Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/8 bl. 26-27
  • Dit is lonend om jou waarborg te ken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit is lonend om jou waarborg te ken
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n waarborg?
  • Ken jou waarborg!
  • Wees voorbereid
  • Tabakmaatskappye in ’n vuurstorm vasgevang
    Ontwaak!—1996
  • Hoe Jehovah sy belofte van die Paradys waarborg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Inleiding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/8 bl. 26-27

Dit is lonend om jou waarborg te ken

“GEWAARBORGTE TEVREDENHEID.” “Geldterugwaarborg.” “Lewenslange waarborg.” “Onbeperkte waarborg.” Hierdie is maar net ’n paar van die slagspreuke wat adverteerders gebruik om die koper te lok om goedere of produkte te koop. Beïndruk sulke beloftes jou? Dan moet jy versigtig wees!

Lynne Gordon verduidelik in The Consumer’s Handbook waarom: “Daardie woorde is in sulke rotsvaste sekuriteit gehul dat min kopers werklik hulle betekenis in ’n bepaalde aankoop ondersoek, en hulle vind eers later uit, wanneer hulle die voordele van ’n waarborg probeer eis, dat daar nie een is nie, of dat dit nie die nodige herstelwerk of vervanging dek nie.” As jy jou waarborg ken voordat jy op die stippellyn teken, kan dit jou later kommer, hartseer en geld spaar.

Wat is ’n waarborg?

Volgens Webster’s Third New International Unabridged Dictionary is ’n waarborg: “’n Geskrewe sekerheidstelling van die integriteit van ’n produk en die goedertrou wat die vervaardiger aan die koper gee en wat gewoonlik spesifiseer dat die vervaardiger vir ’n tydperk verantwoordelik sal wees vir die herstel of vervanging van foutiewe onderdele en soms die artikel van tyd tot tyd sal versien.”

Waarborge kan jou teen bedekte of skelm sakepraktyke en oneerlike verkopers beskerm. Byvoorbeeld, toe ’n motorhandelaar voorgegee het dat ’n tweedehandse motor in ’n puik toestand was maar dit in werklikheid ’n wrak was, het die koper die handelaar hof toe geneem. Omdat die koper deur ’n stilswyende waarborg beskerm is, het die regter beveel dat die tweedehandse motorhandelaar die kliënt dubbel die koopprys moes terugbetaal.

Ken jou waarborg!

Waarborge en garansies kan op ’n produk se etiket of kaartjie verskyn of dit kan gedruk wees op die gegewens wat saam met die produk kom. Die volgende is van die terme wat gewoonlik gebruik word:

’n MONDELINGE WAARBORG is baie moeiliker om af te dwing as ’n geskrewe een. Die beste sal dus wees om alle garansies op skrif te stel selfs al is die handelaar as ’n eerlike persoon bekend.

’n VERKOPERSWAARBORG is ’n belofte van die handelaar om verantwoordelikheid te aanvaar vir die werkverrigting of kwaliteit van die produk wat hy verkoop. Hierdie garansies is gewoonlik stilswyende of uitdruklike waarborge.

STILSWYENDE WAARBORGE is veronderstel om in alle verbruikerskontrakte ingesluit te wees. ’n Stilswyende waarborg, sê die boek You and the Law, “waarborg dat die handelaar die reg het om die item te verkoop, dat die goedere in breë trekke voldoen aan die beskrywing wat gegee word, dat hulle in ’n goeie toestand is en dat hulle geskik is vir die gemelde doel”. Byvoorbeeld, ’n broodrooster behoort brood te rooster. Omdat sulke beloftes stilswyend is, weet die verbruiker moontlik nie dat hulle bestaan nie. ’n Produk wat voetstoots verkoop word, het geen stilswyende waarborg nie.

’n UITDRUKLIKE WAARBORG verskaf bepaalde beloftes aangaande die werkverrigting en kwaliteit van die goedere. Dit word gewoonlik op skrif gestel. Uitdruklike waarborge kan nie garansies nietig maak wat by wet geïmpliseer word nie. Soos die boek Consumer Rights and Responsibilities verduidelik, “verbind ’n uitdruklike voorwaarde of waarborg die vervaardiger of die verkoper (wie ook al die belofte gemaak het) om hulle belofte/garansie na te kom sowel as, en nie in plaas van nie, dié beloftes wat alreeds deur die wet vereis word”.

Die FABRIEKSWAARBORG waarborg die algemene toestand van die produk en sluit gewoonlik ’n ooreenkoms in om enige defekte gedurende ’n bepaalde tydperk op die vervaardiger se onkoste te herstel. Dit is belangrik om te onthou, soos You and the Law verduidelik, dat die “hof huiwerig is om die vervaardiger onder ’n geskrewe waarborg verantwoordelik te hou vir enige defekte of versiening wat nie spesifiek of duidelik in die bewoording gedek word nie”. Onthou ook dat die meeste produkte hulle beste waarborg op hulle duursaamste onderdele het. Die onderdele wat waarskynlik sal deurslyt, word gewoonlik nie gedek nie. Maak seker dat jy weet wat werklik gedek word.

Party mense beskou die ONVOORWAARDELIKE GARANSIE as die een wat die allerbeste beskerming bied. Hierdie waarborg is kwansuis “sonder enige voorwaardes of beperkings”. Ander mense is egter oortuig dat alle waarborge sekere voorwaardes insluit.

Wees voorbereid

’n Waarborg kan maklik verkeerd verstaan word. Byvoorbeeld, ’n “lewenslange waarborg” beteken nie dat dit vir jou leeftyd geldig sal wees nie. Dit verwys eerder gewoonlik na die leeftyd van die produk solank as wat jy daardie bepaalde produk besit. Wat van die term “tevredenheid gewaarborg”? Dit is te vaag om as ’n werklike waarborg beskou te word.

Maak seker dat jy DIE FYN DRUK LEES voordat jy teken. Dikwels kan dit wat oënskynlik in vet druk op die voorkant van ’n ooreenkoms gewaarborg word, in die fyn druk op die agterkant nietig verklaar of gewysig word. Ja, dit is lonend om jou waarborg te ken, omdat, soos The Consumer’s Handbook waarsku: “Die vet druk gee en die fyn druk neem weg.”

[Venster op bladsy 26]

Gaan jou waarborg na

◻ Is dit mondeling of geskrewe?

◻ Wat dek dit presies?

◻ Wat is die tydsbeperking?

◻ Wie onderskryf dit en wat is hulle reputasie?

◻ Wie betaal vir herstelkoste?

◻ Wie moet jy nader wanneer dinge verkeerd loop?

◻ Moet jy iets doen om baat te vind by die waarborg?

◻ Wat is jou verantwoordelikhede met betrekking tot die instandhouding en versorging?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel