israel, in werklikheid in hierdie stad bymekaargekom teen u heilige kneg Jesus, wat u gesalf het, 28 om te doen wat u hand en voorneme voorbestem het om plaas te vind. 29 En nou, Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek, 30 terwyl u u hand uitsteek tot genesing en terwyl tekens en voortekens deur die naam van u heilige kneg Jesus plaasvind.” 31 En nadat hulle ’n smeekbede gedoen het, is die plek waarin hulle bymekaar was, geskud; en hulle is almal sonder uitsondering met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.

it-1-E 128 ¶3

Apostel

Bedrywighede in die Christengemeente. Toe God se gees op Pinkster op die apostels uitgestort is, het dit hulle baie versterk. Die eerste vyf hoofstukke van die Handelinge van die Apostels wys vir ons duidelik hoe vreesloos die apostels was en hoe moedig hulle was toe hulle die goeie nuus en Jesus se opstanding verkondig het, al is hulle in die tronk gegooi, geslaan en het heersers hulle met die dood gedreig. Gedurende daardie vroeë dae ná Pinkster het die dinamiese leierskap van die apostels, onder die krag van die heilige gees, gelei tot ongelooflike uitbreiding in die Christengemeente (Han 2:41; 4:4). Hulle het hulle bediening eers net op Jerusalem gefokus en dit toe na Samaria en later na die res van die bekende wêreld uitgebrei. — Han 5:42; 6:7; 8:5-17, 25; 1:8.

Soek na geestelike skatte

(Handelinge 4:11) Dit is ‘die steen wat deur julle, die bouers, behandel is asof hy van geen belang was nie, wat die hoof van die hoek geword het’.

it-1-E 514 ¶4

Hoek

Psalm 118:22 sê vir ons dat die steen wat deur die bouers verwerp is die “hoof van die hoek” (Heb., roʼsh pin·nahʹ) sou word. Jesus het hierdie profesie aangehaal en op homself toegepas as “die hoofhoeksteen” (Gr., ke·pha·leʹ go·niʹas, hoof van die hoek) (Mt 21:42; Mr 12:10, 11; Lu 20:17). Net soos die heel boonste steen van ’n gebou opvallend is, is Jesus Christus die hoofsteen van die Christengemeente van gesalfdes, wat met ’n geestelike tempel vergelyk word. Petrus het ook Psalm 118:22 op Christus toegepas, wat wys dat hy “die steen” was wat deur mense verwerp is maar deur God gekies is om “die hoof van die hoek” te word. — Han 4:8-12; sien ook 1Pe 2:4-7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel