Om met my kind te kommunikeer, het ek ’n ander taal geleer
DIE geboorte van ons seun, Spencer, in Augustus 1982 was een van die gelukkigste oomblikke in ons lewe. Hy was ’n gesonde baba! Ek en my man het beplan om vyf jaar te wag voordat ons ons eerste kind sou hê. Namate die maande ná sy geboorte verbygegaan het, het ons groot vreugde daaruit geput om te sien hoe hy groter word! Die maandelikse roetineondersoeke by die dokter se spreekkamer het altyd goed afgeloop. Ek het Jehovah vir hierdie wonderlike seëning gedank.
Teen die tyd dat Spencer nege maande oud was, het ek egter begin vermoed dat iets verkeerd is. Hy het nie op stemme of sekere geluide gereageer nie. Om sy gehoor te toets, het ek op ’n plek gestaan waar hy my nie kon sien nie en dan op panne of ander voorwerpe geslaan. Soms het hy omgedraai, maar dit was nooit konsekwent nie. Met sy ondersoek op nege maande het ek my vrese met sy dokter bespreek, maar hy het my verseker dat my seun niks makeer nie en dat daar niks was om oor bekommerd te wees nie. Maar namate die maande verbygegaan het, het hy steeds nie gereageer of begin praat nie.
Met sy ondersoek op eenjarige ouderdom het ek nogmaals my kommer teenoor die dokter uitgespreek. Hy het weer eens niks verkeerd gevind nie, maar het ons na ’n gehoorkundige verwys. Ek het Spencer daarheen geneem vir toetse, maar die uitslae was inkonsekwent. Ek het ’n tweede en ’n derde keer teruggegaan om maar net te hoor dat die uitslae steeds inkonsekwent was. Die dokter het gemeen dat hy beter toetsuitslae sou kry namate Spencer groter word. Die eerste drie jaar van ’n kind se lewe is uiters belangrik vir taalontwikkeling. Ek het baie bekommerd begin raak. Ek het die gehoorkundige bly uitvra oor toetse wat beslissende uitslae kon lewer. Hy het my uiteindelik van ’n gehoorbreinstamtoets vertel wat by die Oog- en Oorhospitaal in Massachusetts gedoen kon word.
Ek was verpletter
Die volgende week het ons na die hospitaal in Boston gegaan. Ek het tot Jehovah gebid om my die krag te gee om die uitslae te aanvaar, wat dit ook al mag wees. In my hart het ek gemeen dat Spencer hardhorend is en dat net ’n gehoortoestel nodig sou wees. Hoe verkeerd was ek tog nie! Ná die toets het die tegnikus ons na haar kantoor geroep. Die uitslae was beslissend: Spencer het ’n ongeneeslike sensories-neurale gehoorgebrek. Toe ek vra presies wat dit beteken, het sy verduidelik dat my seun nie in staat is om spraak en die meeste ander geluide te hoor nie. Dit was nie wat ek verwag het om te hoor nie; ek was verpletter.
Ek het onmiddellik gewonder: ‘Hoe kon dit gebeur het? Waardeur is dit veroorsaak?’ Ek het teruggedink aan my swangerskap en bevalling. Alles het goed verloop. Spencer het nog nooit oorontsteking of enige swaar verkoues gehad nie. Ek is deur my emosies oorweldig! Wat moes ek nou doen? Ek het my familie en ’n paar vriende gebel en hulle vertel wat die toetsuitslae was. ’n Getuievriendin het my aangemoedig om dit as ’n uitdaging te beskou; ek sou Spencer net op ’n ander manier moes leer. Ek was Jehovah dankbaar vir die nodige krag.
Wat sou die beste vir Spencer wees?
Ek het glad nie geweet hoe om ’n dowe kind groot te maak of wat dit beteken om doof te wees nie. Hoe moes ek my seun grootmaak en behoorlik met hom kommunikeer? So baie gedagtes en kwellinge het deur my kop gemaal.
Die volgende week het ons na die hospitaal teruggekeer, en die tegnikus het ons opsies met ons bespreek. Sy het verduidelik dat een metode, die mondelinge benadering, op die ontwikkeling van spraak- en lipleesvaardighede toegespits is. ’n Ander metode was om gebaretaal te gebruik, wat die taal van dowes is. Daar was ’n program wat opleiding in gebaretaal voorsien het en waarby liplees- en spraakvaardighede later ingesluit sou word. Die tegnikus het ook die gebruik van gehoortoestelle aanbeveel om die bietjie wat my seun nog kon hoor te versterk. Daarna het ons ’n plaaslike gehoorkundige besoek, wat Spencer van oorvormpies en gehoortoestelle voorsien het. Tydens ons besoek het die gehoorkundige gesê dat Spencer ’n baie goeie kandidaat vir die mondelinge metode sal wees.
Maar wat sou die beste vir Spencer wees? Ek het gedink aan wat werklik belangrik is. Jehovah wil hê dat ons met ons kinders moet kommunikeer; dit is noodsaaklik as ons ’n suksesvolle gesinslewe wil hê. Ons kon die mondelinge metode volg en ons toespits op die ontwikkeling van spraak- en lipleesvaardighede. Daar was die moontlikheid dat Spencer sy spraakvaardighede sou kon ontwikkel tot op die punt waar ander hom sou verstaan. Maar dit sou eers ná verloop van jare bekend wees! Wat moes ons nóú doen? Ons het besluit om gebaretaal te gebruik.
Die volgende maand het ons Spencer ingeskryf by wat destyds ’n totale kommunikasieprogram genoem is. Ek en Spencer het albei basiese gebaretaal begin leer, en Spencer het ook in gesproke Engels en liplees onderrig ontvang. Ek is gewys hoe ek my seun kon leer. Die maande het verbygegaan, en Spencer het baie goed gevorder. Ek het egter nog steeds met tye oorweldig gevoel. Dit het my ontmoedig wanneer ek gehoor het hoe ander kinders “mamma” sê of leer om “Jehovah” te sê. Maar dan het ek gewonder: ‘Waarom voel ek so? My seun is gelukkig en gesond.’ Ek het tot Jehovah om hulp gebid sodat ek my voorreg om so ’n goeie kind te hê, kon waardeer.
Toe Spencer twee jaar oud was, het ons reëlings getref om ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon waar die program in Amerikaanse Gebaretaal (ASL) vertaal sou word. Ek het die feit dat ek soms ontmoedig voel met ’n egpaar bespreek wat baie jare lank met dowe Getuies gewerk het. Hulle het my vertel van die vergaderinge van Jehovah se Getuies wat maandeliks in Massachusetts in ASL gehou word en het my aangemoedig om te gaan.
Ek het hulle raad gevolg, en beide ek en Spencer het dit begin bywoon. Daar het ons die geleentheid gehad om dowe volwassenes te ontmoet en met hulle te kommunikeer. By ons Engelse gemeente het Spencer min baat gevind by die vergaderinge. Hy het my nie ’n oomblik alleen gelaat nie, aangesien ek die enigste een was met wie hy kon kommunikeer. Sy frustrasie tydens hierdie vergaderinge het toegeneem namate hy ouer geword het, en sy gedrag het versleg. Maar wanneer ons vergaderinge bygewoon het wat in gebaretaal gehou is, was dit nie die geval nie. Hy kon vryelik met almal kommunikeer sonder om sy moeder as tolk te hê. Hy het noodsaaklike verhoudings met mense in die gemeente opgebou. Ons al twee het in ons gebruik van gebaretaal verbeter, en ek het geleer hoe om ’n beter onderrigter tydens ons tuisbybelstudie te wees. Dit was wonderlik! Nou kon ek vir die eerste keer met my seun by die vergaderinge wees en maar net sy MA wees en nie sy tolk nie!
’n Groot keerpunt vir my
Met my man se goedkeuring het ek Spencer, toe hy drie was, by ’n program vir dowe en hardhorende kinders ingeskryf, wat in ’n staatskool gehou is. Groepvergaderinge is aangebied om ouers te onderrig, en ek het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om meer te leer. By een vergadering het ’n paneel wat uit dowe volwassenes en tieners bestaan het die groep toegespreek. Die paneellede het verduidelik dat hulle min of geen kommunikasie met hulle ouers of gesinne gehad het. Toe ek hulle vra waarom, het hulle geantwoord dat hulle ouers nooit gebaretaal geleer het nie, en daarom kon hulle nooit behoorlik met hulle ouers kommunikeer oor die lewe, hulle gevoelens of hulle belangstellings nie. Dit het gelyk asof hulle nie deel van hulle gesin gevoel het nie.
Dít was ’n groot keerpunt vir my. Ek het aan my seun gedink. Die gedagte dat hy moet grootword en die huis verlaat sonder om ooit ’n verhouding met sy ouers te hê, was vir my onaanvaarbaar. Ek was meer vasbeslote as ooit tevore om my vaardighede in gebaretaal steeds te verbeter. Met verloop van tyd het ek al hoe meer besef dat die besluit om gebaretaal te gebruik die beste vir ons was. Sy gebaretaal het voortdurend verbeter, en ons kon enige onderwerp bespreek, soos: “Waarheen sal ons met vakansie gaan?” of “Wat wil jy wees wanneer jy groot is?” Ek het besef hoeveel ek sou gemis het as ek op spraak probeer staatmaak het om met hom te kommunikeer.
Op vyfjarige ouderdom is Spencer in ’n gewone klas geplaas met kinders wat kon hoor en ’n onderwyseres wat gebaretaal kon gebruik. Hy het hierdie program drie lang jare gevolg. Hy het skool gehaat, en dit was nie maklik om te sien dat hy soveel moes sukkel nie. Gelukkig kon ek met hom kommunikeer terwyl ons verskillende maniere op die proef gestel het om sy frustrasies te oorkom. Maar op die ou end het ek tot die slotsom gekom dat hierdie program in die staatskool nie sy selfrespek of sy opvoedkundige ontwikkeling tot voordeel strek nie.
In 1989 het my huwelik tot ’n einde gekom. Nou was ek ’n enkelouer met ’n sesjarige seun wat vinnig gevorder het in sy vermoë om gebaretaal te gebruik. Hoewel ek met hom kon kommunikeer, het ek geweet dat ek my vaardighede in ASL moet verbeter om die kommunikasie tussen ons in stand te hou en te verbeter.
Tyd om te verhuis
Ek het ondersoek ingestel na talle programme vir dowe kinders in verskeie state en ’n skool in Massachusetts gevind waar hulle ASL sowel as Engels gebruik het in wat as ’n tweetalige benadering beskou word. Daarbenewens is ek meegedeel dat daar weldra ’n ASL-gemeente van Jehovah se Getuies in die Boston-gebied sou wees, en ’n vriend het voorgestel dat ons daarheen verhuis. As ’n enkelouer was dit moeilik om die gedagte te aanvaar dat ons van ons huis en familie en vriende in New Hampshire op die platteland moet wegtrek na ’n hoofstedelike gebied. Spencer het dit ook geniet om op die platteland te woon. Daar was egter twee dinge wat ek in aanmerking moes neem. Spencer moes in ’n skool wees waar onderwysers en leerlinge almal vryelik in gebaretaal kommunikeer, en ek het gemeen dat dit beter sou wees om in ’n gemeente met ander dowe Getuies te wees.
Ons het vier jaar gelede verhuis, toe Spencer nege jaar oud was. Kort daarna is die Gebaretaalgemeente in Malden, Massachusetts, gestig, en sedertdien het Spencer ontsettend goed gevorder. Sy gedrag het baie verbeter, en hy geniet dit om by die vergaderinge te wees. Ek put groot vreugde daaruit om te sien hoe hy met ander kommunikeer en vriendskappe sluit. Die dowe broers en susters in die gemeente is wonderlike rolmodelle vir my seun en help hom besef dat hy ook geestelike doelwitte kan bereik. En dit is wat hy gedoen het. Hy hou nou toesprake op die Teokratiese Bedieningskool en is ’n ongedoopte verkondiger. Hy het die begeerte uitgespreek om gedoop te word.
Watter vreugde verskaf dit my tog in die bediening om te sien hoe hy sy geloof uitspreek teenoor ander dowe mense, en dít in gebaretaal! Sy selfrespek het geweldig toegeneem. Spencer het my vertel hoe hy oor die gemeente voel. Hy het gesê: “Ons hoort hier. Die broers en susters kan met my kommunikeer.” My seun smeek my nie meer om dadelik ná die vergaderinge huis toe te gaan nie. Nou moet ek vir hom sê dat dit tyd is om die Koninkryksaal te verlaat!
By die skool waar hy tans is, kan Spencer maklik met die ander dowe kinders kommunikeer. Sy besprekings met hulle het hom gehelp om die verskil tussen die wêreld se beskouing van kinders en Jehovah se beskouing van hulle te sien. Ek en Spencer kommunikeer vryelik met mekaar en het ’n hegte verwantskap in ooreenstemming met Bybelbeginsels. Wanneer hy in die middag tuiskom, doen ons sy huiswerk saam. Ons woon ons vergaderinge by en gaan saam uit in die huis-tot-huis-bediening. Spencer kan egter sien dat nie al die kinders in sy skool hierdie hegte verwantskap met hulle ouers het nie.—Kolossense 3:20, 21.
“Ons kan oor enigiets gesels”
Ongeveer ’n jaar gelede het ek opgelet dat Spencer na my kyk asof hy iets vir my wil sê. Ek het hom gevra of hy enigiets nodig het. “Nee”, het hy geantwoord. Ek het hom ’n paar vrae gevra oor hoe dit by die skool gaan en so meer. Ek kon sien dat hy iets op die hart het. Toe, tydens ons Wagtoring-studie as ’n gesin, het hy gesê: “Het Ma geweet dat sommige van die ouers van die leerlinge in my skool nie gebaretaal ken nie?” Ek het verbaas na hom gekyk. “Ek is ernstig”, het hy gesê. “Daar is ouers wat nie met hulle kinders kan kommunikeer nie.” Hy het verduidelik dat party ouers die skool besoek het en dat hy gesien het hoe hulle na dinge wys en beduie wat hulle wil sê, in ’n poging om met hulle kinders te kommunikeer. “Ek is baie gelukkig dat Ma gebaretaal geleer het. Ons kan kommunikeer. Ma wys nie net na dinge nie; ons kan oor enigiets gesels.”
Hoe het dit tog nie my hart geraak nie! Baie van ons waardeer eers die pogings van ons ouers wanneer ons volwasse is. Maar hier, op 12-jarige ouderdom, het my seun vir my vertel hoe dankbaar hy is dat ons sinvol kan kommunikeer.
Een van my doelwitte as ’n moeder was om ’n goeie verwantskap met my seun te hê en na aan hom te wees. Dit sou heel moontlik nie die geval gewees het as ek nie gebaretaal geleer het nie. My toegewydheid aan Jehovah het my beweeg om my verantwoordelikhede as ’n ouer ernstig te beskou; dít het belangrike besluite in verband met kommunikasie makliker gemaak. Ons al twee het geestelik baat gevind as gevolg van hierdie besluite. Hoe belangrik is die woorde in Deuteronomium 6:7 tog nie, waar ouers beveel word om Jehovah se gebooie aan hulle kinders oor te dra ‘as hulle in hulle huis sit en as hulle op pad is en as hulle gaan lê en as hulle opstaan’. Ek is werklik dankbaar dat ek en Spencer vryelik kan kommunikeer oor “die luisterryke dinge van God” (Handelinge 2:11).—Soos vertel deur Cindy Adams.
[Lokteks op bladsy 12]
‘Die gedagte dat hy moet grootword sonder om ooit ’n verhouding met sy ouers te hê, was vir my onaanvaarbaar’