Bybelglanspunte Nehemia 1:1–13:31
Ware aanbidding seëvier
Ware aanbidding seëvier deur beslissende optrede en onwrikbare vertroue op Jehovah. Dit is die kern van die boek Nehemia. Daarin word die herbouing van Jerusalem se muur onder die moedige leiding van Nehemia aangrypend verhaal.
Die boek dek ’n kritieke tydperk, een waartydens die 70 jaarweke wat op die koms van die Messias sou uitloop, begin het (Daniël 9:24-27). Die openingsvers en die persoonlike vertelling toon duidelik dat Nehemia die skrywer is. Hierdie boek is ’n vervolg op Esra, en die verhaal begin ongeveer 12 jaar na die gebeurtenisse wat deur Esra opgeteken is.
Wanneer ons hierdie verslag lees, sien ons hoe wonderlik Jehovah sake bestier sodat sy wil geskied. Ons merk ook op hoe hy sy lojale knegte versterk en vertroos.
Jerusalem se ellende
Lees asseblief Nehemia 1:1–2:20. Nehemia, skinker van die Persiese koning, verneem dat Jerusalem se mure nog in puin lê en dat die mense daar “in groot ellende” verkeer. Nehemia is diep bedroef en stort sy hart in vurige gebed voor Jehovah uit. Die koning bemerk sy droefheid, en dit open vir Nehemia die weg om na Jerusalem te gaan en vir die herbouing van die stadsmuur te sorg.
♦ 1:1—Watter jaar was dit?
Dit was die twintigste jaar van koning Artasasta (Artaxerxes Longimanus) (2:1). Aangesien Kislew (November-Desember) in hierdie vertelling voor Nisan (Maart-April) genoem word, het Persiese konings skynbaar elke jaar van hulle heerskappy van herfs tot herfs getel, of van die tyd dat hulle die troon bestyg het. Betroubare historiese bewyse en vervulde Bybelprofesieë dui op 455 v.G.J. as die jaar waarin Nisan van die 20ste jaar van Artasasta val. Nehemia se verslag begin derhalwe in die noordelike herfs van 456 v.G.J., en die bevel om die mure van Jerusalem te herbou, is in die noordelike lente van 455 v.G.J. uitgevaardig.
♦ 2:4—Was dit ’n wanhoopsgebed wat op die laaste oomblik gedoen is?
Nee, want Jerusalem se verwoeste toestand was geruime tyd lank “dag en nag” die onderwerp van Nehemia se gebede (1:4, 6). Toe hy die geleentheid gekry het om koning Artasasta te vertel van sy begeerte om Jerusalem se mure te herbou, het Nehemia weer gebid soos hy reeds by herhaling gedoen het. Jehovah het die gebed verhoor, en dit het gelei tot ’n bevel om die stadsmure te herbou.
Les vir ons: Nehemia het op Jehovah vertrou vir leiding. Wanneer ons gewigtige besluite moet neem, moet ons ook “volhard in die gebed” en optree in ooreenstemming met Jehovah se leiding.—Romeine 12:12.
Muur word gebou ondanks komplot
Lees 3:1–6:19. Wanneer die muurbouery begin, spot en hoon die teenstanders. Later dreig hulle om aan te val. Nehemia is onbevrees en vermaan die werkers: “Dink aan die grote en gedugte Here.” Die helfte van hulle staan wag met spiese en boë, en die ander werk terwyl hulle hul wapens gereed hou, Ondanks die dreigement en ander komplotte voltooi die Jode die muur in 52 dae!
♦ 3:5—Wie was hierdie “vername manne”?
Hulle was vooraanstaande Jode onder die inwoners of voormalige inwoners van Tekoa, ’n dorp sowat 16 kilometers suid van Jerusalem. Hierdie “vername manne” was skynbaar te trots om hulle te verootmoedig en werk te verrig onder die juk van opsieners wat deur Nehemia aangestel is.—Vergelyk Jeremia 27:11.
♦ 4:17—Hoe het hulle met een hand gewerk?
Die messelaars het die gebruik van altwee hande nodig gehad vir hulle werk. Hulle wapens was aan hulle heupe gegord (4:18). Die lasdraers kon maklik ’n wapen in die een hand hou en vragte grond of rommel op die skouers of kop dra.—Genesis 24:15, 45.
♦ 5:7—Waarom was woeker verkeerd?
Dit was reëlreg in stryd met Jehovah se wet (Levitikus 25:36; Deuteronomium 23:19). “Die honderdste deel”, indien dit maandeliks gevorder is, het op 12 persent per jaar neergekom (5:11). Die mense was alreeds in groot nood weens droogte en swaar Persiese belasting (5:3, 4). Nogtans het die rykes genadeloos hoë rente van hulle arm broers geëis.
♦ 6:5—Waarom ’n “ope brief”?
Vertroulike briewe is gewoonlik in sorgvuldig verseëlde sakke geplaas. Sanballat se “ope brief” kon dus as ’n belediging bedoel gewees het. Of, aangesien die beskuldiging in ’n “ope brief” deur ander gelees kon word, het hy dalk gehoop dat Nehemia so ontstoke sou raak dat hy Jerusalem sou verlaat om sy naam van die aantygings te suiwer. Sanballat het moontlik ook gehoop dat die brief soveel ontsteltenis sou veroorsaak dat die Jode hulle werk sou staak.
Les vir ons: Ons moenie harde werk as benede ons waardigheid beskou en daarvan wegskram soos die “vername manne” van die Tekoïete nie. Ons moet ons eerder inspan soos die gewone Tekoïete, wat dubbele diens verrig het.—Nehemia 3:5, 27.
Ware aanbidding herstel
Lees 7:1–10:39. AI die werk word met een doel voor oë verrig: om ware aanbidding te herstel. Nadat ’n sensus opgeneem is, vergader die volk om te luister hoe Esra en die Leviete die Wet voorlees en verduidelik. Nadat hulle aldus insig verkry het, vier hulle met blydskap die huttefees. Die volk vas en bely hulle sondes, en stappe word gedoen om hierdie sondes reg te stel.
♦ 7:6—Waarom verskil hierdie lys van Esra s’n?
Die verslae stem ooreen waar dit sê dat, buiten slawe en sangers, altesaam 42 360 teruggekeer het (Esra 2:64, 65; Nehemia 7:66, 67). Maar daar is verskille in die getal teruggekeerdes in bepaalde families. Esra en Nehemia het waarskynlik verskillende metodes gebruik om hulle lyste op te stel. Die een gee moontlik dié aan wat geregistreer het om terug te keer, terwyl die ander dié opnoem wat werklik teruggekeer het. Sommige priesters, en moontlik ander, kon nie hulle stamboom vind nie (7:46). Dit verklaar moontlik waarom die totaal van die afsonderlike getalle nie uitkom op 42 360 nie.
♦ 8:9—Hoe is die volk in die Wet “onderrig”?
Benewens goeie uitspraak en beklemtoning het Esra en sy helpers blykbaar die beginsels van die Wet verduidelik en toegepas sodat die volk dit beter kon verstaan. Net so dien Bybelse publikasies en vergaderinge van Jehovah se Getuies om ons in God se Woord te onderrig.
♦ 9:1—Waarom het die Israeliete rouklere aangetrek en grond op hulle koppe gegooi?
Rouklere—donkerkleurige kledingstukke wat van bokhaar geweef is—was ’n teken van smart. Grond of as wat op die kop of liggaam gestrooi is, het eweneens diepe rou of vernedering aangedui (1 Samuel 4:12; 2 Samuel 13:19). Die Jode het dit gedoen om hulle droefheid oor en nederige besef van hulle sondes te toon. Dit is gevolg deur die sluiting van ’n ‘belydenisooreenkoms’, “’n vaste verbond” (9:38). Net so moet ons nederig ons sondes erken en bely as ons ons verhouding met God wil bewaar.—1 Johannes 1:6-9.
♦ 10:34—Is houtoffers deur die Wet vereis?
Nee, maar daar was baie hout nodig vir die vuur op die altaar. Daar was blykbaar nie genoeg tempelbediendes—nie-lsraelitiese “houtkappers”—onder die teruggekeerdes nie (Josua 9:23, 27). Om te verseker dat daar altyd genoeg hout was, is die lot dus gewerp om te bepaal watter familie op ’n bepaalde tyd hout moes lewer.
Les vir ons: “Die blydskap van die Here” was die gevolg nadat insig in God se Woord verkry is, die volk dit persoonlik toegepas het en hulle gehoor gegee het aan teokratiese leiding (8:11). Jehovah se Getuies waardeer eweneens die belangrikheid van persoonlike studie, gereelde vergaderingbywoning en die veldbediening om hulle vreugde te behou.
Heuglike inwyding
Lees 11:1–12:47. Jerusalem het ’n groter bevolking nodig sodat die stad die sentrum vir ware aanbidding sou bly. Buiten vrywilligers word die lot gewerp sodat een uit elke tien mense wat buite woon na die stad kan trek. Dan word die stadsmuur met ’n blye optog ingewy. Groot offers word gebring, en die blydskap van die volk kan tot in die verte gehoor word.
♦ 11:2—Waarom is vrywilligers “geseën”?
Dit het sekere uitgawes en ongerief tot gevolg gehad om erfgrond te verlaat en na Jerusalem te trek. Die inwoners van daardie stad was moontlik ook aan verskillende gevare blootgestel. In sulke omstandighede het ander die vrywilligers as lofwaardig beskou en ongetwyfeld gebid dat Jehovah hulle sou seën.
♦ 12:27—Wanneer is die muur ingewy?
Die muur is op die 25ste dag van die sesde maand, Elul, in 455 v.G.J. voltooi, en groot byeenkomste is in die volgende maand gehou (6:15; 8:2; 9:1). Die inwyding het waarskynlik direk daarna gevolg as die hoogtepunt van die blye geleentheid.
Les vir ons: Die gees van gewilligheid en dankbetuigings teenoor Jehovah deur liedere en musiek was hartverblydend. By byeenkomste en ander geleenthede bied Jehovah se Getuies vandag hulle dienste aan tot voordeel van ander en sing hulle uit volle bors lofliedere aan God.
Onreinheid gesuiwer
Lees 13:1–31. Wanneer hy van ’n besoek aan die Persiese hof terugkeer, is Nehemia onthuts oor wat gedurende sy afwesigheid gebeur het. Hy doen onmiddellik stappe om die probleme reg te stel.
♦ 13:3—Wie was hierdie “mense van gemengde bloed”?
Die “mense van gemengde bloed” het blykbaar vreemdelinge ingesluit, soos Moabiete, Ammoniete en half-Israelitiese seuns van buitelanders (13:1, 2). Dit kan afgelei word uit die feit dat die Jode vroeër hulle vreemde vroue en dié se seuns weggestuur het (Esra 10:44). Die Jode het weer vreemde vroue geneem, en hierdie vroue en hulle kinders moes uit die gemeenskap, die land self, afgesonder word sodat hulle nie sou deel in die voorregte van aanbidding saam met Jehovah se volk nie.—Nehemia 13:23-31.
Les vir ons: Die afvallige Jode is ’n waarskuwende voorbeeld vir ons. Ons moet immer waaksaam wees teen die gevaar van materialisme, korrupsie en afvalligheid.
Die boek Nehemia beklemtoon keer op keer die volgende beginsel: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Die basiese les vir ons is dat ons, in al ons ondernemings, alleen sal slaag as ons Jehovah se seën het. En daardie seën kan slegs verkry word as ons ware aanbidding altyd die eerste plek in ons lewe gee.