Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 4/22 bl. 14-16
  • Wil jy graag jou vriende vermaak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wil jy graag jou vriende vermaak?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skep die regte atmosfeer
  • Boei jou gehoor
  • Hoe om jou senuweeagtigheid die hoof te bied
  • Talent wat die Skepper tot eer strek
  • Kies vermaak wat Jehovah gelukkig maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Jy kan voor ’n gehoor praat!
    Ontwaak!—1992
  • Hoe om heilsame vermaak te kies
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Leersaam vir jou gehoor
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 4/22 bl. 14-16

Wil jy graag jou vriende vermaak?

DIT was vroegaand, en mense het gesellig saam verkeer. Almal wat daar was, het dit geniet tot daar aangekondig is dat twee jong mans hulle ’n bietjie gaan vermaak deur musiek te speel en ’n kort toneeltjie op te voer.

Die twee het al baie kere suksesvol opgetree en het dus ’n geesdriftige reaksie verwag. Maar hulle was verleë toe hulle ná hulle aanbieding snaaks aangekyk is, daar toe stilte en uiteindelik ’n halfhartige applous was. Hulle vertoning was ’n mislukking! Wat het verkeerd geloop?

Moet jy uit vrees vir ’n soortgelyke ondervinding huiwer as jy ’n talent het en graag wil hê jou vriende moet dit geniet? Wat is die geheim daarvan om mense werklik te vermaak? Of miskien het jy dit nog nooit oorweeg om self op te tree nie, maar jy het ander al gevra om tydens gesellighede in jou huis op te tree. As dit die geval is, hoe kan jy seker wees dat jou gaste die aanbieding sal geniet?

Die wenke wat hier volg, word met die oog op musikale vermaak by die huis gegee. Maar jy sal vind dat die meeste van die beginsels toegepas kan word op ander vorme van vermaak, soos toneelopvoerings, skyfievertonings en om verhale en ondervindinge te vertel.

Skep die regte atmosfeer

Gestel jy beplan ’n geselligheid, en jy wil ’n musiekaanbieding daarby insluit. Jy (of diegene wat gaan optree) hoef nie baie musikaal te wees om ’n bron van vermaak te wees nie. Trouens, party bedrewe musikante is swak vermaaklikheidskunstenaars. Dit is omdat vermaak behels dat ’n mens moet weet hoe om mense te help om dit te geniet. Eerstens moet jy ’n atmosfeer skep wat tot mense se genot bydra. Hoeveel gaste gaan jy byvoorbeeld uitnooi?

Jy sal waarskynlik met ’n klein groepie mense meer welslae behaal as met ’n groot groep. ’n Kleiner groepie gee aan elke persoon die kans om te praat en om die geselskap van die ander te geniet. Om ’n genotvolle atmosfeer te help skep, kan jy ook daaraan dink om verversings, ’n maaltyd of net peuselhappies te hê. As jy net peuselhappies gaan bedien, moet jy jou gaste laat weet sodat hulle nie sal kom en meer verwag nie.

Dit is belangrik dat jy weet wanneer jy jou musiekaanbieding moet doen. Baie mense geniet spontaniteit en sal met min of geen aansporing begin eet en gesels. As dit met jou gaste die geval is, moet jy hulle ’n bietjie tyd gee voordat jy hulle skielik met ’n beplande program verras. Die twee jong mans wat aan die begin genoem is, het dit nie gedoen nie. Indien hulle gewag het totdat die ander bedrywighede begin afneem het, sou hulle gehoor dalk ontvankliker gewees het.

As jy ’n liedjiesaand reël, sal dit goed wees om almal naby aan mekaar, soos rondom ’n vuur of op die vloer, te laat sit. Mense sing beter wanneer die stemming en omstandighede reg is. As jy die regte atmosfeer skep, kan dit baie daartoe bydra om te verseker dat die gaste jou aanbieding sal geniet. Dit sal hulle ook in die beste gemoedstemming plaas om na jou musiek te luister.

Die tyd het nou aangebreek om vir jou gaste te speel. Hoe kan jy jou gehoor met welslae vermaak?

Boei jou gehoor

Die meeste mense hou daarvan om na ’n goeie opvoering te kyk. In net een onlangse jaar is daar 8142 000 kaartjies vir Broadway-vertonings verkoop, wat 747,5 miljoen rand beloop het! Maar as jou opvoerings net ’n stokperdjie is waarvoor jy nie betaal word nie, staan jy voor die uitdaging om ’n gehoor se belangstelling te boei wat nie noodwendig vir die vermaak gevra het wat jy aanbied nie. Hoe kan jy dit die hoof bied? Kombineer voldoende talent met ’n aanvoeling vir jou gehoor. Hier volg ’n paar wenke:

Gebruik goed geoefende materiaal. Die ghitaaronderrigter Frederick Noad waarsku: “Die musiekstuk moet so goed in die geheue ingeprent wees dat jy dit amper kan speel terwyl jy aan iets anders dink.” Dit is dus verstandig om musiekstukke wat jy onlangs geleer het vir die toekoms te hou. Mnr. Noad merk op: “Dit is baie beter om ’n eenvoudige musiekstuk goed te speel as om ’n indrukwekkender stuk sleg te speel.”

Betrek jou gehoor daarin. ’n Musikus met jare se professionele ondervinding het die waarde van gehoordeelname benadruk en gesê dat hy liedereblaaie aan sy gehoor uitdeel en hulle uitnooi om saam te sing. As jy die gehoor ’n deel van jou aanbieding maak, kan dit help om hulle geesdriftige ondersteuning te behou.

Probeer dit afwissel. Dit is ’n algemene neiging onder sommige om alles bedees en sag te speel. Maar Frederick Noad raai ’n mens aan: “Probeer altyd om in elke musiekstuk ’n verskeidenheid van harde en sagte klanke voort te bring; wanneer ’n gedeelte byvoorbeeld herhaal word, is dit dikwels doeltreffend om dit die eerste keer met meer krag te speel en die herhaling sag, sodat dit amper die indruk van ’n eggo gee. . . . Die helfte van die bevrediging wat daar uit musiek geput word, lê in hierdie soort wisseling wat musiek bloot van note onderskei.”

Geniet dit. Jou gaste sal nie ontspan as jy styf, senuweeagtig of selfbewus lyk nie; hulle sal dit ook nie geniet as jy doelbewus die een of ander bekende sanger naboots nie. Dit ís moeilik om te ontspan terwyl alle oë op jou gerig is, maar jy moet leer om ontspanne en jouself te wees, om geesdriftig te wees en te geniet wat jy doen. Slegs dan sal jou gehoor ontspan en die vermaak wat jy aanbied, geniet.

Hou dit kort! Die ware vermaaklikheidskunstenaar sing een lied te min, nie een lied te veel nie. In ’n informele omgewing soos ’n sitkamer kan mense na 20 of 30 minute rusteloos begin voel. Laat jou gaste toe om aan die einde van jou aanbieding hulle bedrywighede spontaan te hervat. Die vertoning is verby, maar hulle sal altyd met geneentheid daaraan terugdink, omdat jy hulle met ’n begeerte na nog meer gelaat het.

Hoe om jou senuweeagtigheid die hoof te bied

Selfs beroepspelers sukkel met verhoogvrees. Maar hulle leer om dit te beheers en kom ten minste voor asof hulle op hulle gemak is. Hoe kan jy dieselfde doen?

Eerstens moet jy voorberei! Dale Carnegie, wat elke jaar duisende toesprake geëvalueer het, het gesê: “Net die voorbereide spreker verdien dit om vol vertroue te wees.” Dieselfde geld beslis vir vermaaklikheidskunstenaars. Oefening voor die tyd en voor die vertoning kan die verskil maak. Wees verdiep in jou materiaal terwyl jy optree. Oordink en belewe alles wat jy speel. Frank Battisti van die Nieu-Engelandse Musiekakademie stel voor: “Die een ding wat die persoon móét doen, is om te konsentreer op wat hy doen en om nie bekommerd te wees oor wat iemand anders daarvan dink nie. As jy so kan konsentreer, behoort jy werklik nie bangerig te wees nie.”

As jy ’n fout maak, moet jy nie jou luisteraars daarop wys deur jou te vererg nie. Miskien het net ’n paar die fout opgemerk, en die res sal waarskynlik nie omgee nie. Hulle sal jou dophou vir ’n aanduiding—as jy bloot met die opvoering voortgaan asof die fout onbenullig was, sal hulle dit ook so beskou.

Talent wat die Skepper tot eer strek

As vriende jou af en toe vra om vir hulle te speel, moet jy nie te gou weier omdat jy miskien onbekwaam voel nie. Sou hulle nie eerder musiekopnames gekies het as hulle volmaaktheid wou gehad het nie? ’n Vrou wat onder haar vriende bekend is vir haar aangename, klein gesellighede by die huis het gesê: “Hoe wonderlik is dit tog wanneer ’n gas musikaal is en selfs gereed opdaag om die gaste te vermaak en almal by die opvoering insluit!”

Ja, baie waardeer die opwinding en pret wat eie is aan vermaak by die huis. Onthou ook dat jou vriende moontlik heilsame vermaak wil hê wat al hoe moeiliker in die beroepswêreld gevind word. Mag jy dus, as jy begaaf is met die vermoë om ander te vermaak, dit gebruik tot die eer van ons Grootse Skepper, die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”.—Jakobus 1:17.

[Venster op bladsy 16]

Bykomende wenke

WEES VEELSYDIG. As jy ’n verskeidenheid style kan speel, al is dit net ’n paar musiekstukke in elke kategorie, het jy die voordeel dat jy aan die voorkeure en versoeke van die gehoor kan voldoen.

Rangskik jou materiaal op ’n aantreklike wyse. Dit is gewoonlik die doeltreffendste om te begin en te eindig met musiekstukke wat kort en herkenbaar is. Langer of moeiliker musiekstukke, indien enige gespeel word, moet liewer in die middel gespeel word.

Neem kennis van jou gehoor. Hoewel jou gehoor moontlik ongemaklik sal voel as jy na hulle staar, kan jy beslis tussen die musiekstukke deur na hulle kyk en met hulle gesels.

Hou die vertoning aan die gang. Hoewel inleidende opmerkings wat nou en dan gemaak word almal (jouself inkluis) kan help ontspan, moet dit nie oordryf word nie. Vermy ook lang onderbrekings wat deur oormatige herstemming veroorsaak word. Dit is waarskynliker dat jou luisteraars oor aanhoudende vertragings ergerlik sal raak as dat hulle ’n geringe intonasieprobleem sal opmerk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel