Van ons lesers
Oogchirurgie Ek het dit baie geniet om julle artikel “Radiale keratotomie—Wat is dit?” (22 September 1994) te lees. As ’n refraktiewe chirurg wat self al hierdie oogoperasie ondergaan het en meer as 2 000 daarvan uitgevoer het, was ek baie beïndruk deur die hoë gehalte en juistheid van julle artikel. Ongelukkig is die inligting wat deur die niemediese media aan die publiek gegee word dikwels onjuis en misleidend. Ek dink julle artikel was ’n uitstekende verduideliking van die voor- en nadele van radiale keratotomie.
R. F. B., Verenigde State
Die dood Ek wil my diepe waardering uitspreek vir die artikels “Waarom moes my pa sterf?” (22 Augustus 1994) en “Hoe kan ek oor my pa se dood kom?” (8 September 1994) in die rubriek “Jongmense vra . . . ”. Hoewel my ouers nog leef, is ek onlangs deur die dood van twee geliefdes oorweldig. Hierdie artikels het my grootliks vertroos en vir my gewys hoe om sulke rampspoedige gebeure te verwerk.
T. H., Frankryk
My pa het by die Koninkryksaal gesterf nadat hy ’n toespraak gehou het. Sedertdien het ek met gevoelens van droefheid en woede te kampe. Ek het geredeneer dat dit onregverdig is dat enigiemand wat so gelief was en so toegewyd aan Jehovah was so skielik moes sterf. Toe ek deur daardie artikels gelees het, het dit my laat voel asof Jehovah my help om my gebroke hart te heel.
S. A., Nigerië
My pa het aan kanker gesterf en ek het vreeslik gesukkel om dit te verwerk. Dit was verbasend om te sien hoe hierdie artikel so duidelik met my gevoelens ooreengekom het. Wat vir my pynlik is, is dat my pa alles misloop wat nou in my lewe gebeur. Ek het so pas met my lewensdroom begin: ’n loopbaan as ’n voltydse evangeliedienaar. Ek wou so graag hê dat hy my dit moes sien doen. Die feit dat ek nie by sy wonderlike leiding en wysheid baat kan vind nie, is soms moeilik, maar die wete dat daar ander is wat omgee, is baie vertroostend.
C. T., Verenigde State
Ons beskou die wêreld Ek wil julle komplimenteer met die noukeurige wyse waarop die Ontwaak! voorberei word. Ek waardeer veral die beriggies in “Ons beskou die wêreld”. Hoewel dit verskillende onderwerpe kortliks bespreek, het die nuttige raad, interessante beriggies en opmerkings daarin my gehelp om baie van my gewoontes te verander. “Ons beskou die wêreld” is aangename leesstof.
T. C. C., Brasilië
Heimlich-greep Ek is al 11 jaar lank ’n gekwalifiseerde eerstehulpinstrukteur en wil graag kommentaar lewer oor die beriggie “Verstikking aan kos” in “Ons beskou die wêreld” (22 Augustus 1994). Julle maak melding van die so genoemde Heimlich-greep. Dit is egter algemeen bekend dat ’n hou teen die solêre pleksus die asem kan laat wegslaan. In ’n eerstehulpsituasie kan die Heimlich-greep dinge dus vererger.
G. B., Oostenryk
Party Europese mediese deskundiges beskou die Heimlich-greep as gevaarlik en stel voor dat dit slegs as ’n laaste uitweg gebruik word. Oor die algemeen meen dokters in die Verenigde State egter dat die Heimlich-greep, as dit reg uitgevoer word, beter as alle ander metodes is om ’n slagoffer van verstikking te help. Die risiko wat iemand loop om inwendige beserings op te doen, word as onbeduidend beskou wanneer dit vergelyk word met die risiko wat hy loop om te verstik. Byvoorbeeld, volgens een Amerikaanse studie is daar slegs vier gedokumenteerde gevalle van maagbreuke wat deur die Heimlich-greep veroorsaak is. Of Europese en Amerikaanse dokters in die nabye toekoms konsensus oor hierdie saak gaan bereik, moet ons nog sien.—RED.