Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 15-17
  • Respek vir vroue in die gemeente

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Respek vir vroue in die gemeente
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In watter opsig “die swakkere”?
  • Wat is nodig sodat dinge sal verander?
  • Die “swakker vat” ’n Belediging vir vroue?
    Ontwaak!—1994
  • Wyse raad vir egpare
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Toon liefde en respek as man
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Man en vrou—’n Waardige rol vir albei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 15-17

Respek vir vroue in die gemeente

DIE Bybel lê vir Christene ’n teokratiese volgorde van hoofskap neer, met Christus wat onderworpe aan God is, die man wat onderworpe aan Christus is en die vrou wat onderworpe aan haar man is (1 Korinthiërs 11:3). Maar hierdie onderworpenheid impliseer nie diktatorskap nie. Hoofskap in die gesin word nooit deur geweld, hetsy fisies, sielkundig of met woorde, tot stand gebring nie. Christenhoofskap is boonop relatief en beteken nie dat ’n man ’n despoot kan wees wat homself as onfeilbaar beskou nie.a Dit kan baie huwelike help om wedersyds verkwikkend asook blywend te wees as mense weet hoe en wanneer om te sê: “Ek is jammer, jy was reg.” Maar hoe dikwels stik mense tog nie in daardie uitdrukkings van nederigheid nie!—Kolossense 3:12-14, 18.

In hulle raad oor die huwelik vestig die Christenapostels Paulus en Petrus telkens ons aandag op Christus se voorbeeld. Respek word verdien deur ’n man se verfrissende voorbeeld terwyl hy die voorbeeld volg wat Christus gestel het, want “die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam”.—Efesiërs 5:23.

Petrus se raad aan mans is baie duidelik: “Net so moet julle, manne, verstandig met [julle vrouens] saamlewe” (1 Petrus 3:7). ’n Moderne Spaanse vertaling parafraseer hierdie gedagtes deur te sê: “Wat mans betref: wees taktvol in julle lewe saam, toon bedagsaamheid teenoor die vrou.” Hierdie uitdrukkings omvat baie faktore, wat sensitiwiteit in die huweliksverhouding insluit. ’n Man moet sy vrou nie net beskou as ’n middel om seksuele bevrediging te verkry nie. Een vrou wat weens kindermolestering gely het, het geskryf: “Ek wens net julle kan meer sê oor die ondersteuning wat ’n man aan ’n vrou kan gee wat so iets deurgemaak het. Wat die meeste van ons as vrouens nodig het, is om te weet dat ons mans ons werklik liefhet en werklik vir ons omgee, en nie dat ons net daar is om hulle fisiese begeertes te bevredig of net daar is as ’n huishoudster, sonder enige emosionele verbintenis, nie.”b Die huwelik is deur God ingestel sodat mans en vrouens vir mekaar ’n metgesel en ’n hulp kon wees. Dit is ’n kwessie van spanwerk en wedersydse waardering.—Genesis 2:18; Spreuke 31:28, 29.

In watter opsig “die swakkere”?

Petrus vermaan mans ook om aan hulle vrou as “die vroulike geslag, as die swakkere” eer te bewys (1 Petrus 3:7). Wat kon Petrus bedoel het toe hy gesê het dat die vrou “die swakkere” is? Die vrou is weliswaar oor die algemeen fisies swakker as die man. Die verskil in die been- en spierstruktuur is daarvoor verantwoordelik. Maar wanneer ons praat van innerlike morele krag, dan is die vrou geensins swakker as die man nie. Vroue het al jare lank situasies verduur—waaronder mishandeling deur ’n eggenoot wat gewelddadig of ’n alkoholis is—wat die meeste mans moontlik nie eers ’n kort rukkie sou verduur het nie. En dink net aan alles wat ’n vrou deurmaak om ’n kind te kan voortbring, asook die geboortepyne wat sy ure lank tydens die bevalling moet verduur! Enige sensitiewe man wat al die wonderwerk van geboorte aanskou het, móét net as gevolg daarvan meer respek vir sy vrou en haar innerlike krag hê.

Hannah Levy-Haas, ’n Joodse gevangene van die Nazi-konsentrasiekamp in Ravensbrück, het in 1944 in haar dagboek oor hierdie kwessie van innerlike morele krag geskryf: “Hier is een ding wat my vreeslik ontstel, en dit is om te sien dat die mans—fisies en dikwels ook sedelik—baie swakker as die vroue is en baie minder ontberinge as die vroue kan verduur. Hulle kan hulleself nie beheer nie en openbaar so ’n gebrek aan morele krag dat ’n mens hulle maar net kan jammer kry.”—Mothers in the Fatherland, deur Claudia Koonz.

Hierdie ondervinding toon dat daar geen grondige rede is om teen vroue te diskrimineer net omdat hulle moontlik fisies swakker is nie. Edwin Reischauer het geskryf: “In hedendaagse tye word daar algemeen aanvaar dat vroue groter wilskrag en sielkundige krag as mans het” (The Japanese). Hierdie krag kan in die Christengemeente benut word wanneer geestelik bekwame vroue ander vroue kan help wat aan ernstige emosionele stres ly. Dit is beslis onder sekere omstandighede makliker vir ’n mishandelde vrou om vir onmiddellike steun na ’n geestelik bekwame vrou as na ’n man te gaan. As dit nodig is, kan ’n Christen- ouere man om verdere leiding geraadpleeg word.—1 Timotheüs 5:9, 10; Jakobus 5:14, 15.

Dit irriteer baie vroue wanneer hulle reaksies voor die voet as emosioneel beskou word en aan “daardie tyd van die maand” toegeskryf word. Betty, ’n Christen wat haar geloof uitleef, het gesê: “Ons weet dat ons, soos die apostel Petrus geskryf het, in sekere opsigte ‘die swakkere geslag’, die vroulike een, is en ’n baie delikater biologiese samestelling het. Maar dit beteken nie dat ’n voorman of opsigter tegemoetkomend en vaderlik moet optree en elke vroulike reaksie aan ons maandelikse siklus moet toeskryf nie. Ons is intelligent en wil hê dat mense met respek na ons moet luister.”

Nie alle vroue is emosioneel nie, net soos nie alle mans gelykmoedig is nie. Elke persoon moet as ’n individu behandel word. Betty, wie se woorde vroeër aangehaal is, het aan Ontwaak! gesê: “Ek hou nie daarvan as mense my op grond van my geslag klassifiseer nie. Ek het al gesien dat mans huil en buierig kan wees. En daar is vroue wat kliphard kan wees. Laat mans dus objektief na ons luister sonder om aan ons geslag te dink.”

Wat is nodig sodat dinge sal verander?

As daar ’n verbetering gaan kom, is dit volgens sommige nie genoeg dat vroue ’n aksie voer vir hulle regte en vir geregtigheid nie; dit is ook nie genoeg dat mans op die een of ander oppervlakkige manier teenoor vroue respek betoon nie. In elke kultuur en gemeenskap moet mans hulle rol in die situasie ondersoek en hulle afvra wat hulle kan doen om die lewe gelukkiger en meer verkwikkend vir vroue te maak.—Mattheüs 11:28, 29, NW.

Skrywer en digter Katha Pollitt het in die Time geskryf: “Die meeste mans verkrag of slaan of vermoor natuurlik nie. Maar dit beteken nie dat hulle, soos te veel van hulle blykbaar dink, niks met geweld op vroue te doen het nie. Elkeen van ons help in ons daaglikse lewe om die kulturele konsepte te vorm wat die perke van die toelaatbare definieer. . . . Ek sê dat mans hulleself ernstig moet ondersoek, hulle vooroordele en voorregte in oënskou moet neem en hulle deel van die verantwoordelikheid vir die gemors waarin ons is, moet aanvaar.”

Maar selfs al verander mans wêreldwyd drasties hulle gesindheid teenoor vroue, sal dit steeds nie die algehele oplossing wees vir die onregte waardeur die mensdom geteister word nie. Waarom nie? Omdat mans nie net vroue nie, maar ook hulle medemens met onregte en wreedhede teister. Oorlog, geweld, moord, moordbendes en terrorisme is nog in baie lande aan die orde van die dag. Ons het ’n hele nuwe regeringstelsel vir die hele aarde nodig. En ’n nuwe opvoedingsprogram vir die hele mensdom. En dit is wat God belowe het om deur middel van sy hemelse Koninkryksheerskappy oor die aarde tot stand te bring. Slegs dan sal daar ware geregtigheid en regverdigheid vir almal—mans, vroue en kinders—wees. Slegs dan sal daar ware wedersydse respek tussen mans en vroue bestaan. Die Bybel stel dit só in Jesaja 54:13: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” Ja, deeglike onderrig in Jehovah se regverdige beginsels sal bydra tot ’n nuwe wêreld waar daar onderlinge respek sal wees.

[Voetnote]

a Sien “Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?”, Die Wagtoring van 15 Desember 1991, bladsye 19-21.

b Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1991, bladsye 3-11; 8 April 1992, bladsye 24-7.

[Prent op bladsy 16]

’n Geestelik bekwame vrou kan dikwels nuttige raad gee

[Prent op bladsy 17]

Een manier waarop ’n man respek teenoor sy vrou kan betoon, is om met die huishoudelike takies te help

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel