Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 4/22 bl. 9-13
  • My herinneringe aan my lewe as ’n militêre geskiedkundige

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My herinneringe aan my lewe as ’n militêre geskiedkundige
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorlog laat vrae ontstaan
  • Oorloë en gerugte van oorlog
  • Na die Britse Eilande
  • Die inval in Europa
  • Die Ardenne-offensief
  • Generaal Patton se gebed
  • Duitse oorgawe en naoorlogse Duitsland
  • Werksaamhede in ’n militêre museum
  • Aftrede en frustrasie
  • ’n Nuwe lewenswyse
  • Van oorlogsheld tot soldaat van Christus
    Ontwaak!—1998
  • Die mededingende konings in die 20ste eeu
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Hoe mense in vrede kan saamwoon
    Ontwaak!—1994
  • Van Hitler se leër tot ’n bediening in Spanje
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 4/22 bl. 9-13

My herinneringe aan my lewe as ’n militêre geskiedkundige

Dit was 25 Augustus 1944. Die plek: Parys, Frankryk. Terwyl ons in ons jeep in die breë Champs Élysées af gery het, moes ons verskeie kere uitspring en in die ingange van geboue skuiling soek terwyl die koeëls van Nazi-skerpskutters oor die straat gefluit het.

DAARDIE dag is daar begin om Parys gedurende die Tweede Wêreldoorlog van Hitler se troepe te bevry, en ek was een van die eerste Amerikaners wat die stad binnegegaan het. Skares uitbundige Franse mans en vroue het deur die strate gestroom om ons as bevryders te verwelkom. Ons het in ’n weeldehotel oornag wat daardie oggend nog vinnig deur hooggeplaaste Duitse offisiere ontruim is.

Ek was in Europa as ’n lid van die krygsgeskiedspan wat die krygsverrigtinge van die Amerikaanse Derde Leër onder bevel van generaal George S. Patton, jr. opgeteken het.

Die oorlog laat vrae ontstaan

’n Paar dae voor ons Parys binnegegaan het, het ons op nou paaie gery waar verbrande wrakke van Duitse pantservoertuie ’n ruk vantevore verwyder is. Ons het by ’n vesting in die bos stilgehou wat ’n ruk vantevore deur Amerikaanse troepe in besit geneem is. Oral het die verminkte en verskeurde lyke van Duitse soldate rondgelê. Op hulle gordelgespes was die standaardinskripsie: “God is met ons.” Maar op ’n nabygeleë klipmuur het ’n Duitse soldaat die smeekbede uitgekrap: “Leier [Hitler], help ons!”

Daardie twee uitdrukkings het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Aan die een kant het die Nazi-regime gesê dat God met hulle was, maar aan die ander kant het ’n soldaat die Führer, Hitler, om redding gesmeek. Ek het begin besef dat hierdie paradoks nie net onder die Duitsers aangetref word nie. Dit was tipies van albei kante wat in hierdie verskriklike konflik gewikkel was. Ek het dus gewonder: ‘Kies God kant ten tye van oorloë? Aan wie se kant is God?’

Oorloë en gerugte van oorlog

Ek is in 1917, die jaar wat Amerika tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree het, in Butte, Montana, gebore. Nadat ek in 1936 my hoërskoolloopbaan aan ’n private skool voltooi het, het ek aan die Stanford-universiteit in Kalifornië begin studeer. Ek het egter die voorgeskrewe eerstejaarskursusse vervelig gevind in vergelyking met die aangrypende gebeure wat oor die hele wêreld plaasgevind het. Japan het China binnegeval, Mussolini het Ethiopië verower en die Spaanse Burgeroorlog het voortgewoed. In daardie oorlog het die Nazi’s, Fasciste en Kommuniste hulle wapens en strategieë op die proef gestel ter voorbereiding vir die Tweede Wêreldoorlog, terwyl die Volkebond net toegekyk het.

Na twee semesters het ek die universiteit verlaat en verkies om eerder, met my pa se toestemming, die res van die geld wat vir my geleerdheid opsygesit is te gebruik om deur Europa en Afrika te reis. In die herfs van 1938 het ek die Atlantiese Oseaan op ’n Duitse skip, die Deutschland, oorgesteek en lang besprekings met die jong Duitse offisiere aan boord gehad oor die moontlike sterkte van Hitler se Duitse troepe teen dié van Brittanje en Frankryk. In Parys het mense oor Hitler se jongste dreigemente, spogpraatjies en beloftes gepraat, en tog het die lewe sy normale gang gegaan. Terwyl ek Tanger, in Afrika, besoek het, kon ek soms die geluide hoor van oorlog in Spanje wat deur ’n burgeroorlog geteister is en net oorkant die Straat van Gibraltar geleë is.

Toe ek in 1939 na die Verenigde State teruggekeer het, het ek ’n voorgevoel gehad dat die oorlog ons ook sou raak. Nadat die Japannese Pearl Harbor in Desember 1941 aangeval het, wat tot die Verenigde State se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het, het ek as ’n burger by die Leër se Vervoerdiens aangesluit. In 1942, terwyl ek in Alaska was, is ek vir militêre diens opgeroep.

Na die Britse Eilande

Nadat ek my ouerhuis besoek het, is ek in die leër opgeneem en ’n jaar lank in die Verenigde State gestasioneer. Toe is ek per skip Engeland toe gestuur en in die lente van 1944 het ons konvooi van die Verenigde State se Ooskus af vertrek. Ek het my eerste voorsmakie van die oorlog gekry toe ’n Duitse duikboot die skip langs ons s’n in die Noord-Atlantiese Oseaan laat sink het. Ons konvooi het uitmekaar gegaan, en elke skip moes van daar af tot by Liverpool na homself omsien.

Terwyl die troepe by kwartiere in Engeland op ’n toewysing gewag het, het ons vir ’n preek bymekaargekom wat deur ’n leërkapelaan gehou is. Dit het my gehinder dat kapelane manne aangespoor het om oorlog te voer teen lidmate van hulle eie kerk wat teen hulle geveg het, maar altyd beweer het dat God húlle kant van die konflik gesteun het. Dit spreek vanself dat nie albei kante God se steun kon hê nie.

Teen die lente van 1944 het die Britse Eilande gewemel van Amerikaanse en Britse soldate en krygstoerusting. Generaal Patton (onder), wat beroemd was vir sy gewaagde taktiek tydens veldtogte in Sisilië en Noord-Afrika, het vurige toesprake gehou wat die troepe geensins laat twyfel het waarom hulle daar was nie—om soveel vyande moontlik met elke beskikbare wapen dood te maak totdat die oorwinning behaal is. Generaal Patton het soos ’n hedendaagse gladiator gelyk: baie lank, gewapend en gehelmd en onberispelik geklee in ’n uniform—sy oorlogsbaadjie het geblink van die sterre en medaljes. Hy was ook vol vuur, het vreeslik gevloek en was godsdienstig—voor elke geveg het hy gebid.

In sy “Soldategebed” van 1 Januarie 1944 het generaal Patton gesmeek: “God van ons Vaders, wat ons nog altyd op land en op see tot oorwinning gelei het, mag U inspirerende leiding asseblief ook nou met ons wees in ons grootste stryd tot dusver. . . . Gee aan ons die oorwinning, Heer.”

Die inval in Europa

Op 6 Junie 1944 het die Geallieerde invalsmagte die Engelse Kanaal oorgesteek in die grootste oorlogsvloot wat die wêreld tot nog toe gesien het en onder hewige Duitse vuur op die strande van Normandië geland. Die strandgebied wat deur ons beset is, was nog maar klein toe ons Derde Leër 30 dae later geland het. Ons het in skuilgate oornag terwyl Duitse vliegtuie die gebied met bomme bestook het.

Op 25 Julie het die Geallieerde magte van die strand af opgeruk, en ’n week later is ons Derde Leër gestuur om na die Bretagniese Skiereiland toe deur te breek. Daarna was ons aan die voorpunt van die troepe wat ooswaarts deur terugtrekkende Duitse troepe na die Seinerivier naby Parys deurgebreek het. Teen September, ná een van die merkwaardigste militêre veldtogte in die hedendaagse geskiedenis, was generaal Patton se tenks en troepe diep in Oos-Frankryk. Ons was verheug en het gedink dat die einde van die oorlog op hande was.

Maar enige moontlikheid daarvan het verdwyn toe die meeste voorrade en troepe onverwags in die teenoorgestelde rigting na die Britse veldmaarskalk Montgomery se troepe op die noordelike front gestuur is. Daar het hulle Duitse eenhede in Holland hewig begin aanval. Maar dit het op ’n ramp afgeloop toe ’n Geallieerde lugdivisie onwetend in die middel van ’n sterk Duitse pantserkorps geland het en verslaan is. Die orige Geallieerde eenhede moes terugtrek, en die aanval het misluk.

Die Ardenne-offensief

Hitler en sy generaals het die geleentheid aangegryp om die troepe te hergroepeer, nuwe reserwes op te roep en in die geheim ’n reusagtige pantseraanvalsmag te versamel naby die plek met die minste Amerikaanse troepe. Die Nazi-offensief, wat die Ardenne-offensief genoem word, het die nag van 16 Desember onder ’n donker wolkmassa begin. Die plan was om die Duitse pantsertroepe in ’n wigvorm tot by die Noordsee te stuur, die Geallieerde troepe in twee te splits en hulle grootste hawestad met die meeste voorrade in te neem.

Die Duitse pantsertroepe het deur die onbesette gebied gestroom en kort voor lank die Amerikaanse magte by Bastogne beleër. Die Derde Leër onder bevel van generaal Patton het vinnig van rigting verander, en na ’n lang mars het ons eindelik daar aangekom om die pantserkolonne met mening aan te val. Maar vanweë swaar wolke en reën wat byna ’n week lank geduur het, kon die lugmag nie tot die aanval oorgaan nie.

Generaal Patton se gebed

Op 22 Desember het iets gebeur wat die kern van my geestelike dilemma geraak het. Generaal Patton het weke tevore sy hoofkapelaan beveel om ’n gebed in traktaatvorm op te stel wat later gebruik sou word by die Duitse Siegfried-linieversterkings wat wes van die Rynrivier gestrek het. Maar nou het generaal Patton ongeveer 350000 afskrifte binne ’n paar uur laat versprei, een aan elke soldaat in die Derde Leër. Daarin is die Vader gesmeek om “hierdie oormatige reëns te verhinder” en “vir ons mooi weer vir die stryd te gee” sodat die Amerikaanse leër “die verdrukking en boosheid van ons vyande kan verpletter en U geregtigheid onder mense en nasies tot stand kan bring”.

Daardie nag nog het die weer skielik merkwaardig opgeklaar en die volgende vyf dae so gebly. Dit het die Geallieerde vegters en bomwerpers die geleentheid gebied om al die Nazi-kolonne aan te val en verwoesting en vernietiging onder hulle te saai. Dit het die einde van Hitler se finale blitsoorlog beteken, en sy verslaande troepe het begin terugtrek.

Generaal Patton was in ekstase. “Ek dink ek gaan nóg 100 000 van daardie gebede laat druk”, het hy gesê. “Die Heer is aan ons kant, en ons moet Hom op die hoogte hou van wat ons nodig het.” Maar ek het gewonder: ‘Sou die weer nie buitendien op 23 Desember opgeklaar het nie, hetsy die gebed versprei was of nie?’ Die weerburo het verduidelik dat ’n koue front van die Russiese steppes af inbeweeg het en die betrokke weer laat opklaar het.

Duitse oorgawe en naoorlogse Duitsland

Die Geallieerde aanvalle tydens die lente van 1945 het Hitler se ryk tot ’n val gebring en op 7 Mei 1945 het hulle oorgegee. Daardie dag was ek in ’n Duitse dorpie in die Rynland waar ek my lieflike toekomstige vrou, Lilly, ’n ontheemde uit België, ontmoet het. In November 1945 is ek uit die leër ontslaan en het ek by die geskiedkundige afdeling van die Amerikaanse besettingsleër in Duitsland aangesluit. In Desember is ek en Lilly deur die burgemeester van Frankfort in die huwelik bevestig.

Die geskiedkundige afdeling moes die geskiedenis van die besetting dek. Dit het met die hulp van honderde gevange Duitse generaals die geskiedenis van die oorlog uit die oogpunt van die Duitsers neergeskryf. Ek het vyf jaar lank as ’n hoofargivaris in Duitsland gewoon. Toe het ons saam met ons twee kinders, Gary en Lizette, na die Verenigde State verhuis.

Ná ’n besoek aan my ouers het ek aan die Universiteit van Montana ingeskryf. Ek het gedink dat my verbintenis met die leër ten einde geloop het. Maar in die lente van 1954, toe ek op die punt gestaan het om ’n meestersgraad in antropologie te ontvang, het twee van my vorige kollegas my in kennis gestel van ’n direkteurs-/kuratorpos wat beskikbaar was by die Amerikaanse Leërartillerie- en Projektielsentrum-museum in Oklahoma. Ek het aansoek gedoen en is aanvaar, en ons het verhuis.

Werksaamhede in ’n militêre museum

Ek was weer eens by krygsgeskiedenis betrokke. Ek het my verdiep in navorsing, die verkryging van artefakte, uitstallings, toere, lesings, argeologiese opgrawings en militêre en geskiedkundige seremonies. In 1973 het ek ’n oud-seremoniële ruitereenheid georganiseer wat aan die presidentsinwydingsparade in Washington, DC, deelgeneem het. Ek het ook ’n vlaguitstallingsaal tot stand gebring, wat die geskiedenis en tradisies uitgebeeld het van die landsvlag en vlae wat in die militêre eenhede gebruik is. Deur die jare heen het die artilleriemuseum van ’n enkele gebou tot die grootste militêre museum in die land uitgebrei.

Intussen was ons kinders besig om groot te word. Ons seun, Gary, het nadat hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het, gevoel dat hy nie ’n doel of rigting in sy lewe het nie. Hy het by die Marinierskorps aangesluit en in die Viëtnamese Oorlog geveg. Nadat hy twee jaar lank in die buiteland was, was ons dankbaar om hom weer veilig tuis te hê. Dit is duidelik dat vrede nie deur middel van oorloë bewaar kan word nie. Pleks van vrede het ons die voortdurende spektakel van die Verenigde Nasies se lidlande gehad wat teen mekaar oorlog gevoer het terwyl hongersnood en siektes verwoesting onder hulle volk saai.

Aftrede en frustrasie

Nadat ek 33 jaar lank aan die leër verbonde was, het ek eindelik besluit om af te tree. Die bevelvoerende generaal en die staf het vir my ’n spesiale aftredingseremonie gehou, en die goewerneur van die staat Oklahoma het 20 Julie 1979 as ’n dag ter ere van my afgekondig. Ek het briewe ontvang waarin ek geprys is vir my bydrae op die gebied van militêre geskiedenis en museums.

My beker moes oorloop. En tog, wanneer ek aan my verlede teruggedink het, was ek nie tevrede nie. Pleks van die grusame werklikhede van die oorlog oop te vlek, is my loopbaan gewy aan die verheerliking daarvan, die beklemtoning van die tradisies, die uniforms en medaljes, die wapens en taktiek, die gebruike en seremonies en die prag en praal. Selfs generaal Dwight D. Eisenhower, wat later Amerika se 34ste president was, het gesê: “Vuur, hongersnood en pessiektes is die kern van oorlog . . . Ek het oorlog begin haat. Oorlog los niks op nie.”

Ek het mettertyd uitgevind dat Eisenhower se ma een van Jehovah se Getuies was—’n godsdiens wat my reeds vanweë my vrou se Bybelstudie met die Getuies geraak het. In 1979, ses maande voor my aftrede, het sy ’n gedoopte Getuie geword. Dit het gelyk asof sy ’n algehele verandering ondergaan het. Haar vreugde en begeerte om dit wat sy geleer het aan ander te vertel, was so groot dat ons seun en sy vrou, Karin, die Bybel begin bestudeer het, en binne ’n jaar het hulle ook gedoopte Getuies geword.

Ek was egter skepties. Die gedagte dat God werklik in menseaangeleenthede sou ingryp, hierdie wêreld tot ’n einde sou bring en ’n nuwe wêreld sonder oorlog sou inlui, het vergesog geklink. Ek het egter ook saam met die Getuies begin studeer, hoofsaaklik om uit te vind of hulle godsdienstige oortuiging op die waarheid gegrond is. Ek het gedink dat dit nie lank sou wees voordat ek, met my agtergrond en geoefende navorsingsvermoë, onjuisthede en teenstrydighede in hulle opvattings sou bespeur nie.

’n Nuwe lewenswyse

Maar namate my Bybelstudie gevorder het, het ek gou agtergekom hoe verkeerd ek was. My skeptisisme het verdwyn namate die skille van godsdiensonkunde van my oë begin afval het. Ek kon sien dat daar inderdaad goeie rede is om vertroue te stel in God se belofte van ’n nuwe wêreld waarin geregtigheid sal woon (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). En wat ’n verligting was dit tog nie om te leer dat die euwels en ongeregtighede wat tans onder die mensdom hoogty vier, bestaan omdat Satan, nie die almagtige God nie, die owerste van hierdie wêreld is! (Johannes 14:30; 2 Korinthiërs 4:4). Jehovah God is gevolglik nie aan enigeen se kant in die oorloë van die nasies nie, maar hy gee wel om vir mense.—Johannes 3:16.

Ek is in 1983 by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Billings, Montana, gedoop en het sodoende my toewyding aan Jehovah gesimboliseer. Ek en my seun, Gary, dien as ouere manne in ons onderskeie gemeentes. Ek en Lilly is innig dankbaar dat Jehovah, deur middel van sy Woord en sy Getuies, ons hart ontvanklik gemaak het vir Bybelwaarhede sodat ons die betekenis verstaan van die rampspoedige gebeure wat hierdie geslag kenmerk (Mattheüs 24:3-14; 1 Johannes 2:17).—Soos vertel deur Gillett Griswold.

[Foto-erkenning op bladsy 9]

Augustus 1944—Parysenaars spat uitmekaar terwyl Duitse skerpskutters op hulle begin skiet (U.S. National Archives photo)

[Foto-erkenning op bladsy 10]

U.S. National Archives photo

[Prent op bladsy 11]

Frankryk, 1944—gehawende en verbrande wrakke van Duitse pantservoertuie

[Erkenning]

U.S. Department of Defense

[Prent op bladsy 12]

By my vrou en dogter in 1947

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel