Moet jy daardie nies inhou?
SOMS wil ons almal dringend ’n nies onderdruk. Dit is dalk gedurende ons huwelikseremonie wanneer ons op die punt staan om ons gelofte af te lê. Of dit is moontlik gedurende ’n vergadering of ander belangrike geleentheid, miskien selfs ’n begrafnis.
Natuurlik is daar baie kere wanneer ’n lekker nies baie aangenaam is, en ’n gevoel van ontspanne behaaglikheid volg daarop. Maar die probleem is dikwels wat om te doen in die geval van ’n ongewenste nies.
Alle niese is nie dieselfde nie. Party mense het ’n baie harde nies wat ver gehoor kan word en wat ’n mens kan sê ’n vrolike klank het. Ander het ’n delikater nies. Dan is daar die niesbui: drie, vier, vyf of selfs meer niese na mekaar. In uiters seldsame gevalle het mense ’n aanhoudende genies ontwikkel waar hulle elke paar sekondes of minute nies terwyl hulle wakker is en die bui kan ure, dae, weke of selfs maande duur.
Wat veroorsaak dat ons nies? Is daar ’n onfeilbare manier om ’n nies te onderdruk? Is dit gevaarlik om ’n nies te keer wanneer die siklus reeds begin het? En kan enige stappe gedoen word om ’n nies te keer?
Waarom nies ’n mens?
Dit lyk of almal soms nies—oud en jonk, volwassenes en babas. Dit is selfs bekend dat diere nies. In die meeste gevalle is die oorsaak ’n vreemde voorwerp (soos stof of stuifmeel) wat die neusgange irriteer. Maar ons emosies kan ook ’n niesbui teweegbring. Sommige van ons vind dalk selfs dat skerp sonlig genoeg is om ’n nies te veroorsaak. Dit is omdat die oogsenu ten nouste met die senu-eindpunte in die neus verbind is.
Sensitiewe senu-eindpunte reageer op die teenwoordigheid van ’n prikkelmiddel deur ’n boodskap na die brein te stuur. Dit stel die neus dan in kennis om ’n waterige vloeistof te verskaf wat die ongewenste voorwerp sal help verwyder. Die brein stuur ook boodskappe na die longe sodat ’n longvol lug ingeasem word, dan na die stembande om die lugkanaal af te sluit en te voorkom dat die lug ontsnap. Die spiere van die borswand en buik word aangesê om saam te trek, wat die lug dan in die longe saampers. Ten slotte word die stembande beveel om te ontspan, en die saamgeperste lug word vinnig uitgestoot, wat die ongewenste prikkelmiddel gewoonlik saam met die waterige vloeistof uitdryf. Dit alles vind sonder bewuste inspanning plaas en baie vinniger as wat dit duur om daaroor te lees.
In die meeste gevalle is ’n aanhoudende genies ’n simptoom van ’n alledaagse allergie genaamd hooikoors. Plantstuifmeel veroorsaak die irritasie, en hoewel die naam hooikoors moontlik daarop dui dat hooi of pas gesnyde gras die sondebok is, is dit nie altyd die geval nie. Lyers is dalk allergies vir ’n hele paar soorte stuifmeel of miskien net een soort. Dit is dus maklik om te begryp hoekom hooikoorslyers opsien teen die seisoene wanneer sterk, droë winde dae lank waai. Wanneer die neusgange eers geïrriteer is en ’n onafgebroke genies begin, lyk dit of die geringste stofdeeltjie, wat normaalweg nie ’n irritasie sou veroorsaak nie, die slagoffer weer laat begin nies.
Neem ander in aanmerking
Wanneer die neusgange verstop is as gevolg van ’n swaar verkoue in die neus kan ’n niesbui ’n mate van verligting vir die slagoffer bring. Asemhaling word makliker wanneer slym op hierdie manier uit die neus verwyder word. Maar hoe word die mense om die nieser geraak as ’n nies nie bedek word nie?
Dokters beweer nog nie dat hulle al die maniere waarop ’n verkoue kan versprei ten volle verstaan nie. ’n Sterk aanduiding is egter dat iemand ’n verkoue kan kry deur kieme in te asem wat in die lug deur ’n nies versprei is. Dit is veral moontlik in die ingeperktheid van ’n warm vertrek of in ’n stampvol trein of bus waar daar baie min vars lug is. Ander siektes met inbegrip van griep, masels, pampoentjies, longontsteking, tering en kinkhoes word glo deur ’n genies versprei.
Navorsing het getoon dat wanneer iemand nies druppeltjies vloeistof vol kieme teen meer as 160 kilometer per uur uit die neus en mond kom en op oppervlakke ongeveer 4 meter ver kan vaskleef. Ander druppeltjies sweef ’n ruk lank in die lug waar dit deur onskuldige verbygangers ingeasem word.
Kan ’n nies onderdruk word?
Baie metodes is al op die proef gestel met ’n mindere of meerdere mate van sukses. Sommige beweer dat hulle die “ontploffing” van ’n nies stopsit of onderbreek deur ’n vinger hard teen die bolip net onder die neus te druk. Harde drukking daar sluit glo party van die senuwees af wat by die niessiklus of -meganisme betrokke is. Nog ’n manier is moontlik om jou neus in ’n sakdoek uit te blaas nes jy ’n nies voel kom.
Vir ’n volgehoue niesbui of ’n chroniese aanval bied inasemingsmiddels soms verligting, al is dit net die stoom van warm water. Dit kan verklaar hoekom baie hooikoorslyers tydelike verligting kry wanneer hulle ’n warm stort of bad neem in ’n vertrek vol stoom.
Verskillende tegnieke en metodes is met die verloop van die jare aanbeveel, party redelik, ander lagwekkend. Narkotiese rome vir die binnekant van die neus is met ’n mate van sukses op die proef gestel. Ander sluit in kalmeermiddels, inspuitings, druppels, tablette, mengsels, psigoterapie, toeskroeiing van die neusmembrane en om aan knoffel of peperwortel te ruik. Die lagwekkender wenke sluit onder meer in om ’n wasgoedpennetjie aan die neus te sit, op jou kop te staan, die alfabet agteruit op te sê of die gesig met varkvet te smeer.
’n Waarskuwing: Dit is nie altyd ’n goeie idee om ’n nies te onderdruk of in te hou nie. ’n Hartlike nies wat met mening ingehou word, kan jou neus laat bloei en die nadelige bakterieë in die sinusse laat opgaan, wat kan veroorsaak dat die infeksie versprei. In seldsame gevalle is beentjies om die neus gekraak en is ’n beentjie in die middeloor al uit lit geruk.
“Bless you!”
In baie lande is dit gebruiklik vir diegene in die nabyheid om aan ’n nieser te sê: “Bless you.” Waar het hierdie gebruik ontstaan?
Volgens die boek How Did It Begin? deur R. Brasch het party van die ou volke geglo dat wanneer iemand nies hy die naaste aan die dood is. Brasch voeg by: “Die vrees was gegrond op ’n verkeerde dog algemene opvatting. Die mens se siel is as die essensie van die lewe beskou. Die feit dat dooie mense nooit asemhaal nie, het tot die valse gevolgtrekking gelei dat sy siel asem moet wees. . . . Dit is dus nie verbasend dat mense van die vroegste tye af geleer het om met vrees op ’n nies te reageer en die nieser ’n vurige wens toe te roep dat God hom sal help en sal seën en sy lewe sal bewaar nie. Op die een of ander manier moes hierdie vroeë oorsprong van die gebruik in Middeleeuse tye vergete geraak het, want die invoering van die gesegde ‘Bless you’ wanneer iemand nies, is aan pous Gregorius die Grote toegeskryf.”
Onthou asseblief jou sakdoek
Dit sal jou dalk verbaas om te verneem dat niesery al vir misdaaddoeleindes gebruik is. Ja, wetsoortreders het maniere bedink om ’n niesery ten kwade te gebruik, of te misbruik. Ongeveer honderd jaar gelede is sekere diewe in Engeland niesskelms genoem. Hulle het snuif in ’n vreemdeling se gesig gegooi. Terwyl sy aandag dan afgelei is en hy kwaai genies het, het die diewe hom van sy kosbaarhede beroof.
’n Niesbui sal vir die meeste van ons nooit deur ’n gesig vol snuif veroorsaak word nie. Maar hetsy hy deur ’n skielike nies of ’n niesbui oorval word, die bedagsame persoon sal altyd ’n sakdoek of sterk sneesdoekie gebruik om sy neus en mond te bedek. Dit is nie net goeie maniere nie maar is ook ’n verstandige voorsorgmaatreël. Dit help voorkom dat die lug met kiembelaaide druppeltjies besproei word wat net wag om deur die volgende niksvermoedende verbyganger ingeasem te word. Naasteliefde sal boonop beteken dat ons ander teen siekte probeer beskerm deur alles moontlik te doen om die verspreiding van kieme te beperk.
Dit is miskien nie verstandig of moontlik om ’n nies te onderdruk nie. Maar ander sal inderdaad jou bedagsaamheid—en jou gebruik van ’n sakdoek—innig waardeer wanneer jy daardie nies inhou!