Die Bybelse beskouing
Vergewe en vergeet—Hoe is dit moontlik?
“EK SAL HULLE ONGEREGTIGHEID VERGEWE EN . . . HULLE SONDE NIE MEER [ONTHOU, NW] NIE.”—JEREMIA 31:34.
DAARDIE woorde wat deur die profeet Jeremia opgeteken is, openbaar iets merkwaardigs omtrent Jehovah se barmhartigheid: Wanneer hy vergewe, vergeet hy (Jesaja 43:25). Die Bybel sê verder: “Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). As Christene moet ons dus Jehovah se vergewensgesindheid navolg.
Maar dit laat ’n paar belangrike vrae ontstaan. Beteken dit dat Jehovah, wanneer hy vergewe, in werklikheid nie meer ons sondes onthou nie? En moet ons, wanneer ons vergewe, vergeet in die sin dat ons nie meer kan onthou nie? Kan daar gesê word dat tensy ons op hierdie manier vergeet ons nie werklik vergewe het nie?
Hoe Jehovah vergewe
Om te vergewe, behels dat ons van gevoelens van gegriefdheid ontslae raak. Wanneer Jehovah vergewe, vergewe hy volkome.a Die psalmis Dawid het geskryf: “[Jehovah] sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.”—Psalm 103:9, 12, 13.
Die verreikendheid van God se vergifnis word verder verduidelik in Handelinge 3:19: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word.” Die uitdrukking ‘uitgewis word’ kom van ’n Griekse werkwoord (e·xa·leiʹfo) wat “afvee, uitvee”, beteken. (Sien Openbaring 7:17; 21:4.) The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: “Die idee wat hier en miskien elders deur die werkwoord oorgedra word, is heel waarskynlik om die oppervlak van ’n wasskryftafel vir hergebruik glad te maak ([vergelyk] ‘vee die lei skoon’).” Wanneer ons berou toon oor ons sondes wis Jehovah die verlede uit. Beteken dit dat hy nie meer ons sondes onthou nie? Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat in die Bybel opgeteken is.
Toe koning Dawid met Batseba owerspel gepleeg het en dit later probeer verberg het deur haar man se dood te bewerkstellig, het Jehovah die profeet Natan gestuur om Dawid tereg te wys (2 Samuel 11:1-17; 12:1-12). Met watter gevolg? Dawid het opreg berou gehad, en Jehovah het hom vergewe (2 Samuel 12:13; Psalm 32:1-5). Het Jehovah Dawid se sondes vergeet? Geensins nie! Die Bybelskrywers Gad en Natan het later die hele voorval kort voor Dawid se dood in die boek 2 Samuel (wat ongeveer 1040 v.G.J. voltooi is) opgeteken.
Die verslag van, of herinnering aan, Dawid se sondes—sowel as die verslag van sy berou en die daaropvolgende vergifnis deur Jehovah—leef dus tot vandag toe voort tot nut van Bybellesers (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11). Trouens, “die woord van Jehovah [soos dit in die Bybel staan] bly vir ewig”, en daarom sal die verslag van Dawid se sondes nooit vergeet word nie!—1 Petrus 1:25.
Hoe kan daar dan gesê word dat Jehovah die lei skoonvee wanneer ons opreg berou het oor ons sondes? Hoe kan ons Jehovah se woorde verstaan: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en . . . hulle sonde nie meer [onthou, NW] nie”?—Jeremia 31:34.
Hoe Jehovah vergeet
Die Hebreeuse werkwoord wat met “Ek sal . . . onthou” (’n vorm van za·kharʹ) weergegee word, beteken nie bloot om die verlede te herroep nie. Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament kan dit “meld, bekend maak, opnoem, verkondig, oproep, herdenk, beskuldig, erken” beteken. Die Theological Dictionary of the Old Testament voeg by: “Trouens, [za·kharʹ] impliseer heel dikwels ’n daad of dit verskyn saam met werkwoorde wat optrede aandui.” Wanneer Jehovah gevolglik van sy weerspannige volk sê hy “sal hulle ongeregtigheid onthou”, bedoel hy dat hy teen hulle sal optree vanweë hulle gebrek aan berou (Jeremia 14:10, NW). Maar wanneer Jehovah sê: “Ek sal . . . hulle sonde nie meer [onthou, NW] nie”, gee hy ons die versekering dat hy, sodra hy ons sondes vergewe het, dit nie weer onder ons aandag sal bring met die doel om ons te beskuldig, te veroordeel of te straf nie.
Jehovah het deur middel van die profeet Esegiël verduidelik in watter sin hy vergewe en vergeet: “Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe” (Esegiël 18:21, 22; 33:14-16). Ja, wanneer Jehovah ’n berouvolle sondaar vergewe, vee hy die lei skoon en vergeet hy in die sin dat hy nie die een of ander tyd in die toekoms teen daardie een sal optree vir daardie sondes nie.—Romeine 4:7, 8.
Omdat ons onvolmaak is, kan ons nooit volkome vergewe soos Jehovah vergewe nie; sy gedagtes en weë is oneindig hoër as ons s’n (Jesaja 55:8, 9). In watter mate kan daar dan redelikerwyse van ons verwag word om te vergewe en te vergeet wanneer ander teen ons sondig?
Hoe ons kan vergewe en vergeet
“Vergewe mekaar vryelik”, spoor Efesiërs 4:32 aan. Volgens die leksikograaf W. E. Vine beteken die Griekse woord wat as ‘vryelik vergewe’ (kha·riʹzo·mai) vertaal is “om onvoorwaardelik ’n guns te bewys”. Wanneer oortredinge wat teen ons begaan is gering is, vind ons dit dalk nie moeilik om te vergewe nie. As ons in gedagte hou dat ons ook onvolmaak is, help dit ons om die tekortkominge van ander oor die hoof te sien (Kolossense 3:13). Wanneer ons vergewe, raak ons van gevoelens van gegriefdheid ontslae, en ons verhouding met die oortreder ly dalk nie enige blywende skade nie. Die herinnering aan so ’n geringe oortreding sal mettertyd moontlik vervaag.
Maar sê nou ander sondig op ’n ernstiger manier teen ons sodat dit ons diep seermaak? In uiterste gevalle, soos bloedskande, verkragting en poging tot moord, sal daar waarskynlik ’n aantal oorwegings by vergifnis betrokke wees. Dit is veral waar as die oortreder nie sy sonde erken, geen berou toon en nie om verskoning vra nie (Spreuke 28:13).b Jehovah self vergewe nie onberouvolle, geharde oortreders nie (Hebreërs 6:4-6; 10:26). Wanneer ’n wond diep is, sal ons dalk nooit daarin slaag om dít wat gebeur het heeltemal uit ons kop te sit nie. Ons kan egter vertroos word deur die versekering dat daar in die komende nuwe wêreld ‘aan die vorige dinge nie gedink sal word en dat hulle in die hart nie sal opkom nie’ (Jesaja 65:17; Openbaring 21:4). Wat ons dan ook al onthou, sal ons nie die diep hartseer en pyn laat ervaar wat moontlik nou die geval is nie.
In ander gevalle moet ons moontlik die eerste stap doen om sake reg te stel, miskien deur met die oortreder te praat, voordat ons kan vergewe (Efesiërs 4:26). Op hierdie manier kan enige misverstand uit die weg geruim word, kan daar gepas om verskoning gevra word en kan vergifnis geskenk word. Wat van die kwessie van vergeet? Ons sal dalk nooit dít wat gedoen is heeltemal uit ons kop kan sit nie, maar ons kan vergeet in die sin dat ons nie die oortreder daaroor verwyt of die saak weer die een of ander tyd in die toekoms ter sprake bring nie. Ons skinder nie daaroor nie en vermy ook nie die oortreder heeltemal nie. Dit kan egter ’n tydjie neem voor ons verhouding met die oortreder herstel, en dalk geniet ons nie dieselfde intieme verhouding as voorheen nie.
Beskou ’n illustrasie: Gestel jy vertel ’n betroubare vriend van ’n baie persoonlike saak en jy vind later uit dat hy dit aan ander oorvertel het, wat vir jou groot verleentheid en hartseer veroorsaak. Jy nader hom om dinge met hom te bespreek, en hy is baie jammer daaroor; hy vra om verskoning en om vergifnis. Omdat jy hoor hoe hy opreg om verskoning vra, word jou hart beweeg om hom te vergewe. Vergeet jy maklik wat gebeur het? Waarskynlik nie; jy sal ongetwyfeld baie versigtig wees om hom voortaan in jou vertroue te neem. Tog vergewe jy hom; jy grawe nie voortdurend ou koeie uit die sloot nie. Jy koester nie ’n wrok nie en skinder ook nie by ander daaroor nie. Jy voel dalk nie so na aan hom soos jy voorheen gevoel het nie, maar jy het hom nog steeds lief as jou Christenbroer.—Vergelyk Spreuke 20:19.
Maar sê nou die oortreder erken, ten spyte van jou pogings om sake reg te stel, nie sy fout en vra nie om verskoning nie? Kan jy vergewe in die sin dat jy nie meer gegrief voel nie? Om ander te vergewe, beteken nie dat ons dit wat hulle gedoen het, goedkeur of geringag nie. Gegriefdheid is ’n swaar las om te dra; dit kan ons gedagtes verteer en ons van ons vrede beroof. Ons sal dalk net al hoe meer gefrustreerd raak om te wag vir ’n verskoning wat nooit kom nie. In werklikheid laat ons die oortreder toe om ons gevoelens te beheer. Daarom moet ons ander vergewe, of van gevoelens van gegriefdheid ontslae raak, nie net om hulle onthalwe nie, maar ook om ons eie onthalwe sodat ons met ons lewe kan aangaan.
Om ander te vergewe, is nie altyd maklik nie. Maar wanneer daar opregte berou is, kan ons Jehovah se vergewensgesindheid probeer navolg. Wanneer hy berouvolle oortreders vergewe, voel hy nie meer gegrief nie—hy vee die lei skoon en vergeet in die sin dat hy nie daardie sondes in die toekoms voor hulle kop sal gooi nie. Ons kan ook daarvan werk maak om van gevoelens van gegriefdheid ontslae te raak wanneer die oortreder berouvol is. Daar kan egter gevalle wees waar ons nie eers verplig is om te vergewe nie. Geen slagoffers van uiterstes in onregverdige en wrede behandeling moet gedwing word om ’n onberouvolle oortreder te vergewe nie. (Vergelyk Psalm 139:21, 22.) Maar in die meeste gevalle wanneer ander teen ons sondig, kan ons vergewe in die sin dat ons van gevoelens van gegriefdheid ontslae raak, en ons kan vergeet in die sin dat ons nie ons broer die een of ander tyd in die toekoms daaroor verwyt nie.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Hoe ver strek God se vergifnis?” in die Ontwaak! van 8 Desember 1993, bladsye 18-19.
b Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 862, sê: “Dit word nie van Christene vereis om diegene wat kwaadwillig en moedswillig sondig sonder om berou te toon te vergewe nie. Sulke persone word God se vyande.”—Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 9]
Josef en sy broers