Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
7-13 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 23-24
“Moenie agter die meerderheid aangaan nie”
(Eksodus 23:2) Jy mag nie agter die meerderheid aangaan om te doen wat sleg is nie, en wanneer jy getuienis aflê, mag jy nie die reg verdraai net om agter die meerderheid aan te gaan nie.
it-1-E 11 ¶3
Aäron
Dit is belangrik om te onthou dat Aäron, toe hy die drie keer groot foute gemaak het, blykbaar nie die een was wat alles begin het nie, maar eerder toegelaat het dat die druk van die omstandighede of die invloed van ander veroorsaak het dat hy gedoen het wat verkeerd is. Dit was veral met sy eerste fout dat hy die beginsel in hierdie bevel moes toegepas het: “Jy mag nie agter die meerderheid aangaan om te doen wat sleg is nie” (Eks 23:2). Sy naam word daarna nogtans op ’n eervolle manier in die Skrif gebruik. En God se Seun het gedurende sy lewe hier op die aarde ook die geldigheid van die Aäronitiese priesterdom erken. – Ps 115:10, 12; 118:3; 133:1, 2; 135:19; Mt 5:17-19; 8:4.
(Eksodus 23:3) Jy moet onpartydig wees in ’n saak waarby ’n arm persoon betrokke is.
it-1-E 343 ¶5
Blindheid
Wanneer regters korrup was en die reg verdraai het, is dit dikwels met blindheid vergelyk. Die Wet waarsku op baie plekke teen omkopery, geskenke of partydigheid omdat sulke dinge ’n regter kan verblind en kan keer dat hy onpartydig optree. “Die omkoopgeskenk verblind mense wat insig het” (Eks 23:8). “Die omkoopgeskenk verblind die oë van die wyses” (De 16:19). Maak nie saak hoe opreg en wys ’n regter is nie, hy kan bewustelik of onbewustelik beïnvloed word deur ’n geskenk van dié wat by die saak betrokke is. God se wet wys watter verblindende uitwerking ’n geskenk of sentiment kan hê wanneer dit sê: “Jy mag nie die armes begunstig of die rykes voortrek nie” (Le 19:15). So, ’n regter moes nie sy uitspraak teen die rykes – net omdat hulle ryk was – baseer op sentiment of omdat hy gewild wou wees by die skare nie. – Eks 23:2, 3.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 23:20, 21) “Ek stuur ’n engel voor julle uit om julle op die pad te beskerm en om julle na die plek te bring wat ek gereedgemaak het. 21 Luister na hom en gehoorsaam sy stem. Moenie teen hom in opstand kom nie. Hy sal nie julle oortredings vergewe nie, want hy kom in my naam.
it-2-E 393
Migael
1. Die enigste heilige engel, behalwe Gabriël, wie se naam in die Bybel verskyn, en die enigste een wat “aartsengel” genoem word (Jud 9). Die eerste keer wat ons hierdie naam lees, is in Daniël hoofstuk tien waar Migael beskryf word as “een van die vernaamste prinse”; hy het ’n ondergeskikte engel gehelp wat teëgestaan is deur “die prins van die koninklike gebied van Persië”. Migael word genoem “julle prins”, of die prins van Daniël se volk, “die groot prins wat tot voordeel van [Daniël se] volk staan” (Da 10:13, 20, 21; 12:1). Dit dui daarop dat Migael die engel was wat die Israeliete deur die wildernis gelei het (Eks 23:20, 21, 23; 32:34; 33:2). Nog iets wat hierdie gedagte ondersteun, is die feit dat “Migael, die aartsengel, met die Duiwel oor Moses se liggaam gestry het”. – Jud 9.
14-20 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 25-26
“Die belangrikste voorwerp in die tabernakel”
(Eksodus 25:9) Julle moet die tabernakel en al sy toerusting presies maak volgens die voorbeeld wat ek vir julle wys.
it-1-E 165
Die ark van die verbond
Voorbeeld en ontwerp. Toe Jehovah vir Moses gesê het om die tabernakel te bou, was die voorbeeld en ontwerp van die Ark die eerste ding wat hy vir Moses gegee het, want dit was die belangrikste voorwerp in die tabernakel en die hele kamp van Israel. Die kis self was 2,5 el lank, 1,5 el breed en 1,5 el hoog (ca. 111 x 67 x 67 cm). Dit was van akasiahout gemaak en die binnekant en die buitekant daarvan was met suiwer goud oorgetrek. ’n Kunstige “goue randversiering” was soos ’n kroon “daarom”. Die tweede deel van die Ark, die deksel, was van suiwer goud gemaak, en nie net van hout wat met goud oorgetrek was nie, en dit was die volle lengte en breedte van die kis. Op hierdie deksel was daar twee goue gerubs wat met ’n hamer gevorm was, een aan elke kant van die deksel met hulle koppe na mekaar toe en met hulle gesigte wat afkyk en vlerke wat bo-oor die deksel na bo uitgesprei was (Eks 25:10, 11, 17-22; 37:6-9). Hierdie deksel is ook die “versoendeksel” genoem. – Eks 25:17; Heb 9:5; sien “PROPITIATORY COVER” in it-2-E.
(Eksodus 25:21) Jy moet die deksel bo-op die Ark sit, en jy moet die Getuienis wat ek jou sal gee, in die Ark sit.
it-1-E 166 ¶2
Die ark van die verbond
Die Ark was ’n heilige argief waar die heilige herinneringe of Getuienis veilig bewaar is, waarvan die belangrikste die twee kliptablette van die Getuienis, of die Tien Gebooie, was (Eks 25:16). ’n “Goue houer met die manna [en] Aäron se staf wat bloeisels gehad het”, is ook in die Ark gesit maar is later verwyder, ’n ruk voordat Salomo se tempel gebou is (Heb 9:4; Eks 16:32-34; Nu 17:10; 1Kn 8:9; 2Kr 5:10). Net voordat Moses gesterf het, het hy ’n kopie van die “Wetboek” vir die Levitiese priesters gegee met instruksies oor waar dit gehou moes word. Dit moes nie binne die Ark gehou word nie, maar “langs die ark van die verbond van Jehovah julle God . . . as ’n getuie teen julle”. – De 31:24-26.
(Eksodus 25:22) Ek sal daar aan jou verskyn en van bokant die deksel af met jou praat. Ek sal van tussen die twee gerubs wat op die ark van die Getuienis is, vir jou al die bevele gee wat jy aan die Israeliete moet oordra.
it-1-E 166 ¶3
Die ark van die verbond
Het God se teenwoordigheid voorgestel. Die Ark het God se teenwoordigheid voorgestel, al die tyd wat dit bestaan het. Jehovah het belowe: “Ek sal daar aan jou verskyn en van bokant die deksel af met jou praat. Ek sal van tussen die twee gerubs wat op die ark van die Getuienis is, vir jou al die bevele gee.” “Ek sal in ’n wolk bokant die deksel verskyn” (Eks 25:22; Le 16:2). Samuel het geskryf dat Jehovah “bo die gerubs sit” (1Sa 4:4); daarom het die gerubs “die strydwa” van Jehovah afgebeeld (1Kr 28:18). So, “wanneer Moses in die tent van samekoms ingegaan het om met [Jehovah] te praat, het hy die stem met hom hoor praat van bokant die deksel wat op die ark van die Getuienis was, tussen die twee gerubs uit. En God het met hom gepraat” (Nu 7:89). Later het Josua en die hoëpriester Pinehas voor die Ark vir Jehovah se leiding gevra (Jos 7:6-10; Rig 20:27, 28). Maar net die hoëpriester het een keer ’n jaar in die Allerheiligste self ingegaan en die Ark gesien, nie om met Jehovah te kommunikeer nie, maar om die seremonie van die Versoendag uit te voer. – Le 16:2, 3, 13, 15, 17; Heb 9:7.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 25:20) Die gerubs moet hulle twee vlerke na bo uitsprei, bo-oor die deksel, met hulle koppe na mekaar toe. Die gesigte van die gerubs moet afkyk na die deksel.
it-1-E 432 ¶1
Gerub
Afbeeldings van gerubs was deel van die items van die tabernakel wat in die wildernis opgestel is. Bo-op die ark se deksel, weerskante daarvan, was daar twee goue gerubs wat met ’n hamer gevorm is. Hulle koppe was na mekaar toe en hulle gesigte het afgekyk na die deksel, in ’n posisie van aanbidding. Hulle het elkeen twee vlerke gehad wat bo-oor die deksel na bo uitgesprei was, asof hulle waghou oor die Ark en dit beskerm (Eks 25:10-21; 37:7-9). Daar was ook gerubs geborduur op die binneste bedekking van die tentdoeke van die tabernakel en die gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het. – Eks 26:1, 31; 36:8, 35.
(Eksodus 25:30) En jy moet die offerbrode gereeld op die tafel voor my sit.
it-2-E 936
Offerbrode
Twaalf brode wat op ’n tafel in die Heilige deel van die tabernakel of tempel neergesit is en wat elke Sabbat met vars brode vervang is (Eks 35:13; 39:36; 1Kn 7:48; 2Kr 13:11; Ne 10:32, 33). In Hebreeus beteken toonbrode, of offerbrode, letterlik “brood van die aangesig”. Die woord “aangesig” beteken partykeer “teenwoordigheid” en daarom was die offerbrode gereeld as ’n offer voor Jehovah gesit (Eks 25:30). Daar word ook van die offerbrode gepraat as “stapelbrode” (2Kr 2:4) en “die aanbiedingsbrode” (Mr 2:26, vtn.; Heb 9:2, vtn.).
21-27 SEPTEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 27-28
“Wat kan ons leer uit die priesters se klere?”
(Eksodus 28:30) Jy moet die Urim en die Tummim in die borsstuk van oordeel sit, en hulle moet op Aäron se hart wees wanneer hy voor Jehovah ingaan, en Aäron moet hierdie voorwerpe, waarmee oordele vir die Israeliete vasgestel word, altyd voor Jehovah op sy hart dra.
it-2-E 1143
Die Urim en die Tummim
’n Hele paar Bybelkommentators dink dat die Urim en die Tummim gebruik is om die lot te werp. In James Moffatt se vertaling van Eksodus 28:30 word dit “die heilige lot” genoem. Party dink dat dit uit drie stukke bestaan het, een met die woord “ja”, een met die woord “nee” en die ander een met niks op nie. Hierdie lot sou getrek word om ’n antwoord te gee op die vraag wat gevra is. Wanneer die stuk getrek is waarop daar niks was nie, het dit beteken dat daar geen antwoord was nie. Ander dink weer dat dit twee plat klippe was wat aan die een kant wit was en aan die ander kant swart. Wanneer dit neergegooi is, sou twee wit kante “ja” beteken, twee swart kante “nee”, en een swart en een wit kant sou beteken dat daar geen antwoord was nie. Toe Saul eenkeer deur middel van die priester gevra het of hy die Filistyne moet agternasit, het hy nie ’n antwoord gekry nie. Omdat Saul gedink het dat een van sy manne gesondig het, het hy gevra: “O God van Israel, antwoord tog met die Tummim!” Saul en Jonatan is toe van die res van die manne geskei; daarna is die lot gewerp om tussen hulle twee te besluit. In hierdie verslag lyk dit asof die versoek “antwoord tog met die Tummim” apart was van die lot wat gewerp is, maar dit wys dalk dat daar tog die een of ander verband tussen die twee bestaan het. – 1Sa 14:36-42.
(Eksodus 28:36) “Jy moet ’n blink plaat van suiwer goud maak, en net soos daar op ’n seël gegraveer word, moet jy daarop graveer: ‘Heiligheid behoort aan Jehovah.’
it-1-E 849 ¶3
Voorkop
Israel se hoëpriester. In Israel het die hoëpriester se tulband aan die voorkant, op die priester se voorkop, ’n goue plaatjie, “die heilige toewydingsteken”, gehad waarop die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” geskryf is “net soos daar op ’n seël gegraveer word” (Eks 28:36-38; 39:30). Omdat die hoëpriester Israel se belangrikste verteenwoordiger in Jehovah se aanbidding was, was dit gepas dat sy amp heilig moes bly. En hierdie inskripsie sou die hele Israel daaraan herinner dat hulle ook altyd heilig moet wees in hulle diens aan Jehovah. Dit was ook ’n gepaste voorstelling van die groot Hoëpriester, Jesus Christus, en dat hy deur Jehovah vir hierdie priesterlike diens, wat God se heiligheid ondersteun, gekies is. – Heb 7:26.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 28:38) Dit moet op Aäron se voorkop wees, en Aäron sal verantwoordelik gehou word wanneer iemand sondig in verband met die heilige dinge, wat deur die Israeliete geheilig word wanneer hulle dit as heilige gawes offer. Dit moet altyd op sy voorkop bly, sodat hulle Jehovah se goedkeuring kan verkry.
it-1-E 1130 ¶2
Heiligheid
Diere en produkte. Die manlike eersgeborenes van die beeste, skape en bokke was heilig vir Jehovah en kon nie losgekoop word nie. Hulle moes geoffer word en ’n deel daarvan moes aan die geheiligde priesters gegee word (Nu 18:17-19). Die eerste opbrengs en die tiende was heilig, en so ook al die offerandes en gawes wat as ’n heilige offer vir die diens van die heiligdom gegee is (Eks 28:38). Al die dinge wat vir Jehovah heilig was, was ’n ernstige saak en kon nie op ’n gewone, of onheilige, manier gebruik word nie. ’n Voorbeeld hiervan is die wet oor die tiende. As ’n man die gedeelte van, byvoorbeeld, sy graanoes as die tiende opsygesit het, en hy of iemand in sy huishouding onopsetlik daarvan gebruik het, soos om daarmee te kook, was die man daaraan skuldig dat hy God se wet oor heilige dinge oortree het. Die Wet het vereis dat hy vergoeding aan die heiligdom doen van ’n gelyke hoeveelheid plus 20 persent. Dan moes hy ook nog ’n gesonde ram uit die kleinvee offer. So is hulle geleer om groot respek te hê vir die heilige dinge van Jehovah. – Le 5:14-16.
28 SEPTEMBER–4 OKTOBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 29-30
“’n Bydrae aan Jehovah”
(Eksodus 30:11, 12) Toe het Jehovah vir Moses gesê: 12 “Wanneer jy ook al ’n sensus opneem en die seuns van Israel tel, moet elkeen tydens die sensus ’n losprys vir sy lewe aan Jehovah gee. Hulle moet dit doen sodat geen plaag hulle tref wanneer hulle geregistreer word nie.
it-2-E 764-765
Registrasie
By Sinai. Die eerste keer wat Jehovah die Israeliete beveel het om hulle te laat registreer, was toe hulle by Sinai kamp opgeslaan het in die tweede maand van die tweede jaar ná hulle uittog uit Egipte. Om Moses hiermee te help is ’n hoofman uit elke stam gekies om die registrasie te laat doen en daaroor toesig te hou. Alle mans van 20 jaar en ouer – wat oud genoeg was om in die leërmag te dien – moes geregistreer word, en die Wet het verder vereis dat dié wat geregistreer is ook hoofbelasting moes betaal, ’n halfsikkel ($1.10) vir die diens by die tabernakel (Eks 30:11-16; Nu 1:1-16, 18, 19). Altesaam 603 550 is geregistreer – sonder die Leviete, wat geen erfdeel in die land sou hê nie. Die Leviete het nie tabernakelbelasting betaal nie en dit was nie vir hulle nodig om in die leërmag te dien nie. – Nu 1:44-47; 2:32, 33; 18:20, 24.
(Eksodus 30:13-15) Dít is wat almal wat geregistreer is, moet gee: ’n halfsikkel volgens die standaardsikkel van die heiligdom. Twintig gera is gelyk aan ’n sikkel. ’n Halfsikkel is die bydrae vir Jehovah. 14 Elkeen van 20 jaar en ouer wat geregistreer is, moet Jehovah se bydrae gee. 15 Die ryke moenie meer as ’n halfsikkel gee en die arme moenie minder as ’n halfsikkel gee as ’n bydrae aan Jehovah om vir sy lewe versoening te doen nie.
it-1-E 502
Bydrae
Die Wet het sekere bydraes vereis. Toe Moses ’n sensus van die Israeliete opgeneem het, moes elke man van 20 jaar en ouer ’n losprys vir sy siel gee, “’n halfsikkel [blykbaar $1.10] volgens die standaardsikkel van die heiligdom”. Dit was “Jehovah se bydrae” om vir hulle lewens versoening te doen “vir die diens in verband met die tent van samekoms” (Eks 30:11-16). Volgens die Joodse geskiedkundige Josefus (The Jewish War, VII, 218 [vi, 6]) is hierdie “heilige belasting” daarna elke jaar betaal. – 2Kr 24:6-10; Mt 17:24; sien “TAXATION” in it-2-E.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 29:10) “Jy moet dan die bul voor die tent van samekoms bring, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop sit.
it-1-E 1029 ¶4
Hand
Die oplê van hande. Buiten die gewone dinge waarvoor ’n mens sy hande sou gebruik, is hande ook vir verskillende redes gelê op ’n persoon of voorwerp. Dit het gewoonlik gedui op ’n benoeming, dat die persoon of ding op ’n sekere manier erken word of erkenning kry. Tydens die seremonie vir die inhuldiging tot die priesterdom het Aäron en sy seuns hulle hande gesit op die kop van die bul en die twee ramme wat geoffer sou word. So het hulle erken dat hierdie diere namens hulle geoffer word omdat hulle priesters van Jehovah God sou wees (Eks 29:10, 15, 19; Le 8:14, 18, 22). Toe God Moses beveel het om Josua as sy opvolger aan te stel, het Moses sy hande op Josua gelê. Daarna was Josua “vol van die gees van wysheid” en kon hy ’n goeie leier vir Israel wees (De 34:9). Wanneer iemand vir ’n seën in aanmerking gekom het, is die hande op hom gelê (Ge 48:14; Mr 10:16). Jesus Christus het aan party mense wat hy gesond gemaak het, geraak of sy hande op hulle gelê (Mt 8:3; Mr 6:5; Lu 13:13). Partykeer het mense die gawe van die heilige gees gekry deurdat die apostels hulle hande op hulle gelê het. – Han 8:14-20; 19:6.
(Eksodus 30:31-33) “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Dit moet in al julle geslagte ’n heilige salfolie vir my bly. 32 Dit mag nie op iemand se liggaam gebruik word nie, en julle mag nie ’n soortgelyke mengsel maak nie. Dit is iets heiligs. Dit moet vir julle iets heiligs bly. 33 Enigiemand wat ’n soortgelyke salf maak en wat van die salf op ’n gewone mens sit, moet doodgemaak word en so uit sy volk verwyder word.’”
it-1-E 114 ¶1
Gesalf, salwing
In die Wet wat Jehovah vir Moses gegee het, het hy presies gesê hoe die salfolie gemeng moet word. Dit was ’n mengsel van die beste bestanddele – mirre, soet kaneel, soet kalmoes, kassia en olyfolie (Eks 30:22-25). Enige iemand wat hierdie salfolie gemeng het om dit vir enige gewone of onwettige doel te gebruik, moes doodgemaak word (Eks 30:31-33). Dit was ’n figuurlike bewys van die belangrikheid en heiligheid van enige aanstelling wat deur middel van heilige salfolie bevestig is.