Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/8 bl. 20-21
  • Is dit verkeerd om trots te wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit verkeerd om trots te wees?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Trots wat skadelik is
  • Is daar gepaste trots?
  • Die gevolge van trots—Hoe ernstig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Jy kan teen Satan stry—en oorwin!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wat van rassetrots?
    Ontwaak!—1998
  • Is nederigheid ’n swakheid of ’n sterk punt?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/8 bl. 20-21

Die Bybelse beskouing

Is dit verkeerd om trots te wees?

DAAR is ’n ou gesegde wat sê dat trots die eerste van sewe doodsondes is. Maar baie mense glo vandag dat so ’n mening heeltemal verouderd is. Noudat ons op die drumpel van die 21ste eeu staan, word trots as iets goeds beskou, nie as ’n sonde nie.

Maar wanneer die Bybel van trots praat, het dit gewoonlik ’n negatiewe betekenis. In die Bybelboek Spreuke alleen is daar etlike stellings wat trots veroordeel. Spreuke 8:13 sê byvoorbeeld: “Hoogmoed en trotsheid en ’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek.” Spreuke 16:5 sê: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel.” En vers 18 waarsku: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.”

Trots wat skadelik is

Die trots wat in die Bybel veroordeel word, kan beskryf word as ’n baie hoë dunk van jouself, ’n oordrewe meerderwaardigheidsgevoel wat jou talente, skoonheid, rykdom, geleerdheid, stand, ensovoorts betref. Dit kan deur ’n hooghartige houding, grootpratery, onbeskoftheid of verwaandheid geopenbaar word. As ’n mens te veel van jouself dink, kan dit daartoe lei dat jy nie nodige raad aanvaar nie; dat jy weier om foute te erken en om verskoning te vra, nie wil toegee en aansien verloor nie, of dat jy onredelik is deur aanstoot te neem aan iets wat iemand gedoen of gesê het.

Trotse mense sal moontlik daarop aandring dat dinge altyd op hulle manier gedoen word, of glad nie. Dit is maklik om te sien hoe so ’n gesindheid dikwels die een of ander persoonlike konflik tot gevolg het. Rassetrots of nasionalisme het al tot tallose oorloë en bloedvergieting gelei. Volgens die Bybel was trots die rede waarom ’n geesseun van God in opstand gekom en homself Satan die Duiwel gemaak het. Paulus het die volgende raad oor die vereistes vir Christen- ouer manne gegee: “Nie ’n pasbekeerde nie, uit vrees dat hy opgeblase van trots sal word en in die oordeel sal val wat oor die Duiwel gevel is.” (1 Timoteus 3:6; vergelyk Esegiël 28:13-17.) As dít die gevolge van trots is, is dit geen wonder dat God dit veroordeel nie. Maar jy vra dalk: ‘Is daar nie situasies waarin trots gepas kan wees nie?’

Is daar gepaste trots?

In die Christelike Griekse Geskrifte word die werkwoord kau·khaʹo·mai wat met “beroem op, verbly, roem” vertaal word in ’n negatiewe sowel as ’n positiewe sin gebruik. Paulus sê byvoorbeeld dat ons ons kan “verbly, met die hoop op die heerlikheid van God as grondslag”. Hy beveel ook aan: “Hy wat roem, laat hom in Jehovah roem” (Romeine 5:2; 2 Korintiërs 10:17). Dit beteken dat ons trots daarop is dat Jehovah ons God is, ’n gevoel wat daartoe kan lei dat ons ons oor sy goeie naam en reputasie verbly.

Ter toeligting: Is die begeerte om ’n goeie naam te verdedig wanneer dit belaster word verkeerd? Natuurlik nie. Sou jy nie verontwaardig voel as mense valse aantygings maak teen jou gesinslede of ander vir wie jy lief is en respekteer nie, en sou jy nie verplig voel om hulle te verdedig nie? “’n [Goeie] naam is verkiesliker as groot rykdom”, sê die Bybel (Spreuke 22:1). By een geleentheid het die almagtige God vir ’n trotse Farao van Egipte gesê: “Hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig” (Exodus 9:16). God verbly hom dus in sy goeie naam en reputasie en is ywerig daarvoor. Dit kan ook vir ons belangrik wees om ons eie goeie naam en reputasie te verdedig en tog nie deur ydelheid en selfsugtige trots gemotiveer te wees nie.—Spreuke 16:18.

Respek is noodsaaklik in enige gesonde verhouding. Ons sosiale lewe en sakebedrywighede ly daaronder wanneer ons vertroue verloor in diegene met wie ons omgaan. Net so kan ’n gesamentlike projek of vennootskap bederf word as net één van die partye iets doen wat hom of sy vennote ’n slegte naam by die publiek gee. Ten einde jou doelwitte te bereik, ongeag wat dit is, moet ’n mens se reputasie gehandhaaf word. Dit is een rede waarom opsieners in die Christengemeente “’n voortreflike getuienis” van mense buite die gemeente moet hê (1 Timoteus 3:7). Hulle begeerte om ’n goeie naam te behou, word nie deur trotse selfverheffing gemotiveer nie, maar deur die besef dat dit noodsaaklik is om God op ’n waardige manier te verteenwoordig. Buitendien, hoe geloofwaardig kan ’n bedienaar met ’n swak getuienis van mense buite die gemeente immers wees?

Wat van trots oor persoonlike prestasies? Neem byvoorbeeld die vreugde van ouers wanneer hulle kind goed vaar op skool. ’n Mens kan tereg tevrede wees oor so ’n prestasie. Toe Paulus aan mede-Christene in Tessalonika geskryf het, het hy getoon dat hy ook bly was oor suksesse: “Ons is verplig om God altyd vir julle te dank, broers, soos dit gepas is, omdat julle geloof uitermate groei en die liefde van ’n ieder en ’n elk van julle teenoor mekaar toeneem. Gevolglik beroem ons ons op julle onder die gemeentes van God weens julle volharding en geloof in al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verdra” (2 Tessalonisense 1:3, 4). Ja, die natuurlike neiging is om bly te wees oor die prestasies van ons geliefdes. Wat is dus die verskil tussen ongepaste trots en gepaste trots?

Dit is nie verkeerd as ons ons reputasie wil handhaaf, suksesvol wil wees en bly is wanneer ons wel sukses behaal nie. Maar selfverheffing, hoogmoed en grootpratery oor onsself of ander is dinge wat God veroordeel. Dit sou beslis jammer wees as enigeen “opgeblase” van trots raak of begin om ‘meer van homself te dink as wat nodig is’. Christene het geen rede om trots te wees of hulle op enigeen of enigiets te beroem nie, behalwe op Jehovah God en wat hy vir hulle gedoen het (1 Korintiërs 4:6, 7; Romeine 12:3). Die profeet Jeremia gee ons ’n goeie beginsel om te volg: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen.”—Jeremia 9:24.

[Prent op bladsy 20]

“Pous Innocentius X”, deur Don Diego Rodríguez de Silva Velázquez

[Erkenning]

Scala/Art Resource, NY

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel