Is Jou huis bestand teen aardbewings?
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
“HELP my! Help my!” In die donker oggendure van 17 Januarie 1994 het ’n man van die grondverdieping van ’n woonstelgebou uitgeroep waarop die boonste twee verdiepings ineengestort en soos ’n hoop pannekoeke gelê het. ’n Aardbewing wat 6,6 op die Richterskaal geregistreer het, het Los Angeles, Kalifornië, VSA, getref en die lewe van 16 mense in daardie gebou geëis. Daar het meer as 50 mense in die gebied gesterf.
Op 30 September 1993 het ’n effens kleiner aardbewing die staat Maharasjtra in Wes-Indië getref. Dit het die lewe van 30 000 mense geëis. “As dit êrens anders gebeur het waar . . . die huise deeglik gebou was, sou daar nie so ’n groot tragedie gewees het nie”, het Sri Krisjna Singh, ’n seismoloog, gesê. Die meeste van die huise in die gebied wat getref is, was van rousteen gemaak.
Daarenteen het ’n aardbewing wat ongeveer dieselfde grootte as die een in Indië was Tokio, Japan, in 1985 getref. Dit was die hewigste aardbewing wat die gebied in 56 jaar getref het. Tog was daar geen sterfgevalle, geen brande en geen grootskaalse vernietiging van eiendom nie. Wat het die verskil gemaak?
Dit kan onder andere toegeskryf word aan die konstruksiemetodes waarvolgens die geboue opgerig is. In gebiede waar aardbewings dikwels voorkom, vereis baie lande dat bou-ingenieurs streng by boukodes bly om geboue aardbewingsbestand te maak. As ’n voorbeeld hiervan, kom ons kyk hoe aardbewingsbestande geboue in Japan opgerig word.
Kenmerke van aardbewingsbestande geboue
Tradisionele Japannese geboue is onwetend met kenmerke gebou wat hulle aardbewingsbestand gemaak het. Aangesien die meeste huise van hout gemaak is, is ’n verskeidenheid van lasse gebruik. Dit het die huis onder die skok van ’n aardskudding laat meegee en laat beweeg sonder dat dit ineengestort het. Pagodes en kastele wat volgens hierdie beginsels gebou is, staan reeds sedert die Middeleeue. Studies van hierdie geboue het bevind dat hulle so aardbewingsbestand is omdat hulle buigsaam eerder as onbuigsaam is. Hierdie beginsel word nou in moderne geboue gebruik.
In baie hoë geboue bepaal die doeltreffende gebruik van staal of ’n gebou aardbewingsbestand sal wees of nie. Behalwe staallêers en -balke wat gebruik kan word, word staalwapeningstawe ook in betonpilare, -vloere en -mure gesit om ’n sterk maar buigsame struktuur te vorm. Staal maak die gebou buigsaam, wat help voorkom dat die gebou tydens ’n aardbewing ineenstort.
Nuwe navorsing het dit ook moontlik gemaak om vas te stel hoe ’n aardbewing ’n gebou laat beweeg. Dit het aanleiding gegee tot ’n baie belangrike oorweging wanneer ’n aardbewingsbestande gebou ontwerp word: sy vibrasietempo. ’n Klein gebou of ’n onbuigsame struktuur het ’n hoër, en dus vernietigender, vibrasietempo as ’n hoër of buigsamer gebou. Daarbenewens is dit belangrik dat die gebou so ontwerp word dat dit teen ’n tempo vibreer wat verskil van die vibrasietempo van die grond waarop dit staan. Dit sal die uitwerking van resonansie verminder, wat die krag van die skok versterk.
’n Ander oorweging is die fondament. ’n Maatskappy het suksesvolle toetse op ’n struktuur uitgevoer wat op rubberblokke gebou is wat van viskeuse dempers gemaak is. Dit dien as skokdempers en verminder die seismiese uitwerking in die boonste deel van die struktuur met ongeveer 60 persent. In party gevalle moet heipale tot in die fermer ondergrondlaag ingedryf word. Selfs ’n kelderverdieping kan genoeg stabiliteit voorsien om te voorkom dat ’n gebou kantel.
Hoe ’n aardbewingsbestande gebou opgerig word
Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Japan het in 1989 ’n nuwe toevoeging tot hulle drukkery gemaak. Die gebou is 67 meter lank, 45 meter breed en ses verdiepings hoog, met ’n volledige kelderverdieping. Om die gebou aardbewingsbestand te maak, is 465 betonheipale in die grond geboor.
Op die bouterrein is ’n geluidlose, nievibrerende metode gebruik om die heipale in die grond in te dryf. Die heipale, wat 80 sentimeter in deursnee en 12 meter lank is, is buisvormig. Nadat ’n skroefboor met boorpunte aan sy voorpunt in die heipaal geplaas is, is dit tot ’n vertikale posisie gelig oor die plek waar dit in die grond ingedryf moes word. Terwyl die skroefboor gedraai is, het dit grond deur die middel van die heipaal verwyder, en die heipaal is geleidelik in die nou gat geforseer. Om groter diepte te verkry, kon nog ’n stuk heipaal aan die stuk gesweis word wat reeds in die grond ingedryf is.
Ná dit die regte diepte bereik het, is die boorpunte aan die voorpunt van die skroefboor uitgesprei en is ’n groter gat aan die onderkant van die heipaal uitgegrawe. Nadat die skroefboor verwyder is, is beton in die heipaal af en in hierdie holte in geforseer en is die heipaal in sy posisie geanker toe die beton hard geword het.
Nadat al die heipale op hierdie manier in die fondament geplaas is, is hulle met balke aanmekaargebind waarop die vloer en mure van die kelderverdieping gestut sou word. Met so ’n fondament behoort die gebou ’n redelike hoeveelheid skok te kan weerstaan.
Is jou huis veilig tydens ’n aardbewing? Geen ontwerpstrategieë of ander voorsorgmaatreëls kan waarborg dat ’n gebou tydens ’n aardskudding onbeskadig sal bly nie. ’n Aardbewing kan so hewig wees dat selfs die bes ontwerpte gebou nie sy vernietiging sal weerstaan nie, soos die kwaai aardbewing in Januarie in Kobe, Japan, getoon het. Jy kan nogtans, deur te kies om in ’n gebou te woon wat met sorg gebou is, veiliger voel wanneer ’n aardbewing jou omgewing tref.