Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 1/22 bl. 10-12
  • ’n Gelukkige tuiste—waar twee gelyk is aan een

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gelukkige tuiste—waar twee gelyk is aan een
  • Ontwaak!—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Julle huwelik kan gered word!
    Ontwaak!—2001
  • Versterk julle huwelik deur goeie kommunikasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hoe om ’n goeie luisteraar te wees
    Ontwaak!—2013
  • Hoe om ’n suksesvolle huwelik op te bou
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 1/22 bl. 10-12

’n Gelukkige tuiste—waar twee gelyk is aan een

WAT sou jy gebruik as jy ’n sterk, veilige en gerieflike huis moes bou? Hout? Baksteen? Klip? Die Bybelboek Spreuke beveel die volgende aan: “Deur wysheid word ’n huis gebou, en deur verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW] word dit bevestig; en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed” (Spreuke 24:3, 4). Ja, dit verg wysheid, onderskeidingsvermoë en kennis om ’n gelukkige tuiste te bou.

Wie doen die bouwerk? “Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af” (Spreuke 14:1). Dieselfde geld vir ’n wyse man wat besef dat dit in sy mag is om sy huwelik sterk en gelukkig of swak en ongelukkig te maak. Watter faktore maak die verskil? Dit is interessant om te sien dat die raad van sommige hedendaagse huweliksraadgewers ooreenstem met die tydlose wysheid van God se Woord wat duisende jare gelede geskryf is.

Bereidwilligheid om te luister: “Om werklik te luister, is een van die beste pluimpies wat jy iemand anders kan gee en is uiters belangrik om ’n intieme verhouding op te bou en te handhaaf”, sê ’n huwelikshandboek. “Die oor van wyse soek na kennis”, sê Spreuke (Spreuke 18:15). Hoe kan jy vir jou maat wys dat jy waarlik luister, aangesien oop ore nie so sigbaar soos oop oë en ’n oop mond is nie? Een manier is deur weerspieëling, of deur aktief te luister.—Sien venster op bladsy 11.

Openhartigheid en vertroulikheid: “Ons kultuur werk openhartigheid teë”, sê die boek One to One—Understanding Personal Relationships. “Ons word van kleins af geleer om ons neus uit ander se sake te hou—om geheimsinnig omtrent geld, idees en gevoelens te wees, . . . enigiets wat persoonlik is. Dit is ’n les wat ons nie sommer vergeet nie, selfs nie wanneer ons ‘verlief raak’ nie. As ’n mens nie voortdurend hard probeer om openhartig met mekaar te wees nie, kan vertroulikheid nie floreer nie.” “Planne misluk sonder beraadslaging”, sê Spreuke, “maar by die wat saam raad hou, is daar wysheid.”—Spreuke 13:10, NW; 15:22.

Lojaliteit en vertroue: ’n Man en ’n vrou lê ’n gelofte voor God af om lojaal te wees. Wanneer huweliksmaats die vertroue het dat elkeen lojaal aan die ander verbind is, is hulle liefde vry van agterdog, trots, ’n gees van wedywering en besorgdheid oor elkeen se eie regmatige deel.

Samesyn: ’n Verhouding verinnig wanneer ondervindinge gedeel word. Mettertyd kan ’n paartjie ’n kosbare tapisserie van gebeurtenisse uit die verlede weef wat deur elkeen gekoester word. Hulle dink nie eers daaraan om hierdie band van vriendskap uitmekaar te skeur nie. “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer.”—Spreuke 18:24.

Goedhartigheid en teerheid: Goedhartige dade verminder daaglikse wrywing en laat trots afneem. As patrone van vriendelikheid ingewortel is, bly hulle behoue selfs wanneer gemoedere tydens meningsverskille hoog loop, en sodoende word daar nie soveel skade aangerig nie. Teerheid skep ’n innige klimaat waarin liefde kan groei. Hoewel dit veral vir ’n man moeilik is om teerheid te betoon, sê die Bybel: “Die begeerlike in die aardse mens is sy liefderyke goedhartigheid” (Spreuke 19:22, NW). Wat ’n goeie vrou betref, “die wet van liefderyke goedhartigheid is op haar tong”.—Spreuke 31:26, NW.

Nederigheid: Nederigheid, ’n teenmiddel vir die gif van trots, gee aanleiding tot geredelike verskonings en herhaaldelike dankbetuigings. Sê nou jy word van iets beskuldig, maar is werklik nie skuldig daaraan nie? Miskien kan jy net saggies sê: “Ek is jammer dat jy so ontsteld is.” Toon besorgdheid vir die dinge waaroor jou maat gevoelig is en kyk dan hoe julle die probleem saam kan oplos. “Dit is ’n eer vir ’n man om van twis weg te bly.”—Spreuke 20:3.

Respek: “As ’n mens mekaar se verskille wil erken en hulle wil uitstryk, is respek uiters noodsaaklik. Wat vir die een huweliksmaat belangrik is, is dalk nie vir die ander een so belangrik nie. Nogtans kan elke huweliksmaat die ander se beskouings respekteer” (Keeping Your Family Together When the World Is Falling Apart). “Deur vermetelheid veroorsaak ’n mens net ’n stryd, maar by die wat saam raad hou, is daar wysheid.”—Spreuke 13:10, NW.

Humor: Die donkerste krisiswolke kan verdwyn as julle lekker saam lag. Met die liefdesbande as geleier verlig dit die spanning wat dikwels helder denke belemmer. “’n Vrolike hart maak die aangesig bly.”—Spreuke 15:13.

Vrygewigheid: Begin ’n positiewe soeke na dinge in jou huweliksmaat waarvoor jy jou waardering kan toon en wees vrygewig met jou komplimente. Hierdie betuigings van waardering kan meer beteken as ’n sydas of ’n bos blomme. Julle kan natuurlik steeds mooi dinge vir mekaar koop of doen. Maar “die beste geskenke wat jy kan gee”, sê die boek Lifeskills for Adult Children, “kan nie in ’n geskenkpakkie toegedraai word nie. Dit is jou betuigings van liefde en waardering, jou aanmoediging en jou bystand.” “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek.”—Spreuke 25:11.

As hierdie eienskappe met die boustene van die huweliksverhouding vergelyk kon word, dan is kommunikasie die sement wat nodig is om hulle aan mekaar te heg. Wat kan egpare dus doen wanneer meningsverskille ontstaan? “In plaas daarvan om jou maat se beskouings, wat van joune verskil, as ’n rede vir konflik te sien, . . . moet dit as ’n bron van kennis beskou word. . . . Die kleinighede van die alledaagse lewe word ’n goudmyn van inligting”, sê die boek Getting the Love You Want.

Beskou dus elke meningsverskil, nie as ’n teken om op jou perdjie te spring nie, maar as ’n kosbare geleentheid om insig te verkry in die een wat jy liefhet. Aanvaar die uitdaging daarvan om die meningsverskil saam uit te stryk en vaar die vreedsame hawens van eensgesindheid binne, terwyl julle julle huweliksband versterk en die liefde verinnig wat julle twee een maak.

Jehovah God besef watter skoonheid daar in samewerking is en hy het dit gevolglik in sy skepping ingebou—in die “gee en neem”-suurstofkringloop van plante en diere, die wentelbane van hemelliggame, die simbiotiese verhoudings tussen insekte en blomme. Net so kan daar ook in die huweliksverbintenis ’n innige kringloop bestaan waar ’n man sy vrou, in woord en in daad, van sy liefde verseker en waar ’n liefdevolle vrou op hom vertrou en tevrede is om sy leierskap te volg. Die twee word dus waarlik een en verskaf vreugde aan mekaar en aan die Insteller van die huwelik, Jehovah God.

[Venster op bladsy 11]

‘Skenk aandag aan hoe julle luister.’—Lukas 8:18, NW

Deur aktief te luister, word daar verseker dat die spreker en die luisteraar mekaar werklik verstaan. Dit word soms weerspieëling genoem, aangesien die luisteraar die woorde wat hy hoor en die strekking wat hy waarneem, probeer weerspieël. Hier is die basiese stappe:

1. Skenk noukeurig aandag; luister of jy belangrike boodskappe kan hoor.

2. Let op gevoelens wat agter die woorde skuil.

3. Herhaal aan die spreker wat jy hoor. Moenie oordeel, kritiseer of stry nie. Laat die persoon net weet dat jy die boodskap reg ontvang het. Erken die gevoelens.

4. Die spreker sal wat jy sê moontlik erken of regstel en dalk verder op die onderwerp uitbrei.

5. Probeer weer as jy verkeerd verstaan het.

Om aktief te luister, is veral ’n doeltreffende manier om die venyn van kritiek te verminder. Aanvaar die feit dat kritiek dikwels op sekere waarhede gegrond is. Dit word dalk op ’n pynlike wyse oorgedra, maar in plaas daarvan dat jy die pyn op ’n verdedigende wyse teruggooi na die een wat die kritiek lewer, kan jy die situasie probeer ontlont deur aktief te luister. Erken dat jy verstaan vir watter gekwetste gevoelens jy verantwoordelik gehou word en kyk hoe die probleem opgelos kan word.

[Venster op bladsy 12]

“As die een teen die ander ’n klag het.”—Kolossense 3:13

Hoe kan jy, wanneer jy ’n klag het, dit die beste oordra sonder om ’n oorlog te ontketen? Eerstens kan jy jou maat se goeie bedoelings erken. Jy meen dalk dat hy of sy onbedagsaam, onnadenkend, vermetel of onverstandig opgetree het—maar in die geheel gesien, het jou huweliksmaat heel moontlik geen kwaad bedoel nie. Sit jou gevoelens kalm uiteen sonder om te beskuldig: “Toe jy dit gedoen het, het ek gevoel . . .” Dít gooi nie olie op die vuur nie. Dit sê eenvoudig hoe jy voel en beskuldig nie jou huweliksmaat nie. Aangesien die persoon dalk geensins bedoel het om jou te ontstel nie, sal hy of sy dit moontlik ontken of hom- of haarself probeer regverdig. Konsentreer egter op die probleem en wees gereed om ’n oplossing voor te stel.

[Prent op bladsy 10]

Om werklik te luister, is een van die beste pluimpies wat jy iemand anders kan gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel