Waarom die behoefte aan ’n Bond ontstaan het
DIE Eerste Wêreldoorlog was ’n vier jaar lange slagting wat ongekende lewensverlies en vernietiging tot gevolg gehad het. Al die groot wêreldmoondhede, en ander, is in twee strydige bondgenootskappe verdeel en het na die slagveld opgemars, elke kant seker van oorwinning en aangespoor deur die gejuig van misleide bevolkings wat gedink het dat oorlog ’n glorieryke avontuur is.
Maar binne ’n paar maande het die wêreld alte pynlik bewus geraak van die ontsaglike koste van oorlog. En toe dit geëindig het, het die bloedbad en die roekelose vermorsing van lewens en hulpbronne die wêreld onder ’n reusagtige oorlogskuld gebuk laat gaan. Iets moes gedoen word om te verhoed dat so ’n konflik weer uitbreek. Wat van ’n reëling waardeur die nasies hulle geskille eerder vreedsaam as deur oorlog kan besleg? Is dit ’n nuwe idee? Nie werklik nie.
Waarom vorige pogings misluk het
Voor die Eerste Wêreldoorlog is ’n hof ingestel om geskille vreedsaam te probeer bylê. Dit was die Permanente Hof van Internasionale Justisie in Den Haag in Nederland. Vroeg in die twintigste eeu het baie mense gehoop dat dit ’n sentrum sou word waar bemiddeling oorlog sou vervang. Maar wat het in 1899 en 1907 by die Haagse Vredeskonferensies gebeur wat aanleiding gegee het tot die stigting van hierdie hof, algemeen bekend as die Haagse Hof?
Die verteenwoordigers van die nasies het by albei vergaderings geweier om hulle aan verpligte arbitrasie te onderwerp of om hulle wapens te beperk of te verminder. Trouens, hulle het elke voorstel van ontwapening verwerp en elke plan gedwarsboom wat hulle sou verplig om hulle geskille deur bemiddeling by te lê.
Toe die Haagse Hof uiteindelik begin funksioneer, het die nasies dus toegesien dat dit nie hulle algehele onafhanklikheid beperk het nie. Hoe so? Deur ’n eenvoudige uitweg: Hulle het dit opsioneel gemaak om ’n saak voor die regters te bring. En lande wat wel hulle geskille voor hierdie hof gebring het, was nie verplig om hulle by enige van die besluite wat dit gemaak het neer te lê nie.
Hierdie behoedsame beskerming van nasionale soewereiniteit het egter die wêreld se vrede en veiligheid in gevaar gestel. Die wapenwedloop het gevolglik ongehinderd voortgeduur totdat dit die mensdom eindelik blindelings gelei het tot die skote wat die wêreld se vrede in die somer van 1914 verpletter het.
Terwyl die laaste minute van vrede verbygetik het, is dit ironies dat Serwië, in sy antwoord op ’n Oostenrykse ultimatum, sy gewilligheid getoon het “om ’n vreedsame ooreenkoms te aanvaar deur hierdie vraagstuk . . . na die Internasionale Geregshof van Den Haag te verwys”. Maar aangesien dit opsioneel was om van die Haagse Hof gebruik te maak, het Oostenryk hom nie genoodsaak gevoel om hierdie potensieel “vreedsame ooreenkoms” te aanvaar nie. Gevolglik is oorlog verklaar om die vrede te handhaaf—en die prys was meer as 20 miljoen burgerlikes en soldate se lewens!
Geestelikes vra ’n Bond
In Mei 1919 het die Episkopaalse biskop Chauncey M. Brewster by ’n biskopsbyeenkoms in die Verenigde State verklaar dat “die wêreld se hoop op ’n regverdige en blywende vrede op die hersamestelling van die wet van nasies in ’n nuwe gesag berus. . . . Die Internasionale wet moet met ’n gesag beklee word wat bindender is as die besluite van die Haagse Konferensie [wat die Haagse Hof gestig het]. Die samewerking van die nasies moet dus in die een of ander bondgenootskap verbind wees wat die kenmerke van ’n verdrag of bond openbaar.”
Rooms-Katolieke kardinaal Mercier van België het dieselfde mening gehad. “Dit lyk vir my”, het hy in Maart 1919 in ’n onderhoud gesê, “die vernaamste plig van Regerings teenoor die toekomstige geslag is om te sorg dat die misdade wat die wêreld nog steeds laat bloei nie weer gepleeg kan word nie.” Hy het die onderhandelaars van die vredesverdrag van Versailles “herbouers van die nuwe wêreld” genoem en die stigting van ’n volkebond aangemoedig om hierdie doel te bereik. Hy het gehoop dat hierdie bond ’n volmaakte bewaarder van die vrede sou word.
Die volgende opskrif het op die voorblad van The New York Times van 2 Januarie 1919 verskyn: “Pous hoop Volkebond word gestig.” Sy eerste paragraaf het aangekondig: “In ’n Nuwejaarsboodskap aan Amerika . . . het pous Benedictus die hoop uitgespreek dat die Vredeskonferensie ’n nuwe wêreldorde, met ’n Volkebond, tot gevolg sal hê.” Die pous het nie werklik die presiese woorde “nuwe wêreldorde” in sy boodskap gebruik nie. Maar die verwagtinge vir die Bond wat hy uitgespreek het, was so indrukwekkend dat óf die Associated Press óf die Vatikaanse perskantoor die uitdrukking as gepas beskou het.
Beskou hierdie verwagtinge in hulle tydsverband. Die geteisterde mensdom het gesmeek dat ’n einde aan oorlog gemaak word. Te veel oorloë in te veel eeue het ontsaglike verliese veroorsaak. En nou het die grootste van hulle almal eindelik geëindig. Die pous se woorde aan ’n wêreld wat desperaat na hoop gesmag het, het gelui: “Mag daardie Volkebond gebore word wat wapens sal verminder deur diensplig af te skaf; wat geskille sal verwyder of besleg deur internasionale geregshowe te stig, wat almal se onafhanklikheid en gelykheid van regte sal verseker deur vrede op ’n stewige fondament te plaas.” As die Volkebond dit alles kon bewerkstellig, sou dit inderdaad ’n “nuwe wêreldorde” voortgebring het.
Waarom dit misluk het
Op papier het die doelwitte en metodes van die Bond so pragtig, so prakties en so uitvoerbaar geklink. Die Handves van die Volkebond het verklaar dat dit sy voorneme is om “internasionale samewerking te bevorder en internasionale vrede en veiligheid te bewerkstellig”. Om vrede en veiligheid te bewerkstellig, sou afhang van die nasies se samewerking met mekaar en van hulle “aanvaarding van die verpligting om nie hulle toevlug tot oorlog te neem nie”.
As ’n kritieke geskil ontstaan het, moes die betrokke lidlande, wat beloof het om die vrede te bewaar, dus hulle saak “vir arbitrasie of regterlike skikking of vir ondersoek deur die Raad” van die Bond voorlê. Boonop het die Volkebond die Permanente Hof van Internasionale Justisie in Den Haag by sy stelsel om vrede te handhaaf ingelyf. Hulle het gedink dat dit alles sekerlik die gevaar van nog ’n groot oorlog uit die weg sou ruim. Maar dit het nie.
Volgens party geskiedskrywers is een rede waarom die Bond nie suksesvol was as ’n handhawer van vrede nie, die onvermoë van baie van sy “lede om te besef watter prys vir vrede betaal moes word”. Die vermindering van wapens was ’n belangrike deel van hierdie prys. Maar die nasies was nie bereid om so ’n prys te betaal nie. Derhalwe het die geskiedenis hom met mening herhaal. Die nasies het weereens ’n wapenwedloop begin. Die Bond kon nie die nasies daarvan oortuig om saam te werk om dit te beëindig nie. Daar is op geen beroep of argument gereageer nie. Die nasies het 1914 se groot les vergeet: Enorme arsenale is geneig om ’n selfvoldane gevoel van militêre meerderwaardigheid te skep.
Om die waarde van “kollektiewe veiligheid” te besef, was nog ’n onmisbare deel van die prys van vrede. ’n Aanval op een nasie moes beskou word as ’n aanval op almal. Maar wat het in werklikheid gebeur wanneer een van hulle hul eerder tot aggressie as onderhandeling gewend het? Pleks van eensgesind saam te werk om die konflik te beëindig, het die nasies hulle in verskeie bondgenootskappe verdeel om wedersydse beskerming te soek. Dit was dieselfde illusie wat hulle in die maalstroom van 1914 ingetrek het!
Die Bond is ook verswak deur die Verenigde State se weiering om daarby aan te sluit. Baie mense dink dat dit “die een groot mag was wat die vermoë gehad het om dit doeltreffend te maak” en dat Amerika se teenwoordigheid in die Bond dit miskien die mate van universaliteit sou gee wat onontbeerlik was vir sy sukses.
Maar daar was ander redes waarom die Bond misluk het. Beskou hierdie negatiewe klousule aan die begin van sy Handves: “Enige Lid van die Bond mag, nadat hy twee jaar kennis gegee het van sy voorneme, hom aan die Bond onttrek” (Artikel 1(3)). Hoe goed hierdie keuse ook al bedoel is, het dit geen gevoel van stabiliteit aan die Bond gegee nie, en dit het weer die nasies se besluit om lojaal daaraan te bly ondermyn.
Hierdie oop deur vir onttrekking het die Bond se bestaan aan die genade van sy lede oorgelaat, wat kon uittree wanneer hulle ook al wou. Die dele het belangriker as die geheel geword. En daarom was 17 nasies nie meer in die Bond toe Mei 1941 aanbreek nie. Die grofgeskut van die Tweede Wêreldoorlog het die hoop op ’n “nuwe wêreldorde” uitmekaar laat spat en die Bond laat ineenstort.
Daar moes ’n beter manier wees!
[Lokteks op bladsy 7]
Die Volkebond kon nie die Tweede Wêreldoorlog verhoed nie
[Prent op bladsy 7]
Bomaanval op Cassino, Italië, 15 Maart 1944
[Erkenning]
U.S. Army