Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mrt artikel 63
  • Verdraagsaamheid – Hoe die Bybel kan help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verdraagsaamheid – Hoe die Bybel kan help
  • Nog onderwerpe
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel se rede vir verdraagsaamheid
  • Wat die Bybel oor respek sê
  • Wat die Bybel oor haat sê
  • Bybelverse oor verdraagsaamheid en respek
  • Verdraagsaamheid
    Ontwaak!—2015
  • Verdraagsaamheid—Van die een uiterste na die ander
    Ontwaak!—1997
  • Wat het geword van respek vir ander?
    Ontwaak!—2024
  • Is jy werklik verdraagsaam?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Nog onderwerpe
mrt artikel 63
Gelukkige mense van verskillende ouderdomme, rasse, beroepe en kulture.

Verdraagsaamheid – Hoe die Bybel kan help

Daar kan net vrede wees as mense verdraagsaam is. – UNESCO se Verklaring van Beginsels oor Verdraagsaamheid, 1995.

Aan die ander kant kan onverdraagsaamheid veroorsaak dat mense disrespekvol is en mekaar selfs haat. Wanneer mense sulke gevoelens het, kan hulle dikwels haatlike dinge sê, diskriminerend optree en gewelddadig raak.

Maar mense het verskillende idees oor wat verdraagsaamheid beteken. Party glo dat verdraagsame mense moet saamstem met alle soorte gebruike en gewoontes. Ander het dieselfde beskouing as die Bybel. Dit wys dat mense wat verdraagsaam is, ander se reg respekteer om self te besluit wat hulle waardes en oortuigings is, selfs al stem hulle nie saam met daardie waardes en oortuigings nie.

Kan die Bybel mense regtig help om in ons tyd verdraagsaam te wees?

Die Bybel se rede vir verdraagsaamheid

Die Bybel bevorder verdraagsaamheid. Dit sê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Die Bybel moedig ons aan om bedagsaam, beleefd en regverdig op te tree. Mense wat hierdie raad toepas, stem dalk nie saam met of aanvaar moontlik nie die ander persoon se waardes nie. Maar hulle laat toe dat die persoon volgens sy of haar eie keuse optree.

Die Bybel sê egter dat God standaarde vir mense se gedrag het. Dit sê: “[God] het jou vertel, o mens, wat goed is” (Miga 6:8). Dit wys wat die riglyne is wat God aan mense gegee het om hulle te help om die beste lewe moontlik te geniet. – Jesaja 48:17, 18.

God gee ons nie die reg om ander te oordeel nie. Volgens die Bybel “is [daar] net een wat Wetgewer en Regter is . . . Wie is jy om jou naaste te oordeel?” (Jakobus 4:12). God gee elkeen van ons die vryheid om ons eie keuses te maak waarvoor ons persoonlik verantwoordelik is. – Deuteronomium 30:19.

Wat die Bybel oor respek sê

Die Bybel sê dat ons “alle mense [moet] respekteer” (1 Petrus 2:17, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). So diegene wat kies om volgens Bybelstandaarde te lewe, behandel alle mense met respek, maak nie saak wat hulle oortuigings of lewenswyse is nie (Lukas 6:31). Dit beteken nie dat mense wat die Bybel volg, sal saamstem met elke oortuiging of opinie wat ander het of dat hulle elke besluit wat ander maak, sal ondersteun nie. Maar in plaas daarvan om onbeskof of disrespekvol te wees, probeer hulle hulle bes om die manier hoe Jesus ander behandel het, na te volg.

Byvoorbeeld, Jesus het eenkeer ’n vrou ontmoet wat aan ’n godsdiens behoort het waarmee hy nie saamgestem het nie. Hierdie vrou het ook saam met ’n man gebly met wie sy nie getroud was nie – ’n lewenswyse wat Jesus nie goedgekeur het nie. Maar hy het nog steeds respekvol met die vrou gepraat. – Johannes 4:9, 17-24.

Jesus praat respekvol met ’n vrou by ’n put.

Soos Jesus, is Christene bereid om die redes vir hulle oortuigings aan mense te verduidelik wat gewillig is om na hulle te luister. Maar hulle doen dit met “diep respek” (1 Petrus 3:15). Die Bybel beveel Christene om nie hulle opinie op ander af te dwing nie. Dit sê dat ’n volgeling van Christus “nie [hoef] te stry nie. Hy moet eerder vriendelik wees teenoor almal”, en dit sluit diegene in wat ander oortuigings het. – 2 Timoteus 2:24.

Wat die Bybel oor haat sê

Die Bybel sê: “Probeer hard om in vrede met alle mense te lewe” (Hebreërs 12:14). Iemand wat hard probeer om in vrede te lewe, verwerp haat. Hy probeer hard om in vrede met ander te lewe sonder om sy eie waardes prys te gee (Matteus 5:9). Om die waarheid te sê, die Bybel moedig Christene ook aan om hulle vyande lief te hê deur liefdevol op te tree al behandel hulle vyande hulle sleg. – Matteus 5:44.

Dit is so dat die Bybel sê dat God optrede “haat” of “afskuwelik” vind wanneer sulke optrede mense verneder of seermaak (Spreuke 6:16-19). Die Bybel gebruik egter hier die woord “haat” om te wys dat hy glad nie slegte gedrag goedkeur nie. Die Bybel wys dat God bereid is om mense te vergewe en hulle te help as hulle hulle lewenswyse verander en by sy standaarde bly. – Jesaja 55:7.

Bybelverse oor verdraagsaamheid en respek

Titus 3:2: ‘Wees redelik, en openbaar sagmoedigheid teenoor alle mense.’

’n Redelike persoon reageer op ander se opinies op ’n sagmoedige manier en bevorder respek tussen mense.

Matteus 7:12: “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”

Ons almal waardeer dit wanneer ander ons met respek behandel en ons beskouings en gevoelens in ag neem. Om meer uit te vind oor hoe om hierdie bekende beginsel wat Jesus geleer het, toe te pas, kyk na die artikel “Wat is die Goue Reël?”

Josua 24:15: “Kies dan vandag self wie julle gaan dien.”

Wanneer ons die reg van ander respekteer om hulle eie keuses te maak, bevorder ons vrede.

Handelinge 10:34: “God [is] nie partydig . . . nie.”

God diskrimineer nie teen enige iemand as gevolg van hulle kultuur, geslag, nasionaliteit, ras of agtergrond nie. Diegene wat God wil navolg, toon respek vir alle mense.

Habakuk 1:12, 13: “[God] kan goddeloosheid nie verdra nie.”

God se verdraagsaamheid het perke. Hy sal nie vir ewig toelaat dat mense op ’n goddelose manier optree nie. Om meer uit te vind, kyk na die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry?

Romeine 12:19: “Laat die woede aan God oor, want daar staan geskryf: ‘Die wraak is myne. Ek sal terugbetaal,’ sê Jehovah.”a

Jehovah God gee niemand die reg om wraak te neem nie. Hy sal seker maak dat geregtigheid op sy vasgestelde tyd sal gebeur. Om meer uit te vind, lees die artikel “Sal daar ooit geregtigheid wees?”

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”

Is Jehovah se Getuies verdraagsaam teenoor ander mense en godsdienste?

Party dink ons predikingswerk bewys dat ons onverdraagsaam is teenoor ander se oortuigings. Maar ons respekteer wel ander mense se reg om te glo wat hulle wil. Ons dwing ook nie ons beskouings op ander af nie. Om uit te vind hoekom ons mense kontak wat al reeds aan ’n godsdiens behoort, lees die artikel “Plaas Jehovah se Getuies druk op mense om van godsdiens te verander?”

Ons dwing niemand om een van Jehovah se Getuies te word of te bly nie. As iemand nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie, respekteer ons die persoon se besluit. Maar party mense wonder dalk: ‘As Jehovah se Getuies verdraagsaam is teenoor ander se oortuigings, hoekom verstoot en sit hulle party uit wat voorheen saam met hulle aanbid het? (1 Korintiërs 5:11, 13). Om meer uit te vind, lees die artikel “Verstoot Jehovah se Getuies mense wat voorheen aan hulle godsdiens behoort het?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel