Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mrt artikel 27
  • Is godsdiens net nog ’n manier om geld te maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is godsdiens net nog ’n manier om geld te maak?
  • Nog onderwerpe
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat dink God daaroor wanneer mense godsdiens en besigheid met mekaar meng?
  • Hoe het die eerste Christene hulle aanbidding en besigheid apart van mekaar gehou?
  • Wat gaan binnekort met die godsdienste wat so gierig is, gebeur?
  • Moet jy betaal vir kerkdienste?
    Ontwaak!—2010
  • Hoe valse godsdiens mense die verkeerde idee van God gee
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
  • Wat is die goeie nuus in verband met godsdiens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Nog onderwerpe
mrt artikel 27
’n Geestelike en ’n besigheidsman, wat albei duur goue juweliersware dra, skud mekaar se hand.

Is godsdiens net nog ’n manier om geld te maak?

Het jy agterkom dat baie godsdienste meer daarin belangstel om geld te maak as om mense te help om nader aan God te kom? Hulle adverteer en verkoop dienste en produkte. Baie van hulle leiers kry groot salarisse en lewe in weelde. Kom ons kyk na net ’n paar voorbeelde:

  • ’n Ondersoek het gewys dat een Katolieke biskop oor ’n tydperk van 13 jaar kerkgeld gebruik het om vir byna 150 vlugte op privaat straalvliegtuie en omtrent 200 limousine-ritte te betaal. Hy het ook meer as R59 miljoen spandeer aan opknappingswerk aan die kerk se huis waar hy gebly het.

  • ’n Prediker in ’n Afrikaland hou gereeld godsdienssamekomste met tienduisende wat dit bywoon. Sy groot godsdienskompleks verkoop allerhande produkte – van “wonderolie” tot handdoeke en T-hemde met sy foto daarop. Terwyl die meeste van sy kerkgangers arm is, is hy ongelooflik ryk.

  • Twee van China se vier heilige Boeddhisteberge is op die aandelebeurs gelys. En die bekende Shaolin-tempel is betrokke by baie kommersiële projekte; die hoofmonnik daarvan staan algemeen bekend as die “besigheidsbestuurder-monnik”.

  • Amerika se besigheidswêreld het ook begin om godsdienskonsultante te gebruik. Volgens een verslag huur besighede hierdie konsultante om godsdiensrituele te skep en ander geestelike dienste aan hulle kliënte te voorsien.

Hoe voel jy oor godsdienste wat betrokke is by besigheid? Het jy al ooit gewonder wat God dink van mense wat godsdiensaktiwiteite gebruik om geld te maak?

Wat dink God daaroor wanneer mense godsdiens en besigheid met mekaar meng?

God wil nie hê dat godsdiens en besigheid met mekaar gemeng moet word nie. Die Bybel wys dat God in die verlede baie ontevrede was met priesters wat beweer het dat hulle hom verteenwoordig, maar “onderrig [het] teen ’n prys” (Miga 3:11). God het die gierige geldmakery veroordeel wat sy plek van aanbidding in “’n skuilplek vir rowers” verander het. – Jeremia 7:11.

Jesus was net so ontevrede soos God oor dié wat godsdiens gebruik het om geld te maak. In sy dag het godsdiensleiers geld gemaak deur toe te laat dat gierige handelaars in die tempel in Jerusalem koop en verkoop. Daar het hulle opregte mense uitgebuit wat soontoe gekom het om te aanbid. Jesus het daardie oneerlike handelaars moedig uit die tempel uitgejaag en gesê: “Hou op om die huis van my Vader ’n besigheidsplek te maak!” – Johannes 2:14-16.

Die manier waarop Jesus sy bediening uitgevoer het, het ook gewys dat hy so voel soos God daaroor voel (Johannes 8:28, 29). Hy het mense nooit vir geld gevra wanneer hy hulle oor God geleer het nie. Hy het mense nooit gevra om hom te betaal wanneer hy wonderwerke gedoen het, soos om dié wat honger was kos te gee, siekes gesond te maak en dooies op te wek nie. Jesus het nooit sy bediening gebruik om ryk te word nie – hy het nie eers ’n huis besit nie. – Lukas 9:58.

Hoe het die eerste Christene hulle aanbidding en besigheid apart van mekaar gehou?

Jesus het vir sy volgelinge gesê om nooit hulle godsdiens te gebruik om geld te maak nie. Hy het gesê: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Daardie vroeë volgelinge, wat later Christene genoem is, het Jesus se instruksies gevolg. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:

  • Die apostel Petrus, wat saam met Jesus aan sy bediening deelgeneem het, is geld aangebied deur ’n man met die naam Simon, wat ’n posisie van mag en gesag wou hê. Petrus het Simon se aanbod onmiddellik verwerp en hom streng tereggewys deur te sê: “Mag jou geld saam met jou vergaan, want jy het gedink dat jy die vrye gawe van God met geld kan koop.” – Handelinge 8:18-20.

  • Die apostel Paulus was ’n bekende reisende bedienaar. Al het hy vir baie jare in baie Christengemeentes hard gewerk, het hy nooit probeer om geld te maak uit sy werk nie. Hy en sy mede-Christene het nie “[gesmous] met die woord van God soos baie mense nie” (2 Korintiërs 2:17). Paulus het eerder geskryf: “Toe ons die goeie nuus van God aan julle verkondig het, het ons dag en nag gewerk om nie ’n duur las vir enigeen van julle te wees nie.” – 1 Tessalonisense 2:9.

Daardie vroeë Christene het natuurlik geld nodig gehad vir hulle uitgebreide predikingskampanjes en goeie werke, maar hulle het mense nooit gevra om daarvoor te betaal nie. Dit was mense se eie keuse of hulle wou gee of nie op grond van die volgende:

  • 2 Korintiërs 8:12: “Want as die gewilligheid daar is, word dit met graagte aanvaar – maar volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie.”

    Wat dit beteken: Die motief waarmee iemand gee, is belangriker as hoeveel hy gee.

  • 2 Korintiërs 9:7: “Laat elkeen gee net soos hy in sy hart besluit het, nie teësinnig of omdat hy gedwing word nie, want God is lief vir iemand wat met vreugde gee.”

    Wat dit beteken: God wil nie hê dat enige iemand moet voel dat hy gedwing word om te gee nie. Dit maak sy hart bly wanneer mense gee omdat hulle dit graag wil doen.

Wat gaan binnekort met die godsdienste wat so gierig is, gebeur?

Die Bybel sê duidelik dat God nie alle godsdienste of soorte aanbidding aanvaar nie (Matteus 7:21-23). In ’n dramatiese profesie vergelyk die Bybel alle valse godsdiensorganisasies met ’n prostituut wat saam met regerings werk vir geld of ander gunste en wat mense van alle nasies uitbuit (Openbaring 17:1-3; 18:3). Daardie profesie wys verder dat God valse godsdiens binnekort gaan oordeel en straf. – Openbaring 17:15-17; 18:7.

Tot dan wil God nie hê dat die slegte dade van valse godsdiens mense moet mislei of keer dat hulle nader aan hom kom nie (Matteus 24:11, 12). Hy spoor mense aan om te leer hoe om hom op ’n aanvaarbare manier te dien en uit valse godsdiens te vlug. – 2 Korintiërs 6:16, 17.

Hoe hou Jehovah se Getuies hulle aanbidding en besigheid apart van mekaar?

Jehovah se Getuies vra nie geld vir hulle lektuur of Bybelonderrigting nie. Hulle vra ook nie tiendes en neem nie kollektes op by hulle vergaderinge nie. Die nodige geld word eerder deur private vrywillige bydraes voorsien (Matteus 6:2, 3). Die volgende artikels gee meer inligting hieroor:

  • “Hoe word die werk van Jehovah se Getuies gefinansier?”

  • “Hoe gebruik Jehovah se Getuies donasies?”

Tom.

Baie mense wat God wou leer ken, maar wat skepties was oor godsdiens, het uitgevind dat Jehovah se Getuies anders is. Kyk byvoorbeeld na Tom, ’n man wat in God geglo het en wat selfs gestudeer het om ’n priester te word. Omdat hy so geskok was oor die slegte dinge wat hy gesien het, wou hy uiteindelik niks meer met godsdiens te doen hê nie. Hoekom het hy van plan verander toe hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het? Kyk gerus self.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel