Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwyp artikel 108
  • Hoe belangrik is dit om gewild op sosiale media te wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe belangrik is dit om gewild op sosiale media te wees?
  • Jongmense vra
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die gevare?
  • “Dit lyk asof hulle gewild is”
  • Hoe belangrik is followers en likes?
  • Wat van Internetvriendskappe?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Is dit verkeerd om gewild te wees?
    Ontwaak!—2012
  • Hoe om tieners Internetveiligheid te leer
    Ontwaak!—2014
  • Wat moet ek omtrent sosiale netwerke weet?—Deel 2
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Jongmense vra
ijwyp artikel 108
’n Tienermeisie glimlag terwyl sy na haar foon kyk. Sy het 85 likes op haar sosiale media-blad gekry.

JONGMENSE VRA

Hoe belangrik is dit om gewild op sosiale media te wees?

’n Tiener met die naam Elaine sê: “Toe ek sien dat my skoolmaats honderde followers aanlyn het, het ek gedink: ‘Wow – hulle is populêr!’ Om eerlik te wees, ek was ’n bietjie jaloers.”

Het jy al ooit so gevoel? As jy al so gevoel het, kan hierdie artikel jou help om nie vasgevang te word om te probeer om populêr te wees op sosiale media nie.

  • Wat is die gevare?

  • “Dit lyk asof hulle gewild is”

  • Hoe belangrik is followers en likes?

  • Wees versigtig om nie “nederig maar spoggerig” te wees nie

Wat is die gevare?

In Spreuke 22:1 sê die Bybel: “’n Goeie naam is beter as baie rykdom.” So dit is oukei om ’n goeie reputasie te wil hê. Dit is selfs oukei om te wil hê dat ander van jou moet hou.

Maar partykeer wil jy so graag hê dat ander van jou moet hou dat jy nie gelukkig kan wees as jy nie gewild is nie. Kan dit gevaarlik wees? Onya, 16, sê ja:

“Ek het al gesien hoe mense simpel dinge doen – soos om van die tweede verdieping van my skool af te spring – net om populêr te wees.”

Om ander jongmense se aandag te kry, neem party hulle belaglike toertjies af en sit dit dan aanlyn. Byvoorbeeld, ’n paar tieners het video’s van hulleself opgelaai waar hulle wasgoedseep-kapsules eet – klein houertjies wat giftige bestanddele bevat. Dit is iets wat ’n mens nooit moet eet nie!

Die Bybel sê: “Moet niks doen . . . net omdat jy graag wil spog nie.” – Filippense 2:3, Good News Translation.

Iets om oor te dink:

  • Hoe belangrik is dit vir jou om gewild op sosiale media te wees?

  • Sal jy jou gesondheid of jou lewe in gevaar stel net om aandag en goedkeuring by jou vriende te kry?

    Wat ander jongmense sê

    Leianna.

    “Om populêr te wees kan gevaarlik raak wanneer mense ’n doen-wat-ook-al-nodig-is gesindheid het. Hulle dink dalk dat as hulle op ’n sekere manier praat, aantrek en optree – selfs aanlyn – sal hulle populêr wees. Jy sal spyt wees as jy iets doen wat jy weet verkeerd is net om populêr te wees.” – Leianna.

“Dit lyk asof hulle gewild is”

Mense doen nie net gevaarlike dinge sodat hulle populêr word nie. Erica, 22, het opgelet dat party mense ’n ander manier gebruik:

“Mense sit die een foto na die ander van hulle lewe op sosiale media. Dit lyk dan asof hulle ’n lang lys vriende het met wie hulle baie tyd spandeer. En dit laat dit lyk asof hulle gewild is.”

Cara, 15, sê dat party mense oneerlik is om dit te laat lyk asof hulle gewild is:

“Ek het al gesien hoe mense foto’s neem wat dit laat lyk asof hulle by ’n partytjie is, maar eintlik is hulle by die huis.”

Matthew, 22, erken dat hy al so iets gedoen het:

“Ek het al ’n foto op sosiale media gesit en gesê dat dit op die berg Everest geneem is selfs al was ek nog nooit in Asië nie!”

Die Bybel sê: “Ons wil ons in alles eerlik gedra.” – Hebreërs 13:18.

Iets om oor te dink:

  • Het jy al ooit iets op sosiale media gesit wat nie waar is nie net om meer populêr te wees?

  • Wys die foto’s en kommentare wat jy opsit, wie jy werklik is en waarin jy regtig glo?

    Wat ander jongmense sê

    Hannah.

    “Party mense sal doen wat ook al nodig is om meer likes te kry. Maar waarvoor wil jy bekend staan – dat jy op ’n manier praat of aantrek wat nie gepas is nie of spog met die dinge wat jy besit? Of wil jy eerder bekend staan vir jou goeie eienskappe of dat jy regtig in ander belangstel? Dit laat ’n mens goed voel as ander van jou hou, maar maak seker dat dit vir redes is waarop jy trots kan wees.” – Hannah.

Hoe belangrik is followers en likes?

Baie mense glo dat jy baie followers en likes moet hê om gewild op sosiale media te wees. Matthew, wat vroeër genoem is, erken dat hy al so gevoel het:

“Ek sou mense vra: ‘Hoeveel followers het jy?’ of ‘Wat is die meeste likes wat jy al gekry het?’ Om meer followers te kry, het ek mense gevolg wat ek nie geken het nie omdat ek gehoop het dat hulle my sou volg. Ek het begin voel dat ek populêr moet wees en sosiale media het daardie gevoel nog sterker gemaak.”

Collage: 1. ’n Tienermeisie kyk na hoeveel likes sy op haar sosiale media-blad gekry het en glimlag. 2. Dieselfde meisie eet ’n bakkie vol lekkers. 3. Die meisie hou haar hand op haar maag en lyk siek.

Om gewild aanlyn te wees is soos gemorskos – vir ’n kort rukkie proe dit lekker, maar dit is nie goed vir jou nie

Maria, 25, het al opgelet dat party mense hulle eie waarde meet aan hoeveel followers en likes hulle kry:

“As ’n meisie ’n foto van haarself oplaai en nie genoeg likes kry nie, dan dink sy dat sy lelik is. Dit is natuurlik nie waar nie, maar baie mense in dieselfde situasie sou ook so reageer. Dit is asof hulle hulleself boelie.”

Die Bybel sê: “Laat ons nie te veel van onsself begin dink en met mekaar kompeteer en jaloers wees op mekaar nie.” – Galasiërs 5:26.

Iets om oor te dink:

  • As jy sosiale media gebruik, veroorsaak dit dat jy jouself met ander vergelyk?

  • Is die hoeveelheid mense wat jou volg, vir jou belangriker as ware vriendskappe met mense wat vir jou omgee?

    Wat ander jongmense sê

    Joshua.

    “Om gewild aanlyn te wees, moet jy iemand word waarvan ander mense hou, en dit beteken gewoonlik dat jy soos hulle word. Dit kan jou te veel laat fokus op wat ander van jou dink en wat jy kan doen sodat hulle meer van jou kan hou. Dis normaal om te wil hê dat ander van jou moet hou, maar as dit jou fokus is om populêr te wees, kan dit ’n obsessie word.” – Joshua.

Wees versigtig om nie “nederig maar spoggerig” te wees nie

Het jy al ooit opgelet dat party mense spog oor wat hulle bereik het, maar dan maak asof hulle daaroor kla?

  • “Vandat ek my splinternuwe kar gekry het, hou mense net nie op om my te vra of hulle kan saamry nie!”

  • “Dit irriteer my dat almal aanhou om my te komplimenteer omdat ek soveel gewig verloor het!”

Die persoon kla sodat hy nederig lyk, maar eintlik spog hy.

Waarskuwing: Wanneer ’n mens op hierdie manier spog, kan dit in jou gesig opblaas, want mense sien gewoonlik regdeur dit. En omdat dit nie opreg is wanneer iemand nederig maar spoggerig is nie, hou mense nog minder daarvan as wat iemand sommer net spog.

Volgende keer as jy ’n kommentaar of ’n foto op sosiale media sit, wees versigtig om nie nederig maar spoggerig te wees nie. Volg die Bybel se goeie raad: “Laat iemand anders jou prys, en nie jou eie mond nie.” – Spreuke 27:2.

Hersiening: Wat kan jy doen om nie vasgevang te word deur die gejaag na gewildheid op sosiale media nie?

  • Maak seker dat die dinge wat jy aanlyn sit, duidelik wys wie jy werklik is en waarin jy regtig glo.

  • Wees eerlik in hoe jy jouself aanlyn voorstel.

  • Moenie te veel fokus op followers en likes nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel