Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 10/1 bl. 15-20
  • Dissipline lewer ’n vredevolle vrug

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dissipline lewer ’n vredevolle vrug
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die tugroede
  • Die bron van dissipline
  • Teregwysing
  • Verduur dissipline en maai vredevolle vrug
  • Begryp die doel van dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Kan jy dissipline aanvaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Dissipline – ’n Bewys van Jehovah se liefde
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • “Die tugroede”—Is dit ouderwets?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 10/1 bl. 15-20

Dissipline lewer ’n vredevolle vrug

“Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—HEBREËRS 12:11.

1. (a) Wat sê Jehovah se Woord oor die mens se vermoë om sy lewensweg te rig, maar wat sê die mens? (b) Wie is waar bewys, en wie is vals bewys?

JEHOVAH se Woord sê dat dit “nie aan ’n man [toebehoort] om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die mens sê dat hy dit kan doen, en sedert die opstand in Eden het hy dit gedoen. Van toe af tot nou het baie mense gedoen wat in die dae van die rigters in Israel gedoen is: “Elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Maar Jehovah se woorde in Spreuke 14:12 is bewaarheid: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Mense het 6 000 jaar lank die weg ingeslaan wat vir hulle reg gelyk het, en dit het die heeltyd tot oorlog, hongersnood, siekte, misdadigheid en die dood gelei. Die geskiedenis het bewys dat Jehovah se woorde waar en die mens se weë vals is.

2. Watter standpunt neem kindersielkundiges ten opsigte van slae in, maar watter vrug het hulle permissiwiteit opgelewer?

2 Onvolmaakte mense het dissipline nodig. Hulle het dit van hulle kinderdae af nodig. God se Woord sê: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging” (Spreuke 13:24). Talle kindersielkundiges betwis hierdie goddelike wysheid. Een het jare gelede gevra: “Besef julle as moeders dat julle, elke keer dat julle jul kind slaan, toon dat julle jul kind haat?” En tog het hulle permissiwiteit so ’n vlaag van jeugmisdadigers opgelewer dat ’n Brooklynse regter die volgende sarkastiese aanmerking gemaak het: “Ek dink party van hierdie jongmense het ’n goeie pak slae nodig. Maar dit is mos nou glo nie in die mode nie. Ons word nou vertel dat jy ’n kind nie moet slaan nie; jy belemmer dalk die ontwikkeling van ’n genie.” Maar hulle permissiwiteit het nie ’n klomp genieë opgelewer nie—net ’n wettelose golf tienderjarige misdadigers.

3. Watter tendens word nou duidelik volgens die stellings van etlike gesaghebbendes?

3 Nou is die wind van verandering in die lug. Burton L. White, ’n gesaghebbende op die gebied van kinderontwikkeling, sê dat jou strengheid nie sal veroorsaak dat jou kind “jou minder lief sal hê as wanneer jy toegewend sou wees nie. . . . Selfs al gee jy hulle gereeld ’n pak slae, sal jy vind dat hulle aanhou om na jou terug te kom”. Hy benadruk die kind se vernaamste behoefte aan ’n oorvloed van “onberekenbare liefde”. Dr. Joyce Brothers het verslag gedoen van ’n studie van honderde streng gedissiplineerde standerd drie- en standerd vier-leerlinge wat geglo het dat die streng reëls “’n blyk van ouerliefde is”. Die Journal of Lifetime Living het gesê: “Die kindersielkundiges, wat twis oor gereelde voeding versus voeding op aanvraag, slae versus geen slae nie, het gevind dat dit nie juis saak maak solank die kind liefde betoon word nie.” Selfs dr. Benjamin Spock, skrywer van Baby and Child Care, blameer homself gedeeltelik vir die gebrek aan ouerlike fermheid en die gevolglike jeugmisdadigheid. Volgens hom rus die blaam op die kenners, “die kinderpsigiaters, -sielkundiges, onderwysers, maatskaplike werkers en kinderartse soos ek”.

Die tugroede

4. Waarvan is die tugroede ’n simbool, en wat toon die behoorlike gebruik daarvan in teenstelling met permissiwiteit?

4 Die ‘roede’ hierbo beteken nie noodwendig ’n pak slae nie; dit beteken die tugmiddel in watter vorm ook al. The New International Version sê oor hierdie vers: “roede. Waarskynlik beeldspraak vir dissipline van enige aard.” ’n Roede is ’n simbool van bewind of gesag—in hierdie geval ouerlike gesag. ’n Ouer word later nie bedank vir sy permissiwiteit en bederwery nie: “As ’n mens sy slaaf [of kind] van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar” (Spreuke 29:21). Om ouerlike gesag deur middel van permissiwiteit opsy te skuif, bring skande en toon nie liefde nie, maar onverskilligheid; die vriendelike dog ferm gebruik van die tugroede weerspieël liefdevolle besorgdheid. “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.”—Spreuke 29:15.

5. (a) Wat sê een verklarende handleiding oor Spreuke 13:24, en met watter ander Bybelteks stem dit ooreen? (b) Wie word deur Jesus en Jehovah gedissiplineer?

5 Waar dit van Spreuke 13:24 praat, verduidelik Keil en Delitzsch se Commentary on the Old Testament: “’n Vader wat waarlik die beste vir sy seun wil hê, onderwerp hom van vroeg af aan streng dissipline om hom die regte leiding te gee terwyl hy nog beïnvloed kan word en om geen afwykings in hom te laat posvat nie; maar die een wat toegeeflik is teenoor sy kind wanneer hy streng behoort te wees, handel asof hy in werklikheid sy ondergang verlang.” Moffatt se New Translation of the Bible sê eweneens in Spreuke 19:18: “Tugtig jou seun, terwyl daar nog hoop vir hom bestaan, en moet hom nie op ondergang laat afstuur nie.” Vriendelike maar ferm dissipline van kleins af weerspieël ouerliefde. Jesus het gesê: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek.” Wat Jehovah betref, “die Here tugtig hom wat Hy liefhet”.—Openbaring 3:19; Hebreërs 12:6.

6. In watter vorm kom dissipline dikwels, en watter voorbeelde steun jou antwoord?

6 Dissipline behels soms ’n pak slae, maar dit is dikwels nie die geval nie. Spreuke 8:33 sê nie “voel” tug nie, maar “luister na tug en word wys”. Dissipline is dikwels in die vorm van woorde, nie ’n pak slae nie: “Die teregwysinge van die tug [is] ’n weg tot die lewe.” “Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe” (Spreuke 4:13; 6:23). Toe Jehovah se kneg Job gedissiplineer moes word, is dit deur teregwysinge gedoen, eers deur Elihu en toe deur Jehovah self (Job, hoofstukke 32-41). Job het die teregwysing aanvaar en vir Jehovah gesê: “Daarom herroep ek en het berou in stof en as.”—Job 42:6.

7. Wat is die betekenis van die Griekse woord wat met “tug” vertaal word, hoe moet dit uitgeoefen word, en wat word daardeur bereik?

7 Pai·deiʹa is die Griekse woord wat met “tug” vertaal word. In sy verskeie vorme beteken dit om op te lei, te leer, ‘met sagmoedigheid te onderrig’ (2 Timotheüs 2:25, NW). Dit slaan meer op opleiding in gedrag as op die verkryging van kennis. Hierdie dissiplinering moet “met alle lankmoedigheid en die onderrigkuns” geskied (2 Timotheüs 4:2, NW). Dit word goed toegelig deur die vermaning aan vaders: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Hierdie dissipline, wat vriendelik maar ferm moet wees, moet jongmense se denke op een lyn bring met Jehovah s’n.

Die bron van dissipline

8. Uit watter bron en op watter maniere kan ons onsself dissiplineer?

8 Die beginsels wat by die dissiplinering van kinders geld, is ook op volwassenes van toepassing. Die Bybel is die bron van inligting oor wat ons moet en nie moet wees nie. Terwyl ons dit lees, kan ons onsself ondersoek en teregwysing toepas, waar nodig (2 Korinthiërs 13:5). Wanneer ons oor Jehovah se voorskrifte nadink, ervaar ons miskien skuldgevoelens wat die nodige veranderinge vir ons uitwys. Dit was met die psalmis die geval: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere [“my diepste emosies”] my” (Psalm 16:7). Soos Paulus, kan ons onsself dissiplineer: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Korinthiërs 9:27.

9. Op watter ander maniere kan nuttige dissipline ontvang word?

9 Dissipline kom dalk van iemand anders. Dit kom dalk in die vorm van ’n kyk, ’n frons, ’n woord, ’n gebaar, ’n mondelinge teregwysing. Jesus het Petrus ’n kyk gegee wat hom aan die voorspelling van sy ernstige sonde herinner het, en hy het uitgegaan en bitterlik geween (Lukas 22:61, 62). By ’n ander geleentheid was dit ’n bestraffing van vyf woorde wat Petrus laat swyg het: “Gaan weg agter My, Satan!” (Mattheüs 16:23). Wanneer ons Wagtoringpublikasies lees, vergaderinge bywoon, met ander gesels en moeilike ondervindinge verduur, help dit alles ons om bewus te word van gebiede waar ons veranderinge moet aanbring. Die allerbelangrikste bron van en gids vir dissipline is egter God se Woord self.—Psalm 119:105.

10. Hoe waardevol is die spreuke van Salomo wanneer dit by dissipline kom, maar watter weg wil sommige opsluit volg?

10 Die spreuke van Salomo is aan mense van alle ouderdomme gegee “om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die [onervarenes] skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg”. Maar iemand laat hom miskien “met woorde . . . nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie” (Spreuke 1:2-4; 29:19). Party onervarenes wil opsluit, net soos die verlore seun voor hy ‘tot besinning gekom het’, in die lewe se “harde leerskool” leer.—Lukas 15:11-17, vgl. NW.

11. (a) Hoe is die gemeente in Korinthe en Jona gedissiplineer? (b) Watter dissiplinêre straf is oor Dawid gebring weens sy owerspel en pogings om dit te verberg? (c) Watter woorde van Dawid in Psalm 51 toon die diepte van sy berou?

11 Met verwysing na ’n brief wat hy vroeër aan die Christengemeente in Korinthe geskryf het, het Paulus gesê: “Julle droefheid het julle tot berou gebring, want julle het op ’n godvrugtige wyse bedroef geword . . . [en dit het gelei tot] die regstelling van die onreg” (2 Korinthiërs 7:9-11, NW). Jona is deur middel van ’n seestorm en ’n groot vis gedissiplineer (Jona 1:2, 3, 12, 17; 2:10; 3:1-4). Volgens 2 Samuel 12:9-14 het Dawid se owerspel en sy pogings om dit te verberg dissiplinêre straf oor hom gebring. Sy berou is roerend in hierdie woorde van die 51ste Psalm betuig: ‘Was my van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. My sonde is altyddeur voor my. Delg uit al my ongeregtighede, skep vir my ’n rein hart en gee opnuut in my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie. ’n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie.’—Verse 4, 5, 11-13, 19.

12. Watter drastieser maatreëls is vir sommige nodig, en wat is die uiteinde van diegene wat herhaaldelike bestraffings verwerp?

12 Soos Spreuke 26:3 toon, is drastieser maatreëls in die geval van party persone nodig: “’n Sweep is vir ’n perd, ’n toom vir die esel en ’n roede vir die rug van die dwase.” Soms het Jehovah sy nasie Israel getug deur die probleme wat hulle hulle op die hals gehaal het: “Omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite [onderwerp]; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos” (Psalm 107:11-13). Sommige dwase verhard egter hulle hart sodat hulle nie deur enige soort helende dissipline geraak word nie: “’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.”—Spreuke 29:1.

Teregwysing

13. Wat moet ons vermy wanneer ons iemand teregwys, en hoe moet dit gedoen word?

13 Dissipline van watter aard ook al moet nooit in woede uitgeoefen word nie. Trouens, in plaas van te help, ‘verwek woede twis’. Ons word ook gemaan: “Iemand wat nie gou kwaad word nie, is verstandig, maar iemand wat kort van draad is, wys sy eie dwaasheid.” En “die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe” (Spreuke 29:22; 14:29, Die Lewende Bybel; 19:12). Wanneer dissipline nodig is, moet dit nooit oordrewe wees nie. Oefen die regte hoeveelheid op die regte tyd uit—nie te gou nie, nie te laat nie, nie te min nie, nie te veel nie.

14. Watter ander riglyne word vir diegene gegee wat ander teregwys?

14 Hier is ’n paar riglyne vir diegene wat ander teregwys: “Moenie ’n ouer man streng kritiseer nie. Inteendeel, spreek hom met aandrang toe as ’n vader, jonger manne as broers, ouer vroue as moeders, jonger vroue as susters met alle eerbaarheid” (1 Timotheüs 5:1, 2, NW). Spreek jy ander met aandrang toe, of is jy kras? “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Vermaan ons met sagmoedigheid, terwyl ons altyd ons eie gebreke in gedagte hou? “Behandel ander mense soos julle graag deur hulle behandel wil word” (Mattheüs 7:12, Die Lewende Bybel). Stel jy jou in die ander persoon se plek en toon jy empatie?

15. Wat is nodig wanneer jy tereggewys word, en watter bykomende raad word aan diegene gegee wat tereggewys word?

15 Dit verg nederigheid wanneer jy tereggewys word. Lyk dit asof daar op jou gepik word, of dit onredelik, onregverdig is? Moenie haastig wees nie. Dink daaroor. Moenie negatief wees nie. Peins met ’n positiewe gesindheid daaroor. Is dit gedeeltelik gegrond, al lyk nie alles gegrond nie? Wees ontvanklik; beoordeel dit objektief. Is jy oorsensitief, liggeraak? Nadat die aanvanklike kwetsing of gegriefdheid afgeneem het, duur dit dalk ’n rukkie om dit in ’n positiewe lig te sien. Wag dus. Bly stil. Beoordeel wat gesê is op ’n kalm wyse. Is dit moontlik dat jy bevooroordeel is teen die persoon wat die raad gee en dat jy dit daarom verwerp het? Beskou dit nietemin as goed bedoel en as iets wat nie summier verwerp moet word nie.

16. (a) Watter tekste en verwante vrae moet ons oorweeg wanneer ons vermaan word? (b) Watter gesindheid van die psalmis kan ons navolg?

16 Hier is ’n paar tekste waaroor jy kan nadink wanneer jy tereggewys word: “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ’n man van verstand” (Spreuke 17:27). Luister jy en bly jy kalm? “Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spreuke 12:15). Besluit jy gou dat jy reg het of luister jy en is jy ontvanklik? “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Slaan jy ag op hierdie woorde wanneer jy vermaan word? “Wees nie haastig in jou gees om aanstoot te neem nie, want om aanstoot te neem rus in die boesem van die verstandeloses” (Prediker 7:9, NW). Neem jy gou aanstoot? Dit sou inderdaad goed wees as ons soos die psalmis kan voel: “Sou die regverdige my slaan, sou dit ’n liefderyke goedheid wees; en sou hy my teregwys, sou dit olie op die hoof wees, wat my hoof nie sou wou weier nie.”—Psalm 141:5, NW.

Verduur dissipline en maai vredevolle vrug

17. Waarom is dit nie altyd maklik om dissipline te aanvaar nie, maar hoe sal ons gehelp word om dit te verduur as ons Hebreërs 12:7, 11 in gedagte hou?

17 Dissipline is nie altyd maklik om te aanvaar nie. Dit veroorsaak dalk verleentheid en bring beperkinge mee. Dit kan jou selfs droefheid veroorsaak. Maar verduur dit alles. Dit sal verbygaan; die vreugde kom later. Onthou: “As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—Hebreërs 12:7, 11.

18, 19. Watter sterk gevoelens het Jeremia sowel as die psalmis betuig wat vir ons die regte weg toon wanneer ons dissipline ontvang?

18 As die dissipline derhalwe droefheid veroorsaak en moeilik is om te verduur, moet jy wag op die vredevolle vrug wat later kom. Soos Jeremia, moet jy op Jehovah wag: “U siel sal sonder twyfel onthou en oor my neerbuig. Dit sal ek terugbring na my hart. Daarom sal ek van ’n wagtende houding blyk gee” (Klaagliedere 3:20, 21, NW). Onthou wat die psalmis vir homself gesê het toe hy in nood verkeer het: “Waarom is jy wanhopig, o my siel, en waarom is jy onstuimig in my? Wag op God, want ek sal hom nog prys as die grootse redding van my persoon.”—Psalm 42:5, 11, NW; 43:5, vgl. NW.

19 Wanneer ons dus gedissiplineer word, moet elkeen van ons op God wag. Na ons daardeur geoefen is, sal ons die oes van ’n vredevolle vrug, naamlik geregtigheid, maai.

Onthou jy?

◻ Watter nut het die gebruik van die tugroede?

◻ Wat is die vernaamste bron van dissipline? Watter ander bronne van dissipline is daar?

◻ Watter strenger maatreëls, benewens teregwysings, is dalk nodig?

◻ Wat is sommige riglyne wanneer jy ander teregwys?

◻ Watter raad sal ons help om teregwysing te aanvaar?

[Prent op bladsy 17]

Tree jy verstandig op deur ‘na tug te luister’?

[Prent op bladsy 18]

Die beginsels wat by die dissiplinering van kinders geld, is ook op volwassenes van toepassing

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel