Leer God se Woord dat daar iets soos reïnkarnasie is?
ENIGIEMAND wat die Bybel ondersoek in die hoop om iets te vind wat die leerstelling van reïnkarnasie staaf, sal beslis teleurgestel word. Jy sal nêrens in die Bybel vind dat die mens vorige lewens gehad het nie. Daarbenewens sal jy nie uitdrukkings soos “reïnkarnasie” of “sielsverhuising” of “onsterflike siel” in die Bybel vind nie.
Maar sommige wat in reïnkarnasie glo, probeer hierdie gebrek aan Bybelse steun verduidelik deur te sê dat die opvatting van reïnkarnasie so algemeen in die ou tyd was dat enige verduideliking daarvan oorbodig sou gewees het. Die leerstelling van reïnkarnasie is weliswaar baie oud, maar ongeag hoe oud dit is of hoe algemeen dit was of nie was nie, die vraag bly steeds: Leer die Bybel dit?
In 2 Timotheüs 3:16, 17 het die apostel Paulus geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Ja, die Bybel is God se geïnspireerde Woord, sy kommunikasiemiddel met die mensdom. En soos Paulus geskryf het, help dit die opregte soeker om ‘volkome te wees, volkome toegerus’ om al die belangrike vrae oor die lewe te beantwoord, waaronder vrae oor die verlede, die hede en die toekoms.
Paulus het ook gesê: ‘Toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, het julle dit aangeneem nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God’ (1 Thessalonicense 2:13). Aangesien die Bybel God se gedagtes bevat, en nie dié van onvolmaakte mense nie, behoort dit ons nie te verbaas om te vind dat die Bybel dikwels van die mens se idees verskil nie, selfs al was hierdie opvattings deur die jare heen gewild. Maar jy sê dalk: ‘Impliseer die Bybel dan nie op sekere plekke dat daar iets soos reïnkarnasie is nie?’
Bybeltekste wat verkeerd verstaan word
Diegene wat in reïnkarnasie glo, sê dat die Bybel die onderwerp in Mattheüs 17:11-13 aanroer, waar Jesus die eertydse profeet Elia met Johannes die Doper verbind. Hierdie teks lees: “Dis waar, Elia kom eers en sal alles herstel; maar Ek sê vir julle dat Elia al gekom het . . . Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het.”
Het Jesus met hierdie woorde bedoel dat Johannes die Doper ’n reïnkarnasie van die profeet Elia was? Johannes self het geweet dat hy nie Elia was nie. Toe hy een keer gevra is: “Is u Elia?”, het Johannes onomwonde geantwoord: “Ek is nie” (Johannes 1:21). Daar is egter voorspel dat Johannes die Messias “in die gees en die krag van Elia” sou voorafgaan (Lukas 1:17; Maleagi 4:5, 6). Johannes die Doper was met ander woorde “Elia” in die sin dat hy ’n werk soortgelyk aan dié van Elia verrig het.
In Johannes 9:1, 2 lees ons: “En toe Hy [Jesus] verbygaan, sien Hy ’n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Party mense wat in reïnkarnasie glo, beweer dat hierdie man, aangesien hy blind gebore is, tydens ’n vorige lewe moes gesondig het.
Maar wat ook al tot die dissipels se vraag aanleiding gegee het, is dit Jesus se antwoord wat die beslissende faktor moet wees. Hy het gesê: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie” (Johannes 9:3). Dit weerspreek die leerstelling van reïnkarnasie wat impliseer dat gebreke die gevolg van sondes uit ’n vorige lewe is. Die gedagte dat niemand voor hulle geboorte kan sondig nie, is ook deur Paulus beklemtoon toe hy geskryf het dat Esau en Jakob “nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie”.—Romeine 9:11.
Die opstanding, nie reïnkarnasie nie
Hoewel die Bybel nie die leerstelling van reïnkarnasie staaf nie, hoef niemand teleurgesteld te wees nie. Die Bybel se boodskap bied iets wat baie vertroostender is as die idee om weer in ’n wêreld gebore te word wat vol siekte, verdriet, pyn en die dood is. En wat die Bybel ons bied, is nie net vertroostend nie, maar dit is die waarheid, God se eie Woord.
Paulus het dié bemoedigende leerstelling op hierdie manier uitgedruk: “[Ek het] ’n hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.” Die woord “opstanding”, of die een of ander vorm daarvan, kom ongeveer 50 keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor, en Paulus praat daarvan as ’n grondleer van die Christelike geloof.—Handelinge 24:15; Hebreërs 6:1, 2, NW.
Die opstanding uit die dood beteken vanselfsprekend dat daar wel iets soos die dood bestaan. Jy sal nêrens in die Bybel enige aanduiding daarvan kry dat die mens ’n onsterflike siel het nie. As die mens wel ’n onsterflike siel gehad het wat die liggaam by die dood verlaat en na ’n ewige bestemming in die hemel of in die hel gegaan het of gereïnkarneer is, sou ’n opstanding glad nie nodig wees nie. Daarenteen is daar sowat honderd Bybeltekste wat toon dat die mensesiel nie onsterflik is nie, maar sterflik, en dat dit vernietig kan word. Die Bybel praat voortdurend van die dood as die teenoorgestelde van die lewe, dit wil sê, wanneer ’n mens dood is, bestaan jy nie meer nie.
Die dood, of die toestand waar ’n mens nie meer bestaan nie, was die straf vir Adam en Eva se sonde teen God. Dit was ’n straf, nie ’n deur tot ’n onsterflike lewe elders nie. God het duidelik gesê dat hulle sou terugkeer waarvandaan hulle gekom het—die stof van die aarde: “Daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Hulle het nie ’n onsterflike siel gehad voordat God hulle geskep en op die aarde, in die tuin van Eden, geplaas het nie, en hulle het geen onsterflike siel ná hulle dood gehad nie.
Die opstanding uit die dood word vergelyk met wanneer ’n mens uit ’n slaap, of rus, wakker word. Jesus het byvoorbeeld van Lasarus, wie hy sou opwek, gesê: “Lasarus . . . slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak” (Johannes 11:11). Ons lees die volgende oor die profeet Daniël: “Jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.”—Daniël 12:13.
Die ewige lewe op aarde
Wat sal die uiteinde wees vir diegene wat uit die dood opgewek word? Die Bybel praat van twee opstandings—’n hemelse en ’n aardse opstanding. Die oorgrote meerderheid van diegene wat tot nog toe gelewe en gesterwe het, sal die aardse opstanding kry. Baie min kry ’n hemelse opstanding, om met Christus in God se hemelse Koninkryk te regeer (Openbaring 14:1-3; 20:4). Wanneer sal die aardse opstanding begin? Dit sal begin nadat God hierdie teenswoordige goddelose stelsel vernietig het en “’n nuwe aarde”, ’n regverdige nuwe mensegemeenskap, ’n werklikheid geword het.—2 Petrus 3:13; Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44.
In die “nuwe aarde” sal daar geen siekte of lyding wees nie. Selfs die dood sal nie meer bestaan nie, maar sal deur die vooruitsig op die ewige lewe vervang word. “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Die psalmis het ook voorspel: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Jesus het eweneens gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Mattheüs 5:5.
Vergelyk daardie wonderlike beloftes van God met die leerstelling van reïnkarnasie. Volgens daardie opvatting keer jy glo telkens terug om in hierdie selfde verdorwe ou stelsel van dinge te lewe. Dit sou beteken dat jy in ’n amper eindelose kringloop voortdurend omring sou wees van goddeloosheid, lyding, siekte en die dood. Hoe hopeloos is so ’n uitkyk op die lewe tog!
Die Bybel beantwoord dus die volgende vrae: Het jy voorheen gelewe? en: Sal jy weer lewe? op hierdie wyse: Nee, jy het geen ander lewe as die huidige lewe gehad nie. Maar dit ís moontlik om jou lewe te laat voortduur, ja selfs vir ewig. Vandag, gedurende hierdie “laaste dae” van dié teenswoordige stelsel, kan jy die hoop hê om hierdie wêreld se einde te oorleef en God se nuwe wêreld in te gaan sonder om te sterf (2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 7:9-15). Of as jy sterf vóór God se nuwe wêreld kom, kan jy die hoop hê om opgewek te word tot die ewige lewe op ’n paradysaarde.—Lukas 23:43.
As jy geloof in Jesus beoefen, ongeag wat gebeur, is Jesus se woorde aan Martha toe haar broer Lasarus dood is ook op jou van toepassing: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—Johannes 11:25‚ 26.
[Lokteks op bladsy 8]
Adam het nie ’n onsterflike siel gehad nie, maar het na die stof teruggekeer toe hy gesterf het
[Prent op bladsy 9]
God se Woord leer ’n mens van die opstanding, nie van reïnkarnasie nie