Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
3-9 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | GALASIËRS 4-6
“‘’n Simboliese drama’ met betekenis vir ons”
(Galasiërs 4:24, 25) Hierdie dinge vorm ’n simboliese drama; want hierdie vroue beteken twee verbonde, die een afkomstig van die berg Si′nai, wat kinders vir slawerny voortbring, en dit is Hagar. 25 En hierdie Hagar beteken Si′nai, ’n berg in Arabië, en sy kom ooreen met die huidige Jerusalem, want sy is in slawerny met haar kinders.
it-1-E 1018 ¶2
Hagar
Volgens die apostel Paulus was Hagar deel van ’n simboliese drama waarin sy die vleeslike nasie Israel verteenwoordig het. Hulle was verbind aan Jehovah deur die Wetsverbond wat by die berg Sinai ingestel is, wat “kinders vir slawerny” voortgebring het. As gevolg van die sondige toestand van die mense, kon die nasie nie die voorwaardes van daardie verbond nakom nie. Die Israeliete het nie onder daardie verbond ’n vry volk geword nie, maar is as sondaars veroordeel wat die dood verdien; en daarom was hulle slawe (Joh 8:34; Ro 8:1-3). Jerusalem van Paulus se dag het met Hagar ooreengekom, want Jerusalem, die hoofstad, wat die organisasie van natuurlike Israel voorgestel het, was in slawerny saam met haar kinders. Maar die geesverwekte Christene is kinders van die “Jerusalem daar bo”, God se simboliese vrou. Soos Sara die vry vrou was hierdie Jerusalem nog nooit in slawerny nie. Maar net soos Isak deur Ismael vervolg is, is die kinders van die “Jerusalem daar bo”, wat deur die Seun vrygemaak is, vervolg deur die kinders van Jerusalem wat in slawerny was. Maar Hagar en haar seun is verdryf. Dit het voorgestel hoe Jehovah natuurlike Israel as ’n nasie verwerp het. – Ga 4:21-31; sien ook Joh 8:31-40.
10-16 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EFESIËRS 1-3
“Jehovah se administrasie en die werk daarvan”
(Efesiërs 1:8, 9) Dit het hy oorvloedig teenoor ons laat word in alle wysheid en verstandigheid, 9 deurdat hy die heilige geheim van sy wil aan ons bekend gemaak het. Dit is volgens sy welbehae wat hy in homself voorgeneem het
it-2-E 837 ¶4
Heilige geheim
Die Messiaanse Koninkryk. In sy geskrifte gee Paulus ’n volledige beskrywing van die openbaring van die heilige geheim van die Christus. In Efesiërs 1:9-11 praat hy van God wat “die heilige geheim” van sy wil bekend maak en sê: “Dit is volgens sy welbehae wat hy in homself voorgeneem het om aan die voleinding van die vasgestelde tye ’n administrasie te hê, naamlik om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde. Ja, in hom, in eenheid met wie ons ook as erfgename aangewys is, deurdat ons voorbestem is ooreenkomstig die voorneme van hom wat alles werk volgens die raadsbesluit van sy wil.” Hierdie “heilige geheim” het te doen met ’n regering, die Messiaanse Koninkryk van God. “Die dinge in die hemele” waarvan Paulus praat, is die toekomstige erfgename van daardie hemelse Koninkryk saam met Christus. “Die dinge op die aarde” sal die aardse onderdane daarvan wees. Jesus het vir sy dissipels gewys dat die heilige geheim met die Koninkryk verband hou toe hy vir hulle gesê het: “Aan julle is die heilige geheim van die koninkryk van God gegee.” – Mr 4:11.
17-23 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EFESIËRS 4-6
Soek na geestelike skatte
(Efesiërs 4:30) En moenie God se heilige gees, waarmee julle verseël is vir ’n dag van bevryding deur ’n losprys, bedroef nie.
it-1-E 1128 ¶3
Heiligheid
Heilige gees. Jehovah se werkende krag, of gees, is onder sy beheer en vervul altyd sy voorneme. Dit is rein, suiwer en heilig en is daar vir God se gebruik. Daarom word dit “heilige gees” en “die gees van heiligheid” genoem (Ps 51:11; Lu 11:13; Ro 1:4; Ef 1:13). Wanneer die heilige gees op iemand inwerk, help dit daardie persoon om heilig of rein te wees. Enige onrein of verkeerde gebruik beteken dat ’n mens daardie gees weerstaan of “bedroef” (Ef 4:30). Hoewel die heilige gees nie ’n persoon is nie, is dit ’n weerspieëling van God se heilige persoonlikheid en kan dit dus “bedroef” word. As ’n mens enige sonde beoefen, sal dit waarskynlik “die vuur van die gees blus” (1Te 5:19). As die persoon met hierdie sonde aanhou, sal God se heilige gees “gekrenk”, of seergemaak, word. Dit kan daartoe lei dat God ’n vyand word van hierdie persoon wat teen hom in opstand kom (Jes 63:10). Iemand wat die heilige gees bedroef, kan selfs sover gaan as om daarteen te laster, en Jesus Christus het gesê dat daar geen vergifnis vir daardie soort sonde in hierdie stelsel van dinge of in die toekomstige stelsel van dinge is nie. – Mt 12:31, 32; Mr 3:28-30; sien “SPIRIT” in it-2-E.
(Efesiërs 5:5) Want julle weet dit, en julle besef dit self, dat geen hoereerder of onreine of gierigaard – wat beteken om ’n afgodedienaar te wees – enige erfenis in die koninkryk van die Christus en van God het nie.
it-1-E 1006 ¶2
Gierigheid
Word deur dade gewys. Wanneer iemand gierig is, sal die een of ander sigbare daad daardie persoon se verkeerde en oordrewe begeerte verklap. Die Bybelskrywer Jakobus sê vir ons dat verkeerde begeertes, wanneer dit vrugbaar word, sonde baar (Jak 1:14, 15). ’n Gierige persoon kan dus aan sy dade uitgeken word. Die apostel Paulus sê dat ’n gierigaard in werklikheid ’n afgodedienaar is (Ef 5:5). So iemand se gulsige begeerte veroorsaak dat dít wat hy begeer sy god word, en dit word dan vir hom belangriker as sy diens aan en aanbidding van die Skepper. – Ro 1:24, 25.
24-30 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | FILIPPENSE 1-4
Soek na geestelike skatte
(Filippense 2:17) Maar selfs al word ek soos ’n drankoffer uitgegiet op die offerande en openbare diens waartoe geloof julle gelei het, is ek bly en verbly ek my saam met julle almal.
it-2-E 528 ¶5
Offerandes
Drankoffers. Wanneer die Israeliete offerandes gebring het, het dit die meeste van die tyd drankoffers ingesluit, veral nadat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het (Nu 15:2, 5, 8-10). Hierdie drankoffer was wyn (“sterk drank”), en is op die altaar uitgegiet. (Nu 28:7, 14; vergelyk Eks 30:9; Nu 15:10.) Die apostel Paulus het aan die Christene in Filippi geskryf: “Al word ek soos ’n drankoffer uitgegiet op die offerande en openbare diens waartoe geloof julle gelei het, is ek bly.” Hy het hier die voorbeeld van ’n drankoffer gebruik om te wys dat hy bereid was om hom in te span ter wille van sy mede-Christene (Flp 2:17). Kort voor sy dood het hy aan Timoteus geskryf: “Ek word reeds soos ’n drankoffer uitgegiet, en die bestemde tyd vir my losmaking is op hande.” – 2Ti 4:6.