Hulle het Jehovah se wil gedoen
’n Besoek wat ryklik beloon is
DIE reis van Skeba na Jerusalem was ongetwyfeld uitputtend vir die koningin. Sy was gewoond daaraan om in weelde te lewe. En hier het sy die tog van 2 400 kilometer, meestal deur die skroeiende woestyn, op die rug van ’n kameel afgelê. Volgens een skatting het haar reis ongeveer 75 dae geduur, en dit was net in een rigting!a
Waarom het hierdie ryk koningin haar gerieflike tuiste in Skeba agtergelaat en op so ’n veeleisende reis gegaan?
’n Interessante berig
Die koningin van Skeba het na Jerusalem gekom nadat sy “die berig oor Salomo in verband met die naam van Jehovah gehoor” het (1 Konings 10:1, NW). Presies wat die koningin gehoor het, word nie gemeld nie. Ons weet egter dat Jehovah Salomo met uitsonderlike wysheid, rykdom en eer geseën het (2 Kronieke 1:11, 12). Hoe het die koningin daarvan te hore gekom? Aangesien Skeba ’n handelsentrum was, het sy moontlik van Salomo se roem gehoor deur handelaars wat haar land besoek het. Van hulle was moontlik al in Ofir, ’n land waarmee Salomo aansienlike handelsbetrekkinge gehad het.—1 Konings 9:26-28.
In elk geval, die koningin het in Jerusalem aangekom “met ’n baie indrukwekkende gevolg, kamele wat balsemolie en ’n baie groot hoeveelheid goud en kosbare stene dra” (1 Konings 10:2a, NW). Party sê dat die “indrukwekkende gevolg” ’n gewapende geleide ingesluit het. Dit is te verstane as ’n mens in gedagte hou dat die koningin ’n magtige hoogwaardigheidsbekleër was en met kosbaarhede gereis het wat tienmiljoene rande werd was.b
Let egter op dat die koningin van Salomo se roem “in verband met die naam van Jehovah” gehoor het. Dit was dus nie net ’n handelsreis nie. Die hoofrede vir die koningin se besoek was klaarblyklik om Salomo se wysheid te hoor—om moontlik selfs iets omtrent sy God, Jehovah, te leer. Aangesien sy waarskynlik ’n afstammeling van Sem of Gam was, wat aanbidders van Jehovah was, wou sy dalk graag uitvind omtrent die godsdiens van haar voorvaders.
Ingewikkelde vrae, bevredigende antwoorde
Toe die koningin Salomo ontmoet, het sy hom met “ingewikkelde vrae” op die proef begin stel (1 Konings 10:1, NW). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, kan as “raaisels” vertaal word. Maar dit beteken nie dat die koningin Salomo met ligsinnige speletjies besig gehou het nie. Dieselfde Hebreeuse woord word interessant genoeg in Psalm 49:5 gebruik om ernstige vrae oor sonde, die dood en verlossing te beskryf. Die koningin van Skeba het dus heel waarskynlik diep onderwerpe met Salomo bespreek wat die diepte van sy wysheid op die proef gestel het. Die Bybel sê dat sy “met hom gespreek [het] oor alles wat in haar hart was”. Toe het Salomo “al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie”.—1 Konings 10:2b, 3.
Die koningin van Skeba was so beïndruk deur Salomo se wysheid en die voorspoed van sy koninkryk dat daar “in haar geen gees meer [was] nie” (1 Konings 10:4, 5). Party meen dat hierdie frase beteken dat die koningin “sprakeloos” gelaat is. Een geleerde voer selfs aan dat sy flou geword het! Hoe dit ook al sy, die koningin was verbaas oor wat sy gesien en gehoor het. Sy het gesê dat Salomo se knegte gelukkig is omdat hulle hierdie koning se wysheid kon hoor, en sy het Jehovah geloof omdat hy Salomo op die troon geplaas het. Daarna het sy die koning duur geskenke gegee, waarvan die goud alleen, in vandag se waarde, omtrent R247 600 000 werd was. Salomo het ook geskenke gebring en aan die koningin “al haar begeerte gegee wat sy gevra het”.c—1 Konings 10:6-13.
Les vir ons
Jesus het die koningin van Skeba as ’n praktiese voorbeeld vir die skrifgeleerdes en Fariseërs voorgehou. “Die koningin van die suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en sal dit veroordeel”, het hy vir hulle gesê, “want sy het van die uithoeke van die aarde af gekom om die wysheid van Salomo te hoor, maar kyk! iets meer as Salomo is hier” (Matteus 12:42). Ja, die koningin van Skeba het groot waardering vir godgegewe wysheid getoon. Aangesien sy 2 400 kilometer gereis het om na Salomo te luister, moes die skrifgeleerdes en Fariseërs tog sekerlik aandagtig na Jesus geluister het wat daar reg in hulle midde was.
Ons kan vandag diepe waardering toon vir die Grotere Salomo, Jesus Christus. Hoe? Een manier is deur sy opdrag te gehoorsaam om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ (Matteus 28:19). Nog ’n manier is om noukeurig op Jesus se voorbeeld en sy geestesgesindheid te let en dit dan na te volg.—Filippense 2:5; Hebreërs 12:2, 3.
Dit sal weliswaar inspanning van ons verg om die voorbeeld van die Grotere Salomo na te volg. Maar ons sal ryklik beloon word. Trouens, Jehovah het sy volk beloof dat hy “die vensters van die hemel sal oopmaak en op [hulle] ’n oorvloedige seën sal uitstort” as hulle ’n selfopofferende gees aan die dag lê.—Maleagi 3:10.
[Voetnote]
a Talle geleerdes glo dat Skeba in die suidwestelike deel van Arabië geleë was, in wat vandag die Republiek van Jemen is.
b Volgens die eertydse Griekse geograaf Strabo was die mense van Skeba ontsaglik ryk. Hy sê dat hulle goud op kwistige wyse gebruik het in hulle meubels, hulle gebruiksartikels en selfs op die mure, deure en dakke van hulle huise.
c Party beweer dat hierdie frase beteken dat die koningin geslagsomgang met Salomo gehad het. Volgens legendes het hulle selfs ’n seun gehad. Daar is egter geen bewyse om enige van hierdie bewerings te staaf nie.