Waar ouers en kinders saam luister en leer
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
“AS ’N skoonmaakmaatskappy behoort ons ons te skaam, maar as julle mense [die skoonmaakwerk] doen, lyk dit of dit skoner is.” Dit is wat die man in beheer van die skoonmaakmaatskappy by die Foekoeoka-koepelstadion, Japan, verlede somer gesê het oor die voorbereiding wat Jehovah se Getuies vir hulle “Godvrugtige Onderrigting”-Streekbyeenkoms gedoen het. Hy was ook die vorige jaar gemoeid met die Tokio-koepelstadion toe die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies daar gehou is, en hy was diep beïndruk. Die stadion was aan die einde van die byeenkomste skoner as toe dit uitgehuur is. Hy het verder gesê: “Die kinders se gedrag was uitstekend. Ek kan maar net sê: ‘Fantasties!’”
Verlede jaar is die “Godvrugtige Onderrigting”-Streekbyeenkoms ook in die stad Takamatsoe gehou. ’n Middeljarige man wat byeenkomsgangers dopgehou het, het hulle gevra: “Is julle Christene?” en toe voortgegaan: “Julle het verlede jaar ook ’n byeenkoms gehad, nie waar nie? Waar is julle kinders gedurende die byeenkoms?” Toe die byeenkomsgangers antwoord: “Hulle luister na toesprake en volg in hulle eie Bybel saam met hulle ouers”, het die man gesê: “Dis goed! Ek sien julle mense elke somer, en ek is altyd beïndruk deur julle kinders se goeie gedrag.” Toe het hy gesê dat hoewel hy baie van die generasiegaping tussen ouers en kinders hoor, hy aan die gedrag van die kinders van Jehovah se Getuies kan sien dat die ouer-kind-verhouding onder hulle baie goed is.
’n Laerskoolonderwyseres, wat verlede jaar ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Makoehari Messe bygewoon het, was verstom om die gesindheid van die kinders by die byeenkomsterrein te sien. Volgens haar mening is kinders by die skool, waar hulle veronderstel is om te leer deur na ander te luister, nie bereid om te luister nie. Sy het egter iets anders by die byeenkoms gesien. “Daardie kinders het vir lang tydperke regop gesit. En wat meer is, hulle het hulle potlode stewig vasgehou en noukeurige aantekeninge gemaak ten spyte van die feit dat hulle op hulle skoot moes skryf. Die Getuiekinders verskil, selfs by die skool, van ander kinders—in die manier waarop hulle praat en luister asook in hulle kleredrag en persoonsversorging.” Toe het sy bygevoeg: “Ek dink dit is as gevolg van hulle daaglikse onderrigting, die feit dat hulle Jehovah loof en dat hulle gesinne saam een doelwit nastreef.”
Net soos die Israeliete die Goddelike wet nagevolg het wat gesê het: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders . . . dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer”, kom Jehovah se Getuies vandag byeen, oud en jonk, manne en vroue, en ontvang hulle dieselfde onderrigting. Die bostaande teks gaan voort en gee die rede hiervoor: “Om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.”—Deuteronomium 31:12.