Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 12/1 bl. 15-20
  • ‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons ander vergewe?
  • “Hou aan om mekaar te verdra”
  • Wanneer die wonde dieper is
  • Wanneer dit onmoontlik lyk om te vergewe
  • Vergewe mekaar vryelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vergewe en vergeet—Hoe is dit moontlik?
    Ontwaak!—1995
  • Waarom vergewensgesind wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wat is vergifnis?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 12/1 bl. 15-20

‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’

“Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.” —KOLOSSENSE 3:13.

1. (a) Waarom het Petrus moontlik gedink dat hy grootmoedig was toe hy voorgestel het dat ons ander “tot sewe keer” vergewe? (b) Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ons “tot sewe-en-sewentig keer” moet vergewe?

“HERE, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” (Matteus 18:21). Petrus het moontlik gedink dat hy baie grootmoedig was met sy voorstel. Volgens die rabbynse tradisies van destyds moes ’n mens nie meer as drie keer vergifnis skenk vir dieselfde oortreding nie.a Stel jou dus Petrus se verbasing voor toe Jesus geantwoord het: “Ek sê vir jou: Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’”! (Matteus 18:22). Die herhaling van sewe was dieselfde as om te sê “onbepaald”. Volgens Jesus se beskouing is daar feitlik geen perke aan die aantal kere dat ’n Christen ander moet vergewe nie.

2, 3. (a) In watter soort situasies lyk dit miskien moeilik om ander te vergewe? (b) Waarom kan ons daarvan seker wees dat dit in ons belang is om ander te vergewe?

2 Dit is egter nie altyd maklik om daardie raad toe te pas nie. Wie van ons het nie al die pyn van ’n onreg ervaar nie? Iemand wat jy vertrou het, het moontlik iets vertrouliks uitgelap (Spreuke 11:13). Die onnadenkende opmerkings van ’n intieme vriend het jou dalk “soos swaardsteke” getref (Spreuke 12:18). Slegte behandeling deur iemand wat jy liefgehad of vertrou het, het miskien diep wonde veroorsaak. Wanneer sulke dinge gebeur, is ons natuurlike reaksie moontlik om kwaad te word. Ons is dalk geneig om nie meer met die oortreder te praat nie, hom heeltemal te vermy indien moontlik. As ons hom vergewe, sou dit miskien lyk of ons hom skotvry laat afkom van die skade wat hy ons berokken het. Maar deur ’n wrok te koester, benadeel ons onsself op die ou end.

3 Jesus leer ons derhalwe om te vergewe—“tot sewe-en-sewentig keer”. Sy leringe sal ons beslis nooit benadeel nie. Alles wat hy geleer het, het van Jehovah gekom, ‘die Een wat ons leer om onsself te bevoordeel’ (Jesaja 48:17, NW; Johannes 7:16, 17). Dit is logieserwys in ons belang om ander te vergewe. Voordat ons bespreek waarom ons moet vergewe en hoe ons dit kan doen, sal dit moontlik nuttig wees om eers duidelik te verstaan wat vergifnis is en wat dit nie is nie. Ons begrip van vergifnis hou dalk in ’n mate verband met ons vermoë om te vergewe wanneer ander ons te na kom.

4. Wat beteken vergifnis nie, maar hoe word vergifnis gedefinieer?

4 Wanneer ons ander vergewe vir iets wat hulle ons persoonlik aangedoen het, beteken dit nie dat ons hulle daad vergoelik of verklein nie; dit beteken ook nie dat ons toelaat dat ander van ons misbruik maak nie. Wanneer Jehovah ons vergewe, verklein hy beslis tog nie ons sondes nie, en hy sal sondige mense nooit toelaat om sy barmhartigheid te vertrap nie (Hebreërs 10:29). Volgens Insight on the Scriptures word vergifnis gedefinieer as “die daad om ’n oortreder te verskoon; om op te hou om gegrief te voel teenoor hom weens sy oortreding en om enige reg op vergoeding prys te gee” (Deel 1, bladsy 861).b Die Bybel bied ons grondige redes om ander te vergewe.

Waarom moet ons ander vergewe?

5. Watter belangrike rede verstrek Efesiërs 5:1 om ander te vergewe?

5 Efesiërs 5:1 verstrek ’n belangrike rede om ander te vergewe: “Word dus navolgers van God, as geliefde kinders.” In watter opsig moet ons “navolgers van God” word? Die woord “dus” verbind die uitdrukking met die vorige vers, wat sê: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Efesiërs 4:32). Ja, wanneer dit by vergifnis kom, moet ons navolgers van God word. Soos ’n seuntjie probeer om net soos sy vader wees, moet ons, as kinders vir wie Jehovah baie lief is, soos ons vergewensgesinde hemelse Vader wil word. Hoe bly moet dit tog Jehovah se hart maak wanneer hy van die hemel neerkyk en sien dat sy aardse kinders probeer om soos hy te wees deur mekaar te vergewe!—Lukas 6:35, 36; vergelyk Matteus 5:44-48.

6. In watter opsig is daar ’n reuseverskil tussen Jehovah se vergifnis en ons s’n?

6 Ons kan weliswaar nooit in volmaakte sin vergewe soos Jehovah nie. Maar dit is des te meer rede waarom ons mekaar moet vergewe. Dink bietjie: Daar is ’n reuseverskil tussen Jehovah se vergifnis en ons s’n (Jesaja 55:7-9). Wanneer ons dié vergewe wat teen ons gesondig het, is dit dikwels met die besef dat ons moontlik die een of ander tyd sal wil hê dat hulle ons moet vergewe. Met mense is dit altyd die geval van sondaars wat sondaars vergewe. Maar met Jehovah is die vergifnis altyd net van een kant. Hy vergewe ons, maar ons sal hom nooit hoef te vergewe nie. Moet ons as sondige mense mekaar dan nie probeer vergewe as Jehovah, wat nie sondig nie, ons so liefdevol en volkome kan vergewe nie?—Matteus 6:12.

7. Hoe kan dit ons verhouding met Jehovah benadeel as ons weier om ander te vergewe wanneer daar ’n grondslag vir barmhartigheid is?

7 Selfs nog belangriker, as ons weier om ander te vergewe wanneer daar ’n grondslag vir barmhartigheid is, kan dit ons verhouding met God benadeel. Jehovah vra ons nie net om mekaar te vergewe nie; hy verwag dat ons dit doen. Volgens die Skrif is die beweegrede waarom ons ander vergewe deels sodat Jehovah ons kan vergewe of omdat hy ons vergewe het (Matteus 6:14; Markus 11:25; Efesiërs 4:32; 1 Johannes 4:11). As ons nie bereid is om ander te vergewe wanneer daar ’n goeie rede is om dit te doen nie, kan ons dan werklik sulke vergifnis van Jehovah verwag?—Matteus 18:21-35.

8. Waarom is dit in ons belang om vergewensgesind te wees?

8 Jehovah leer sy volk “die goeie weg waar hulle in moet wandel” (1 Konings 8:36). Wanneer hy ons beveel om mekaar te vergewe, kan ons daarvan seker wees dat hy ons belange op die hart dra. Die Bybel sê tereg vir ons om ‘plek te gee vir die gramskap’ (Romeine 12:19). ’n Wrok is ’n swaar las om in die lewe te dra. Wanneer ons dit koester, neem dit ons gedagtes geheel en al in beslag, beroof dit ons van ons vrede en demp dit ons vreugde. Langdurige woede kan, soos jaloesie, ons liggaamlike gesondheid benadeel (Spreuke 14:30, NW). En deur dit alles is die oortreder moontlik salig onbewus van ons ontsteltenis! Ons liefdevolle Skepper weet dat ons ander nie net tot hulle voordeel openlik moet vergewe nie maar ook tot ons eie voordeel. Die Bybelse raad om te vergewe is inderdaad ‘die goeie weg om in te wandel’.

“Hou aan om mekaar te verdra”

9, 10. (a) Watter soort situasies vereis nie noodwendig formele vergifnis nie? (b) Wat gee die uitdrukking “hou aan om mekaar te verdra” te kenne?

9 Liggaamlike beserings kan wissel van klein snytjies tot diep wonde, en nie almal vereis ewe veel aandag nie. Dit is dieselfde met gekrenkte gevoelens—party wonde is dieper as ander. Moet ons regtig ’n geskil maak van elke kneusplekkie wat ons in ons verhoudinge met ander opdoen? Geringe irritasies, aanstote en ergernisse is deel van die lewe en vereis nie noodwendig formele vergifnis nie. As ons daarvoor bekend staan dat ons ander oor elke klein teleurstelling vermy en dan daarop aandring dat hulle om verskoning vra voordat ons hulle weer beleefd sal behandel, sal ons hulle moontlik dwing om versigtig te wees in ons geselskap—of om op ’n afstand te bly!

10 Dit is eerder veel beter om ‘as redelik bekend te staan’ (Filippense 4:5, Phillips). As onvolmaakte skepsele wat skouer aan skouer dien, is dit net redelik om te verwag dat ons broers ons soms sal omkrap en dat ons dit ook aan hulle sal doen. Kolossense 3:13 maan ons: “Hou aan om mekaar te verdra.” Dié uitdrukking gee te kenne dat ons met ander geduldig moet wees en die dinge in hulle waarvan ons nie hou nie of die eienskappe wat ons dalk irriteer, moet duld. Sulke geduld en verdraagsaamheid kan ons help om die krappies en skrapies wat ons in ons handelinge met ander opdoen te verwerk—sonder om die vrede van die gemeente te versteur.—1 Korintiërs 16:14.

Wanneer die wonde dieper is

11. Wat kan ons help om ander te vergewe wanneer hulle teen ons sondig?

11 Maar sê nou ander sondig teen ons en veroorsaak ’n merkbare wond? As die sonde nie te ernstig is nie, is dit miskien vir ons maklik om die Bybel se raad toe te pas om ‘mekaar vryelik te vergewe’ (Efesiërs 4:32). Sulke bereidwilligheid om te vergewe, is in ooreenstemming met Petrus se geïnspireerde woorde: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). As ons in gedagte hou dat ons ook sondaars is, stel dit ons in staat om ander se oortredings oor te sien. Wanneer ons so vergewe, laat vaar ons die wrok eerder as om dit te koester. Gevolglik sal ons verhouding met die oortreder dalk nie blywend geskaad wees nie, en ons help ook om die kosbare vrede van die gemeente te bewaar (Romeine 14:19). Heel waarskynlik sal die herinnering aan wat hy gedoen het mettertyd verdwyn.

12. (a) Watter inisiatief sal ons moontlik moet neem om iemand te vergewe wat ons diep seergemaak het? (b) Hoe toon die woorde in Efesiërs 4:26 dat ons sake gou moet oplos?

12 Maar sê nou iemand begaan ’n ernstiger sonde teen ons en maak ons diep seer? Byvoorbeeld, ’n vertroude vriend het dalk uiters persoonlike dinge oorvertel wat jy hom vertroulik meegedeel het. Jy voel diep seergemaak en verleë en jou vertroue is geskok. Jy het dit probeer ignoreer, maar dit bly jou pla. In so ’n geval sal jy moontlik die inisiatief moet neem om die probleem op te los, miskien deur met die oortreder te praat. Dit is verstandig om dit te doen voordat dit soos ’n kanker in jou word. Paulus het ons gemaan: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie [dit wil sê, deur ons toorn te koester of daarvolgens op te tree]; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Die feit dat sononder vir die Jode die einde van een dag en die begin van ’n nuwe aangedui het, maak Paulus se woorde sinvoller. Die raad is dus: Los die saak gou op!—Matteus 5:23, 24.

13. Wat moet ons doelwit wees wanneer ons iemand nader wat ons te na gekom het, en watter wenke kan ons help om dit te bereik?

13 Hoe moet jy die oortreder nader? ‘Soek vrede en streef dit na’, sê 1 Petrus 3:11. Jou doelwit is dus nie om uiting te gee aan jou woede nie maar om vrede te maak met jou broer. Daarom is dit beter om kwaai woorde en gebare te vermy; dít sal moontlik ’n soortgelyke reaksie by die ander persoon uitlok (Spreuke 15:18; 29:11). Vermy ook oordrywings soos: “Jy is altyd . . . !” of: “Jy is nooit . . . !” Sulke oordrywings sal hom dalk net ’n verdedigende houding laat aanneem. Laat jou stemtoon en gesigsuitdrukking liewer wys dat jy ’n saak wil oplos wat jou diep seergemaak het. Wees spesifiek wanneer jy verduidelik hoe jy voel oor wat gebeur het. Gee die ander persoon ’n kans om sy optrede te verduidelik. Luister na wat hy sê (Jakobus 1:19). Wat sal dit bereik? Spreuke 19:11 verduidelik: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe.” As jy die ander persoon se gevoelens en die redes vir sy optrede verstaan, kan dit negatiewe gedagtes en gevoelens teenoor hom uit die weg ruim. As ons die situasie benader met die doelwit om vrede te maak en daardie gesindheid behou, kan enige misverstand waarskynlik uit die weg geruim word, kan daar gepas om verskoning gevra word en kan vergifnis geskenk word.

14. In watter sin moet ons vergeet wanneer ons ander vergewe?

14 Beteken dit dat ons werklik moet vergeet wat gebeur het as ons iemand vergewe het? Dink aan Jehovah se voorbeeld in hierdie opsig, soos daar in die vorige artikel bespreek is. Wanneer die Bybel sê dat Jehovah ons sondes vergeet, beteken dit nie dat hy dit nie kán onthou nie (Jesaja 43:25). Hy vergeet eerder in die sin dat hy ons nie in die toekoms sal verwyt oor daardie sondes wat hy vergewe het nie (Esegiël 33:14-16). Wanneer ons ander mense vergewe, beteken dit eweneens nie noodwendig dat ons nie sal kan onthou wat hulle gedoen het nie. Maar ons kan vergeet in die sin dat ons die oortreder nie daaroor verwyt of dit weer in die toekoms ophaal nie. As die saak aldus opgelos is, sou dit nie gepas wees om daaroor te skinder nie; ook sou dit nie liefdevol wees om die oortreder heeltemal te vermy en hom te behandel asof hy uitgesit is nie (Spreuke 17:9). Dit kan weliswaar ’n ruk duur voordat ons verhouding met hom herstel is; ons sal dalk nie dieselfde hegte verhouding as tevore geniet nie. Maar ons het hom nog steeds lief as ons Christenbroer en doen ons bes om vreedsame verhoudinge te handhaaf.—Vergelyk Lukas 17:3.

Wanneer dit onmoontlik lyk om te vergewe

15, 16. (a) Word daar van Christene verwag om ’n oortreder te vergewe wat nie berouvol is nie? (b) Hoe kan ons die Bybel se raad in Psalm 37:8 toepas?

15 Maar sê nou ander sondig op so ’n manier teen ons dat dit ’n baie diep wond veroorsaak, en tog is daar geen erkenning van die sonde of enige berou nie en vra die oortreder glad nie om verskoning nie? (Spreuke 28:13). Die Skrif toon duidelik dat Jehovah nie onberouvolle, verstokte sondaars vergewe nie (Hebreërs 6:4-6; 10:26, 27). Wat van ons? Insight on the Scriptures sê: “Daar word nie van Christene verwag om diegene te vergewe wat voorbedagte, opsetlike sonde sonder enige berou beoefen nie. Hulle word God se vyande” (Deel 1, bladsy 862). Geen Christen wat die slagoffer van uiters onregverdige, verfoeilike of gruwelike optrede was, hoef hom gedwonge te voel om ’n oortreder te vergewe, of te verskoon, wat nie berouvol is nie.—Psalm 139:21, 22.

16 Dit is verstaanbaar dat slagoffers van wrede mishandeling moontlik seergemaak en kwaad sal voel. Maar onthou dat dit vir ons baie nadelig kan wees om aan woede en ’n wrok vas te hou. As ons wag vir ’n erkenning of ’n verskoning wat nooit kom nie, sal ons miskien net al hoe meer ontsteld raak. As ons oor die onreg bly tob, kan dit die woede in ons aan die kook hou, met verwoestende gevolge vir ons geestelike, emosionele en liggaamlike gesondheid. In werklikheid laat ons toe dat die een wat ons seergemaak het, voortgaan om ons seer te maak. Die Bybel maan wyslik: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid” (Psalm 37:8). Party Christene het derhalwe gevind dat hulle na verloop van tyd kon besluit om te vergewe in die sin dat hulle opgehou het om ’n wrok te koester—nie dat hulle verskoon het wat met hulle gebeur het nie, maar hulle het geweier om deur woede verteer te word. Deurdat hulle die saak heeltemal in die hande van die God van geregtigheid gelaat het, het hulle groot verligting ervaar en kon hulle met hulle lewe voortgaan.—Psalm 37:28, vgl. NW.

17. Watter vertroostende versekering bied Jehovah se belofte in Openbaring 21:4?

17 Wanneer ’n wond baie diep is, sal ons dalk nie daarin slaag om dit heeltemal uit ons gedagtes uit te wis nie, ten minste nie in hierdie stelsel van dinge nie. Maar Jehovah belowe ’n nuwe wêreld waarin hy “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Wat ons dan ook al sal onthou, sal ons nie die diep pyn veroorsaak wat ons hart dalk nou beswaar nie.—Jesaja 65:17, 18.

18. (a) Waarom is dit nodig om vergewensgesind te wees in ons handelinge met ons broers en susters? (b) In watter sin kan ons vergewe en vergeet wanneer ander teen ons sondig? (c) Hoe strek dit ons tot voordeel?

18 Intussen moet ons as broers en susters wat onvolmaakte, sondige mense is, saam lewe en werk. Ons almal maak foute. Van tyd tot tyd stel ons mekaar teleur of maak ons mekaar selfs seer. Jesus het goed geweet dat ons ander sou moet vergewe, “nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’”! (Matteus 18:22). Ons kan weliswaar nie so volkome vergewe soos Jehovah nie. Maar in die meeste gevalle wanneer ons broers teen ons sondig, kan ons vergewe in die sin dat ons nie ’n wrok koester nie en kan ons vergeet in die sin dat ons hulle nie tot wie weet wanneer in die toekoms daaroor verwyt nie. Wanneer ons so vergewe en vergeet, help ons om nie net die vrede van die gemeente te bewaar nie, maar ook ons eie gemoedsrus en die vrede in ons hart. Bowenal sal ons die vrede geniet wat net ons liefdevolle God, Jehovah, kan gee.—Filippense 4:7.

[Voetnote]

a Volgens die Babiloniese Talmoed het een rabbynse tradisie gelui: “As ’n man ’n oortreding begaan, word hy die eerste, tweede en derde keer vergewe; die vierde keer word hy nie vergewe nie” (Joma 86b). Dit was deels gebaseer op ’n wanbegrip van tekste soos Amos 1:3; 2:6 en Job 33:29.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Vrae vir hersiening

◻ Waarom moet ons bereid wees om ander te vergewe?

◻ Watter soort situasies vereis dat ons ‘aanhou om mekaar te verdra’?

◻ Wat kan ons doen om die saak op vreedsame wyse op te los as ons diep seergemaak is deur die sondes van ander?

◻ In watter sin moet ons vergeet wanneer ons ander vergewe?

[Prent op bladsy 16]

Wanneer ons ’n wrok koester, is die oortreder moontlik salig onbewus van ons ontsteltenis

[Prent op bladsy 17]

Wanneer jy ander nader om vrede te maak, kan misverstande maklik uit die weg geruim word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel