Jehovah is ’n God van verbonde
“Ek [sal] met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond . . . sluit.”—JEREMIA 31:31.
1, 2. (a) Watter viering het Jesus op die aand van 14 Nisan 33 G.J. ingestel? (b) Na watter verbond het Jesus in verband met sy dood verwys?
OP DIE aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus die Pasga met sy 12 apostels gevier. Omdat Jesus geweet het dat dit sy laaste maaltyd saam met hulle sou wees en dat sy vyande hom eerlank sou doodmaak, het hy van die geleentheid gebruik gemaak om talle belangrike sake aan sy intiemste dissipels te verduidelik.—Johannes 13:1–17:26.
2 Dit was by hierdie geleentheid dat Jesus, nadat hy Judas Iskariot uitgestuur het, die enigste jaarlikse godsdiensviering ingestel het wat Christene beveel is om te onderhou—die herdenking van sy dood. Die verslag sê: “Terwyl hulle verder geëet het, het Jesus ’n brood geneem, en nadat hy ’n seën gevra het, het hy dit gebreek en dit vir die dissipels gegee en gesê: ‘Neem, eet. Dit beteken my liggaam.’ Ook het hy ’n beker geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit; want dit beteken my “bloed van die verbond”, wat ten behoewe van baie uitgestort gaan word tot vergifnis van sondes’” (Matteus 26:26-28). Jesus se volgelinge moes sy dood op ’n eenvoudige, waardige wyse herdenk. En Jesus het na ’n verbond in verband met sy dood verwys. In die verslag in Lukas word dit “die nuwe verbond” genoem.—Lukas 22:20.
3. Watter vrae word oor die nuwe verbond gevra?
3 Wat is die nuwe verbond? As dit die nuwe verbond is, beteken dit dan dat daar ’n ou verbond is? Hou enige ander verbonde daarmee verband? Dit is belangrike vrae omdat Jesus gesê het dat die bloed van die verbond “tot vergifnis van sondes” uitgestort sou word. Ons almal het sulke vergifnis uiters nodig.—Romeine 3:23.
’n Verbond met Abraham
4. Watter eertydse belofte help ons om die nuwe verbond te verstaan?
4 As ons die nuwe verbond wil verstaan, moet ons teruggaan tot byna 2000 jaar voor Jesus se aardse bediening, tot die tyd toe Tera en sy familie—onder meer Abram (later Abraham) en Abram se vrou, Sarai (later Sara)—van die welvarende Ur van die Chaldeërs na Haran in noordelike Mesopotamië getrek het. Hulle het tot Tera se dood daar gebly. Toe het die 75-jarige Abraham, op Jehovah se bevel, die Eufraatrivier oorgesteek en suidweswaarts na die land Kanaän gereis om ’n nomadiese bestaan in tente te voer (Genesis 11:31–12:1, 4, 5; Handelinge 7:2-5). Dit was in 1943 v.G.J. Terwyl Abraham nog in Haran was, het Jehovah vir hom gesê: “Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Later, nadat Abraham Kanaän binnegegaan het, het Jehovah bygevoeg: “Aan jou saad gaan ek hierdie land gee.”—Genesis 12:2, 3, 7, vgl. NW.
5. Met watter historiese profesie hou Jehovah se belofte aan Abraham verband?
5 Die belofte aan Abraham het verband gehou met ’n ander belofte van Jehovah. Dit het Abraham in werklikheid ’n sleutelfiguur in die mensegeskiedenis gemaak, ’n skakel in die vervulling van die eerste profesie wat ooit opgeteken is. Nadat Adam en Eva in die tuin van Eden gesondig het, het Jehovah oordeel oor hulle albei uitgespreek en by dieselfde geleentheid het hy Satan, deur wie Eva mislei is, aangespreek en gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Jehovah se verbond met Abraham het getoon dat die Saad deur wie Satan se werke tot niet gemaak sou word in die geslagslyn van daardie patriarg sou verskyn.
6. (a) Deur wie sou Jehovah se belofte aan Abraham vervul word? (b) Wat is die Abrahamitiese verbond?
6 Aangesien Jehovah se belofte met ’n saad verband gehou het, moes Abraham ’n seun hê deur wie die Saad kon kom. Maar hy en Sara het oud geword en was nog steeds kinderloos. Uiteindelik het Jehovah hulle egter geseën deur hulle voortplantingsvermoë wonderdadig te herstel, en Sara het vir Abraham ’n seun, Isak, gebaar en sodoende die belofte van ’n saad lewendig gehou (Genesis 17:15-17; 21:1-7). Jare later, nadat Jehovah Abraham se geloof getoets het—en selfs sy gewilligheid om sy geliefde seun, Isak, as ’n offerande te offer—het hy sy belofte aan Abraham herhaal: “Ek [sal] jou gewis seën en sal . . . jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is; en jou saad sal die poort van sy vyande in besit neem. En deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën as gevolg van die feit dat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:15-18, NW). Hierdie uitgebreide belofte word dikwels die Abrahamitiese verbond genoem, en die latere nuwe verbond sou ten nouste daarmee saamhang.
7. Hoe het Abraham se saad in getal begin toeneem, en watter omstandighede het daartoe gelei dat hulle in Egipte gewoon het?
7 Na verloop van tyd het Isak tweelingseuns gehad, Esau en Jakob. Jehovah het Jakob gekies om die voorvader van die Beloofde Saad te wees (Genesis 28:10-15; Romeine 9:10-13). Jakob het 12 seuns gehad. Dit was duidelik dat die tyd nou aangebreek het vir Abraham se saad om te begin vermeerder. Toe Jakob se seuns volwasse was, en baie van hulle hulle eie gesinne gehad het, het ’n hongersnood hulle almal genoodsaak om Egipte toe te trek waar Jakob se seun Josef, deur Goddelike bestiering, die weg berei het (Genesis 45:5-13; 46:26, 27). Ná ’n paar jaar was die hongersnood in Kanaän nie meer so erg nie. Maar Jakob se familie het in Egipte gebly—aanvanklik as gaste, maar later as slawe. Dit was eers in 1513 v.G.J., 430 jaar nadat Abraham die Eufraat oorgesteek het, dat Moses Jakob se nageslag uit Egipte na vryheid gelei het (Exodus 1:8-14; 12:40, 41; Galasiërs 3:16, 17). Jehovah het toe spesiale aandag aan sy verbond met Abraham gegee.—Exodus 2:24; 6:2-5.
“Die ou verbond”
8. Wat het Jehovah met Jakob se nageslag by Sinai gesluit, en hoe het dit met die Abrahamitiese verbond verband gehou?
8 Toe Jakob en sy seuns na Egipte getrek het, was hulle ’n uitgebreide familie, maar hulle nakomelinge het Egipte as ’n menigte verlaat wat uit groot stamme bestaan het (Exodus 1:5-7; 12:37, 38). Voordat Jehovah hulle na Kanaän laat trek het, het hy hulle suidwaarts gelei na die voet van ’n berg met die naam Horeb (of Sinai) in Arabië. Daar het hy ’n verbond met hulle gesluit. Dit is later “die ou verbond” genoem in vergelyking met “die nuwe verbond” (2 Korintiërs 3:14). Deur middel van die ou verbond het Jehovah by wyse van illustrasie die vervulling van sy verbond met Abraham teweeggebring.
9. (a) Watter vier dinge het Jehovah deur middel van die Abrahamitiese verbond belowe? (b) Watter verdere vooruitsigte het Jehovah se verbond met Israel geskep, en op watter voorwaarde?
9 Jehovah het die bepalings van hierdie verbond aan Israel verduidelik: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Jehovah het belowe dat Abraham se saad (1) ’n groot nasie sou word, (2) oorwinning oor hulle vyande gegee sou word, (3) die land Kanaän sou beërf en (4) ’n kanaal vir seëninge vir die nasies sou wees. Nou het hy geopenbaar dat húlle hierdie seëninge kon ontvang as hulle, as sy spesiale volk, Israel, “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie”, sy gebooie sou gehoorsaam. Het die Israeliete ingestem om hierdie verbond aan te gaan? Hulle het soos een man geantwoord: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen.”—Exodus 19:8.
10. Hoe het Jehovah die Israeliete tot ’n nasie georganiseer, en wat het hy van hulle verwag?
10 Gevolglik het Jehovah die Israeliete tot ’n nasie georganiseer. Hy het hulle wette gegee wat hulle aanbidding en burgerlike lewe gerig het. Hy het hulle ook van ’n tabernakel (later ’n tempel in Jerusalem) voorsien, asook ’n priesterskap om heilige diens in die tabernakel te verrig. Die onderhouding van die verbond het beteken dat hulle Jehovah se wette moes gehoorsaam en veral dat hulle hom alleen moes aanbid. Die eerste van die Tien Gebooie, die kern van hierdie wette, was: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”—Exodus 20:2, 3.
Seëninge deur die Wetsverbond
11, 12. Hoe is die beloftes in die ou verbond teenoor Israel vervul?
11 Is die beloftes in die Wetsverbond teenoor Israel vervul? Het Israel “’n heilige nasie” geword? As nakomelinge van Adam was die Israeliete sondaars (Romeine 5:12). Maar offerandes onder die wet is gebring om hulle sondes te dek. Aangaande die offerandes wat op die jaarlikse Versoendag gebring is, het Jehovah gesê: “Op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word” (Levitikus 16:30). Wanneer Israel dus getrou was, was hulle ’n heilige nasie, gereinig vir Jehovah se diens. Maar hierdie rein toestand het daarvan afgehang of hulle die Wet gehoorsaam en voortdurend offerandes gebring het.
12 Het Israel “’n koninkryk van priesters” geword? Hulle was reg uit die staanspoor ’n koninkryk, met Jehovah as hemelse Koning (Jesaja 33:22). Verder het die Wetsverbond ook voorsiening gemaak vir ’n menslike koningskap, sodat Jehovah later deur konings verteenwoordig is wat in Jerusalem regeer het (Deuteronomium 17:14-18). Maar was Israel ’n koninkryk van priesters? Wel, dit het ’n priesterskap gehad wat heilige diens by die tabernakel verrig het. Die tabernakel (later die tempel) was die sentrum van rein aanbidding vir Israeliete sowel as vir nie-Israeliete. En die nasie was die enigste kanaal van geopenbaarde waarheid aan die mensdom (2 Kronieke 6:32, 33; Romeine 3:1, 2). Alle getroue Israeliete, nie net Levitiese priesters nie, was Jehovah se “getuies”. Israel was Jehovah se “kneg”, geformeer om ‘sy lof te verkondig’ (Jesaja 43:10, 21). Talle nederige uitlanders het Jehovah se krag ten behoewe van sy volk gesien en is tot rein aanbidding aangetrek. Hulle het proseliete geword (Josua 2:9-13). Maar slegs een stam het werklik as gesalfde priesters gedien.
Proseliete in Israel
13, 14. (a) Waarom kan daar gesê word dat proseliete nie deelnemers aan die Wetsverbond was nie? (b) Hoe het proseliete onder die Wetsverbond gekom?
13 Wat was die posisie van hierdie proseliete? Toe Jehovah sy verbond gesluit het, was dit slegs met Israel; die “menigte mense van gemengde bloed” is nie as deelnemers gemeld nie, hoewel hulle teenwoordig was (Exodus 12:38; 19:3, 7, 8). Hulle eersgeborenes is nie ingesluit toe die loskoopprys vir die eersgeborenes van Israel bereken is nie (Numeri 3:44-51). Dekades later, toe die land Kanaän tussen die Israelitiese stamme verdeel is, is niks vir die nie-Israelitiese gelowiges opsy gesit nie (Genesis 12:7; Josua 13:1-14). Waarom nie? Omdat die Wetsverbond nie met proseliete gesluit is nie. Maar mans wat proseliete was, is in gehoorsaamheid aan die Wet besny. Hulle het die voorskrifte daarvan gehoorsaam en by die voorsienings daarvan baat gevind. Proseliete sowel as Israeliete het onder die Wetsverbond gekom.—Exodus 12:48, 49; Numeri 15:14-16; Romeine 3:19.
14 As ’n proseliet iemand byvoorbeeld per ongeluk doodgemaak het, kon hy, soos ’n Israeliet, na ’n vrystad vlug (Numeri 35:15, 22-25; Josua 20:9). Op die Versoendag is ’n offerande “vir die hele vergadering van Israel” gebring. As deel van die vergadering het proseliete aan die verrigtinge deelgeneem en is hulle deur die offerande gedek (Levitikus 16:7-10, 15, 17, 29; Deuteronomium 23:7, 8). Proseliete was so nou verbonde aan Israel onder die Wet dat proseliete ook daarby baat gevind het toe die eerste ‘sleutel van die koninkryk’ op Pinkster 33 G.J. ten behoewe van die Jode gebruik is. Gevolglik het “Nikolaus, ’n proseliet van Antiogië”, ’n Christen geword, en hy was een van die “sewe manne van goeie getuienis” wat aangestel is om na die behoeftes van die gemeente in Jerusalem om te sien.—Matteus 16:19; Handelinge 2:5-10; 6:3-6; 8:26-39.
Jehovah seën Abraham se saad
15, 16. Hoe is Jehovah se verbond met Abraham onder die Wetsverbond vervul?
15 Toe Abraham se nakomelinge tot ’n nasie onder die Wet georganiseer was, het Jehovah hulle geseën ooreenkomstig sy belofte aan die aartsvader. In 1473 v.G.J. het Moses se opvolger, Josua, Israel in Kanaän ingelei. Die daaropvolgende verdeling van die land onder die stamme het Jehovah se belofte vervul om die land aan Abraham se saad te gee. Wanneer Israel getrou was, het Jehovah sy belofte nagekom om hulle die oorwinning oor hulle vyande te gee. Dit was veral die geval gedurende die heerskappy van koning Dawid. Teen die tyd van Dawid se seun Salomo is ’n derde aspek van die Abrahamitiese verbond vervul. “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.”—1 Konings 4:20.
16 Maar hoe sou die nasies hulleself deur middel van Israel, Abraham se saad, seën? Soos reeds genoem is, was Israel Jehovah se spesiale volk, sy verteenwoordiger onder die nasies. Kort voor Israel se intog in Kanaän het Moses gesê: “Jubel, o nasies, oor sy volk” (Deuteronomium 32:43). Baie uitlanders het gehoor gegee. “’n Menigte mense van gemengde bloed” het Israel reeds uit Egipte gevolg, Jehovah se krag in die woestyn gesien en Moses se uitnodiging gehoor om hulle te verheug (Exodus 12:37, 38). Later het die Moabitiese vrou Rut met die Israeliet Boas getrou en ’n voorouer van die Messias geword (Rut 4:13-22). Die Keniet Jonadab en sy nakomelinge asook die Etiopiër Ebed-Meleg het hulle onderskei deur getrou te bly aan regverdige beginsels toe talle natuurlike Israeliete ontrou was (2 Konings 10:15-17; Jeremia 35:1-19; 38:7-13). Onder die Persiese Ryk het baie uitlanders proseliete geword en saam met Israel teen sy vyande geveg.—Ester 8:17, voetnoot in NW.
’n Nuwe verbond nodig
17. (a) Waarom het Jehovah die noordelike en die suidelike koninkryk van Israel verwerp? (b) Wat het tot die finale verwerping van die Jode aanleiding gegee?
17 Maar God se spesiale nasie moes getrou wees as hulle die volkome vervulling van God se belofte wou ontvang. Hulle was nie. Daar was weliswaar Israeliete met uitsonderlike geloof (Hebreërs 11:32–12:1). Maar die nasie het hulle by baie geleenthede tot heidense gode gewend, in die hoop dat hulle materiële voordele sou ontvang (Jeremia 34:8-16; 44:15-18). Individue het die Wet verkeerd toegepas of dit eenvoudig geïgnoreer (Nehemia 5:1-5; Jesaja 59:2-8; Maleagi 1:12-14). Ná Salomo se dood is Israel in ’n noordelike en ’n suidelike koninkryk verdeel. Toe die noordelike koninkryk heeltemal opstandig geword het, het Jehovah verklaar: “Omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie” (Hosea 4:6). Die suidelike koninkryk is ook swaar gestraf omdat hulle die verbond verbreek het (Jeremia 5:29-31). Toe die Jode Jesus as die Messias verwerp het, het Jehovah hulle insgelyks verwerp (Handelinge 3:13-15; Romeine 9:31–10:4). Uiteindelik het Jehovah ’n nuwe reëling ingestel om die volkome vervulling van die Abrahamitiese verbond teweeg te bring.—Romeine 3:20.
18, 19. Watter nuwe reëling het Jehovah ingestel sodat die Abrahamitiese verbond volkome vervul kon word?
18 Daardie nuwe reëling was die nuwe verbond. Jehovah het dit voorspel toe hy gesê het: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit . . . Dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.”—Jeremia 31:31-33.
19 Dít is die nuwe verbond waarna Jesus op 14 Nisan 33 G.J. verwys het. By daardie geleentheid het hy geopenbaar dat die beloofde verbond weldra tussen sy dissipels en Jehovah gesluit sou word, met Jesus as middelaar (1 Korintiërs 11:25; 1 Timoteus 2:5; Hebreërs 12:24). Deur middel van hierdie nuwe verbond sou Jehovah se belofte aan Abraham ’n glorieryker en blywender vervulling hê, soos ons in die volgende artikel sal sien.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat het Jehovah in die Abrahamitiese verbond belowe?
◻ Hoe het Jehovah die vervulling van die Abrahamitiese verbond teenoor vleeslike Israel teweeggebring?
◻ Hoe het proseliete by die ou verbond baat gevind?
◻ Waarom was ’n nuwe verbond nodig?
[Prent op bladsy 9]
Deur middel van die Wetsverbond het Jehovah die Abrahamitiese verbond by wyse van illustrasie vervul